Selma en Louise: ’n onderhoud met Susan Coetzer

  • 0

Selma en Louise
Susan Coetzer

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176569

Skrywers oor hul nuwe boeke: Susan Coetzer gesels met Naomi Meyer oor Susan se boek Selma en Louise.

Mens se heel eerste gedagte is: daardie film van jare gelede! Was dit bedoel om die leser se aanknopingspunt te wees? Hoe is die boek eenders en hoe is dit anders as die fliek?

’n Titel moet prikkelend wees en ’n gesprekspunt kan uitlok. Die titel het in my kop gespring nog voor die skryfproses in alle erns begin het. Die uitgewers het onmiddellik daarvan gehou – die titel leen hom tot ’n legio temas, soos vriendskap, lojaliteit, humor, seks, geweld, lig en donker, soortgelyk aan die temas in die bekende fliek. Hierdie is egter ’n boere-Selma-en-Louise-vriendskapstorie wat oor 40 jaar afspeel, en die verhaal self is nie op die fliek gebaseer nie. Daar is wel ’n paar tong-in-die-kies verwysings na die fliek Thelma and Louise in die roman – die twee hoofkarakters, wat besties is, fantaseer graag hoe hulle soos die karakters in die fliek, ontsnap van hulle verlede vol geweld en donker geheime.

Die soet en die bitter, die humor en die donkerte. Dis wat ek van die film onthou. Hoe sou jy hierdie vriendskap van die vroue in jou boek beskryf? 

Die vriendskap tussen Selma en Louise is nie net lig en speels nie; dit is ook donker en gekompliseerd sedert hulle kinderjare. Die twee kom uit teenoorgestelde pole wat betref hul onderskeie huise van herkoms, ouerleiding, opvoeding, verwysingsraamwerke, geloofsieninge en waardesisteme. Hulle persoonlikhede verskil ook soos dag en nag. Selma is die stil, behoudende introvert – die spreekwoordelike miss goody two shoes – op skool. Louise weer is as kind oud voor haar tyd en ’n uitgesproke rebel met ’n vuil bek.

Tog vind die twee as tienjarige dogtertjies ’n onmiddellike place of belonging by mekaar. Elkeen voel (om ’n ander rede) soos ’n buitestander in die samelewing. In die vriendskap wat in bloed gesweer word, vind hulle aanklank en aanvaarding buite die norm. Die lojaliteit, asook die donker geheime wat hulle sedert hul kinderjare deel en bewaar, dien as fondament vir die langasem vriendskap wat oor veertig jaar strek. Selma en Louise het uiteenlopende persoonlikhede wat mekaar aanvul en komplementeer in die reisroman. Elk dien as ’n spieël vir die ander – by tye word die lig gereflekteer; ander kere die donker. Die Bostik van die vriendskap is die deurlopende humor en meelewende deernis tussen die twee vroue wat die toets van die tyd en veranderlikes deurstaan.

Wat het jou inspireer om hierdie storie te skryf?

Ek het einde 2016 ’n drieboekkontrak met H & R gesluit vir drie romans vir die algemene mark, nie net die geestelike mark nie. Ek het geweet ek moet begin 2017 voor my rekenaar gaan sit en my hande optel en begin skryf om die keerdatum vir die eerste roman betyds te haal … met of sonder inspirasie. Ek het slegs ’n vae gevoel oor ’n vriendskapstema gehad wat ek wou verken.

Inspirasie is vir my ’n bonus en nie iets waarop ek durf wag voor ek die taak op hande aanpak nie. Wat van groter waarde vir my as skrywer is, is konsekwente dryfkrag, doelgerigtheid, harde werk en daaglikse dissipline. Wanneer ek hierdie elemente in posisie kry, daag inspirasie mettertyd op as die kersie op die koek, of dan nou die boek. Die eerste poging (konsep) van die roman oor drie maande was ’n spaghettibenadering, maar ek het deurgedruk tot die einde. Daarna het ek weer van reg voor begin en toe besluit wat het waarde om te behou en uit te bou. Ek vind ek het terugskouend ’n beter idee oor die gevoel van die roman, die karakters en die storielyne en kinkels. En toe kom die inspirasie! Ek kon myself uit die pad van die karakters skuif en die pen in hulle hande plaas soos ’n aflosstok om vrylik mee te hardloop. By NB Boeke het ek geleer ’n roman moet oor en oor geslyp word en ryp word soos goeie rooiwyn om diepte en goeie geur te kry. Hier het Human & Rousseau se fiksiespan my geweldig baie gehelp om te groei as skrywer (dis my eerste roman vir hulle), sowel as al die buitekeurders wat terugvoer gee op die manuskrip.

Vertel my van jou karakters, asseblief. En hoe laat hulle, en die besluite wat hulle neem, jou voel?

