#SendMe, maar waarnatoe?

  • 3

Beste Cyril

Sjoe! Wie sou twee weke terug gedink het ons gaan Kaddish sê op Zuma se presidensie?

Speel jy skaak? Maar never mind skaak, ek wil nooit teen jou poker speel nie. Outfoxing the fox – dit wil gedoen wees. Maar weet jy, die gemak waarmee jy dit reggekry het maak my bietjie baie bang vir jou. Dit wys daar is ’n ruthlessness omtrent jou, weggesteek onder ’n sjarmante smile en ’n oefenprogram wat jou toeganklik moet laat lyk vir die mense. Iron fist in the velvet glove, neh? Maar weet jy, as ek een keer daai iron fist gesien het, dan flous die velvet glove my nooit weer nie. Veral omdat jy ons nie in jou vertroue neem oor wat die deal tussen jou en Zuma was nie. Wat was die stok, Cyril? Wat was die wortel? Hoekom is jy schtum daaroor?

Maar wat ek dink maak seker nie saak nie. Jou staatsrede het baie goed oorgegaan. Ek het nog nooit so baie witmense gesien wat aanbied om deur ’n swart man gestuur te word soos die dag na jou intree-staatsrede nie. Ek weet Malema reken Europa of miskien Australië behoort goeie plekke te wees om hulle na te stuur, nadat jy natuurlik die grond afgevat het sonder vergoeding.

Ek is onseker oor een ding. Is almal excited omdat jy so wonderlik is, of is dit eerder verligting omdat ons onder Zuma uit is? Sien, onder Zuma het ons geleer om ons verwagtinge van die president maar laag te hou. Kan hy ’n getal met ten minste drie syfers voor die komma lees? Kan hy ’n speech lees sonder om te struikel oor groter woorde? Kan hy deur ’n staatsrede kom sonder dat helfte van die opposisie deur sy veiligheidspan aangerand word? Kan hy sy vingers uit die staatskas hou?

So jy gaan teen korrupsie optree? Zuma het dit ook belowe. Verskil is net, ons hoop ons kan jou glo.

Jy dink altyd ’n paar moves vooruit, neh? Soos toe jy begin het met die soggens se stap met die gemeenskap. Meantime het jy goed geweet die petrol levy word met 52c/l verhoog, so baie mense sal nou nie kan afford om werk toe te ry nie. Want sien, die taxi fare gaan op wanneer die petrolprys opgaan, maar dit kom nie weer af as die petrolprys afkom nie.

En terwyl ek nou oor die budget kla: wat se move is daai om die BTW te verhoog? Die ryk mense gaan kla met die witbrood onder die arm, maar dis die arm mense wat gaan suffer. 

En anyway, ons het mos nie geld gesteel nie. Hoekom moet ons betaal om die budget te laat klop? Hoekom vat jy nie die ministers se fancy karre en fancy huise en duur hotelverblywe en oorsese trips weg nie? En fire die wat nie hulle werk kan doen nie. Een ou wat sy volle gewig instoot is tien van die aanhangers werd wat nou net mooi lyk en banke vol sit.

In die Ou Testamentiese tye was ’n Joodse bruidegom aangemoedig om hom vir ’n jaar aan sy vrou te wy, om haar te leer ken en te leer wat haar gelukkig maak. ’n Jaar lange honeymoon, in ander woorde. Hy moes wegbly van die oorlogsvelde en van die landerye af.

Nou ja, ons honeymoon met jou se eerste weke is verby. As ek die ding so uitwerk, is ons jaar van honeymoon net mooi in tyd vir die volgende verkiesing verby.

Zexit het die opposisie bietjie onkant gevang. Hulle verkiesing-slogan was mos: Zuma sleg, ons is bes. Nou is dit Zuma weg, en hulle het niks om hulle slogan mee te voltooi nie. Haba policy, haba leierskap, haba verandering. Die belangrikste verskil tussen hulle onder mekaar en in vergelyking met die ANC, lyk dit my, is die kleur van die T-shirt. Maar wat weet ek?

Maar kom ons konsentreer eerder op die happy goete van die honeymoon. Ek sal jou sê wat sal hierdie kieser se honeymoon happy maak.

Heel, heel eerste moet jy maar baie binnekort die kabinet weer skommel en daai dice beter reg val. Daar is te veel Zumaïete in belangrike poste. As hulle bly, gaan die stroping van die fiskus nie stop nie. En net soos wat ek nie like as ’n dief by my huis inkom en homself help nie, net so like ek dit nie dat ek my as af werk, tax betaal en dan loop help ’n parlementêre williewerker hulle daaraan nie.

