Rymklets saam met Jitsvinger op Jeugdag: ’n onderhoud

  • 0

Jitsvinger gaan Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl besoek as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdagviering op 16 Junie 2017. Menán van Heerden het met hom gesels om meer uit te vind oor rymklets as “edutainment”.

Jy gaan op Jeugdag ’n kort werkswinkel oor rymklets in Afrikaans aanbied. Hoe dra rymklets by tot “edutainment”? Daarmee saam, vertel wat jy onder edutainment verstaan en van jou ervaringe as edutainer in Suid-Afrika en elders.

Musiek is ’n geïntegreerde aspek van mens se kultuur en dra by tot ongekende tegniese bevordering in die kontemporêre samelewing. Rymklets/rap op musiek het vir my ’n nuwe deur oopgemaak deur hip-hop: ’n universele watervoor wat jongmense toegang gee tot identiteit as ’n populêre jeug-subkultuur en primêre invloed. Edutainment bestaan uit twee gedeeltes, naamlik education (opvoeding) en entertainment (vermaaklikheid). Ek vind dit oral (plaaslik en oorsee) interessant hoe edutainment vir my inlig omtrent die kompleks sosiale raamwerk van die jeug se identiteit.

Hoe dink jy kan rymklets bydra as ’n opvoedkundige instrument (buite die formele opvoedkunde, geletterdheidspraktyke en kurrikulum) vir die jongmense met wie jy werk?

Hip-hop-kultuur het ’n groot invloed op die individu se self-bewustheid en sosiale waarneming en dwing ’n kritiese mentaliteit af. Rymklets bevat talle tegnieke en style wat vordering bied aan die literêre wêreld. Dit gee ook, in my ervaring, beter toeganklikheid tot fasette van letterkunde en die beginsels wat dit beheer.  

Foto deur Lindsey Appolis

 Jy het in 2011 met Afrikaaps in Nederland getoer. Jy het pas teruggekeer van jou tweede Nederlandse toer met die musikale teaterproduksie South African Road Trip: Celebrating Life. Wat staan vir jou die meeste uit van jou Nederlandse opvoerings?

Nederlanders is veral gefassineerd oor die Afrikaanse taal se oorspronklikheid en soortgelykheid aan Nederlands. Daar is groot belangstelling vir Afrikaans oorsee oor die algemeen, met aanvraag uit alle oorde van die taal, van musiek tot die geskrewe woord, maar so min platforms plaaslik, wat industrie-vordering kniehalter.

 Jy het tydens ’n 2016-Woordpret-funksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch genoem dat daar nie net een Afrikaanse standaardtaal is nie, daar is standaarde. Vertel vir ons meer hoe rymklets bydra tot die viering van verskillende vorme van Afrikaans.

Rymklets is die billboard van streeksdialekte, die baarmoeder van nuwe woorde en die fakkel van progressiewe letterkunde. Jy sien dit op sosiale netwerke, in gedigte, op die verhoog met ’n kwaai beat en op die nuutste fashion.

  • Sien die persvrystelling vir Jitsvinger se besoek aan Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdag-viering op 16 Junie 2017.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top