Emma Groenewald is medeskrywer van “Die rol van linguistiese kapitaal in plattelandse hoërskoolleerders se opvoedkundige prosesse”, wat onlangs in LitNet Akademies se Opvoedkunde-afdeling gepubliseer is. Melt Myburgh het haar na aanleiding van die navorsingsartikel uitgevra oor kwessies wat skoliere in ’n veeltalige skoolomgewing raak.
.............
Jy is ’n lektor in Sol Plaatje-universiteit se Skool van Opvoedkundige Studies. Watter opvoedkundige kwessies lê jou die naaste aan die hart?
Inklusiwiteit: Om ’n inklusiewe klaskameromgewing in Suid-Afrikaanse skole te skep bly ’n uitdaging. Leerders van verskillende sosio-ekonomiese agtergronde en taal-, kultuur-, etniese en godsdiensgroepe moet in een klas geakkommodeer word. Ek glo dat diversiteit nie ’n struikelblok hoef te wees nie, maar dat onderwysers verskillende strategieë kan aanwend sodat leerders deur die diversiteit in die klaskamer verryk en bemagtig word.
Emma, die LitNet Akademies-artikel deur jou en Aslam Fataar fokus op die aanpassings wat nie-Afrikaanssprekende leerders moet maak wanneer hulle in ’n oorwegend Afrikaanse skool beland. In die Suid-Afrikaanse samelewing is dit na baie jare van demokrasie steeds ’n tendens dat leerders wat nie Afrikaans by die huis praat nie na Afrikaanse skole gaan om ’n “goeie” skole-opvoeding te kry. Wat is jou gedagtes hieroor, en wat sê dit vir ons oor byvoorbeeld ongelykhede met betrekking tot onderwys in ons samelewing?
Dit is hartseer dat daar steeds soveel ongelykhede tussen skole is. Ons studente doen praktiese onderwys in funksionele, disfunksionele en inklusiewe skole. Volgens navorsers beskik funksionele skole oor hoogs gekwalifiseerde en ervare onderwysers, uitgebreide biblioteke en elektroniese databasisse, beraders en remediërende leerkragte, en optimale geleenthede vir kwaliteit onderrig.
Disfunksionele skole is skole waar leerders nie aan die eise van die kurrikulum voldoen nie weens swak taalvaardigheid, ’n verbrokkelde gesinslewe, armoede, lae vlakke van ouerlike skoling, afwesigheid van infrastruktuur en ’n tekort aan hulpbronne en buitemuurse aktiwiteite.
Al is dit ’n uitdaging, moet leerders in disfunksionele skole ook kwaliteit onderwys kry. Waar strukture nie in plek is nie, moet onderwysers nie terugsit en die situasie net aanvaar nie. Elke onderwyser kan ’n verskil maak.
Moedertaalonderrig is volgens navorsers van uiterste belang vir leerders, veral dié in die vroeë fases. Maar op grondvlak is ons nog ver van dié ideaal. Hoe sien jy die belangrikheid van moedertaalonderrig op skool? Is dit noodsaaklik, of kom leerders in elke geval reg in ’n niemoedertaal-omgewing?
Dit is hartseer dat sommige leerders net vir twee jaar – tydens grondslagfase – moedertaalonderrig geniet terwyl leerders met Afrikaans of Engels as huistaal bevoordeel word. Die dominate taalgroep hoef om hierdie rede geen aanpassings te maak nie, en gevolglik bly hulle kennis van die minderheidsgroepe beperk. Moedertaalonderrig vir al elf amptelike Suid-Afrikaanse tale, asook die erkende inheemse tale, is onmoontlik.
Leerders wat in ’n nie-moedertaal onderrig word, moet ter wille van hulle akademiese vordering by die dominante taalgroep aanpas en inskakel. In die proses leer hulle meer van die dominante taalgroep se kultuur.
As alle leerders byvoorbeeld op hoërskoolvlak in Engels onderrig word, moet die Afrikaanssprekende leerders ook aanpassings maak ter wille van akademiese vordering. Hierdie oorskakeling op graad 8-vlak kan vele uitdagings inhou, maar ook verskeie voordele. Afrikaanssprekende leerders se Engels sal verbeter, wat tot gevolg kan hê dat hulle op universiteitsvlak minder met die onderrigmedium sukkel. In hierdie subdominante taalposisie kan die Afrikaanssprekende leerders leer by ander wat van hulle verskil.
Hoe sterk is die neiging nog onder plattelandse ouers wat welvarend is om hulle kinders na groter, “beter” stedelike skole te stuur? Wat is die impak hiervan op plattelandse skolegemeenskappe? Is daar ’n mate van verlies wat deur die klein, plattelandse skole ervaar word? Watter tendense in die skolestelsel val jou spesifiek op in die Noord-Kaap?
