SAPD en GBV

  • 4

Foto van Bettina Wyngaard: verskaf

Twee koerantberigte hierdie naweek val op: In die een word berig oor Soli Philander wat in hegtenis geneem is oor protesaksie, in die ander word berig oor die arrestasie van drie mans vir die verkragting van ’n sewejarige dogtertjie in Kimberley.

In die Kimberley-saak word die dogtertjie skynbaar alreeds sedert Januarie hierdie jaar gereeld deur haar stiefpa en twee ooms verkrag. Sy het verskeie seksueel-oordraagbare siektes opgedoen, aldus berigte. In hierdie geval lyk dit asof die polisie met spoed opgetree het. Die dogtertjie is uit die situasie verwyder, en is tans in ’n plek van veiligheid. Die hoof van die Gesinsgeweld-eenheid in die provinsie het aangedui dat hulle borg sal teenstaan.

Dis hoe mens verwag die polisie in sulke omstandighede sal optree.

In Philander se geval, daarenteen, het die akteur  die polisie attent gemaak op die beweringe dat ’n vierjarige dogtertjie seksueel mishandel word. Dis mos wat ons in al die advertensies gevra word om te doen. “Your child is our child”, en al daai goete. Die polisie se reaksie? Dawerende stilte.

Die eerste reaksie van die polisie se kant was toe hy en ander persone in protes ’n sit-in doen by die plek waar die dogtertjie na bewering gehou word. Philander is gearresteer.

Daar is geen aanduiding dat enige ondersoek na die bewerings wat hy maak, ingestel is nie. Die dogtertjie is ook nie verwyder na ’n plek van veiligheid nie.

Philander se aantyging is gemaak teen die direkteur van ’n organisasie. ’n Persoon met ’n mate van gesag in die gemeenskap, met ander woorde. Waarskynlik iemand met wie die polisie goed vertroud is. Iemand wie die polisie bereid is om te beskerm. Watter ander verklaring is daar wanneer ’n klagte geïgnoreer word en die klaer gearresteer word?

President Ramaphosa het in sy laaste toespraak geweldig klem gelê op die belang daarvan dat geslagsgebaseerde geweld in ons samelewing hokgeslaan moet word. In elke amptelike beleidsdokument waaraan mens kan dink, word die veiligheid en sekuriteit van ons kinders eerste gestel.

Maar hoekom sukkel die polisie so om die geweld hok te slaan?

In die afgelope maande sedert die NCCC ons in reaksie op COVID-19 in lockdown geplaas het, het ons ervaar hoedat die polisie en die army in alle geweld neergekom het op mense wat regulasies oortree. Drink jy alkohol in jou eie erf, word jy doodgemaak. Waag jy dit om met jou hond te gaan stap, word meerdere polisiewaens gestuur om jou te vang in ’n gekoördineerde veldtog wat Al Capone waardig sou wees. Staan jy nie ordentlik in jou lyn om kos te koop nie, maak die Minister van Polisie met volle entourage, kompleet met outomatiese wapens, verskyning om seker te maak dinge gebeur volgens die reëls.

Maar enige werklike misdaad, soos moord, verkragting ens, blyk bo die polisie se vuurmaakplek te wees. Beter dus om die low-hanging fruit in die hande te kry en jou statistieke op te stoot.

Daar is geen politieke wil om geslagsgebaseerde geweld hok te slaan nie. Géén.

Die redes daarvoor is velerlei.

Eerstens is baie polisiebeamptes self skuldig aan die misdryf. Hulle slaan hulle vroue, en word nie aangekla nie. Wie gaan hulle ondersoek? Hulle medepolisiebeamptes, wat dalk in dieselfde bootjie sit? Natuurlik nie.

Vroue en kinders se klagtes word as minder belangrik geag. Verkragtings word ernstig opgeneem net as jy bewusteloos geslaan is en vol letsels in die hospitaal beland. In my meer siniese oomblikke vermoed ek dis ook maar net omdat ander rolspelers betrokke raak, soos dokters, paramedici ens.

As die beweerde oortreder boonop in ’n gesagsposisie is, soveel erger. Dan word die verlammingsfaktor onder polisiebeamptes soveel groter.

Ons sien die voorkeur om in mans se behoeftes te voorsien veral met interdikte vir gesinsgeweld. Kry die vrou ’n interdik teen die man, dan word daar in die meeste gevalle ook ’n interdik deur die man teen die vrou verkry. Dit maak mos nie sin nie. Daar word nie behoorlik ondersoek ingestel na die beweringe nie; dit word ’n administratiewe oefening waar die vrou se posisie ondermyn word deur dieselfde persone en instansies wat veronderstel is om haar te beskerm.  

Dit verbaas my glad nie dat die polisie verkies om die oortreder eerder as die klaer te beskerm in die Philander-saak nie. Wie het meer mag? Die vierjarige kind, wie se ma skynbaar dwelmverslaaf is, of die vooraanstaande lid van die gemeenskap? Hoeveel meer kinders se lewens moet verwoes word voordat die polisie gaan optree?

Nog belangriker, watter boodskap word uitgestuur na ander persone wat in belang van kinders wil optree, as die klaer gearresteer word en die oortreder niks oorkom nie? Hoeveel mense gaan in die toekoms besluit om maar eerder nie betrokke te raak nie?

Die polisie hou graag as rede vir hul mislukkings gebrek aan samewerking van die gemeenskap voor. Maar wie se skuld is dit wanneer hulle aktief optree om die gemeenskap te ontmoedig om saam te werk? Wanneer hulle mense wat vorendag kom, soos kriminele behandel?

In die meeste gemeenskappe is die polisie deel van die probleem eerder as die oplossing.

Dalk het dit tyd geword vir herbesinning oor die rol wat die polisie in ons gemeenskappe speel.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Vrydenker Verskilmaker Vlakvark

    Welkom in die ANC se Azanian National Democratic Society Greed & Corrupt & Useless Animal Farm for Unemployment & Poverty Export.

    So, wat gaan die ander plaasdiere, uitgesluit die varke en skape, omtrent die probleem doen?

  • Mense moenie kla in die land nie. Dit is waarvoor gestem is. 'n Vrye demokratiese almal is gelyk, ander meer gelyk in Afrika.

  • 'n Skreiende skande! Die dag as ons kinders, die weerloosstes van die samelewing versaak, is die dag wat ons onsself nie meer beskaaf kan noem nie. Geweld teen kinders het te alledaags geword, die geweldenaars word met handskoene hanteer, vonnisse is te lig. Wetgewing moet verander!

  • Avatar
    Hans Richardt

    Reusedwerg, hul kla seker oor hul nou die Tirannie van Demokrasie beleef. Voor 1994 was daar doodstraf vir moord, verkragting van kinders ens, maar almal se reg op lewe is mos belangrikste...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top