Salvator ex machina | Wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

“Jy’t tog nie toe-oë aangesluit nie...”

“Wel, nee, seker nie, maar heeltemal vrywillig was dit ook nie. My finansies het tydelik, bloot tydelik, ’n klaaglike tekort aan likiditeit getoon, sien, en daarom wou groot, lelike skarminkels my knieë met kolwe bykom. Onderhandelings oor ’n uitstel van die spertyd was maar stram. Toe hol ek, plak my skoon uitasem voor ’n werwingsagent se lessenaar neer, knik geesdriftig vir alles wat sy aframmel en krabbel my handtekening baie haastig op elke stippellyntjie.”

“Hmmm. En nou’s dit gebakte pere, nè?”

“Jy weet mos – ek’s vir wie weet hoe lank aan die roeibank vasgeketting. En wat van jou?”

“Familietradisie. Van my oorgrootjies se dae af, voel dit vir my. My oupa het my ouma ewe aan boord ontmoet. My pa, my broers – almal in die diens.”

“So jy glo sterk in die saak?”

“Wat? Nee, dit sal ek nie beweer nie. Ja, ek weet wat ons doen en ek verstaan waarom ons dit doen, en dit maak seker sin, dis mos logies, maar baiekeer wonder ek of dit reg is. Of dit help. Is ons miskien in ’n bepaalde denkwyse gevries? Is daar werklik net een oplossing vir die probleem? Dalk is daar ’n beter manier. Ek versmaai nie die salaris nie, dit betaal die rekeninge, natuurlik, maar eintlik wou ek eerder stories geskryf het. Avontuurverhale, jy weet, daar’s altyd ’n aptyt vir lekker stories.”

“Die volgende Skroet.”

“Nee, die eerste Brinkel.”

’n Stiltetjie daal neer. Dwyn se oë dwaal na die groot sigskerm. Hy kan die minuskule blouerige stippeltjie net sien omdat hy weet waar om te kyk en rêrig konsentreer. Hulle verminder reeds maande lank vaart van die verbysterende snelhede net duskant die liggrens na ’n meer normale tydruimtelike omgewing. Binnekort gaan hulle verby die sonnestelsel se buitenste planete snel en dan sal die tuig rêrig begin remme aanslaan. Die eindpunt kom nader. Wat só lank net ’n teoretiese abstrak was, gaan oor ’n rukkie ’n harde werklikheid word.

 

Ná sy geselsie met Brinkel loop Dwyn effens regopper. Hy’t al begin dink hy’s ’n frats omdat die spanning van die pylvak hom so min pla. Hy besef nou hy voel onbetrokke omdat alles vir hom nog onwerklik is. Die ander was al daar en weet wat voorlê, maar hy’s nog die ene onskuld. Dis eerder ’n speletjie as iets tasbaars.

Tot dusver het hy die vaart, eerlik gesê, gate uit geniet. Gesorg dat hy die spertye vir sy vervelige administratiewe prultake – al waarmee hulle hom besig kon hou – haal sonder om hom oor ’n mik te werk of iemand moerig te maak. Al die goeie ontspanningsgeriewe aan boord deeglik verken en mildelik benut. Dan en wan ’n katjie raakgeloop wat ’n knypie in die donker geniet. Die lewe was amper ’n lied. Beslis strate beter as om met vergruisde knieë te sukkel.

Maar nou word gesigte by die dag strakker. Dinge raak doodernstig en gans te militaristies na sy sin. Hulle’t hom selfs ’n MX404 in die hande gestop en gewys uit watter kant die straal kom, bid jou aan! Skietbaan toe gestuur sodat hy met die ding kon gaan losbrand. Die eerste kere het die instrukteurs met groot oë gekoes en geskarrel en gevloek, maar oplaas het hy darem heel skaflike gaatjies in teikens gebrand.

