SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se nuwe uitvoerende hoof

  • 0

Dion? Prinsloo is die nuwe uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Dis die eerste keer in die geskiedenis van die SA Akademie se bestaan van meer as ’n eeu dat ’n vrou die administratiewe leisels van die SA Akademie oorneem.

Prinsloo, ’n ma van vyf, is ’n afgetrede geskiedenisdosent van die Universiteit van Suid-Afrika. Sy dien tans in die direksie van AfriForum en die Nasionale Jeugtrust en was vroeër onder andere direksielid en dagbestuurslid van die FAK, president van Dames Aktueel en vise­president van die Dameskring. Sy is steeds voorsitter van die Beweging Red Kerkplein en die Vlaams-Suid-Afrikaanse Stigting (Tak Overvaal). Sy is ook die Noordelike verteenwoordiger van die Afrikaanse Taalraad.

Prinsloo volg Jacques van der Elst op wat van 1 Julie af sy volle aandag as uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad gaan bestee aan die ontwikkeling van ’n administratiewe sentrum vir die Afrikaanse Taalraad.

Naomi Meyer het haar ’n paar vrae oor die toekoms gevra.

 

Hallo Dion?, baie geluk met die aanstelling as uitvoerende hoof van die SA Akademie van Wetenskap en Kuns, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Dit val my op dat daar ten eerste melding gemaak word van die feit dat jy ‘n vrou en ‘n ma is.

Dankie vir die gelukwensing – ek waardeer dit.

Dit bly vir my lekker dat my vrou-, ma-, en deesdae ouma-wees in die berig in die Burger so hoog aangeslaan is. Ek ervaar dit alles as deel van mens-wees.

Die res van jou agtergrond tref my egter ewe veel: direksies, presidentskappe, visepresidentskappe, voorsitterskappe ... ‘n Mondvol! Vertel asseblief in breë trekke vir ons lesers wat jou werk in al hierdie hoedanighede behels.

Eintlik is dit op die oomblik net as die Afrikaanse Taalraad (ATR) se Noordelike verteenwoordiger dat ek elke dag deurlopend aktief is. Jacques van der Elst, die huidige UH van die Akademie, sal vanaf 1 Julie voltyds ’n aparte kantoor vir die ATR bedryf. Ek sal nie na Junie as Noordelike verteenwoordiger by die ATR kan voortgaan nie, maar die Akademie en ATR sal steeds baie nou saamwerk.

Ek is baie tuis in die Afrikaanse kultuurwêreld se netwerke. Die afgelope drie jaar wat ek by die daaglikse aktiwiteite en die publikasies van die ATR betrokke was, beskou ek as goeie voorbereiding vir my nuwe pos. Deur die ATR is ek nou al goed vertroud met administrasie (sakelyste, notules, organisering van vergaderings en byeenkomste en dies meer). Dit het alles in noue samewerking met die Akademie se kantoorpersoneel geskied, wat beteken dat ons reeds ’n baie gemaklike werksverhouding geniet. Dit is vir my ’n baie groot bonus.

Wat die AfriForum Direksie en ander direksies, soos in die HF Verwoerdtrust, betref, is die rol van direkteure meer beleidsbepalend as uitvoerend – ervaring wat vir my baie waardevol sal wees, omdat ek nou sal saamwerk met die Akademieraad en veral die voorsitter, Wannie Carstens. Ek is sedert 2001 lid van die Akademie se Geskiedeniskommissie en is dus ook vertroud met die werkwyse van die Akademie se kommissies.

Na my jare lange samewerking met die FAK as direksielid, dagbestuurslid en latere voorsitter van die Geskiedenispaneel­ is ek nou pas as lid van die nuwe FAK se Geskiedeniskomitee geko?pteer. Nog ’n voltooide sirkel.

Dames Aktueel het as Vroue-in-Aksie by Solidariteit se Helpende Hand ingeskakel. Die Vlaams-Suid-Afrikaanse Kultuurstigting (VSAKS) se swaartepunt het na die Wes-Kaap verskuif (ons hier in die noorde kan maar net nie met die see en berge meeding nie), maar ek behou kosbare vriende in Vlaandere en in die Suid-Afrikaanse kunstenaarsgeledere na die optredes wat die VSAKS in 1998 en 2002 gereël het. Beweging Red Kerkplein beweeg tans nader aan die Erfenisstigting, omdat laasgenoemde ’n sterker stem is in die lig van al die beplande veranderinge in Pretoria.

