
...
Ons het Amerika meer nodig as wat hulle ons nodig het. Ebrahim Rasool se flater wat hom die trekpas gekos het, het verreikende gevolge vir Suid-Afrika. Wat staan ons nou te doen?
...
Dit gons behoorlik nadat die VSA Suid-Afrika onlangs op heel onseremoniële wyse gevra het om die land te verlaat. Om so deur waarskynlik die magtigste Westerse moondheid hanteer te word, is nie alleen vernederend nie, dit is terselfdertyd kommerwekkend.
Kardinaal belangrik is om te weet dat ekonomiese realiteite altyd deurslaggewend is. Daarby moet ons besef dat Suid-Afrika nie ’n supermoondheid is nie. Soos VSA-oudpresident Bill Clinton altyd gesê het: “Dit is die ekonomie, dommie.” Alle ander politieke vraagstukke, hetsy internasionaal of nasionaal, is hieraan gekoppel. Hiermee saam die ou cliché: “Beggars can’t be choosers.” Ons het Amerika meer nodig as wat hulle ons nodig het. Ebrahim Rasool se flater wat hom die trekpas gekos het, het verreikende gevolge vir Suid-Afrika. Wat staan ons nou te doen?
Die geluide sover uit die President se kantoor is tot ’n mate gerusstellend. Daar was nie histerie nie en ten minste is gevra dat Rasool sy optrede moet kom verduidelik. Dit stuur die regte sein. Om dit egter as ’n haakplekkie te wil afmaak, is misplaas. Die Suid-Afrikaanse regering moet ondubbelsinnig erken dat ons die gevolge van die jongste herrie nie kan bekostig nie. Dit moet ook baie duidelik uitgespel word dat Rasool gefouteer het met sy opruiende en aktivistiese uitsprake wat nie die amp van ambassadeur waardig is nie. Dit wil voorkom of hy glad nie sy rol as ambassadeur enigsins verstaan nie. Roekelose en dogmatiese politieke stellings is juis waarvan ’n diplomaat hom moet weerhou.
...
Anderkant die karikatuur wat die onfatsoenlike Donald Trump is, bly die feit dat hy die legitiem verkose president van daardie land is. Of dit die regte keuse is wat Amerikaanse kiesers gemaak het, is nie ter sprake nie.
...
’n Diplomaat se rol is in die eerste plek om ’n kanaal te skep wat konstruktiewe skakeling tussen die gasheerland en die land wat hy verteenwoordig, te skep. Die Rasool-blaps sal voortaan as ’n handboekvoorbeeld voorgehou kan word van hoe diplomasie nié bewerkstellig word nie. Hy het hom soos ’n skoorsoekerige politikus gedra en die president van die land waar hy as gesant behandel wil word, persoonlik beledig. Dit was nie dapper nie. Dit was dom. Dat daar ernstig besin moet word oor hoe die diplomatieke verhoudinge met die VSA gehandhaaf moet word, ly geen twyfel nie.
Veral drie aspekte verdien aandag:
- Hoe benader ons Washington, DC onder die huidige omstandighede?
- Besinning oor ons geopolitieke posisie.
- En om seker te maak dat ons die basiese beginsels van sinvolle diplomasie toepas in ons verhoudinge met die VSA en ander lande.
Die Trump-era is ’n realiteit. Anderkant die karikatuur wat die onfatsoenlike Donald Trump is, bly die feit dat hy die legitiem verkose president van daardie land is. Of dit die regte keuse is wat Amerikaanse kiesers gemaak het, is nie ter sprake nie. Dit was hulle verkiesing, nie ons s’n nie.
Natuurlik is dit nie ’n maklike situasie nie. Dit sal egter baie help om dit waarmee gewerk moet word, te aanvaar en die beste van die saak te maak. Veral ter sprake is die Trump-administrasie se program wat tans uitgevoer word en die persoonlikheid van die man in die Oval Office.
...
As die Amerikaners nie enige voordeel uit ’n ooreenkoms of verstandhouding kry nie, kyk hulle gewoon anderpad. Dit is hoe eenvoudig dit is.
...
Die ideologies gelaaide Make America Great Again- oftewel MAGA-diktum veronderstel ’n baie eng nasionalistiese en chauvinistiese politieke posisie wat ingeneem word. Hiervolgens moet Amerikaanse belange te alle tye onder alle omstandighede voorkeur geniet. As die Amerikaners nie enige voordeel uit ’n ooreenkoms of verstandhouding kry nie, kyk hulle gewoon anderpad. Dit is hoe eenvoudig dit is. Enige onderhandelinge met die VSA moet duidelik aantoon dat dit wedersyds voordelig sal wees. Wat nie beteken dat Suid-Afrika nie selfgeldend hoef te wees nie. Arrogansie is egter nie ’n opsie nie.
