Riana Scheepers, Suzette Myburgh-Kotzé en Gertie Smit is besig om 'n rym-, aksierym- en liedjiebundel saam te stel vir heel kleintjies van ouderdom een tot drie jaar. Lees die uitnoding om bydraes te stuur, hier.
Naomi Meyer het al drie van hulle oor die projek uitgevra en elk het die vrae oor die onderwerpe beantwoord waarby hul die nouste betrokke is.
![]() |
|
Riana Scheepers
|
Hallo Riana, Suzette en Gertie. Sal julle elkeen asseblief in ’n sin of twee vir ons lesers van jul agtergrond kan vertel?
R: Ek is skrywer, boervrou en passievol betrokke by enige projek wat te maak het met geletterdheid en leesopvoeding. Verder is dit uiters opwindend om met talentvolle, entoesiastiese skrywers te werk.
S: Ek het ’n honneursgraad in joernalistiek en is al amper 24 jaar in die uitgewersbedryf, ses jaar daarvan as kinderboekuitgewer by Tafelberg. Sedert 1998 werk ek vryskut.
G: Ek het my hele professionele loopbaan gewy aan kleinkinderopvoeding: eers as ’n “sub A-juffrou”; daarna was ek vir meer as 30 jaar betrokke by onderwyseropleiding op Wellington; en nou is ek as Beheerraadslid verantwoordelik vir kurrikulumontwikkeling van die speelskool Kinderland op Wellington. (Ja, ons heel kleintjies kry nou ook ’n amptelike kurrikulum van Nasionale Onderwys: die “National Curriculum Framework from Birth to Four Years” is pas in September vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer.)
Na jul Nuwe Kinderverseboek stel julle nou ’n gedig-, aksierym- en liedjieboek saam vir die heel kleintjies. Dis mos maklik om vir kinders te skryf, of hoe? Sit ek toe gisteraand met my tweejarige en lees vir haar rympies ... en besef dan sy is ’n nog meer kritiese leser as haar ma. Wat het elk van julle geïnspireer om hierdie moeilike taak aan te pak?
R: Moet tog net nie die fout maak om te dink dit is maklik om vir kinders te skryf nie - dit is sonder enige twyfel moeiliker. Gertie is die inisieerder van hierdie projek wat die groot behoefte aan rympies vir ons heel kleinste lesertjies aan eie lyf voel. Sy het my genader net om bietjie raad te vra, en toe byt die gogga my weer. Ek weet nie wat my besiel het nie, maar as mens eers begin rympies bedink, dan is dit asof jy in ’n ander wêreld leef – ’n wonderlike, vrolike, slim en opwindende wêreld. Ek sou dit egter nie oorweeg het om dié taak aan te pak sonder die kundigheid van Suzette en Gertie nie, en veral nie as ek twyfel oor hul werksvermoë gehad het nie. Ek wéét hier lê ’n enorme taak voor, maar as drie kundige, hardwerkende vroue, wat boonop ’n liefde vir kinderlektuur het, hul kragte saamspan, dan gaan die wonderwerk gebeur.
S: ’n Projek soos Kinderverseboek is eintlik soos huisbou: ná die eerste keer moet jy dit eintlik weer doen om al die (harde) lesse wat jy geleer het, te benut. ’n Bundel soos Kinderverseboek het egter ook ’n lang leeftyd – vyf jaar of meer – dus kon ons nog nie ’n tweede bundel oorweeg nie. Toe kom Gertie met die voorstel vir ’n boek vir die heel kleintjies (1 tot 5 jaar) wat van die opvoedkundige kant benader word en ... voilà!
G: In voorskoolse onderwys volg ons ’n geïntegreerde benadering wat al die aktiwiteite van die dag, waar moontlik, aan ’n sentrale tema koppel. As die tema byvoorbeeld troeteldiere is, dan handel die storie, gediggie, liedjie, kunsaktiwiteit, ens alles oor daardie tema. Terwyl ek besig was met Kinderland se kurrikulum het ek gou besef dis baie moeilik om genoeg gepaste gediggies in die hande te kry. Wat veral moeilik is, is om iets te kry vir die ou heel kleintjies. Net daar het my “droom” ontstaan: om soveel mense as moontlik te betrek om te help skryf aan ’n bundel gediggies wat spesifiek op die behoeftes van kleuterskole afgestem is – rondom temas en op die vlak van 1- tot 3-jariges. Maar hoe nou gemaak? Gelukkig het ek Riana geken en woon ons toevallig (?) albei op Wellington. Sy ken weer vir Suzette – en siedaar!
