
Die jong Will Shakespeare kry nie ’n kreatiewe woord geskryf nie en die sperdatum vir sy nuutste toneelstuk kruip vinnig nader. Hy het geen inspirasie nie en die regisseurs en teatereienaars byt aan sy hakke. Dis nou tot hy sy muse, Viola, ontmoet. Sy is nie net sy grootste bewonderaar nie, maar haar hart staan toneel toe; iets wat nie ’n opgevoede jong dame van 1593 beskore is nie. Sy laat haar egter nie stuit nie en oortree selfs die wet om in Will se volgende toneelstuk te kan speel.
Viola word Will se grootste inspirasie ooit en hy skryf die meesterstuk Romeo en Juliet. Die storie is een van verskuilde identiteite, verdraaide stories, maar die grootste hiervan: die liefde.
Ons was almal lekker tranerig met die 1998-filmweergawe van Shakespeare in love met Gwyneth Paltrow en Joseph Fiennes. Die 1590’s-storie het nog glad nie sy bekoring verloor nie en word beskou as dié liefdesverhaal van alle tye.
Dit kan dus nie maklik wees om dit meer as 400 jaar later op te voer en in die filmvoetspore van sterre soos Paltrow en Fiennes te volg nie. Veral nie met Judi Dench as koningin Elizabeth en Geoffrey Rush as Henslowe nie.
Die Britse koerante was in vervoering met die produksie op die West End en met die kostuums wat onder meer van The Royal Shakespeare Company kom, is dit dus net aan die Suid-Afrikanase akteurs oorgelaat om ’n wêreldklas vertoning te lewer. En dit doen hulle beslis.
Al ken jy die storie van Romeo en Juliet net so goed soos jou eie storie, is dit ’n wonderlike aand uit met akteurs, dekor en musiek wat beslis by enige internasionale eweknieë kan kers vashou.
Die akteurs, en die regisseursaanslag, is knap en die vonk in die gehoor is tasbaar. Jy wil amper nie opstaan vir die kort pouse nie, want die geloofwaardige herskepping van Elizabethaanse tye wil jy vir ’n wyle langer geniet.
Dis maklik om lief te word vir Will Shakespeare en Lady Viola se nimlike karakters, maar twee akteurs wat regtig vir my uitgestaan het, was Robyn Scott as die ongeduldige, geen-doekies-omdraai koningin Elizabeth en Darron Aroujo as Henslowe. Hul vernuf as akteurs loop skouer aan skouer met hul sigbare genot vir die rolle wat hulle vertolk. Mens kan nie anders as om jaloers te wees dat iemand só goed is in wat hulle doen én dit boonop duidelik geniet nie.
Dis ligte vermaak met ’n huppel in sy stap. Kry sommer al jou vriende en familie om saam te gaan kuier.
Shakespeare in love
Met: Dylan Edy, Roxane Hayward, Robyn Scott, Jason K Ralph, John Maytham, Nicholas Pauling, Theo Landey, Darron Araujo, Mark Elderkin, Lucy Tops, Adrian Collins, Walter van Dyk, Louis Viljoen, Nathan Lynn en Bianca Flanders.
Deur: Marc Norman en Tom Stoppard en vir die verhoog verwerk deur Lee Hall.
Regie: Greg Karvellas
Die Fugard-teater
Van 10 Oktober 2017 tot 25 November 2017
Kaartjies deur die Fugard-teater se kaartjieskantoor by 021 461 4554 of deur Computicket.
Foto’s: Daniel Rutland Manners

