Significant Other by die Fugard-teater: ’n teaterresensie

  • 0

Ag, hoe lekker om vir ’n paar uur te ontsnap van politiek en waterbeperkings en verkeersknope en net weer terug te sit en te besef waaroor die lewe nou eintlik gaan. Die Broadway-treffer, Significant Other, wat tans by die Fugard-teater in Kaapstad op die planke is, is daardie terugsit-vertoning.

Die skrywer is Joshua Harmon wat ons ook die wegholsukses, Bad Jews, gegee het. En met Greg Karvellas (The Road to Mecca, Shakespeare in Love, The Father, Clybourne Park, Bad Jews, CHAMP) in die regisseurstoel weet jy dit gaan ’n heerlike teater-ervaring wees.

Jordan Berman woon in die besige New York-stad en is desperaat op soek na mnr Reg, maar om een of ander rede is dit nie so maklik as wat hy gedink het nie en dit lyk eerder asof hy potensiële lewensmaats vervreem met sy soms vreemde optrede.

Drie baie goeie vriendinne, Kiki (Dominique Maher), Vanessa (Lesoko Seabe) en Laura (Lucy Tops) raak een na die ander verlief, verloof en trou. Jordan raak met elke bruilof meer moedeloos omdat sy beste vriende nie meer 24 uur van die dag beskikbaar is nie en omdat die alleenheid hom vang.

Jordan en twee vriendinne | Foto: Daniel Rutland Manners

Hy is in sy laat twintigs en raak bang dat hy sy hele lewe alleen gaan deurbring. Dit word ook al moeiliker om opgewonde te raak oor sy vriendinne se lewenshoogtepunte, want dit plaas net meer klem op die afwesigheid van hierdie hoogtepunte in sy eie lewe.

The New York Times het die produksie beskryf as een van 2015 se top 10 produksies en plaaslik het verskeie resensente daarby aangesluit.

Dis ’n menslike storie met uitstekende Suid-Afrikaanse akteurs: Gabriel Meltz (Murdering Agatha Christie, Somber Pines) as Jordan; Dominique Maher (The Rocky Horror Show, Pride and Prejudice) as Kiki; Lesoko Seabe (Clybourne Park, Siembamba) as Vanessa; Lucy Tops (Funny Girl, The Rocky Horror Show) as Laura; Michèle Maxwell (Cabaret, Present Laughter, Funny Girl) as Helene en Roberto Kyle (Aunty Merle the Musical, Knapsekêrels) en Ryan de Villiers (Measure Up, Outlander) wat die rolverdeling voltooi.

Gabriel was ’n uitstekende keuse as Jordan, omdat hy elke klein nuanse van die desperate Jordan vasgevang het. Jy het soms gevoel of jy hom aan die skouers kan skud en sê dat hy na sy vriendinne se raad moet luister!

Roberto se vertolking as die kantoor se orige en luidrugtige gay man wat ook maar net liefde soek, verdien vermelding, want elke keer as hy verskyn het, het die gehoor geskaterlag.

Ek was mal oor Wolf Britz (Hierdie Lewe, Die Seemeeu; Wie's Bang vir Virginia Woolf?) se onkonvensionele dekor en beligting: slim stellasies wat die verskillende tonele in die stuk onderskei het. Heel bo was ouma Helene (Michèle Maxwell) se woonstel, kompleet met oorvloedige varings, ou rusbanke en hope foto’s van die kinders en kleinkinders.

Jordan en sy ouma | Foto: Daniel Rutland Manners

Dis hier met sy kuiers by Ouma waar sy soeke na ’n maat en haar verlies van haar lewensmaat jou eintlik laat dink: wie is meer te bejammer – die een wat liefde gesmaak het en dit verloor het; of die een wat nog daarna hunker?

Ek glo nie daar was na afloop van die vertoning veel droë oë in daardie gehoor nie. Dis asof die storie vir elkeen iets diep binne raak – of jy nou mnr of mev Reg ontmoet het of nie; die soeke na ’n sielsmaat is mos maar die loop van die lewe.

Dis regtig een van daardie verhoogstukke wat weer en weer oor ons pad moet kom om ons te laat terugkeer na die egte dinge van die lewe.

Significant Other

Met: Gabriel Meltz, Dominique Maher, Lesoko Seabe, Lucy Tops, Michèle Maxwell, Roberto Kyle, Ryan de Villiers
Deur: Joshua Harmon
Regie: Greg Karvellas
Kostuums: Widaad Albertus

Die Fugard-teater, Caledonstraat, Kaapstad
Tot 7 Julie 2018, Dinsdag tot Saterdag om 20:00 en matinee om 15:00
Kaartjies deur die Fugard-kaartjieskantoor by 021 461 4554 of www.thefugard.com

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top