Toe deel hulle hom by ’n peloton in en die sersante probeer hom maneuvers leer, en hakkejagdril, asook kamoeflering en basiese noodhulp, met ’n leksel vuurdekking en ongevalle-afvoer vir poeding. Huh? Dit was grusaam verby. Daar was weer eens ’n gekoes en geskarrel en woorde wat hy moes gaan naslaan. Oplaas het die luitenant hom moedeloos streng opdrag gegee om heel agter te bly, sy vingers van alle onbekende en selfs bekende knoppies weg te hou en gedurig oor sy skouer te loer of iemand hulle van agter probeer bekruip. Net dit. Niks meer nie, niks minder nie, verstaan? Laat alles tog in hemelsnaam aan ons oor. Bly onder ons voete uit.

Hy sweer as hulle die dag omkyk en agterkom hy’s nie meer daar nie, sal niemand die moeite doen om hom te soek nie.

Eerlik gesê, pas dit hom, want hy voel lam, bewerig en sweterig by die blote gedagte dat hy iets – enigiets – moet doodmaak.

Dis waar hy en Brinkel – net een stappie hoër op die gewildheidsleer as hy – begin gesels het.

 

“Dis elke keer ’n resies, sien,” sê Brinkel. “Dit vreet aan die senuwees en aan die siel van dié wat een het.”

“Hmmm...” brom Dwyn. “Ouens wed daarop.”

Brinkel lyk meteens besorg. “Ag, nee! Jy’t tog nie... Hier’s nêrens om heen te hol as die kolfknape aan jou kajuitdeur kom klop nie, Dwyn!”

“Binne perke, maat, alles onder beheer. Wat anders kan ek met my geld doen? Ons kry verniet tafel en bed en daar’s nie juis ’n oorvloed begeerlike goed aan boord waarop jy jou salaris kan blaas nie. Moet die geld net daar lê? Ek wil eerder ’n bietjie daarmee woeker.”

“Hmmm. Ook weer waar. Miskien – net miskien – het jy ’n punt beet.”

“Maar gaan ons betyds wees?” wil Dwyn weet, want die sukses van sy waagstuk hang van “ja” as ’n antwoord af.

Brinkel tuit sy lippe en trek aan ’n oorlel. “Almal klou aan Stendaia as die ideaal en standaard vas,” brom hy. “Dáár was ons betyds. Dáár het hulle geluister. Dáár het almal die regte dinge reg gedoen. Bygesê, dit was meestal geluk. Die topspesie was soos ’n trop skape met een voorbok. Baie maklik om te oorreed. Hul wanbalans was eerder aan domgeit as slimgeit te wyte. Ons moes hulle net die regte breë weg wys. Dit bly egter ’n seldsame sukses. Ek hou vir jou duim vas.”

“So wat is die vlieg in die salf?”

“Tyd. Ons is selde betyds.”

“Hoekom?”

“Jy weet mos. Afstand. Die ruimte is so gróót. So bliksems GRÓÓT. Dit vat so lank om êrens te kom. Meestal té lank. ’n Reis strek maklik oor eeue, millennia of eras uit. Dié keer was ons bloot toevallig betreklik naby op patrollie. Ons kon dadelik verkenners uitstuur.”

Dwyn staar weer na die blou stippeltjie. As deel van sy inwydingsproses moes hy hoeveel lesings oor die problematiek bywoon. Hy’t maar met glasige oë gesukkel om wakker te bly.

“Op elke bewoonbare planeet ontwikkel die lewe op sy unieke manier,” hoor hy die voorligter se stem in sy kop dreun. “Oor millennia heen ontstaan, ontwikkel en sterf ontelbare variasies van ontelbare spesies. ’n Breë ewewig tussen al die lewensvorme op ’n planeet verseker die voortbestaan van die hele stelsel.”

Bla-bla-bla-bla-bla-bla-bla. (Ewewig = stilstand. Stilstand ≠ ontwikkeling. Die wipplank hel altyd na die een of die ander kant toe oor. Wag, dis eerder oneindig baie wipplankies wat elk teen sy eie pas skommel.)

“Wanneer ’n spesie alle bedreigings uitwis en sy omgewing begin aanpas om sy eie behoeftes te bevredig, word daardie ewewig versteur. Oorlewingskoerse verbeter en getalle ontplof. Byna alle hulpbronne word tot hul eie voordeel benut, afval hoop op en die nes word bevuil tot dit onleefbaar word.”

