
“Copacabana”
Dis amper soes’ie showrunner my kop gelies’t en gewie’t dat ek daai Friends-episode uit season 2 gekyk’t om daai comical “Copacabana” moment wee te experience. Djy weet mos “The one with Barry and Mindy’s wedding”, die een waa Rachel’ie maid of honour by haa ex-fiancé se wedding gewies’t, toe loep sy down the aisle met haa rooi onnerbroek wat uitstiek! Rachel het later aan’ie vel wee op haa gesig t’ruggesit wanner sy “Copacabana” voo’rie hele wedding reception gesing’t (Ross moes haa help mettie lyrics: “She wore merengue!”). By It’s boogie time is Ree Cornelius my niewe boogie champion, want hy’t ’n leqqa “Copacabana” opening number vi ôs gesing, met back-up dancers wat Lolla, Tony en Rico impersonate met yellow feathers en do the cha-cha en alles oppie stage!
Queen
Ree Cornelius moet net die hele boogie award vat en klaa. Om ’n Freddie Mercury number af te pull issie maklik’ie – dis big shoes to fill! My ha’t moet heeltemal briek soes wanner ek Rami Malek in Bohemian rhapsody innie movies gesien’t, net soe het Ree vi ôs laat voel in sy tribute van “Somebody to love” en “Don’t stop me now”. Ôs was oek spoiled met ’n performance van “We will rock you” met audience participation – ôs moes hanne klap om mettie beat by te hou! Toevallig is daai laaste Queen number oek ’n song uit Friends wanner Ross sy answering machine message record in Chandler en Joey se apartment!
Female vocals
Rafiek Mammon se boogie shows is een vannie enigste enes wat female vocal talent ’n groot pa’d vannie show maak en hierrie Boogie installment was no exception. Op opening night, twie dae voo Suid-Afrika se G20 Women’s Shutdown, het allie female vocal talent innie show ’n mashallah cover van Barry White se “Can’t get enough of your love” gesing met pink en purple costumes en ligte. Baie tramakassie, Liandé, Celest, Candice, Lucy en Janine. Hulle was te beautiful en baie mashallah ge’harmonize! Reg deur’ie show het elkeen vannie vrouens oek hulle eie spotlight gekry om ’n Spice Girls number te doen, ’n Beyonce number, ’n Cyndi Lauper number. Of course elke jaa moettie Opera House leqqa boom met ’n number one crowd favourite en daai ene was Diana Ross se “My old piano”. Kasam het ôs daai number harder gesing assie main performer daai aand!
Tributes
Of course issie Boogie show virrie meeste pa’d ’n tribute show, maa dan moet djy mos nou ’n spotlight oppie favourites oek sit, soes The Rockets saam’t Gary Naidoo ennie ouens en hulle oulike renditions van “Georgy Porgy” en “That’s why I love you” – ôs moet The Rockets se Cape Town Party Medleys in ôse binneste voel wanner ôs in daai Opera House sit! En dan het hulle vi ôs ge’surprise met ’n Bruno Mars tribute vi Amy Winehouse wanner hulle “Valerie” ge’perform’t – ek onthou die trane wat af my wange gerol’t wanner Amy in 2011 maningal’t (Gary het soes Bruno gesing: “Oh, Amy, we miss you darling!”). Een ding issat hierrie show gee gender norms ’n run for its money wanner Liandé soes Bruno Mars opdress, die vrouens wat Barry White numbers sing ennie laaste kee wanner Gary ’n Whitney number perform’t. Innie wake vannie G20 Women’s Shutdown moet djy nooit ’n kans mis om ’n entertainment tribute musical show te gebruik om toxic gendered norms op die kop te sit’ie!
Die saxophone solos
Evens mettie saxophone solos sing’ie audiences die main melody saam, soes met Chuck Mangione se “Feel so good”. Daa’s mos altyd daai moments of silence in between wanner die performers die mic omgie virrie audiences om te hoo as hulle saamsing – selle ding met Juandre Jacobs op saxophone. Mettie silent moments tussenin, kan djy voel al daai Kenny G moments byrie Kaapse weddings wat dee’kô, altyd mos die chosen number wanner’ie bruid affie aisle loep mettie bridesmaids en best men. Juandre Jacobs, speel vi ôs next time ’n leqqa Kenny G number. Moettie soe wees’ie, man!
Group numbers en duets
Boogie audiences sal vi jou sêrrat daai’s in act 2, die laaste pa’d vannie show wanner’ie hele It’s boogie time cast saam oppie stage sing om allie beste dans numbers bymekaar te bring. Die numbers wat altyd mense weggie, want djy kan mos nou sien wie was innie klub in daai jare. Hoe weet ôs? Want ammal is op hulle voete! Soes met “Simply the best”, “Lady soul”, “The boss” (altyd ’n mashallah closing show number!), “I know you want it” en my favourite Jackson Five number “Never can say goodbye”. To date issie Boogie show die enigste show wat my laat heeltemal vannie liewe ve’giet, en wanner ôs op ôse voete is vi daai laaste paa numbers, sê ôs actually vi It’s boogie time dat ôsie eintlik wil huis toe gaanie – ooit’ie! Maa alhamdulilah, ôs hoeffie soe lank te wag voor’at ôs wee kan boogie nie – die show kô t’rug Suidoosterfees toe in 2026.