Ek glo dat baie plattelandse skole nog kwaliteit onderwys verskaf.
Ek kan ongelukkig nie met sekerheid oor tendense in die Noord-Kaap praat nie. Die Noord-Kaap is geografies ons grootste provinsie, met ver afstande na groot stede. As onderwyser moes ek gereeld 250 km aflê om die werkswinkels wat die distrikskantoor gereël het, by te woon, of 1 100 km as ek matriekvraestelle wou merk. Plattelandse leerders in die Noord-Kaap moet oor die algemeen ver afstande aflê vir kompetisies of wedstryde.
Verder is daar ook nie altyd genoeg fondse of hulpbronne om plattelandse leerders meer geleenthede te gee nie. Ouers stuur in baie gevalle hul kinders na “beter” skole in stedelike gebiede waar daar meer geleenthede is, veral wat sport en kultuur betref, wat moontlik weer ’n deur kan oopmaak na universiteit. Die platteland het wel ’n omgee-gemeenskap en in plattelandse skole is leerders nie net ’n nommer nie.
Julle artikel in LitNet Akademies fokus spesifiek op die ervarings van ’n Ovamboseun en ’n Damara-Namadogter wat hulle in ’n nuwe Afrikaanse skolegemeenskap begeef. Jy interpreteer hulle ervaring dan ook as volg binne die konteks wat McKinney en Norton uitspel: “Vir swart leerders, sprekers van inheemse tale asook immigranteleerders word hierdie onderhandeling verder gekompliseer deur die subdominante (en ras-gemerkte) status van hul huistaal.” Wat is jou raad aan ouers wat ’n kind by ’n skool inskryf waar die kind se huistaal “subdominant” is, boonop ook in terme van rasmerkers, om die skoolervaring vir daardie leerder te vergemaklik?
Om aanpassing en inskakeling te vergemaklik, moet leerders noodgedwonge die dominante taal aanleer. Kinders verskil en nie almal sal so ’n aanpassing dieselfde hanteer nie. Dit is egter belangrik dat die kind sy eie identiteit behou – wie hy is in terme van sy taal en kultuur. Met ’n positiewe sosiale identiteit kan hy nog steeds floreer, al is hy deel van ’n minderheidsgroep.
Indien die kind iets kry waarin hy hom kan uitleef, kan ander leerders hom begin raaksien en aanvaar vir wie hy is. Dit kan’n goeie mondelingopdrag oor ’n tradisie wees, of ’n Nama-dans, of bloot ’n gesegde wat in die taal voorkom. Een van my deelnemers se prestasie in wiskunde het byvoorbeeld tot gevolg gehad dat die dominante taal- en kultuurgroep hom ingetrek en aanvaar het.
Hierdie leerders moet natuurlik taal aanwend om nuwe “leeridentiteite” te bou sodat hulle suksesvol kan wees in die nuwe skoolomgewing. Hoe lank neem dit gewoonlik vir leerders om in ’n nuwe taal in ’n nuwe leeromgewing tuis te raak?
Dit sal verskil van kind tot kind. Ek glo ’n kind met ’n sterk sosiale identiteit en ouerleiding sal makliker aan die nuwe leeridentiteite bou. Die Ovamboseun het byna vyf jaar geneem om by die Afrikaansmediumskool in te skakel. Al het hy intussen maats gemaak, was die taal nog ’n groot hindernis vir hom.
’n Mens vergeet dikwels dat daar ’n groot verskeidenheid tale in elke skolegemeenskap ingebed is. In die geval van jou en Aslam Fataar se navorsingsartikel is die volgende tale-repertoire ter sprake in een van die skolegemeenskappe waarop julle fokus: Afrikaans, Engels, Oshivambo, Herero en Nama. Is hierdie verskeidenheid iets wat merendeels misgekyk word deur ouers en onderwysers, veral wanneer hulle binne die dominante taalgroep van ’n skolegemeenskap val? Hoe behoort ouers en onderwysers hierdie tale-repertoire te verreken tot voordeel van die skool?
In baie gevalle sal mense in dominante posisies (taal of kultuur) nie ag slaan op die minderheidsgroepe nie. Al sien jy hulle raak vir wie hulle is, hoef diegene in die dominante posisie geen aanpassing te maak nie. Jy verkeer in ’n gemaksone sonder dat jy dit besef. Om van ander te leer, behels dat hierdie gemaksone prysgegee moet word. Die verskeidenheid tale kan op verskeie maniere in ’n kurrikulum betrek word. Die skoolkoor kan byvoorbeeld liedere sing waarin hierdie tale erken word; gesegdes en woorde kan op aansteekborde verskyn; en die skool se leuse kan die taalverskeidenheid erken.