Hanna-hanna-hanna.

“’n Onselfbewuste bobaasspesie kan letterlik ’n hele planeet opvreet en dan van honger vrek, want die intellek ontbreek om die gevaar te besef en reg te stel. Sulke gevalle traak ons min, want dit veroorsaak nouliks ’n rimpeling in die heelal.”

Gaap.

“Maar elke nou en dan is dit ’n ander saak. Sê nou maar daar’s ’n intelligente spesie met geen teenstanders nie? Oplaas ding hy net met homself mee. Vir goed of kwaad kan hy al sy aandag aan ontwikkeling wy. Uitvindings gedy. Tegnologie ontplof. Soms letterlik. Die ligflits van ’n atoomontploffing, byvoorbeeld, laat die waarnemers voor die monitors regop sit. Dit spel gevaar. ’n Spesie wat sulke tegnologie ontwikkel en onmiddellik ’n wapen daarvan maak, gáán onomkeerbare skade aanrig – doelbewus of per ongeluk. As die spesie net sy eie planeet vernietig, kan jy dalk nog jou skouers optrek, al druis dit teen elke bewaringsinstink in. Dis jammer, maar wat traak dit ons? As so ’n kragtige wapen en ruimtetuie egter gelyktydig verskyn, lui alarmklokkies baie hard, want dan kan moord en doodslag ’n uitvoerproduk word.”

 

Die protokol is klokhelder: Die naaste span moet dadelik gaan kyk en red wat te redde is.

As jy betyds daar kan kom. Hoofkwartier moet die seine eers ontvang en ontleed en dit moet deur al die algoritmes loop. As daar ’n regmerkie in elke kassie van die protokol is en die lede van die komitees kan saamstem (’n rariteit), word die reddingspanne gestuur. Eers die verkenners, dan die res. Dit alles in ’n werklikheid met een onwrikbare vastigheid: Geen sein of skip kan vinniger as lig beweeg nie. Jou grootste vyand is die tyd wat tussen die ontvangs en stuur van ’n sein verloop en tussen die stuur en aankoms van ’n skip.

“Keer op keer is alles verniet,” mymer Brinkel. “By familiebyeenkomste moes ek al na hoeveel stories luister. Die oorheersende spesie het reeds te veel skade gedoen. Hulpbronne is uitgeput. Alle lewensvorme het ’n yslike knou weg en talle het reeds uitgesterf. ’n Planeet gloei van die straling of is net een groot woestyn of moeras omdat klimaatspatrone ontwrig is. As jy op ’n planeet neerstryk waar ’n gevorderde samelewing tot niet gegaan het...” Hy bly ’n oomblik stil. “Stede, vervoermiddels, tekens van kunssinnigheid... alles verlate en verkrummel. Jy wonder altyd hoe dit in sy fleur moes gelyk het. Vol lewe en lewenslustigheid, met almal wat na ’n beter en blinker toekoms uitsien. Nou’s dit net een yslike grafsteen vir hubris. Dit voel altyd so verskriklik... onnodig.”

Dwyn ril. Dis gans te morbied. “Ek sien eerder uit na ’n helde-ontvangs wanneer ons by die planeet kom,” sê hy. “Skares langs die strate wat blomme na ons gooi.”

“Asof, maat! Nee wat, vergeet daarvan. Eerder bomme. Feitlik niemand is ooit bly om ons te sien nie en hierdie spul is besonder moeilik, sê die verkenners.”

“Hoe so?”

“Absoluut geen samehorigheid nie. Dis een spesie, maar jy sal dit skaars glo. Allerhande politieke groeperinge, allerhande kleure, allerhande gelowe, allerhande tale. Onbenullige verskilletjies, eintlik, maar hulle konsentreer dáárop eerder as op wat hulle gemeen het en moor mekaar oor die anderswees uit. Dis mal.”

“Goed vir ons, sekerlik,” sê Dwyn nadenkend.

“Hoe so?”

“Dis tog seker makliker om klein groepies te oorrompel as een groot, sterk teenstander?”