Diplomasie begin en eindig nie met die aanstelling van ’n ambassadeur nie. ’n Professionele span wat die ambassade beman en dag en nag werk om diplomatieke bande te versterk, is onontbeerlik. Alles dui daarop dat dit die afgelope maande, of selfs jare, nie die geval was nie. Hierdie toedrag van sake het ’n vakuum geskep wat die selfaangestelde AfriForum-afvaardiging na Washington, DC moontlik gemaak het. Die Suid-Afrikaanse ambassade moet duidelik sigbare en konstruktiewe teenwoordigheid in daardie stad hê.
Die enigste voorspelbare eienskap van Trump is sy onvoorspelbaarheid. Sy ego is ’n alles oorheersende eienskap van wie hy is. Daardie ongelukkige openbare tête-à-tête tussen president Wolodimir Zelenski en Trump het duidelik gewys dat staatsmanskap nie ’n eienskap is wat aan Trump toegedig kan word nie. Om hom belangrik te laat voel, hoe moeilik ook al, is ’n raadsame benadering. Waar daar met hom verskil word, sal dit met die grootste omsigtigheid gedoen moet word. Slegs ervare diplomate met die nodige kennis en finesse sal weet hoe om dit te hanteer – met die wete dat sukses nie altyd gewaarborg is nie.
Wat Suid-Afrika se geopolitieke posisie betref, blyk dit dat die VSA en ander Westerse moondhede nie as leidende rolpelers op die internasionale verhoog erken word nie. China en Rusland word ten minste as ewe belangrike spelers in die internasionale arena erken. Suid-Afrika is deel van ’n denkskool wat graag ’n nuwe wêreldorde wil sien. Die uitdaging is om verhoudinge met een magsblok nie ten koste van die ander te laat geskied nie. Die Israel-Palestina-kwessie kompliseer sake verder. Eensydigheid maak die probleem erger. Suid-Afrika kan nie ten hemele skreeu oor MAGA en dan lande soos Iran, waar geen demokrasie of menseregte bestaan nie, kritiekloos om die lyf val nie. ’n Pragmatiese benadering met realpolitik as riglyn en gestroop van ideologiese gedrewenheid sal ’n wyser opsie wees. En selektiewe moraliteit ondermyn ons geloofwaardigheid.
...
Vertroue is wat herwin moet word. Respek, harde werk, bekwaamheid, en nogmaals respek, is nou van deurslaggewende belang. Onverskilligheid hieroor sal ons duur te staan kom.
...
Buitelandse verhoudinge en internasionale diplomasie is inherent paradoksaal van aard. Die kompleksiteit van die internasionale stelsel kan nie geïgnoreer word nie. Dogmatiese posisies is nie bevorderlik vir suksesvolle buitelandse verhoudinge nie. In sy onlangs gepubliseerde boek getiteld On leadership maak die voormalige Britse premier Tony Blair ’n geldige punt oor diplomasie. Blair se argument is dat vertroue die valuta is van internasionale diplomasie. Volgens hom maak ’n land se politieke affiliasie en interne politiek op ’n nasie-tot-nasie-vlak nie regtig saak nie. Wat wel saak maak, is dat daar openhartig met mekaar gepraat kan word oor wat belangrik is.
Die diplomatieke impasse tussen die VSA en Suid-Afrika gaan nie maklik herstel word nie. Die Suid-Afrikaanse regering moet allereers die erns van die saak besef. Die volgende ambassadeur, wat verkieslik nie ’n politikus moet wees nie, sal met algehele bekwaamheid te werk moet gaan om die beste van ’n slegte saak te maak. Sy of haar eerste doelwit sal moet wees om met respek wedersydse respek te bewerkstellig. Wat dringend gevestig en uitgebou moet word, is ’n kanaal waardeur betekenisvolle gesprekke gevoer kan word. Vertroue is wat herwin moet word. Respek, harde werk, bekwaamheid, en nogmaals respek, is nou van deurslaggewende belang. Onverskilligheid hieroor sal ons duur te staan kom.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Persona non grata – wanneer ’n diplomaat slae ontvang namens sy regering