Dis nie maklik om vir kinders te skryf nie – en hoe jonger die kleintjie hoe moeiliker is dit om (vir hulle) sinvolle gedagtes in min en eenvoudige woorde te skryf. Dis belangrik dat die skrywer sy/haar mark (1-, 2- en 3-jariges) ken. Dit sou goed wees as die skrywer gediggies skryf met ’n spesifieke kleintjie uit sy familie- of vriendekring in gedagte. Ons moet ook die groot verskil in die taalvermoë van ’n 1- en 3-jarige kleintjie in ag neem.
![]() |
|
Suzette Myburg-Kotzé
|
As iemand ’n liedjie of aksierympie vir julle stuur, wat moet hul in gedagte hou – Mamma wat ’n storie voorlees voor slaaptyd? Pappa wat saamdans op die mat (glád nog nie slaaptyd nie)? Hoe werk julle indelings en kategorieë tot dusver?
G: Ons het 23 algemene temas wat met die kind se leefwêreld verband hou, vir die bundel gekies – daar is nog baie ander. Vir die gerief van die skrywers is elke tema ontleed, sodat daar binne ’n tema verskeie moontlikhede lê waarop hulle in hul gedigte kan fokus.
Sien die temas wat ons betrek, by hierdie skakel:
http://www.surveymonkey.com/s/T95N538.
Tye het verander sedert DJ Opperman se oorspronklike Kleuter- en Kleinverseboek. Konteks, aandagspan, wêreldbeskouings. Daar’s byvoorbeeld ’n advertensie op die televisie met ’n baba wat ongeduldig raak as die selfoon nie vinnig genoeg die speletjie laai om hom besig te hou nie. Hoe hou mens ’n heel kleintjie se aandag met woorde alleen?
R: Natuurlik is die woorde van belang, maar dit spreek vanself dat die peutertjie hierdie rympies en liedjies binne ’n spesifieke ruimte en konteks moet ervaar. Die versies moet gesing word, met die nodige begeleiding van handjies wat klap en voetjies wat stamp. Hopelik gebeur dit altyd in ’n liefdevolle, prettige atmosfeer, sodat leer en speel deel is van die hele leesproses.
G: Kleintjies hou van rym, ritme, klanknabootsing, aksies, prentjies, ens. Al hierdie elemente word saamgevoeg binne ’n temakonteks wat vir hulle op hulle ontwikkelingsvlak interessant is. Plaas so ’n gediggie in die hande van ’n geesdriftige, vriendelike en liefdevolle opvoeder wat haar kleintjies kan meevoer en jy het hulle aandag.
Binne al die veranderde en veranderende omstandighede: Wat het, as dit by peuters en versies kom, dieselfde gebly?
R: Ek lees nog na al die jare kinderpoësie, al is ek baie, baie oud. Pret en vreugde en die wonderlike ontdekking van woorde en betekenisse en klanke het dieselfde gebly in hierdie genre. En humor! Poësie is ’n verrykte taalaanbod, wat misterieus én terselfdertyd pret is. Kinders is mal oor poësie, want daar is altyd ’n bietjie teater by, en baie, baie humor. Geen wonder dat hulle in Engels sê: “When you are eight, poetry is great!” nie. Dit is verskriklik jammer dat kinders mettertyd die vreugde van poësie verloor, en dink dat dit moeilik en ontoeganklik is, want dit is nie waar nie!
![]() |
|
Gertie Smit is betrokke by Kinderland in Wellington.
|
G: Soos jy sê, die leefwêreld verander, maar die kleintjie verwerf steeds sy moedertaal soos altyd, terwyl gediggies steeds die kreatiewe samevoeging van woorde ryk aan rym en ritme bly.
Kleuters en peuters is ook nie dieselfde dierasies nie. Kleuters kan temas waardeer en soms, selfs, meervlakkigheid. Maar hoe gemaak met die heel kleintjies?
R: Hierdie boek is júis vir die heel kleintjies, die peutertjies vanaf 1 tot 3 jaar; dit is vir hulle dat daar in hierdie bundel voorsiening gemaak word. Dis die eerste keer dat daar in Afrikaans so ’n fokus op die heel kleintjies is. Uiteraard is die taalaanbod vir hierdie teikengroep baie eenvoudig, met eenlettergrepige woorde, klanknabootsing en korter verse, en heelwat herhaling. Gedink dit is maklik om so iets te skryf? Probeer om twee perfekte, eenvoudige en sinvolle reëls te skryf, en jy gaan sien dit is allesbehalwe maklik.
G: Weer eens: die skrywers moet die kind ken vir wie hulle skryf. Op een jaar is die kind se aktiewe woordeskat min – dit hou dikwels verband met klanknabootsing: woef, miaau, mê, brmm–brmmm, ens. Hulle passiewe woordeskat het egter al verder gevorder. Die kleintjie sal moontlik nie al die woorde in die gediggie wat vir hom voorgesê word, verstaan nie, maar sal die klanke, ritme en rym geniet.