“Nee,” antwoord Brinkel, “want sonder ’n sentrale gesag bly die aparte groepies baklei. Jy moet hulle een vir een... oortuig. Dis uitputtend.”

“Jis, is daar enige ligpunte?”

“Wel, die spesie is tot ’n mate al sag gemaak.”

“Deur wie?”

“Wel, ons verkenners verken nie net nie.”

“Hoe nou?”

“Hulle doen hul bes om die spesie op ons koms voor te berei.”

“Hoe?”

“Hulle – beïnvloed.”

“Hoe?”

“Jis, jy klink skoon soos ’n uil!” grinnik Brinkel. “Die spesie se kommunikasiemiddele reik oor die hele planeet. Beelde, klanke en woorde bereik almal. Hulle is mal oor stories. Baie daarvan is oor besoekers van ’n ander planeet. Boeke met dié tema verkoop soos soetkoek. Gewilde films beeld sulke wesens uit. Die moontlikheid van ruimtebesoekers is geen skok nie.”

’n Gedagte skiet Dwyn te binne. “Haai, het jy van daardie soort stories geskryf?”

Brinkel lyk skaam. “Ja, maar ek het nog nooit die moed gehad om dit vir iemand te wys nie en ek twyfel of my soort stories ooit die lig sal sien. Dis eerder ons verkenners se werk. Ek kan nie stories vertel van bose monsters wat die planeet probeer koloniseer en dan moet die dapper verdedigers hulle uitoorlê en verslaan nie. Dis die soort stories wat blitsverkopers word en films in dié trant word die meeste afgelaai en gekyk.”

“Maar ons is mos nie monsters uit die buitenste ruimte wat die planeet probeer oorneem nie, of hoe?”

“Nee, ons bedoelings is suiwer.”

Dwyn se oë kyk ’n rukkie lank ver. Maar wat van die gevolge van ons goeie bedoelings? wonder hy. Geen wonder Brinkel spreek soms voorbehoude uit nie.

“Watter kans staan ons?” vra Dwyn.

Brinkel haal sy skouers op. “Min tot nul, hoor ek. Jy gaan waarskynlik jou weddenskap verloor. Die ontwikkelingskurwe was hier buitengewoon steil. Op feitlik elke terrein is die skade reeds anderkant die kantelpunt en dit word by die dag erger. Dis ’n rare spesie. Hardkoppig verby. Reken hulle het alle wysheid in pag, kan ’n oplossing vir elke probleem bedink, maar is in werklikheid so dom, so aartsonnosel. Jy kan mos nie ’n probleem oplos met dieselfde denkwyse wat die probleem veroorsaak het nie.”

“Is dit ooit die moeite werd?” mymer Dwyn.

Brinkel kyk hom deurvorsend aan.

“Jy’s ’n lastige een, nè? Een wat vrae vra. Een wat wonder.”

En na ’n stiltetjie.

“Ek hou daarvan.”

 

Ná sy wagdiens stap Dwyn na die broeikaste om sy volgende inkarnasie by te werk.

Hy’t lank reeds tred verloor met hoeveel keer dele van sy lyf, of sy hele lyf, vervang en herstel is om sy bestaan uit te rek. Op ’n ekspedisie wat meer as een generasie lank kan duur, hou jy die diensstaat net voltallig deur bemanningslede te vervang wanneer dit moet. Daarom is ’n presiese replika van elke reisiger gereed om ’n gaping te vul. Nie net ’n liggaam nie, maar ook ervaringe, herinneringe, gedagtes, ingesteldhede, kennis, kwellings en vreugdes. Ná elke bywerking is dit asof die kloon die voorafgaande tydperk óók beleef het.

Dwyn gaan staan voor die tenk waar sy ewebeeld vredig in sy voedingsvloeistof lê. Elektrodes aan dié se kop loop tot in ’n umbilikus wat in ’n prop aan die buitekant van die tenk eindig. Hy prop hom in om die afgelope weke se dinge na sy ander ek oor te dra.

