Saskatchewan: ’n onderhoud met Thalana Tondevold

  • 5

Thalana Tondevold en haar man, Doral (foto: verskaf)

Thalana is ’n gebore en getoë Suid-Afrikaner wat nou in die natuurskone Saskatchewan woon. Dis ’n provinsie van Kanada op die grenslyn van Alberta.

Sonyah Holder, ’n Suid-Afrikaner wat ’n tyd lank in Viëtnam gewoon het, het met haar oor haar interessante blyplek gepraat.

Sonyah skryf oor die onderhoud: “Toe ek Thalana oor Saskatchewan uitvra, het haar gesiggie soos die sterrehemel geskyn. Net soos ’n tuin vol wit feetjieliggies. Al is sy al in haar laat vyftigs, het haar kinderlike gees deurgestraal. Sy kon haar gebabbel nie keer nie. Ek moes haar stop en haar vra om asem te skep sodat ek vinnig genoeg kon opkom vir asem om my aantekeninge te maak en tred te hou met haar.

Saskatchewan se natuurskoon (foto: verskaf)

“Halfpad deur het sy my aan haar man, Doral, voorgestel terwyl sy haarself onder sy skouers inwikkel. ‘Doral is ’n Kanadees-gebore Saskatchewani,’ het sy trots gesê. ‘Hy is hier gebore en getoë. Hy het baie herinneringsskatte in sy skatkis van sy kinderjare om te vertel as jy hom die kans sou gun.’”

Sonyah Holder was gefassineerd deur Thalana se opgewondenheid en borrelende geaardheid en het haar die volgende vrae gevra:

As ’n Suid-Afrikaner, Thalana, hoe vind jy dit om in Saskatchewan te woon?

“Ek is gek oor Saskatchewan!” blaker sy dit uit. “Die mense is warm, vriendelik en gasvry. Om deur Sask (Saskatchewan in kort) te ry laat my altyd dink aan die Vrystaat in Suid-Afrika, met sy mooiste sonsondergange en sonsopkomste. Dit verbaas my nie dat hulle Saskatchewan ‘The Land of the Living Skies’ noem nie.”

Mens kan die opgewondenheid en kinderlike vreugde in haar stem hoor. Sy skep ’n teug asem en vul haar longe en sug met kinderlike geluk. So asof sy haar eie landsdiensliedjie wil sing oor die mooie land waar sy haar nou bevind en wat sy haar tuiste noem.

(Foto: verskaf)

“Ek is mal oor die skoonheid van wilde dierelewe hier. Ek het al coyotes gesien en jakkalse en ek het selfs een keer ’n wolf gesien. Wolwe keer terug na die gebied oos van die Cypress Hills. Witstert-wildebokke woon letterlik in die dorp en dwaal in die strate rond asof hulle ook hul deel aan die gemeenskap wil bied.

“Kalkoenaasvoëls, blesarende, valke, wasbere, stinkmuishonde en eekhorings word ook hier gesien. Mens en dier kom hier bymekaar,” verkondig sy lekker laggend.

Thalana, wat sou jy sê is Saskatchewan se beste kenmerke?

“Kanada is ’n land van sneeu en ys met kort maar skouspelagtige mooi somers.”

“Kanada is ’n land van sneeu en ys met kort maar skouspelagtige mooi somers.” (Foto: verskaf)

“Die veldblomme is asemrowend, verruklik mooi. Uit die lug lyk dit soos ’n pragtige laslappiekombers met al die kleure van die reënboog wat oor die oop veld gesprei lê, soos ’n reuse-piekniekkombers.”

Thalana en Doral (foto: verskaf)

Hoe vind jy die mense en die Sask-kultuur?

“Die mense is pragtig en vriendelik. Hulle is gasvry en vier fees by elke moontlike geleentheid. Die lewe is ’n fees in Sask. Ons het gereeld pot luck waar almal hul heerlikste disse en geheime familieresepte op ’n reusetafel uitstal. Die tafel buig onder die gewig van al die heerlike disse. Hier gee mense eerlikwaar vir mekaar om en sal uit hul pad gaan om jou in jou nood te help. Vriende in nood, is vriende inderdaad,” glimlag sy.

“Die bejaardes was diegene wat ons verwelkom het toe ons ons verskyning hier kom maak het. ’n Groot aantal bejaardes leef bewustelik gesond en woon steeds in hul eie huise, in plaas daarvan om in ’n sorgsentrum te woon op die ouderdom van 80 of 90 jaar oud. Hulle is fiks, stap lang afstande en eet gesonde kos.

........
Ek het grootgeword op ’n plaas in Groblersdal en Witbank. Albei my ouers het op plase grootgeword. Ek pas hier in soos ’n hand in ’n handskoen. Plaaslewe help teen die heimwee wat ek soms ervaar en my verlange na Suid-Afrika.
........

