Saartjie Botha laat jou die wêreld anders sien – met Die rolbalspeler

  • 0

Die rolbalspeler
Zain Eckleton
Uitgewer: Kwela Books
ISBN: 9780795703225

Brendon Daniels vertolk die hoofrol in Die rolbalspeler, 'n dramaproduksie by vanjaar se Suidoosterfees. Hans is ’n swaksiende man wat saam met sy ma (June van Merch) en broer (Dann-Jacques Mouton) in ’n hokkie agter op iemand anders se erf bly. Bedags vleg hy rottangmandjies by die Kaapse Instituut vir die Blindes. Dan ontmoet hy ’n jong vrou (Nicole Holm) wanneer hy die straat oorsteek – en sy lewe verander. Naomi Meyer het vir Saartjie Botha, die verwerker van die teks, oor die toneelstuk uitgevra.

Hallo Saartjie, jy het die boek Die rolbalspeler tot teaterproduksie verwerk. Maar dis mos eerder radiodrama wat letterlike teater van die blindes is. Hoe maak mens nou met ’n verhoogstuk oor ’n blinde persoon, een wat mense moet kyk?

Net die hoofkarakter, Hans, is blind, die ander karakters kan sien. Daar is oomblikke in die stuk wat ons die gehoor glimpse gee van wat Hans kan sien. Dit gee 'n interessante dinamika dat die gehoor kyk na iemand wat nie sien nie, en gekonfronteer word met wat hulle sien, en wat hy sien. Ons hoop om dit reg te kry met beligting en die stelontwerp.

Die storie is oor ’n arm, blinde karakter wie se lewe verander as hy eendag die straat oorsteek en ’n jong vrou ontmoet. Klink soos ’n feëverhaal. Voel dit ook soos een? En is dit noodwendig ’n slegte ding?

Die rolbalspeler is 'n toeganklike verhaal oor die najaag van drome en hoe 'n man bo sy omstandighede uitstyg, liefde en 'n loopbaan vind, en 'n kampioenrolbalspeler word sonder 'n sentimentele beskouing oor gestremdheid.

Saartjie Botha

Hoe vertaal mens die aksie van woorde in ’n sin in ’n boek dat die resultaat werklike aksie op die verhoog word? En nog moeiliker: Hoe verwerk mens ’n karakter se gedagtes – als kan tog nie hardop gepraat word nie?

Gelukkig was daar darem aksie in die boek – en ek kon dit uitbou. Die fisikaliteit van 'n blinde persoon is ook interessant. Van die gedagtes het ek in dialoog verwerk, en van dit is 'n persoonlike mededeling aan die gehoor. Ons speel bietjie met vertelstyle, omdat ons binne die beperking van die verhoog nie chronologies kan werk nie. Ek kon ook weens praktiese onmoontlikheid groot gedeeltes van die boek nie in die verhoogstuk insluit nie, en moet noodgedwonge daardie gedeeltes vertel.

Brendon Daniels

Die rolbalspeler word opgevoer op Woensdag 29 Januarie om 20:00, Vrydag 31 Januarie om 17:30 (uitverkoop) en Sondag 2 Februarie om 10:30 by die kykNET Teater, Kunstekaap. Kaartjies kos R120 en kan by Kunstekaap of Computicket gekoop word.

Lees ook 'n resensie van die boek Die rolbalspeler.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top