“Hoezit, broer,” dink hy terwyl hy wag dat die oordrag voltooi word. “Was dit vir jou ’n opwindende tyd! Baie stof tot nadenke, maat. Herkou rustig daaraan – by wyse van spreke. Terloops, ek’s jammer as jy agterkom jy’s platsak wanneer jy wakker word.”

Vir ’n oomblik druk hy met sy voorkop op die glas. Ongelukkig is die kommunikasie net in een rigting. Sy gesprekke met Brinkel help om sy gedagtes in laaitjies reg te pak, maar ’n simpatieke sielsgenoot met wie hy dinge kan déúrpraat sou soveel beter wees. ’n Kloon wat net lê en mooi lyk is nie werklik so ’n klankbord nie.

“Ons reken ook, nes hulle, ons het al die antwoorde,” mymer hy, “maar het ons werklik?”

Die antwoord op daardie vraag lê net om die draai, dink hy. Hulle weet ons kom. Ons kan die eerste kontak enige oomblik verwag.

 

Die kontak kom in die gedaante van drie ruimtetuie met atoomplofkoppe.

“Waddehel! Rêrig? Is dit nou nodig?” sê Dwyn aan sy tafelgenote in die menasie net voor hy vir sy wagdiens gaan aanmeld. Die gerug het pas daar aangekom.

“Wys jou net met watter ploerte ons te doen het,” sê ’n eiewyse vaandriggie wat na voedingsvloeistof ruik. Hy’s daardie dag nog ná ’n ongeluk in die enjinkamer uit sy tenk gevis. “Selfs voor ons kan praat probeer hulle ons aanvat.”

“Hulle gaan ons tog nie verdamp nie, nè?” vra iemand benoud.

“Pffft! Natuurlik nie. Dis primitiewe tegnologie en ons is ver weg geparkeer om die rommelwolk rondom die planeet te vermy. Ons sal die tuie opblaas lank voor hulle naby kom.”

Terwyl Dwyn na die brug toe stap, dink hy na oor wat hy gehoor het. Die planeet se bewoners weet hulle kom.

“Het ons al met hulle gepraat?” is sy eerste vraag toe hy op die brug aanmeld.

“Nee, ons het nog net kontak met ons verkenners,” antwoord die seinoffisier.

“Wat sê hulle?”

“Daar’s groot woelinge op die planeet. Die spesie besef hulle moet saamstaan, maar tot dusver is daar geen verenigde front nie. Die drie atoombomme is eensydig deur een van hul politieke entiteite afgevuur. Die res het gegil en geskreeu en gedreig, bang dat dit ons net kwaad gaan maak en ’n teenaanval sal uitlok. Die kans is goed dat die ruimtetuie binnekort skadeloos sal wegswenk.”

“Ons sou dus met hulle kon praat? Nou al?”

“Ja. Die verkenners het die naaste aan ’n universele taal goed onder die knie en die vertaalmasjiene aan boord is geprogrammeer.” Die seinoffisier leun skielik nader en praat met ’n fluisterstem. “Ons gaan binnekort ’n eerste sein na hulle stuur.”

“Om wat te sê?”

“Dat ons kan help. Dat ons die agteruitgang op die planeet lank reeds monitor. Dat ons ervaring met soortgelyke probleme op ander planete het. Dáár het ons ingegryp en katastrofes verhoed of selfs omgekeer. Ons kan dit hier ook doen. Hulle moet net ons hulp aanvaar. Daar sal groot ontwrigting wees, maar op die ou einde sal alles en almal daarby baat. Ons is bereid om hulle die beste moontlike raad te gee en rond te hang terwyl hulle dié planne self in werking stel.”

“Sal hulle luister?”

“Dis die groot vraag, nè? Sal jy, as jy weet wat die hulp behels?”

Dwyn antwoord nie. Hy weet wat dit behels.

Heel eerste moet die oorheersende spesie se getalle drasties verminder word, want dis die oorsaak van alle kwaad.

In die gange het Dwyn in die verbygaan al dikwels die woord “plaagbeheer” gehoor.

