Seepglad: die toekoms van seks, die internet en tuinelektronika

  • 2

Carinus Lemmer deel sy gedagtes met LitNet.

As jy lekkerder wil dink en droom, stel jou dié voor: Maak enigiets, insluitend jou fiets, aan die internet vas; vertaal jou skrywe in enige taal met die druk van ’n knoppie (wel, nie juis nie, eerder met die “sprek van ’n spraak”, of ’n “kink van ’n kop”). Wag, hou sommer op skryf, en praat net met jou foon – hy doen die res: die skryfwerk, die vertaalwerk, en seker enigiets anders wat jy wil hê die dêng moet vir jou doen. Totdat jy nie eens meer weet dat hy jou nou maak doen soos hy lus is, en nie meer soos jy lus is nie. Lees daai sin weer. Dis belangrik. Dink ons net robotte is robotte? 

Jy het gehoor seks is eersdaags nie meer so belangrik vir plesier of voortplanting soos in die "ou" dae nie; dokters raak nou oorbodig, want robotte kan via die internet byna al enige prosedure en operasie uitvoer, en medikasie in jou lyf invoer, via die – jip – internetpyp. Ons het 20 jaar terug nog van die infosnelweg gepraat; wat is dit nou?

Reeds 10 jaar gelede kon jy webwerwe ruik – geweet? (Vertel jou ander dag meer, net soos ek sal poog om gereeld vir LitNetters ander gedagtes en drome, aannames en nonsens rondom CR17 se 4de Industriële Revolusie kwyt te raak, met my tong in my kies, meestal.)

So, om weg te spring: My vrind Victor vertel my tuine praat deesdae met mekaar, oftewel, plante deel hul probleme met mekaar; woude word ontbos; karre ry vanself; Uber het nie drywers nie; en fietse kom met mouters. Ons weet van dié, maar ons weet nie van als nie, buiten as jy heeldag aan die web vasklou en alles verslind wat voor oge kom, soos die fopnuus – jy weet dis KI? Jip, Kunsmatige Inseminasie, of ook bekend as Intelligensie, waar die slimkomper weet wat jy doen, jou kry om te doen wat jy nie geweet het jy gaan/wil doen nie, en jou brein volgens een of ander Oranje-Utan in Amerika (hul prez) se politie-strategie gewas word dat jy later glo jy weet beter.

Oukei, so wat is daar nog aan die kom? Ruimtekolonisering, nie van Mars of Venus nie, maar die sweef op niks met ’n Starshop Enterprise (nie die worsies nie) soos per Battlestar Galactica destyds, waar ons doodeenvoudig gaan bestaan waar en hoe ons wil, mits ons die resources het – in die meeste gevalle, dus: geld. Of kriptodollars. Dis beter. Net Sondag was daar ’n artikel oor die ruimtebrekers Musk, Branson en Bezos.

So, my eerste prooi, vanuit die Duitse gevertes, is Victor (sy van, oftewel, last name) weerhou. As jy genoeg ingeboude KI het, sal jy hom kan opspoor, of dalk selfs ken? Hy het in Swellendam geskool, sowel as ‘n bietjie in Skelmbos, en toe die pad oorsee gevat, en is nou meer Duits as ’n Duitser.

Victor woon in Űlm, met sy katte, kind en kraai. En hy werk by Gardena, waar hy hul hooftuinslangverkoper is. Ek jok. Maar dis mos wat jy dink Gardena doen – verkoop slange en giwwe en spuite, en stowwe?

Nee sussie, dis nie wat mense by Gardena doen nie. Victor pas mense op, en hierdie mense bou stelsels wat hul kliënte se plante en tuine aan die internet vaskoppel, onder die algemene term van die Internet of Things (IoT).

Hoe dit werk is as volg: Die kliënt koop ’n paar stukke elektronika by Gardena, in hul aanlyn of aflyn winkel, dws sommer daar by die plaaslike hardewarewinkel, en gaan steek dit êrens in die grond by sy woonplek, in die tuin natuurlik. Ander soortgelyke goeters hang hy onder ’n dak of in ’n boom en koppel dit aan die mains (ja, ja, aan die sonpaneel, njannies, of course mos). Dan is dit soos wifi vir die plante, vistaan?

