“Dis wat oor is van ’n lewe,” het Ryk vir my gesê een van die laaste kere toe ek hom gesien het, en hy beduie na huisraad en ornamente, na kunswerke en boekrakke.
Ons was op ’n boeksoek-ekspedisie in sy afgestorwe skoonouers se huis. Hulle is albei in die afgelope paar maande dood, die een kort na die ander. Sy skoonpa het baie boeke gehad, en Ryk het dié gevat wat hy wou, om te voeg by die stapels in sy huis waarvoor hy klaar nie plek het nie. Ek het tweede keuse gekry.
So dwaal ons toe deur dooie mense se huis en kyk na kleinnode wat nou na afslaers en tweedehandse winkels toe op pad is. Dit is wat oor is van ’n ryk lewe. So geweldig ontoereikend.
En hier sit ek nou, presies vier weke later, en ryg woorde uit. Hulle sit in rye soos boeke op rakke, en al was elke woord ’n boek, hoe ontoereikend sou dit nog steeds nie wees nie.
Ryk het gesê hy probeer die onmoontlike met Huilboek: hy probeer vir Outa Toon, wat dood is, lewend maak. Ek wens ek kon so iets regkry. Ek wens ek kon vir Ryk terugsit in sy huis, terug in die lewe waarin hy hom so verlustig het.
Hy was iemand wat die lewe gevréét het. Alles gebeur in die oortreffende trap. As hy gelukkig is, jubel hy. As hy neerslagtig is, kry hy skaars asemgehaal.
Die rebelsheid wat vir die meeste mense ná hulle tienerjare begin wyk, was by Ryk op 60 nog so sterk as ooit. Hy kon een en alles verdoem. Dan praat hy daarvan om in Mongolië te gaan woon. (’n Plek waarvan hy min genoeg weet om niks daarvan te haat nie, vermoed ek.)
As hy ’n ding ontdek wat sy verbeelding aan die gang sit, gaan hy voluit daarvoor. Alles word stormenderhand aangepak.
Die laaste klompie maande was hy besete oor die einde van die Oostenrykse ryk, die skrywers en kunstenaars in Wene rondom die Eerste Wêreldoorlog. Daar is ’n ooreenkoms in wat hulle ervaar, van die einde van ’n keiserryk, en die einde van die Suid-Afrika van ouds, het hy gevoel. Hy wou hierdie eggo in sy volgende boek verken.
Hy was vol planne. Ons het met sy sestigste verjaardag in Julie middagete gaan eet, toe vertel hy my hy kyk na wat hy alles in sy dertigs vermag het, tussen 1987 en 1997. Dit was sy romans en toneelstukke, Vrye Weekblad en Loslyf, die boeke wat hy en Tienie du Plessis by Hond uitgegee het.
“Ek dink ek het nog so tien jaar oor,” het hy gesê, dié dag in Julie. “Ek wil van hierdie dekade net so ’n groot een maak as toe.”
Hy het geskryf, geskilder, musiek gemaak. Heelwat liedjies geskryf hierdie jaar, het hy my vertel. (In sy studentedae het hy sakgeld verdien deur in restaurante te sing.)
Sy huis lê vol skryfwerk, lirieke en notas. Maar selfs al daardie flardes, al sy gebundelde en opgevoerde werke, is minder as die man self. Die indruk wat hy gemaak het op almal wat hom leer ken het, dít is wat oor is van sy lewe. Herinneringe en ’n verskriklike leemte.
Lees ook:
In memoriam: Ryk was genadeloos eerlik
Willem Pretorius "Ryk Hattingh was ’n anargis wat ’n genadeloos eerlike sin kon skryf." |
In memoriam: Ryk Hattingh (26 Julie 1957 – 10 Oktober 2017)
LitNet "Skrywer en vertaler Zirk van den Berg het NB-Uitgewers vanuit Nieu-Seeland ingelig oor Hattingh se afsterwe vanoggend, 10 Oktober 2017. Hy is oorlede aan ’n hartaanval. Hy laat sy vrou en drie kinders agter." |
Kommentaar
Sy vader, 'n prokureur in Benoni, was was n stylvolle ster! Sy moeder nog woonagtig in Benoni is ewe merkwaardig! Hul seun Ryk het die "boat gerock". Hy het diep spore getrap ... hy het te vroeg weggegaan.