Sasolburg: Common “birds” of South Africa: ’n onderhoud met Candice von Litsenborgh en Daneel van der Walt

  • 0

Teks: Candice von Litsenborgh
Regie: Richard Wright-Firth
Met Candice von Litsenborgh en Daneel van der Walt

Die produksie Sasolburg: Common “birds” of South Africa is pas klaar by die Alexander Bar in Kaapstad na ’n suksesvolle tweede speelvak. Die wel en wee van twee susters, Cobalize en Jacomien, wat in Sasolburg grootgeword het en woon, word deur Candice von Litzenborg en Daneel van der Walt vertolk. Deur skerp sketse, komedie en Afrikaanse Engelse aksente neem die spelers gehore op ’n reis deur die twee susters se lewens. Hul uitkyk op die lewe is eenvoudig, hulle doen goed sonder oordeel en staan mekaar by ongeag wat.

Foto: Canned Rice Photography

Candice en Daneel is albei aktrises, Candice is oorspronklik van Port Elizabeth en Daneel kom van Sasolburg. Ek het bietjie met die twee aktrises gesels oor die storie, klein dorpies en teater.

Op die vraag oor waarom hulle besluit het om die storie te vertel sê Candice dat sy ’n klomp halfgeskrewe toneelstukke op haar rekenaar het en dat sy gewonder het wanneer sy uiteindelik daarvan sou gebruik. Sy wou ook graag iets saam met Daneel doen, want hulle was saam op universiteit, maar het nooit die geleentheid gehad om saam te werk nie. Sy vertel verder dat haar twee opsies was om ’n komedie of ’n riller te doen. Komedie was toe haar gekose opsie, en sy skryf toe verder aan die stuk vir haar en Daneel.

Daneel was daardie tyd nog in repetisies vir haar debuut by die Maynardville-teater. Sy het die rol van Petruchio vertolk in The taming of the shrew, onder regie van Tara Notcutt. Sonder om te huiwer het sy ingestem om saam met Candice te speel in Sasolburg: Common “birds” of South Africa en hulle albei lag oor hoe maklik Daneel “ja” gesê het voordat sy nog die teks gelees het.

Rakende die aanloop tot die stuk, sê Candice dat sy nie oorspronklik beplan het om ’n tweemanstuk vir die teater te skryf nie. Sy het vyf jaar gelede al van die monoloë vir die stuk geskryf. Dit was ook vir haar belangrik om ’n kreatiewe uitlaatklep te hê – om iets te skep en daarna te kyk en te sê: “I made this.”

Daar is ook sterk sosiale kommentaar in die stuk en alhoewel jy vir die karakters (en ’n bietjie ook vir jouself) lag, kom daar temas van onderdrukking en vooroordeel deur wat nie geïgnoreer kan word nie. Daneel sê die temas is hoe mense hul eie vlerke knip en hoe die samelewing dit ook vir mense kan doen. Die produksie vra ook watter opsies daar vir vroue is. Die rol van vroue het oor die afgelope paar jaar drasties verander, maar by ’n menigte mense is daar nog ’n ouskoolse manier van dink en doen. En dis natuurlik elke vrou se keuse wat sy met haar lewe wil doen, en ons moet dit respekteer.

Daneel sê grappig dat PE (waar Candice vandaan kom) soms voel soos Sasolburg, maar net by die see. Sy sê verder: “Daar is iets mooi daaraan om groot te word in ’n klein dorpie. Ek het wel gevoel dat mense wat skoolgegaan het in groter stede, meer blootgestel is aan die grootmenswêreld. Waar as jy in ’n klein dorpie grootword, is die grootmensplekke verder buite jou bereik. Ek het nogal baie onskuldig gebly vir ’n baie lang tyd omdat ek in ’n dorpie grootgeword het. Ek sê nou nie dis die geval met almal nie. It’s a numbers game, jy weet.”

Candice en Daneel meen hul produksie het groot aanklank by gehore gevind omdat mense graag wil lag. Candice sê ook dat die lewe vol komedie is en dat indien teater die regte wêreld wil weerspieël, daar ook oor die ernstige goed gelag moet word. Sy sluit af deur te sê haar komedie kom vanuit ’n plek waar sy nie daarvan hou om dinge altyd te ernstig op te neem nie. Waarmee Daneel saamstem deur te sê dat ons nie in teater of in die regte wêreld sal oorleef sonder om vir onsself en oor situasies te lag nie. ’n Sin vir humor is een van die belangrikste goed om te hê.

As jy die geleentheid kry om die produksie te sien, sal jy moet spring. Candice en Daneel is skreeusnaaks, met goeie komiese tydsberekening, en hul produksie sal jou ongetwyfeld maak lag, en dalk ’n bietjie huil.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top