Shakespeare in love by die Fugard-teater: ’n teaterresensie

  • 0

Photo: Claude Barnardo

Die storie volg die verhaal van ’n jong Shakespeare onder geweldige druk om ’n nuwe teks aan ’n plaaslike vervaardiger voor te lê. Hy ly aan skrywersblok, maar wanneer hy sy muse – Viola – ontmoet, sit hy vinnig pen op papier om lewe te gee aan een van sy grootste werke, te wete Die tragedie van Romeo en Juliet.

Die teks van Shakespeare in love, geskryf deur Lee Hall en as draaiboek verwerk deur Tom Stoppard en Marc Norman, vervleg op slim en interessante wyses intertekstuele verwysings na sommige van Shakespeare se ander werke. Die kyker wat meer bekend is met Shakespeare se oeuvre, sal in die teks en regie verskeie momente kan identifiseer wat herinner aan As you like it, Twaalfde nag, Hamlet en natuurlik Romeo en Juliet (om net ’n paar te noem). Dit roep die wêreld waarin Shakespeare geleef en geskryf het te voorskyn en neem die kyker op reis saam met dié jong skrywer wat, soos menige ander skrywer, sy stem en voete in Londen probeer vind.

Die inwonende regisseur van die Fugard, Greg Karvellas (The road to Mecca, The Father, Clybourne Park), bring die geselskap van 20 akteurs (en ’n hond) op die verhoog bymekaar met ’n vloeibaarheid wat herinner aan dié van ’n musiekblyspel, opera of ballet. Toneelwisselinge geskied seepglad en choreografie vloei sonder moeite van een toneel na ’n ander, met ensemble-werk uit die boonste rakke. ’n Slim en betreklik eenvoudige stel laat toe dat die verhoog in ’n oogwink voor die gehoor van ’n koninklike teater tot kroeg en bordeel kan verander.

Daniel Richards (West Side Story, Pay back the curry, State fracture) lewer ’n interessante nuwe bydrae in die herlewing van die produksie op die Fugard-planke. Sy ervaring op die Maynardville-verhoog (Richard III en Othello) laat hom toe om die Elizabethaanse wêreld met gemak en speelsheid te betree. Darron Araujo en Robyn Scott, wat in die eerste speelvak van die produksie met ’n Fleur du Cap-toekenning bekroon is vir haar vertolking, is nog twee gesoute akteurs wat met wonderlike presiesheid aan hul karakters lewe gee.

Shakespeare in love is ’n heerlike teaterervaring waarna jy ieder en elk kan neem. Die produksie gaan egter geen kompromie van gehalte aan weens die toeganklikheid daarvan nie en is uitstekend uitgevoer!

Shakespeare in love is by die Fugard-teater te sien. Kaartjies is teen tussen R200 en R350 op die Fugard se webwerf beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top