Saartjie Botha beloof om die gehoor weer te bekoor

  • 0

Saartjie Botha is die vervaardiger van drie produksies wat vir die eerste keer te sien is by vanjaar se Clover Aardklop. Ineke Coetzee het met haar daaroor gesels.

Saartjie Botha, bekende dramaturg en teatervervaardiger, is weer terug op Aardklop en dié keer sommer met drie produksies.

Botha, wat glad nie ’n nuweling in die toneelwêreld is nie, het veral vanjaar by die KKNK met haar produksie Balbesit die gehoor en kritici gaande gehad. Vanjaar spog sy as vervaardiger van Wie drink wat?, Wie’s bang vir Virginia Woolf? en Oorsee.


Wie drink wat?

Lokaal: kykNET Gimmies Duur: 80 min Ouderdom: Geen o/16: T/S
Taal: Afr. Prys: R 100.00
24/9/2013 - 13:30; 25/9/2013 - 20:30; 26/9/2013 - 9:00; 27/9/2013 - 20:30; 28/9/2013 - 9:00

“Wie drink wat? gaan oor alkohol – die rol wat alkohol in mense se lewens speel, hetsy goed of sleg. Dit is hier en daar komies, maar ook hartseer. ’n Klomp aspekte van alkohol word in dié stuk uitgebeeld,” sê Botha.

Ofskoon die gehoor moet nadink oor hul drankgewoontes of daai loopdop wat nooit net by een bly nie, sê Botha dat daar nie gepreek sal word in dié stuk nie.

“Kyk, jy wil ook nie aan die gehoor sê jy moet ophou drink nie. Die gehoor moet weet dat daar tye in die stuk gaan wees waar hulle gaan lag, maar ook tye waar hulle stil gaan word.”

Rolanda Marais, van Binnelanders-faam, speel ook in dié stuk, wat Botha en Christiaan Olwagen saam geskryf het.


Wie’s bang vir Virginia Woolf?

Lokaal: kykNET Gimmies Duur: 120 min Ouderdom: Geen o/16: T/S
Taal: Afr. Prys: R 120.00
24/9/2013 - 9:00; 25/9/2013 - 12:30; 26/9/2013 - 20:00; 27/9/2013 - 9:00; 28/9/2013 - 12:30

Wie’s bang vir Virginia Woolf? is deur Botha vir die verhoog in Afrikaans vertaal. Edward Albee se bekende boek is ook al in ’n fliek omskep, maar Botha is veral opgewonde oor dié verhoogstuk.

“Dit is ’n ongelooflik goeie play wat ’n groot indruk op my gemaak het. Die storie word hierdie jaar 50, maar dit is steeds absoluut relevant. Dit is ’n tydlose, klassieke drama met net vier karakters en dit is verbysterend uitdagende rolle.”

Dit vertel die storie van ’n jong getroude paar en die oorlog tussen ou getroudes in ’n nag van verwyte, verraad, ontboeseming en versinsel.

“It’s not pretty,maar dit is aangrypend. Die stuk is eintlik langer as drie ure, maar ons wil dit hopelik na twee ure afbring. Ons wil ook seker maak dat ons niks van die storie verloor nie,” het Botha gesê.

Sandra Prinsloo speel Martha en André Jacobs speel haar man George.


Oorsee

Lokaal: Boys High Duur: 100 min Ouderdom: Geen o/16: T/S/N/G
Taal: Afr. Prys: R 95.00
24/9/2013 - 20:00; 25/9/2013 - 9:00; 26/9/2013 - 15:00; 27/9/2013 - 16:00 ; 28/9/2013 - 20:00

Oorsee is ’n postapokaliptiese verhoogstuk oor Afrikaanse Suid-Afrikaners.

Botha verduidelik dat dit na Afrikaans en sy toekoms kyk.

“Wat moet mens afleer om aan te beweeg? Dit is nie net somber nie, want die stuk is lig en ook tong-in-die-kies. Dit vra ook die vraag: Wat sou gebeur (het) as dinge anders was?”

Tertius Kapp, die skrywer van Rooiland, het dié stuk geskryf en Botha loof sy skryfvermoë.

Een ding is verseker met dié drie verskillende produksies, en dit is dat daar iets vir elke kyker is, of jy nou hou van drama, komedie of sommer al twee.

“Johannesburg en Potch se paaie is ook nou al geteer en reggemaak, so daar is geen verskoning om vanjaar Aardklop te mis nie,” het Botha gesê.

 

 

  • Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top