“Ek is mal oor die kleindorpielewe. Ek het grootgeword op ’n plaas in Groblersdal en Witbank. Albei my ouers het op plase grootgeword. Ek pas hier in soos ’n hand in ’n handskoen. Plaaslewe help teen die heimwee wat ek soms ervaar en my verlange na Suid-Afrika. Die mense van Sask gaan groot met die inlê van krapappels (’n kleiner tipe appel), appels, rabarber, perskes, peulgewasse, beet, chokeberries en elke soort bessie soos bloubessies, frambose, brame, ensovoorts. ’n Feestelikheid vibreer in die lug van ma’s en dogters, tantes, susters en oumas wat almal saamwerk aan hierdie tradisionele taak wat voorlê. Almal werk flink saam aan appelsous maak; appeltert en rabarbertert word gebak. Die huislike reuk van appeltert wat in die oond bak, is onweerstaanbaar. Die geur van kaneel, appels en deeg-aan-die-bak vul die huise. Hierdie natuurlike high laat jou na die hemele opstyg,” sê sy met haar oë toe, kop opgelig na die hemel asof sy na ’n ander wêreld verhuis het.

Choke-bessies (foto: verskaf)

Was dit vir jou ’n groot kultuurskok en indien wel, kan jy asseblief verduidelik?

Sy gooi haar kop agteroor en lag met haar mond oop. “Kultuurskok? Ja, inderdaad. Ons Engels het uitgespat met ’n swaar Afrikaanse aksent. Dit is moeilik vir Kanadese om te ontsyfer,” giggel sy. “Ek was verlig om te vind dat Kanadese lief is vir ons Afrikaanse aksent. Ek het dit verfrissend en innemend gevind, ’n groot verligting.

“Plaaslewe help teen die heimwee wat ek soms ervaar en my verlange na Suid-Afrika.” (Foto: verskaf)

“Ek moes ’n hele nuwe woordeskat aanleer. Byvoorbeeld, ’n robot is ’n traffic light hier, ’n torch is ’n flashlight, ’n tap is ’n faucet, boot is trunk, ’n tar road is ’n pavement, ’n pavement is ’n sidewalk, ensovoorts.

“Moenie eers jou beproefde resepte van die huis hier probeer nie. Hulle flop suksesvol as gevolg van die hoë lugdruk en die groot temperatuurverskil. Ek moes van voor af leer kook,” lag sy. “Hier smaak alles anders.”

Hoe het die lewe in Sask jou gesondheid beïnvloed?

“My gesondheid is uitstekend in Saskatchewan, as dit vergelyk word met die lewe in die berge waar ek sensitief is vir barometriese drukveranderinge. Daar is ’n groot verskil. Ek geniet die pepermentvars lug in Saskatchewan. Gesondheidsorg hier is uitstaande.”

Is daar ’n groot verskil in die lewenskoste tussen Sask en Suid-Afrika?

“O ja! Dit is onvergelykbaar! Die koste van behuising is hemelhoog in vergelyking met Suid-Afrika. Voertuie is duur! Duur, ver bo die gemiddelde soort duur, veral splinternuwe motors. Tweedehandse motors word billiker geprys.

“Kos is duur, veral beesvleis. Ons eet meestal vark en hoender hier. Terug in Suid-Afrika eet ons baie lam, veral by ons braais, en ’n skaaptjop is aan die orde van die dag. Ons mis dit hier. Ons geniet egter die vars vrugte en groente hier.”

Wat is die hoogtepunt vir jou om in Saskatchewan te woon?

Die noorderligte in Saskatchewan: “Dink jy ek is mal/hoor stemme toe ek sê ek kan hulle hoor?” (Foto’s: verskaf)

“Die auroras! Beslis die auroras!” uiter sy luid. “Hulle word ook die noorderligte (northern lights) genoem. Dit is onbeskryflik! Hulle dans en speel op die horison sonder om moeg te word. Jy kan hul hoor. Regtigwaar!” bevestig sy. “Ek het een keer die mooiste ervaring gehad. Ek het onder die naghemel gaan sit. Ek het net in stilte daar gesit. Hulle het soos kleurryke engele gelyk. Hulle het gepraat met my en elkeen het hul eie storie vertel. Dit is magies en soos ek gesê het, dit is onbeskryflik, maar ’n prentjie vertel ’n duisend stories. Ek het my oë na die sterrehemel gelig en hardop gedink: Daar is ’n God!”

Sien maar vir jouself.

“Dink jy ek is mal/hoor stemme toe ek sê ek kan hulle hoor?”

Lees ook in The Guardian hieroor.

Dankie, Thalana, dat jy jou ryk en wonderlike lewenservarings in Saskatchewan met my gedeel het!

  • 5

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top