Ses verse in drie liriese middeleeuse style

  • 0

Die Villanelle (Vyftiende eeu: Frankryk)

Seks en die man

Freud sê mans dink meesal aan seks.
“Dis tog verkeerd, nee totaal onwaar.
Nie meesal nie, altyd!” sê my eks.

Ek’t vermoed, maar nou weet ek: syʼs ʼn heks.
Destyds was ons verlief; ʼn pragtige paar.
Freud sê verliefde mans dink net aan seks.

Die man móét by sy vrou lê, so sê die teks.
“Maar vir jou is bymekaar-lê skaars ʼn intieme gebaar.
Dit gaan net oor seks: altyd, heeltyd,” sê my eks.

“Jy dink net aan plesier terwyl ek oefen en fleks,
jy konsentreer niks, kyk net híér en dáár!”
Die wêreld se probleem volgens Freud is seks!

Ons land in die hof. Als verloor, overdraft uitgemeks.
“Hy wou nie luister of praat; net kafoefel en paar.
Net dít, tot alles skeef- en wegloop,” sê my eks.

Hierdie man se luste het geen einde, sê sy oerteks.
Sal sy drome vir die hemel of hel moet spaar.
Freud vermoed alle probleme word veroorsaak deur seks.
“Nee! Wat van sy fobies, skurwe voete, en ou sweet?” vra my eks.

 

Soms wonder ek nog

Soms wonder ek nog, en verlang na Pa;
Stil en sterk met oë wat alles sien.
Hy met die droë lag en bitter min kla.

Deur dik en dun het hy die gesin gedra,
Met moeilike vrae, logika opgedien.
Soms wonder ek nog, en verlang na Pa.

Hy het ons kinders liefgehad en vir Ma.
Die rusies en teëpraat nooit rêrig verdien.
Met sy effe lag en mond wat nooit kla.

Jy kon hom noem wat jy wou: toppie of bra.
Hy het net gelag, gegrap, beledegings oorgesien.
Soms wonder ek nog, en verlang na Pa.

Skielik, eendag, was hy oud en moeg gedra.
Grys het hy daar gelê, geklamp aan ʼn masjien.
Met sy stil mond, wat nie meer kon kla.

Vir die res van my dae sal dit my pla.
Tyd vir hom was min; ek moes na my eie omsien.
Soms wonder ek nog, en verlang na Pa.
Sy gesig is vaag. Dis mý onthou wat skrynend kla.

 

Die Pantoen (Vyftiende eeu: Maleisië)

Donker is ʼn woord

Donker is ʼn woord wat klink soos dit lyk.
Donker is dood, die afwesigheid van lig.
Teen skemerlig begin die aarde verbleik,
Alles verdwyn, die aarde trek terug.

Donker is dood, die afwesigheid van lig,
Wanneer alles uit jou nabye omgewing wyk.
Ja, alles verdwyn. Jou wêreld trek terug.
Donker, net donker, het niks om voor te kyk.

Wanneer alles uit jou gesigsveld wyk,
Bring ʼn enkele kers, selfs die flouste lig,
Vorm in die donker, buitelyne om na te kyk.
Donker wat breek, gee nuwe sig.

Bríng die enkele kers, laat vlám die flouste lig.
Want teen skemer begin alles om jou verbleik.
Blý deur die donker breek, want sonder sig
Is donker ʼn woord wat klink soos dit lyk.

 

Beautiful verby

“Gebrokenheid is beautiful verby.”
Sy sê dit sag, ʼn blink spoor op haar wang.
“Die liefde bring, die liefde vat, dit laat jou ly.”
Haar oë kyk ver, sien niks, haar stem verlang.

Sy sê dit sugtend, ʼn droë streep op haar wang.
Die aar teen haar slaap klop, die kop weggedraai van my.
Haar oë kyk ver, sien niks, haar stem onder bedwang.
“Dis beter só, vir ons, vir jou, dalk vir my.”

Die aar bly klop, terwyl haar gesig my vermy.
“Dit was goed, óns was goed, soos engelesang.
Dis dalk beter vir ons, ʼn wêreld sonder jou en my.
Die verbintenis, die geborgenheid, maak my bang.”

Dit was goed. Óns was goed; maar ek bly bang.
Die liefde bring, die liefde vat. Dit laat ly.
Verbintenis word ʼn tronk, geborgenheid word dwang.
Haar gebrokenheid was beautiful verby. Vir my.

