Ses redes om Lombok, Indonesia, te visit!

  • 0

Lombok, Bali en Gili is bure in Indonesië!

My wêkvakansie in Indonesia – Deel twie

Lombok is hemel op aarde!

Mataram Islamic Centre

Vrydag is ’n heilige dag innie wiek vi Muslims oo’rie hele wereld. Omtrent 1 uur reg oo’rie wereld vat ôs ôse lunch break en ôs gaan masiet toe vi Jumuah, die Vrydag gemeentegebede. Unless djy in Saudi Arabia woon waa Vrydag en Sarrag pa’t vannie na’wiek is dan is jou Jumuah automatically in jou na’wiek schedule! Die wind het baie stêk ge’waai op my twiede Vrydag in Lombok (ek hettie ee’ste Vrydag my jetlag afgeslaap!). Oppie Donderdag aand hettie Jamie’s, die familie vannie Kaap wat in Lombok bly, vi my gebel wanner ek byrie Makan-Makan restaurant in Senggigi my aandete ge’iet het net ’n paa ure narat ek t’rug van Gili Trawangan gekommit. Sê hulle vi my, hou vi jou reg, more gaan djy saam met ôs Jumuah toe byrie Mataram Islamic Centre!

Mataram issie hoofstad vannie Indonesia province oppie westelike deel vannie Lombok eiland – onthou’rat Indonesia oorie algemeen mee as 17 000 eilande het! Omdat ôse Bahasa Indonesia levels nie baie fluent is kon ôsie’rie khutbah (preek) ve’staan’ie, maa ôs kon darem die twie raka’aats Jumuah gebede saam’tie Indonesian locals maak alhamdulilah! Narie Jumuah gebede het ôs soe bietjie’rie masiet getoer en ’n klein replika vannie Kabah gesien innie masiet se courtyard, die heilige swart klip in Mekka waarom Muslims sirkuleer tydens hul Umrah en Hajj pelgrimstogte. Een vannie Jamie’s het gesêrat’ie Kabah replika daa is vi Hajj en Umrah klasse byrie masiet, wanner’ie Lombok locals moet hul pelgrimsrituele beoefen – ’n baie kreatiewe idee! Ôs het oek ’n Shahadah undertaking gesien – iemand wat tot Islam bekeer het innie presence van ’n Imam en ’n groot Jamaah. Mashallah!

Gili Eilande

Choppy waters oppad na Gili Tranwangan

Die boottrippies tussen’ie eilande was omtrent ’n vibe! Die song “Daar kom die Alibama” vi some reason het in my kop heeltyd gespeel. Surprisingly het ekkie see-siek geraakie en ek’t gelee’rat, wanner ôs deur’ie choppie waves innie see gery’t, as ek nervous voel moet ek innie gesig vannie ee’ste Indonesian local kyk – as hy of sy nie bang lyk’ie is daa niks om oo te warrie nie! Om op Gili Islands te visit issie Cape Flats equivalent van ’n weekend trip Goudini’s Spa of Langebaan toe, het ek soe gelee wanner Epol byrie Lombok Senggigi Hotel vi my vra hoeveel aan’e gaan ek op my Gili trip wies – ek lag en sêrat ekkie selle dag t’rug sal kô. Ek moes vi my Bali trip oek spaar! Dit was leqqa maklik om ’n Gili trip te boek as djy Ojan in Senggigi ken – my travel agent net ’n 5 minute walk van my hotel af. Vi omtrent 150 000 Indonesian Rupiah (R169.10) kan djy jou boot trip boek Gili toe wat ’n bus trip include Bangsal toe amper ’n uur weg van Senggigi, die harbour waa djy’rie boot moet vang – djy moet jou skoene afhaal om op daai boot te klim!

My een dag op Gili Trawangan was pret en ek’t ’n leqqa Fish en Chips brekvis gehad, my boek Mr Entertainment, the story of Taliep Petersen deur Paula Fourie gelies (Taliep het oek Malaysia gevisit!), vi ’n voet massage gegaan (ek’s nog ticklish!) en ’n dip innie ocean gevat voo ek wee t’rug “huis toe” gaan.