Wat behoort skoolgemeenskappe te doen om te verhoed dat die sosiale identiteite van sprekers wat uit ander huistaal-situasies kom “onsigbaar” raak? Op watter wanopvattings moet onderwysers en ouers bedag wees as dit by hierdie kwessie kom?
As onderwyser is dit baie maklik om so te fokus op die werkslading dat die kind se eie taalidentiteit “onsigbaar” raak. Verskeie rolspelers sal moet saamwerk, soos die ouers, onderwysers, Department van Onderwys en taalspesialiste.
Vir ’n kind om tuis te raak in ’n nuwe taalomgewing is ’n woordeboek alleen sekerlik nie die enigste sleutel tot sukses nie? Watter ander dinge kan die leerder help om tuis te raak binne so ’n omgewing?
Vriende, onderwysers en sosiale media.
Wat is die grootste uitdagings wat Suid-Afrika se skolestelsel in die gesig staar? En wat moet gebeur om dié uitdagings die hoof te bied – buiten ’n wonderwerk, natuurlik?
Ek is reeds ses jaar uit die onderwys en kan die vraag nie met sekerheid beantwoord nie.
Uitdagings ten opsigte van leerders: hoë afwesigheidsyfers, geen leerkultuur, vroeë skoolverlating, geweld en alkohol- en dwelmmisbruik.
Uitdagings ten opsigte van onderwysers: werkslading, veranderde kurrikulum, hoë administratiewe lading en hoë onderwyser-leerder-verhouding.
Ander uitdagings: swak bestuur; swak ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid; werkloosheid van ouers, wat tot armoede en lae morele standaarde in gemeenskappe lei; finansiële uitdagings by skole; te min onderwysers wat vakgerig opgelei is, veral in Wiskunde, Fisiese Wetenskap en Rekeningkunde; swak infrastruktuur; en ’n tekort aan hulpbronne.
Uitdagings ten opsigte van leerders kan moontlik die hoof gebied word met “humanising pedagogy” (humanisering van die opvoedkunde) en ’n positiewe benadering. Met ’n “humanising pedagogy”-benadering (Freire 2003) word die leerder se voorkennis en bates in ag geneem, byvoorbeeld hulle agtergrond, tale en kontekstuele faktore. Leerders word erken vir wie hulle is, hulle word deurlopend uitgedaag om krities te dink en is betrokke in klaskamergesprekke. Met ’n positiewe benadering word die volgende faktore beïnvloed: positiewe emosies; leerderbetrokkenheid; betekenis (om ’n sin van behoort te ervaar); en prestasie (om uitkomstes te bereik).
Bibliografie
Freire, P. 2000. Pedagogy of the oppressed. New York: Continuum International Publishing Group.
Lees ook:
Emma Groenewald en Aslam Fataar se Opvoedkunde-artikel in LitNet Akademies hier: “Die rol van linguistiese kapitaal in plattelandse hoërskoolleerders se opvoedkundige prosesse”.
Naomi Meyer se onderhoud met Emma Groenewald oor “Veeltalige universiteite”.
Emma Groenewald en Adré le Roux se LitNet Akademies-artikel, “Veeltaligheid op universiteit: ’n uitdaging én ’n geleentheid vir identiteitsvorming”.
Kommentaar
Sal graag wil weet waarom moedertaalonderrig vir almal "onmoontlik" is.
En hou die kollega rekening met die hele kwessie van taal en bevoorregting? Wie word bevoorreg wanneer almal oorskakel na Engels op hoërskoolvlak? En hoe kry 'n mens "gelykstelling" indien ons voortploeter met twee taalmodelle - toevoegende tweetaligheid (in meestal bevoorregte skole) en ontnemende tweetaligheid (in meestal nie-bevoorregte skole)?
Disfunsionele skole: die vernaamste gebrek daar is nie geld nie, maar onderwysers van formaat. Natuurlik help geld, maar ons is bekend as die land wat die meeste geld aan onderwys bestee, maar wat is die gevolge? Die vakbonde is beslis 'n remskoen in hierdie verband. Wat taal betref kan niemand daaronder ly as hy/sy meertalig opgevoed word nie. Inteendeel. As jy 'n taal aanleer, verbreed jy jou perspektiewe en leer jy nog 'n kultuur ken. In 'n multi-kulturele land is dit eintlik essensieel.