 

Die skip wentel om die planeet. Die planeet wentel om sy ster. Die ster wentel om sy sterrestelsel se as. Die sterrestelsel spoed van die heelal se middelpunt weg.

 

Die skip hou standvastig by sy boodskap: “Ons kom help. Ons het ondervinding. Ons wil niemand onderdruk nie. Ons kom help. Ons wil dinge regmaak. Dit sal in die korttermyn pynlik wees, maar in die langtermyn sal almal en alles daarby baat. Ons kom help. Aanvaar net ons hulp.”

Die planeet het intussen darem ooreengekom oor ’n enkele gesag wat namens almal met die skip onderhandel.

Dié gesag se boodskap is: “Ja, ons weet ons het probleme, maar ons kan dit self oplos. Kyk maar na die gat in die osoonlaag. Dankie vir jul voorstelle. Ons neem dit in ag. Gee ons net kans.”

 

Die skip wentel geduldig om die planeet. Die planeet wentel om sy ster. Die ster wentel om sy sterrestelsel se as. Die sterrestelsel spoed van die heelal se middelpunt weg.

 

Op die planeet verander min. Elke dag sterf nog spesies uit. Die seevlakke bly styg. Besoedeling neem toe. Die alfaspesie kan homself net nie so ver kry om die allernoodsaaklike stap te neem nie.

 

Oplaas, ná die hoeveelste mislukte ronde onderhandelings, die hoeveelste dooiepunt, die hoeveelste weiering om die skip te nooi om in te gryp en met eintlik geen ander keuse nie, die besluit om die spanne in te stuur.

 

“Die goed is so knaend,” kla ’n groentjie. “Net wanneer jy dink jy kom êrens, spring daar weer ’n klomp uit ’n gat.”

Die veteraan rig net haar MX404 en trek ’n skoot af.

“Dis ’n kwessie van tyd,” brom sy. “En geduld. Leer julle snotneusies deesdae niks in die kollege nie?”

“Daar! Links! Links, sê ek. Weet julle outoppies nie meer wat die dom kant is nie?”

“Respek, snuiter. Ek was al op meer operasies as wat jy meisies gesoen het.”

“Meisies! Wat praat jy! Ek...”

“Jou sussies tel nie.”

Die groentjie stuur die gesprek gou in ’n ander rigting. “Hoeveel van die goed kan daar nog oor wees? Ons is reeds hoe lank besig.”

“Plaagbeheer werk net as jy dit deeglik doen. Deeglike werk kos tyd.” Die veteraan krap aan haar neus terwyl sy die omgewing bekyk.

Jy kan dié planeet se plaag beslis nie onderskat nie. Die veteraan sien geen beweging nie, maar los lukraak ’n skoot na regs. Jy weet nooit. Dalk peul iets uit.

“Dis vir hul eie beswil,” brom sy, miskien om haarself te oortuig.

“Ons wis hulle uit omdat dit goed is vir hulle?” Die groentjie plak die ironie dik aan.

“Ja, snotneus. Wie nie luister nie, moet voel. Kyk en leer.”

Dwyn bly sit terwyl die twee al kibbelend saam met die res van die peloton wegstap. Hy’t ’n rukkie nodig om na te dink. Hy merk dat Brinkel effens voete sleep en roep hom nader.

Dié kom sit langs hom, laat val sy wapen op die grond en wikkel sy pak van sy skouers af.

“Nee, hel, genoeg is genoeg,” brom hy.

“Jy lyk ook maar gatvol,” vis Dwyn uit.

“Jy weet dan,” sê Brinkel met ’n suur gesig. “Ons is hoe lank reeds aan die gang. Wanneer hou dit op?”

“Is dit werklik vir hul eie beswil?” wonder Dwyn hardop. Dis ’n gesprek wat hy en Brinkel al etlike male gehad het. “Daar is tog seker veel minder drastiese maniere om dieselfde uitkoms te bereik? Wat van emigrasie? Met streng voorwaardes. Ons kan help om daai rooierige planeet vir bewoning voor te berei. Of wat as ons hulle van ons tegnologie gee? Plasma-enjins, byvoorbeeld. Dan kan hulle groot vlote bou en na ander bewoonbare planete uitwyk. Ons kan...”