Op twee tot drie jaar brei die kleintjies se woordeskat vinnig uit en word die gediggies meer gevorderd. Die bundel maak hiervoor voorsiening deur die moeilikheidsgraad van die gediggies te wissel. Een manier is om die aantal reëls te wissel (2, 4, 6, of hoogstens 8 reëls lank), en die ander lê in die aantal lettergrepe per reël. ’n Derde manier hou natuurlik verband met die woordeskat wat gebruik word.
Ons moet ook onthou dat “moeiliker” rympies as luistermateriaal vir die kleiner kinders gebruik kan word, terwyl die ouer maatjies kan begin om dit saam te sê.
Smaak verskil, van een tot een honderd. My een kind hou van diere; my ander kind vrees hulle. Watter temas werk vir almal?
R: Gertie sal ’n beter ingeligte mening hieroor hê, omdat sy direk met die kinders werk. My ondervinding is dat alle kinders hou van iets wat vrolik en humoristies is. Ook iets wat bietjie aweregs is, soos stoute babas of ’n ouma wat in ’n rock band speel. En dinosourusse is nog steeds wonderlik!
G: Die wye reeks temas, almal uit die kind se leefwêreld, is juis ’n sterk punt van die bundel. Dit is die taak van die volwassene om uit die meer as 500 gediggies wat ons hoop om in die boek op te neem, dié uit te soek wat by die besondere kind(ers) pas. Maar moontlik kan ’n kind juis deur die eiesoortigheid van ’n gediggie se rym, ritme, klank en humor sy vrese in ’n nuwe lig sien.
Wanneer is ’n woord oulik vir ’n grootmens en nie so oulik vir ’n kind nie? Enige kriteria?
G: Dis nogal ’n moeilike vraag. Ek kom maar elke keer terug by dat die skrywer die peutertjie moet ken – en hulle is elke dag tussen ons: ons loop hulle in die winkel, kerk en by vriende raak as ons hulle nie in die familie het nie. ’n Riglyn kan dalk wees dat kleintjies ’n woord net in sy letterlike betekenis verstaan, terwyl die oulikheid van die woord dikwels vir ’n grootmens in sy dubbele betekenis of simboliek lê.
Hoe ’n groot rol gaan die prentjies speel? Is dit nie amper deurslaggewend nie?
R: Illustrasies gaan ’n baie belangrike rol speel – selfs meer as in ander kleuterboeke – maar ons gaan nie nou ons troefkaart verklap nie!
S: In ’n kinderboek is illustrasies altyd baie belangrik – soms net so belangrik soos die teks (byvoorbeeld in prenteboeke, waar die tantièmeverdeling vir skrywer en illustreerder 50/50 is). Met ons nuwe boek wil ons 23 temas dek, wat onmoontlik sal wees om omvattend te illustreer – die boek sal net te dik raak. Die bundel gaan steeds illustrasies kry om dit mooi en kleurryk te maak, maar die volledige illustrasies gaan as ’n aparte pakket prentkaarte uitgegee word. Dit sal veral nuttig wees vir opvoeders om in die klaskamer te gebruik, maar ook vir ouers om saam met die boek te gebruik en die kind se leefruimte te versier.
G: As mens kyk na prenteboeke wat stories vir kleintjies uitbeeld, speel die illustrasie ’n prominente rol. Dit skep konteks en gee bykomende inligting wat nie in die teks weergegee kan word nie. Dieselfde geld vir gediggies – eintlik nog meer, omdat die aantal woorde min is en die rymelement die keuse van woorde beperk. Illustrasies gaan dus ’n groot rol speel.
Beoog julle enigiets soos ’n CD-ROM of ’n tegnologiese toevoeging tot die boek?
R: O, ja. Dit is amper onontbeerlik.
S: Beslis; dis baie belangrik. Moontlik ’n oudioboek met liedjies en voorlesings, of watter formaat ook al wat prakties en kostegewys sal werk.
Laastens: ons beoog ook ’n vertaling van die boek in Engels. Weens die meer gevorderde taalvlak van Kinderverseboek was vertaling nie moontlik nie, maar met die kort verse en eenvoudige taal kan hierdie boek suksesvol vertaal word.
Nota ten slotte: die drie samestellers is op soek na bydraes.
"In Nuwe Kinderverseboek was sommige van ons beste bydraes nie noodwendig geskryf deur gevestigde digters nie, maar deur oupas en oumas," verklap Riana Scheepers.
Sien asseblief die oproep om voorleggings vir kontak- en nog besonderhede.





Kommentaar
Ek sal hierdie webblad verseker weer gebruik!
xxx