Ek het eers gewonder vir wat jy Gigaba die budget laat lewer het. Dit kan darem seker nie wees omdat jy dink hy’s kompetent nie?! Nee, ek dink jy wou seker maak dat, in die publiek se oë moet die swaar dae wat voorlê met Zuma se akoliete vereenselwig word en nie met jou keuse nie. Een oog altyd op die verkiesing, dink altyd ’n paar moves vooruit, neh Cyril?

Tweedens wil ek asseblief voor Krismis vir Zuma en die main peanuts in die Gupta-pakkie voor ’n hof gedaag sien. Enige hof, ek is nie picky nie. Maar die klagstaat moet hoek tot kant vol korrupsie-klagtes wees. En lê sommer beslag op al hulle eiendomme en al die geld in hul bankrekeninge. Ek dink jy sal vind die fiskus gaan sommer heelwat beter lyk as jy dit doen.

Heavens Cyril, ek hoop nie deel van die Zuma-deal was kwytskelding van kriminele vervolging nie. Hoekom was die Valke nog nie by hom nie? Dit sal vir my ’n absolute deal breaker wees. En dalk vir baie van jou #SendMe-akoliete ook. Miskien. Of miskien is hulle so bly om onder Zuma uit te wees dat hulle dit afskryf as the cost of business. Asof Zuma die enigste skelm was. Asof die hele party hom nie vir nege jaar enable het om ons kaal uit te trek nie. Asof almal in die party, jy inkluis, nie maar weggekyk het, totdat hulle besef het die kiesers raak keelvol en hulle loop na ander partye toe nie. Asof dit nie net die wete was dat hulle dalk almal teen 2019 sonder werk sal sit wat die verandering teweeg gebring het nie.

Speaking of, is daar iewers ’n tenderpreneur wat ’n special op moral backbones in die parlement het? Jy weet een van daai buy one, get one free jobs. As ek so luister na die ANC LP’s hierdie week, dan het nie een van hulle ooit Zuma se optrede goedgekeur nie. Dis amper soos die NP toe apartheid val. Toe het niemand skielik vir hulle gestem nie. Hoe hulle aan bewind gekom het is ’n mystery. It just happened. Soos Zuma. It just happened. Dit laat my amper respek kry vir Jessie Duarte. Amper. Miskien vat sy net langer om die woorde van die nuwe tune te leer.

Ek wens ek het geweet wat regtig in jou kop aangaan, Cyril. Jy’s ’n dealmaker, so jy gaan vir my aanbied wat ek wil hê. Die ding is net, ek het trust issues met politici, en jy het my nog nie eintlik rede gegee om jou te trust nie. Ek is bly jy’t van Zuma ontslae geraak, make no mistake, maar ek weet nie of my beste belange as kieser gefeature het in daai besluit nie.

Ek weet ook nie hoe jy jou beloftes uitgevoer gaan kry nie. Daar is net te veel teenstrydighede. Grond onteien sonder vergoeding en voedselsekuriteit? Konsentreer op die armes en stoot BTW met 1% op. Wie dink jy gaan die swaarste ly? Iewers vat jy iemand vir ’n pop. Of jou stomp is sterk.* Of jy rook iets wat nog nie wettig is hier rond nie.

Laaste, Cyril, watter guarantees sit jy in plek dat daar nie weer, wanneer jy landspresident is en iemand anders is ANC-president, ’n paleis-coupe gaan wees nie? Zuma is miskien weg, maar baie ouens wat lekker snoet in die trog was en wie se snoet nou weggeklap word, lê en wag vir jou. En dis elke keer ons, die burgers van die land, wat die swaarste getref word deur die magstryde.

Jy ken mos daai gesegde van wanneer twee olifante baklei?

Nou weet ek die meeste ouens is so dankbaar dat jy Zuma uitgeskop het dat mens nou niks slegs van jou mag sê nie. Haba kritiek. Haba ongemaklike vrae. Maar is dit dan nie hoeka hoe ons in die eerste plek met Zuma opgeskeep gekom het nie?

Doen beter, asseblief? Wys ons ons kan jou trust. Nou, voor die verkiesing. My trust strek nie so ver dat ek bereid is om op geloof, hoop en liefde my kruisie te maak nie. En ek wil rêrig graag van hierdie honeymoon ’n sukses maak.

Cheers

 

*Toorgoed wat jy gebruik is sterk.

  • 3

Kommentaar

  • Marietjie Venter

    Raak gesê, Bettina. Jy verwoord baie se kommer en ontnugtering. Ons hoop onse oom CR verstaan die Taal.

  • Gustaf Claassens

    Hmm, lekker byt in die stukkie speelsheid. En die houe wat gemik word tref die kol ... mooi stuk.

  • Laetitia Swanepoel

    O, gaats antie Bettina! Daai kebystaal kan darem gebryk word om 'n man lekka te slat. In hierdie skrywe lê die waarheid verskuil in die komiese en ... ek laaik dit!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top