Dit is ’n misterieuse skeppingsproses waarvoor ek myself oopstel as skrywer. Die karakters is vooraf vir my onbekend en maak hulle opwagting in my psige of word gebore uit my onderbewussyn in daardie ongedwonge alfastaat. Ek self is soms baie verbaas om hulle te ontmoet en weet nie altyd waar hulle vandaan kom nie! Hulle skryf as’t ware hulle eie stories. Ek het iewers gelees Agatha Christie het nooit geweet wie die moordenaar in haar verhale is tot aan die einde van die boek nie! So het ek ook nie ’n idee wat die karakters gaan doen nie – geen idee waarheen die storie my gaan lei nie en het ook nie die einde in gedagte nie. Die twee vrouekarakters wat aangemeld het, was baie uiteenlopend en kompleks – dalk albei deeltjies van my?

Om die villain se bedrading te verstaan, het ek egter ’n langer pad geloop. Met die eerste konsep van die roman het ek sekere dele uit sy perspektief geskryf. Ek het narsistiese/psigopatiese denkpatrone nagevors, vertroulike inligting van slagoffers bestudeer, asook na gevallestudies op kanaal 171 gekyk om die karakter se charisma en manipulerende gedragspatrone onder die knie te kry. Met hierdie “binnekennis” (van die leuens) kon ek tydens die herskryf- en slypproses slegs Selma en Louise se perspektiewe behou en die villain (Theo Swanepoel) deur hulle goedgelowige oë beleef en daardeur spanning by die lesers opbou.

Ek wou soms inspring en van die karakters aan die skouers ruk; ander kere wou ek hulle waarsku om nie verkeerde besluite te neem nie. Soms wou ek moraliseer, hulle red van destruktiewe keuses en dan weer berispe of teen my bors vasdruk en vertroos – maar uiteindelik moes ek terugstaan en aan hulle ’n vrye wil gee om hulle eie stories te skryf. Op die ou einde was ek uit die pad gevee – en was ek, die skrywer, die geamuseerde, soms verbaasde (en soms geskokte) leser!

Ek wil vra oor die einde (maar is dalk te bang) ... 

Die einde het ’n kinkel in die kabel, baie na aan die afgrond, soos in die fliek. En daar is ook ’n cliffhanger vir ’n moontlike opvolgroman. (’n Hele paar lesers het al ’n opvolg versoek.)

Vertel my van jouself, die skrywer van hierdie boek. Het jy vriendskappe soos hierdie een in jou lewe?

Ek is eintlik ’n introvert en ’n baie privaat mens wat my energie kry deur alleen te wees – al leef ek ’n warm en gesellige persoonlikheid na buite uit wanneer ek sosialiseer of in die openbare oog is as spreker en aktrise. Ek smee nie maklik nuwe diep vriendskappe nie – oppervlakkige kennisse het ek wel in oormaat. Ek het nie ’n heel beste vriendin of ’n vriendskap wat sedert my laerskooldae strek soos in die roman nie. Ek het egter wel oor die laaste 20 jaar ’n paar hegte vriendskappe met ’n handjievol vroue gevorm. Hierdie paar vriendinne wat die toets van tyd en die gety wat draai deurstaan het, is vir my van onskatbare waarde – veral in tye van nood. Dit bevat lewensgewende krag – dis soos ’n tonikum. Die veilige spasie van ’n lojale vriendin, waar jy letterlik als kan deel, gee aan vroue ’n plek van “net wees” en aanvaarding as mens. Ek het dit al oor en oor uit die monde van vele vroue gehoor tydens hulle traumatiese seisoene, en van daar die tema van hegte vriendskap as goue draad deur die roman getrek.

Waarom het jy hierdie boek geskryf en hoe lank het dit jou geneem?

My vorige roman, ’n Tas vol blues songs, vir die geestelike mark, het enkele (ek dink drie) klagtes van erg konserwatiewe Christelike lesers ontvang. Op grond hiervan is 3 000 kopieë summier van die geestelike boekrakke gehaal en na die uitgewers teruggestuur. Dit is drie maande later weer teruggeplaas op die geestelike rakke – en al 10 000 eksemplare wat gedruk is, is nou uitverkoop. Dit was uiteindelik ’n boek van genade wat misplaas is.

Hierdie insident het my geesdrif gedemp om verdere vernuwende romans met real life-geskakeerde karakters wat die grense/gewete van die samelewing toets vir die slegs geestelike mark te probeer skryf – dis te veel van ’n eierdans. Dit het gevoel of my kreatiewe handrem opgetrek is. Ek het besluit om my skryfwerk voortaan anders te benader en eerder my werke te skei – soos jy ’n eierwit en eiergeel skei. Niefiksie vir die slegs geestelike mark en romans vir die breër algemene mark.

