Senekal

  • 2

Sharpeville.

Soweto.

Boipatong.

Marikana.

En nou, Senekal.

’n Bloot lukrake keuse van plekname wat in hierdie land iets ánders aandui as bloot ’n plek. Plekname wat ’n ekstra laag betekenis kry omdat op ’n sekere noodlottige dag op daardie plek geweld uitbars in nuwe vorme as waaraan ons al nagenoeg gewoond geraak het. Afgestomp.      

Dié uitbarstings van geweld word ook onthou omdat dit telkens as ’n soort wendingsoomblik gesien word. Na die onderskeie gebeure te Sharpeville (21 Maart 1960), Soweto (16 Junie 1976), Boipatong (17 Junie 1992), Marikana (16 Augustus 2012) en nou, Senekal (6 Oktober 2020), kon ons aanvoel iéts het geskuif, iéts is anders. Wát daardie iets is, is ook nie stagnant nie, asof die verandering wat telkens op hierdie plekke en hierdie datums begin het, nooit opgehou het nie. Soms is dit asof verdere verwikkelinge in die land tog ’n vorm van sin aan die oorspronklike gebeurtenis gee; merendeels voel dit tans asof dit net die tragiek en verlies in die land en van die land laat aangroei.      

Dus, om nou al te sê wat Senekal beteken, is te vroeg. Hoe sê jy byvoorbeeld so kort na die grusame dood van die jong Brendin Horner iets daaroor? Wat kan jy daaroor sê? Dúrf jy nou al iets daaroor sê, terwyl sy dood soos dié van ’n semigekruisigde vir ons tyd en van ons tyd nog eggo op eggo deur die stil Vrystaatse landskap stuur, terwyl elke keer wat ’n mens daaraan dink, jy dit bykans werktuiglik onderdruk? Miskien omdat sy moordenaars dit wat hulle aan hom gedoen het, júis ’n openbare daad wou maak; wou sê: Kom, kom kyk, want iéts wil ons vir julle sê.      

Dit het een van die verskriklike kenmerke van hierdie tyd in hierdie land geword: Terwyl geboortes telkens min of meer in dieselfde vorm plaasvind en dieselfde skoonheid hernu, is die vorme wat die dood en geweldpleging aanneem, skynbaar eindeloos.

Aan ’n paal. Hulle het hom aan ’n paal oopgevlek en ons almal teen wil en dank getuies gemaak. Kom, kom kyk wat ons vir julle wil sê.      

Maar julle, wié is júlle wat vir ons iets wil sê? En wát is deur wié aan julle gedoen sodat julle uiteindelik so, in dié verskriklike vorm, met ons wou praat? Wat is dit wat gemaak het dat julle anderkant taal só met ons praat sodat ons, ons wat in lewe en in taal glo, sodat ons moet sukkel om die gepaste woorde te vind?

*

Senekal.

Senekal het ook ’n ander beeld geword: die uitgebrande polisievangwa wat soos ’n tor hulpeloos op sy rug lê en lug trap. Jy sien nie te selde in hierdie land ’n uitgebrande, omgekeerde polisievangwa nie. Maar jy sien feitlik nooit ’n uitgebrande, omgekeerde polisievangwa deur die toedoen van boere, die meeste van hulle Afrikaners, nie. Boere is landbouers, mense wat verbou en bou, wat ons voed. Elke tweede Afrikaner sal vir jou vertel dat waar “ander mense” kies om af te breek, “ons nog altyd gekies het om te bou”.

Maar wat moet dan in sulke mense breek sodat hulle self begin afbreek – ’n polisievangwa, die binnekant van ’n hofgebou?

*

Senekal.

Senekal is ook die naam vir ’n reaksie. Pleidooi op pleidooi, petisie op petisie, gesprek op gesprek – oor plaasmoorde, oor die taal, oor die beleide van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Altyd is die reaksie maar dieselfde: “Ons hoor julle. Ons sal die saak verder bespreek. Maar onthou net die onreg van die verlede is nog nie uitgewis nie.”

En dan veroorsaak ’n uitgebrande, omgekeerde polisievangwa dat die EFF en die veiligheidsowerhede en -magte in ewe groot getalle en ewe sigbaar op Senekal toesak. Dieselfde boere van wie sommiges – ’n klein minderheid – die vorige keer gebrand en gebreek het, staan hierdie keer stil, weerstaan die tarting, en bewys dat die eintlike mag, dié enigste mag wat menslik gesproke ’n verskil kan maak, die een is wat nié toegee aan geweld nie. En daarmee word die teater van die fasciste ’n klug, ’n sameraapsel van wanhopige mense opgevorder om agter die groot leier in te val, so wanhopig dat hulle bereid is om gratis aan die politieke sirkusbaas se vertoning van die dag deel te neem. Môre speel die sirkus elders en bly hulle agter, voel miskien dat hulle tog vir ’n oomblik iémand was. Gehoor is. Gesien is. Vir ’n slag akteurs en nie bloot in die gehoor nie.

*

Senekal.

Gestel jy is geslagte lank deur die Boere onderdruk, en op ’n dag keer boere in wie iets breek ’n vangwa om en laat ’n Njala wat dalk eens in die brandende townships diens gedoen het, soos ’n brandsiek wildebees op sy voete steier. Die simbole van staatsmag wat eens die merkers van jou eie verdrukking was, lyk skielik impotent voor die woede van die Boere. Wat sal jy doen? Miskien sal jy doodsbenoud wees, want die Boere, jy weet ... Al is alle boere by verre nie die Boere nie.      

Miskien sal jy dan met volle staatsmag opruk na die dorpie, sal jy asof op ’n uitgeholde wrak van ’n Casspir wat nog loop net omdat dit afdraand is, sal jy só die dorpie inval, dalk met ’n cowboyhoed op jou kop, wat darem nie te sleg lyk wanneer jy en die sirkusbaas met sy rooi baret met die bravade van afgeleefde mafiabase in die hofsaal praatjies maak. Sterkte in getalle – ons sal hulle wys, die Boere.

*

Senekal.

Die semigekruisigde jong man, die verrinneweerde vangwa en staatsgebou, die huilende boere wat bid, en oplaas tog konkrete tekens, hier in die Vrystaat waar ons net stof en mekaar het, konkrete tekens dat die boere en die regering tog kan saamwerk om iets aan die moorde te doen. Swart boere en wit boere, swart plaaswerkers en wit plaaswerkers wat deur hoe hulle saam verskyn wys hierdie ding raak ons almal, hierdie monster wat die dood in soveel nuwe gedaantes laat verskyn.

Hier staan ons saam, hier op die middelgrond, wat veel meer moed verg as om te glo in ’n swart-en-wit wêreld. Miskien, eendag, word Senekal die naam van een van daardie dae waarop ons, die mense van die middelgrond, daar in die middel begin saamstaan het, tot oplaas ook die swart-en-wit wêreld kleur gekry het. Hier in die middel, waar die skakerings altyd meer is as met die eerste oogopslag, en waar ons altyd meer is as net die dele van die geheel.

Senekal.

Lees ook:

Brendin Horner

  • 2

Kommentaar

  • `n Naam wat ingevoeg behoort te word: Bhisho. Op 7 September 1992 is 29 dood, en Cyril was, nes met Marikana, deel van die bloedgiet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top