Ses eietydse mikrosprokies

  • 1

Aspoestertjie

Sy staan in die donker. Haar rokkie net lank genoeg om toe te hou. Die lewe is haar Stiefmoeder. Haar stiefsusters Noodlot en Armoede. Die Goeie Fee huiwer oorkant die straat; hy hanteer sewe meisies in hierdie blok. Sy stap uit na elke kar wat stop, klim in, keer weer terug; op die Fee se bevel. Soms met kneusmerke wat sy onder stowwerige grimering wegsteek. Elke aand wag sy op die prins wat hou van hoe haar lippetjies, glinsterend soos glas, om hom pas. Wat haar in sy kar sal laai en vir ewig wegvoer na sy voorstedelike paleis.

Sneeuwitjie

Sy bly maal in my kop, die hoogmoedige swartkop buurvrou van my jeug. Na haar egskeiding het sy alleen gebly, haar gewese man finansieël verwoes. Sy kon eet, hoe gulsig kon sy nie eet nie; wulpse vrugte het smeulend tussen haar wye mond se lippe verdwyn. Soms was sy afgunstig; “Is sy mooier as ek?” sou sy vra. As ek nie vinnig genoeg anwoord nie, is ek woedend toegesnou. Sy het lui op die bed uitgestrek, spelend soos ’n kat, my aan die hand gevat en haar bronstige tuin ingelei. Ek, haar prins op sestien, haar sewende doodsonde. 

Rooikappie

Sy huppel tot by Ouma se voorhekkie. Sy neurie op pad na die voordeur. Dis Ouma se nuwe kêrel wat oopmaak. Sy blommetjieshemp en jean is aangeverf. “Kom binne” sê hy, “jou ouma is nou-nou hier.” Sy sit op die rusbank, drink die aangebode koeldrank. Sy sien sy groot oë op haar. Sy groot hande vat aan haar en die lippe van sy groot mond vee oor haar willose lyf. Dan voel sy sy byl. Alles word rooi. En sy weet, wéét: Ouma kom ook nooit weer terug nie. En die houtkapper het lankal in die rivier van vergeet verdrink.

Repelsteeltjie

Die dwerge is vir dekades uit hulle modder- en strooihuise geneem om goud te spin vir die konings. Goud, steenkool, platinum, yster … dag en nag het hulle gespin. Sonder rus, sonder ophou. Hulle moes in gate bly, soos rotte. Die konings het ryker en ryker geword, hulle kastele groter, die skildmure hoër. En eendag, skielik, het die dwerge voor die skanshekke gestaan en die eersgeborenes, al-geborenes geëis. Die konings wou probeer onderhandel, maar het nie die dwerge se name geken nie. “Ons eis staan!” het die dwerge geskree, “ júlle kinders; ons het óns s’n nooit geken nie.”

Die prinses en die ertjie

Die prinsessie het op die bed gelê toe hy inkom. Sy het hom nie verwag nie. Met koerwoordjies het hy haar hart verweek en haar van die dun matrassie se knoppe laat vergeet. Later, toe hy loop, het sy alleen gehuil. Sy het nie geweet van die ertjie wat hy by haar gelos het nie. Maande later het die ertjie uitgeval en verander in ’n skreeuende draak wat moet eet, altyd moet eet en trek aan haar seer tepels met oorgeërfde drif. En sy het hom gebêre onder tien matrasse totdat sy asem verdwyn het.

Hansie en Grietjie

Hansie en Grietjie is net so gelos,
Sonder water, sonder rigting, sonder kos.
Diep-diep in die groot stedelike bos.

’n Tante kom verby, sonder tande,
met sekelvingers en verdorde hande,
kom saam, verdwaal is ’n vreeslike skande.

In haar huis van baie koek en koeldrank,
Ruik hulle aanvanklik nie eers die stank.
Ou sweet, lank verdwene wasems, hang vrank.

En hulle was en stryk en stof en vee
Vir leë beloftes en koue tee
En stadig gee hulle harte mee.

Eendag, met mes en byl,
Verwerk hulle haar tot huisvuil
En leef voort, gelukkig en geil.

Lees ook

Julio Agrella skryf 101 limerieke vir 2019 se verkiesing

Ses verse in drie liriese middeleeuse style

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top