Derhalwe het ek Human & Rousseau in 2016 genader. Selma en Louise, ’n kombinasieroman, met lig sowel as donker, is sonder ’n kreatiewe handrem geskryf. Dis ’n reisroman met ’n byt, vol donker geheime, lewensvatbare temas, humor en kleurvolle eg-menslike karakters (en ’n paar gekruide woorde). Terselfdertyd is dit ook ’n roman met ’n sterk geestelike fondament – een wat die leser hopelik sal laat nadink oor die impak van egtheid en deursigtigheid versus verskuilde agendas. Ek is as skrywer gemakliker en meer in my soul seat met hierdie “combo”-aanslag. Ek wil vry wees om lig, donker en al die kleurskakerings van menswees aan te wend om ’n storie wat met my resoneer, so treffend as moontlik te skryf.

Met al die navorsing, slyp en herskryf het dit my ongeveer ’n jaar geneem om hierdie roman te voltooi. Hier het die fiksiespan (en veral Nèlleke de Jager) my geweldig baie gehelp om te groei as skrywer, sowel as, soos ek reeds vroeër gesê het, al die aan my onbekende buitekeurders met hul gereelde terugvoer.

Jy is ook ’n ervare aktrise. Wat is vir jou verskillend van aktrise-wees en in die velle van jou karakters klim en om skrywer te wees en in die velle van jou karakters te klim?

Ek dink wel my agtergrond as aktrise help my met die uitbeelding van eg-menslike karakters en veral hulle dialoog wanneer ek skryf. Ek klim soos ’n aktrise in hulle skoene in en hoor hulle dink en letterlik praat in my ore … en skrap enigiets wat vals klink en nie eg is aan die spesifieke karakter se stem nie. Verder dink ek baie in visuele prentjies – ek sien die gesigte, klerestyl en plekke wat hulle besoek. In al my romans is daar beslis universele temas en raakpunte ingeploeg wat stryk met my eie ervaring asook dié van duisende vroue wat oor die jare hulle stories met my gedeel het in ’n vertroulike spasie. Ek gebruik van my eie ervarings sowel as dié van ander en gooi ’n groot handvol fantasie by en bak ’n splinternuwe koek, of dan nou boek, uit die bestanddele. Ek is ook van kleintyd lief om mense fyn dop te hou en waar te neem – ek stoor hierdie indrukke en bring hierdie waarnemings graag na my romans.

Noem ’n paar van jou gunstelingflieks en -boeke.

Ek lees wyd en is altyd op soek na treffende boeke wat mense aanbeveel – ek lees meestal in Engels. Ek het nie net een gunstelingskrywer nie. Ek hou van Elizabeth Gilbert se skryfstyl, Jo Jo Moyes en Jodi Picoult. Shantaram van Gregory David Roberts is moontlik my gunstelingboek wat ek al gelees het. Ek dink Roberts was meesterlik. Daar is s-o-o-o-o baie flieks wat ek kan noem wat my al diep geraak het – baie van hulle kan oor en oor gekyk word op DVD. Meer onlangs staan Florence Foster Jenkins met Meryl Streep en Darkest hour met Gary Oldman vir my uit. Plaaslik het Sink my aangegryp.

Wat is vir jou lekker en vervullend van die skryfproses (van hierdie boek), en wat was/is vir jou moeilik of uitdagend?

Dit was vir my heerlik om vryer, meer kleurvol en meer humoristies te kon skryf – en met minder inhibisies en behoedsaamheid. Dit was werklik lekker om ’n ligter lekkerleesroman te skryf en ek het as skrywer te heerlik met die karakters gereis al die pad tot in Indië en my lekker ingeleef in hulle ervarings. Die kindergedeeltes in die roman was vir my veral lekker en het ook baie maklik gevloei. Die volwassenes was moeiliker om oor te skryf – omdat volwassenes meer issues, bagasie sowel as maskers het. Dis ook vir my emosioneel altyd moeiliker om karakters met donker psiges te verken en te verstaan – dit put my baie uit om in daardie donker dieptes te moet tande insink.

Verder was dit ’n groot uitdaging om in soveel besonderhede oor Indië te skryf en lesers te oortuig dat ek self al daardie plekke eerstehands besoek het. (Ek was nog nie in Indië nie.) Gelukkig het ’n filmspan van Bollywood Mumbai toevallig my huis in Linden vir ’n maand gehuur tydens die skryfproses. (Ek het toe reeds oor Indië geskryf.) Dit was so ’n onverwagse seën vir my as skrywer! Ek kon sessies met vrae met die span reël. Dit het my baie gehelp om onder die vel van die land in te kom, asook met verskillende dialekte. Die plaaslike inwoners van Mumbai het my ook daardie inside inligting gegee wat ek nie in boeke sou kon nagevors of uitgevind het deur te google nie. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top