Ses skrywers gekies vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans kondig met trots die suksesvolle aansoekers aan vir die skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied.

Die fokus van die residensieprogram is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

"Ons aanvanklike beplanning was om die suksesvolle aansoekers op Internasionale Boekedag (23 April) aan te kondig, maar in hierdie tyd van inperking en beproewing is dit belangrik om ook goeie nuus onverpoosd te deel. Ons is baie opgewonde oor die sterk aansoeke en die uitgelese groep skrywers wat vanjaar van die verblyf gebruik gaan maak," sê Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting.

Die volgende ses skrywers is as suksesvolle aansoekers aangewys:

  • Andre Trantraal
  • Beyers de Vos
  • Olivia M Coetzee
  • Sarie Nell
  • Valda Jansen
  • Veronique Jephtas

Die skrywersverblyf sal die skrywers in staat stel om vanaf 1 tot 27 Julie 2020 aan ’n manuskrip te slyp in die prentjiemooi Paulethuis in Somerset-Oos. Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

"Dit is vir PEN Afrikaans wonderlik om weer hierdie skrywersverblyf aan ons lede te kan bied. Baie dankie aan die Jakes Gerwel Stigting wat sulke gulde geleenthede vir skrywers moontlik maak," sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans."Hier is opwindende skryfprojekte oor ’n verskeidenheid genres in die pyplyn en begaafde skrywers wat die konsepte tot volvoering kan bring. Ons hoop dat die skrywers hul verblyf op Somerset-Oos baie sal geniet en ten volle sal benut."

Indien dit weens die koronapandemie nodig blyk om die datums van die skrywersverblyf aan te pas, sal dit in oorleg met die suksesvolle aansoekers so gereël word.

Rig asseblief navrae aan Theo Kemp by theo@jgf.org.za

Die Jakes Gerwel Stigting het ten doel om die werksaamhede en belangstellings van Gert Johannes "Jakes" Gerwel voort te sit in die ontwikkeling en bevordering van die opvoedkunde, kuns en kultuur en die sosiale geregtigheid in Suid-Afrika in die algemeen. Die stigting fokus veral op die bevordering en uitbouing van die Suid-Afrikaanse letterkunde.

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers en belanghebbendes wat, deur lidmaatskap van PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans is gerig op die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en die reg tot vryheid van uitdrukking.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top