Die nou ekstuinbouer bel dan die hulpsentrum – seker ook onder die wifi-kombers, dan kos dit niks – en die hele besigheid konnek na die wolk, wat die manier is hoe groot, en klein, sakeondernemings deesdae verseker dat een of ander FAANG (click for more) êrens in die wêreld al jou data by jou kan steel, huur, wat verseker dat, net soos jou foon altyd "aan" is, jou tuin ook altyd “aan” is.

Dan, as die plant water nodig het, dan kry hy dit; as hy kossies nodig het, dan kry hy dit; en as hy siek voel, dan kry hy medisyne, alles deurdat alle ander plante wat op soortgelyke wyse aan die wolk konnek, inligting met mekaar deel, wat alles dan beter laat voel. Ja, jy moet nog steeds water in die pypies aanhou, dws daar sal slangetjies wees, en die energie wat die plante nodig het, word ook via een of ander manier van die tuinbousentrum tot in die plant se are vervoer. Eintlik maklik: jy koop ’n sak kos, soos wat die knowledge base seg, laat dit aflewer met ’n vliegende Uber, en jy is die “man from UNCLE”.

Om dit op ’n ouer manier uit te druk: Soos in tien jaar terug, dan sou die tuinier die pakkettering se fynskrif lees, of dit nou gif of kos, of bollie is, wat gestrooi moet word, rondom die plant se voete, en dan sou die plantjie dalk beter voel. Toe se tyd het die inligting van wetenskaplikes gekom wat op een of ander manier geweet het. Wel, niks het verander nie, buiten dat die tuinier nou nie meer sy hand hoef te lig om plantdrome die lig te laat sien nie.

Sorrie, my jop is om fokus te hou – so kom ons gaan terug na die begin. Ja, jy kan jou yskas aan die internet vasmaak deur ’n slim dinges daarbinne te sit, die deur toe te maak, en elke nou en dan sal jou slimfoon jou vertel wat aan die binnekant van die yskas aan die gang is, soos die melk is amper op, wyl ’n ander apparaat in die broodblik gaan check of die muf op die muffins soveel is dat ander muffins bestel moet word. Of jy kan ’n yskas koop wat reeds allerhande tech in het wat die local mothership (lees Woolies) laat weet dat Uber jou aflewering moet bring. Hulle sal weet, trust them.

Die joggie wat die aflewering bring, het nie nodig om enigiets by jou te weet nie, of om jou van die veiligheidshek af te missed call nie – die hek sal oopgaan, agv appmit, die deur sal oopgaan, want die afleweraar het die loper op sy foon, en die yskas se deur sal ook magies oopgaan. Die robothandjies aan die binnekant sal die goed vat en stoor, sonder om dankie te seg. En jy sal betaal, maar nie eens met snapper nie. O, dis reeds aan die gebeur, in China, onder andere.

Probeer gou dié: Dump hierdie hele artikel in Google Translate, kyk wat gebeur met die vertaling na enige taal van jou keuse. (Hierdie is die vertaling na Engels: "Quickly try this: dump this entire article in Google Translate, see what's happening to any language of your choice"; en die een na Hollands: "Probeer dit snel: dump dit hele artikel in Google Translate, kijk wat er gebeurt met een taal naar keuze.") Die vraag ontstaan, wat gaan ons ons kinders se kinders moet leer, en wat gaan hulle vra – iets oor die vlag, of iets heel anders?

Om eers af te sluit: Die plan is om elke paar weke iets oor die revolusie te share (deel, vir die mense wat nie weet nie), maar met ’n losse fokus op ’n Suid-Afrikaner wat in hierdie toekomsvelde werk. Reg?

Voormalige nasionale-vlak fietsryer, mede-organiseerder van die eerste Wêreldbekerbergfietswedren op Afrika-bodem, voormalige uitvoerende hoof van die nasionale fietsrybeheerliggaam, en nou eienaar van 'n klein beleggingsentiteit met belange in Spanje, VK, en Duitsland. En ja, sy werk is soos speel, want dis meestal fietsverwant – sy mees onlangse stukkie vernuwing is 'n "gig-economy-platform". Hy is stilweg op Twitter en selde op Linkedin, en nooit (meer) op 7de Laan nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top