Ek is bly om die misverstand in die berig van die Burger te kan regstel – ek is nie die voorsitter van Bandhulp vir Blindes nie, maar wel van die Afrikaanse afdeling wat die keuring doen vir boeke wat op band voorgelees word. As leesverslaafde en aktiewe lid van beide die Mabel Malherbe- en die Prisma-leeskring was dit vir my moontlik om ’n sterk keurkomitee bymekaar te bring, wat ook die voorlesers van die bande insluit. Van elke vergadering maak ons ’n kuierfees, waar ons self ook van nuwe Afrikaanse boeke bewus word.

En waar jy tyd kry om inderdaad boonop ma te wees tussendeur?

Ons kinders is vir my so ’n hoë prioriteit dat ek nooit eens in terme van tyd aan hulle dink nie. Ek en my man, Karel Prinsloo, het omtrent daagliks kontak met al vyf. Hulle is verspreid oor die aardbol – Dallas, Londen en Nederland, en gelukkig darem twee in Pretoria. Met die kleinkinders is Skype wonderlik en ek druk sommer tuis die prentjies uit wat hulle voor die kamera vir Ouma se inspeksie ophou, dan kom dit op die yskas. Ons kuier ook ordentlik – almal doen moeite om mekaar te sien, en ek en Karel hoop om Kersfees in Dallas te wees.

En nou: die SA Akademie. Vertel ons asseblief van hierdie posisie en hoe jy die toekoms hier sien.

Die Akademie is reeds baie goed gevestig en ek wil graag op daardie stewige fondament voortbou.

Die verskillende kommissies doen kosbare werk – die Taalkommissie se Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is onmisbaar. Die Geskiedeniskommissie se puik nuwe werk oor Suid-Afrikaanse geskiedenis (onder redaksie van Fransjohan Pretorius) word op 22 Junie 2012 bekendgestel, en daar is nuwe uitdagings, soos om die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek elektronies te laat herleef (waaroor binnekort formeel met LitNet gesels sal word). Die Poortkompetisie vir kreatiewe skryfwerk deur graad 10-, 11- en 12-leerders neem in gewildheid toe. Die Kommissie vir Uitvoerende Kunste is aktief by byvoorbeeld Aardklop; die Onderwyskommissie publiseer binnekort ’n verslag oor die skadelike inmenging van die politiek in die onderwysbedeling; die Kommissie vir Visuele Kunste se Kunstewoordeboek is op die Akademie se tuisblad beskikbaar. En dan maak die Akademie natuurlik jaarliks toekennings wat hoë erkenning geniet.

Finansies is deurslaggewend, en die Finansiële Kommissie bestuur die Akademie se beleggings. Borge, skenkings en erflatings word verwelkom! Dit sal een van my uitdagings wees om bande met die gevestigde borge te versterk en ook na nuwe borge te soek.

Ek hoop om gou na diensaanvaarding die verskillende werkgemeenskappe van die Akademie te besoek en na die voorbeeld van die sukses wat die Afrikaanse Taalraad behaal het deur aktiewe meewerking met ander organisasies, ook soortgelyke samewerking te versterk.

Een van my doelwitte is om jong akademici na die Akademie te lok.

Die Akademie se tydskrifte is geakkrediteer en feesuitgawes word van tyd tot tyd oor bepaalde onderwerpe, en hanteer deur gasredakteurs, onderneem – ook na hierdie samewerking sien ek uit.

Is dit reeds warm in die saal, nog voordat die pos formeel afgeskop het? Want die onlangse toekenning aan Adam Small deur die Akademie het jou seker ook reeds geraak, hoewel jy die posisie eers van 1 Junie af oorneem. Is ek reg? Was jy reeds betrokke by die Adam Small-toekenning? Wat is jou gedagtes hieromtrent?

Ek was nie direk hierby betrokke nie, maar ek steun die toekenning ten volle. Vanselfsprekend het die Akademieraad die mandaat om op ad hoc-basis uitsonderings te maak. Nogtans is ek bly dat daar deurwinterde reglemente is wat grense stel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top