 

Die Sestina (Twaalfde eeu: Frankryk)

Die myngange van onthou

In die mark van duisend geure
bly in jou gemoed altyd die waan:
Van edelgesteentes uit vreemde myne
van skimme wat roep, klanke wat loei
Eggos wat oneindig herhaal in jou siel.
As jou ou herinneringe, skielik, vir jou wuif.

As jou ou herinneringe altoos net bly wuif
vergeet jy, na jare, die warm oorvloed van geure.
Jou onthou, alleen, word vaag, verdroog jou siel.
Jy dink jy onthou liefde, maar leef in ʼn waan.
In jou kop jaag noodvoertuie met ligte en loei
morsekode in die leë gange van jou gedagtemyne.

Eensaamheid duur vir ewig in daardie myne.
Verlore reminisse wat soos gras in grys wind wuif.
Die stilte in jou kop raas; met ʼn onophoudelike geloei.
Die ontploffings in jou kop verdring alle geure.
Jou hart wás ʼn huis, maar nou is dit net ʼn waan.
ʼn Klippaleis sonder deure, donker vensters sonder siel.

Dáár is jou ligaam, daar jou hart. Waar is jou siel?
Dis weg, soos werkers toegeval in die gange van myne.
Die gebrek aan lig en suurstof bring soms argwaan
en woede. Gedagtemoord en vreemde kiltes bly wuif.
Jou kop vergeet die mark van liefde, ontken die geure.
En jou lyf, jou hart, jou wéés begin in stilte uitbloei

As die verlede eensaam in jou ore loei
breek dit jou hart en vervloek jou siel.
Die dood ruik, jou doodskleed is vol geure.
Nie ʼn begrafnis nie; ʼn wegraak in die gange van myne.
En al sal vreemdes, soos by ʼn begrafnis, wuif,
jy is lankal dood, jou lewe was net ʼn waan.

Nét goeie mense sterf, is die waan.
Sondaars, bliksems, malles bly net bloei
Terwyl engele, ver uit ʼn hemel, hulle toewuif
Verlore! Verlore! Daar verskilfer nog ʼn siel.
Die meeste, nee almal! skree die duiwel, is myne.
Want die hel is alleen: sonder onthou, sonder geure.

As jou toekoms nog wuif, gedryf deur die waan
Van nuut bedwelmende geure, jou hart van opwinding loei,
Onthou: eendag verloor jy jou siel. Bly net donker gedagtemyne.

 

Paternoster – ʼn aardsversugting

Na ʼn wilde week soek ek Paternoster
en ry ʼn wye draai deur die groot Karoo.
Om my verskrompel boom en bos in droogte,
Swart gebrand deur ʼn genadelose hemel.
Ek kry die belofte van skadu by die berge,
met ver op die kim; die winkende see.

Die bewende horison loop stadig vol see
soos ek  wes ry in die rigting van Paternoster.
Seders klou verbete aan die rante van berge
hier op die grens van die droë Karoo.
Swart verbrand deur ʼn witwarm hemel,
Geknoets, verdraai, vervorm deur droogte.

Die vyand van mens, dier en plant is droogte,
dit maak spiëelings in die sand soos see.
Die grond en lug smelt saam teen die hemel,
terwyl ek voortjaag na my beloofde Paternoster.
My lyf verskrompel in die hel van die haai Karoo,
en my siel smag na die koelte van berge.

Op die horison, soos slapende monsters, lê die berge
trillend teen die wit lig van skreiende droogte:
skanse tussen vloedvlakte en die warm Karoo.
Soos ʼn minnaar, wat hand uithou, wink die see,
lei jou na die geborgenheid van Paternoster
met drome en visioene van ʼn altyd koeler hemel.

Om naas alles te bly glo aan jou privaathemel
laat jou geborge voel in die skadu van berge.
Smekend, uitreikend na ʼn ewige Paternoster,
Beurend om weg te kom, te vlug van ʼn droogte
reikhalsend van verlange na ʼn ewigbewegende see,
moet jy worstel deur jou eie Moordenaarskaroo.

En tog, as jy stilstaan en kniel in die Karoo,
sien jy in sand, onder bossies, in klowe; ʼn hemel
net so vol beweging en beloftes as die see:
polsend, lewend, kruipend, bewend soos berge
se waterpoele en skadus. Dit word skanse teen droogte.
As jy wil, kry jou siel rus waar jy is, sonder Paternoster.

Want water van die see eggo die sand van die Karoo.
Ons vader, Paternoster, eerder op die aarde as in die hemel,
Die klowe van berge en die kruine: hawens teen ʼn droogte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top