Beach views

In hierrie afdeling was ek spoiled for choice. Ek konnie genoeg kry van allie beach views in en om Lombok’ie! Ok, ok… laat ek maa ee’lik wies – ek was dankbaar om elke dag toegang tot my klein beach by Senggigi te kry en ek hettie soema vannie selle beach duk geraak’ie! Die Senggigi beach was ’n tiepe lagoon beach, so ek kon innie water sit in een plek ennie heeltyd droom. Dit was mos impossible om oorie liewe te warrie wanner ek in daai water gesit het! Op daai beach het ’n paa Lombok kinners actually met my gepraat en gedink dat ek ’n Indonesian local is wat altyd vi my awesome is!

Hello Lombok Beach Club!

Maa ja, dit sal mos ’n waste gewies’t as ek nie die Pacific Ocean van allerande kante gesien hettie – die een byrie Lombok Beach Club oek in Senggigi, die een by Waroeng Ikan Bakar Ibra waa ek my ee’ste meal in Lombok ge’iet het, die choppy waters oppad Gili Trawangan toe.

Daa was darem ’n paa nat dae in Lombok. Nie koud nie, maa nat!

Die Motorfietskultuur

Google sêrat baie South East Asian communities motorfietse ve’kies want dus makliker met hulle te ry as djy in rural areas is waarie padde nee baie developed issie. Ek kan gloe dat dit ’n reality in Indonesia is. In Jakarta in 2016 het ek gesien hoe gebruik’ie locals motorfietse vi multipurposes – een auntie het ’n hele emmer water oppie motorfiets gedra! In Indonesia sal djy eira ’n mens ontmoet wat ’n motorfiets license het as ’n motor lisensie. Dit was baie cool om te sien hoe Muslim vrouens in vôlle Hijaab – en oek parda, opsionele Hijaab wat jou gesig toe maak – oek oppie motorfiets skut while hulle hulle daily responsibilities oppie pad klaa maak.

Op ’n random dag voorie Athaan afgaan vi Maghrib, die aandgebede, het ek my aandete klaa ge’iet en dannie motorfietse een vi een ge’tel soes hulle ve’by ry.

Mie Goreng

Mie Goreng by Warang Asikin in Senggigi, Lombok

’n Asian-cuisine enthusiast het actually vi my gesêrattie Bali Food Truck in Kaapstad een vannie ee’ste businesses gewies’t om Indomie noodles van Indonesia te import. Nou is Indomie ’n staple in ammal van ôse huise ve’al die huise wat jong mense het. Ek is ’n groot Indomie fan marrie original Mie Goreng – Bahasa vi “gebraaide noodles” – by Warang Asikin in Senggigi is net tops! As djy ’n lemon iced tea daa by gooi betaal djy minner as 60 000 Indonesian Rupiah (R60) betaal.   

’n Bord buite wat sê was jou hande

Jawap!

Ofcourse enige opportunity om “terima kasih” – Bahasa vi “dankie” – virrie locals te sê is altyd vi my ’n wen. Die selle met “selamat pagi” (goeie môre) en “selamat malam” (goeie naand). Die Indonesians is baie lief om “excuse me” oo en oo in Engels te sê, en ek het hoekal “permisi” – Bahasa vi “verskoon my” – op Duolingo gelee en leqqa die woo’d lings en regs gesê byrie besige Empanan market wanner ek wil hoo hoeveel issie vrugte en groente.

Wat is oppie menu by Kampeong Melayu?

Byrie Kampeong Melayu restaurant mettie Jamies het ek geleerat “kampeong” die Bahasa woo’d is vi “dorpie”. Though is baie Indonesians gewoond om Engels te praat met Senggigi se toeriste, hoe meer my Bahasa-woordeskat groei voel ek dat my Indonesian ancestors hulle koppe, met hulle rooi Cape Malay kufias, knik met approval.

Lees ook:

My wêkvakansie in Indonesië – Deel een

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top