Hy skrik hom oor ’n mik toe hy meteens twee van die planeet se gedrogte ’n entjie van hulle af gewaar. Hy gril nou nog as hy hulle sien, al besef hy hulle is nie monsters nie (ná alles is hulle intelligent). Hy word darem nie meer naar as hy een van naby sien nie.

“Brinkel,” sis hy. “Daar...”

Brinkel gryp sy MX404 en mik.

Die twee gedrogte gaan staan botstil en klou aan mekaar vas.

“Wag,” sê Dwyn. “Sien jy ’n wapen?”

Brinkel skud sy kop.

“Hulle bedreig ons dus nie.”

Brinkel knik.

“Hulle’s tussen ons en die peloton,” sê Dwyn, “en hulle kom na ons toe.”

“Ja, en...?” wil Brinkel weet.

“Hulle wil vlug, nie veg nie.”

Brinkel laat sak sy wapen. “En ons staan hul ontsnaproete vol.”

“Dink jy wat ek dink?”

“Miskien,” reageer Brinkel.

Dwyn slaan die laaste spyker in die kis. “Kyk hoe geswel is daardie een! Wat as die ding ontplof en gifgasse vrystel?”

“Of spore wat ’n dodelike siekte versprei.”

“Ons kan mos nie daardie kans waag nie, of hoe?”

“Nee, jy’s reg, ons kan nie.”

Brinkel en Dwyn staan opsy. Die gedrogte skuur verby hulle en skarrel haastig tussen die rotse deur.

Hulle kyk met ’n sekere verstandhouding na mekaar.

Hulle gaan nie weer hieroor praat nie.

Nooit nie.

“Haai, wag vir ons,” roep hulle agter die rûe van die peloton aan.

 

Daardie aand in sy kooi wonder Dwyn steeds: Hoekom het hy hulle laat wegkom? Waarom het hy staande orders verontagsaam?

Miskien rem die planeet se swaartekrag te veel aan sy harsings. Miskien is hy eenvoudig nie hiervoor gemaak nie. Miskien is hy met ’n gewete vervloek.

Hy paai daardie gewete. Ons wil mos net uitdun, nie uitwis nie, of hoe? Die doel is om die ewewig te herstel, nie waar nie?

Watter verskil sal dit maak as twee individue bly leef?

Aan die ander kant: Hoe het die gedrogte die hele peloton ontwyk? Klaarblyklik is hulle slinks en slim. Hulle het net nie twee loodswaaiers verwag nie.

Miskien is daar baie meer van hulle as wat almal vermoed.

 

Diep in die donker grot luister die jong man en vrou na die dowwe knalle. Uit ervaring weet hulle die buiteaardse wesens kom nie tot hier onder nie. Dis nie nodig nie; hulle wag geduldig tot die mense na die oppervlak kom.

Hulle twee sal nog ’n rukkie kan uithou, maar nie baie lank meer nie. Daar is poeletjies syferwater. Daar is vlermuise teen die dak. Gebraai smaak hulle nie te sleg nie. Daar’s ’n paar handevol neute. Daar’s ’n stapeltjie blikkies, maar dié’s ’n gelukspakkie, want die etikette het losgeweek. Die brandhout is vinnig aan’t opraak.

Haar tyd ook. Sy waggel potsierlik, ongemaklik van die yslike buik. Hulle’t geen benul wat hulle moet doen wanneer sy begin kraam nie. Niemand gaan kom help nie. Hulle leef maar van dag tot dag. Nood sal raad moet bring, dis al.

Hulle kom agter dis buite stil. Die wesens sal miskien eers oor ’n week weer hier patrolleer. Hulle kan effens ontspan. Oor twee, drie dae kan hulle dit buite waag. Intussen darem weer vuur maak.

Die jong man breek ’n paar takke en trap ’n plank, eens deel van ’n groter kennisgewing, aan kleiner stukke.

Wieg van die Mensdom, kan hy die sierletters daarop net-net lees.

Lees die ander inskrywings hier:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top