Human & Rousseau en NB-Uitgewers verneem met leedwese van die afsterwe van Ryk Hattingh (60).
Skrywer en vertaler Zirk van den Berg het NB-Uitgewers vanuit Nieu-Seeland ingelig oor Hattingh se afsterwe vanoggend, 10 Oktober 2017. Hy is oorlede aan ’n hartaanval. Hy laat sy vrou en drie kinders agter.
Hattingh was die skrywer van Die tonnel, Markus vermoed ’n verhaal, Ignatius Brand, Witskrif en ten slotte Huilboek, ná ’n stilte van negentien jaar. Huilboek het skaars ’n week gelede die grootste fiksietoekenning in Suid-Afrika verower, naamlik die kykNET-Rapport-prys vir Afrikaanse romans.
In 1988 het Hattingh se toneelstuk Sing jy van bomme, onder regie van wyle Lucille Gillwald, groot opslae in Johannesburg en Pretoria gemaak met die ingrype van die destydse sensuurraad wat daartoe gelei het dat ’n naaktoneel gesensor is. Sing jy van bomme is met vyf Vitas bekroon. Opdrag: Ingrid Jonker (in samewerking met Jana Cilliers) het wyd deur die land getoer en is met verskeie pryse bekroon.
Die Foster-bende, ’n grafiese verhaal oor dié berugte bende se rowery in die vroeë twintigste eeu aan die Rand, geskep deur Ryk Hattingh en Conrad Botes, sien die lig in 2000. Die werk is in 2011 in Frankryk uitgegee.
In 1994 bring Hattingh en Tienie du Plessis die onafhanklike uitgewery Hond op die been. Bo en behalwe ’n hele paar debuutromans en -bundels publiseer hulle ook werke van Breyten Breytenbach, Antjie Krog, en Koos Prinsloo.
Hy maak naam in Suid-Afrika as skrywer en dramaturg en as joernalis by die destydse Vrye Weekblad en Die Suid-Afrikaan (saam met Antjie Krog). In 1995 word hy aangestel as die redakteur van Loslyf, die eerste Afrikaanse prikkeltydskrif.
In 1997 het Ryk en sy gesin na Nieu-Seeland geëmigreer. Hy het in Auckland gewoon, waar hy die afgelope twintig jaar skoene reggemaak en duplikaatsleutels vervaardig het. Sy mees onlangse besoek aan Suid-Afrika was tien dae gelede, waartydens hy die kykNET-Rapportprys vir Huilboek in ontvangs geneem het.
Nèlleke de Jager, fiksieuitgewer by Human & Rousseau: “’n Mens het nie woorde nie. Soveel energie, soveel onbevange lewenslus – vir lees, vir bome, vir voëls, vir kosmaak, en ja, vir mooi vroue. Net laas week nog hoor ek hoe sê hy aan ’n medeskrywer: ‘Maar daar is niks anders wat jy kan doen nie. Skrýf. Jy kan niks anders doen as aanhou skrýf nie.’ En om nou te dink ons gaan nooit weer Ryk se stem hoor nie. Dit was ’n groot boom wat geval het. Woorde is daar nie.”
Lees ook:
Ryk Hattingh: “Hy was iemand wat die lewe gevréét het.”
Zirk van den Berg "Ryk het gesê hy probeer die onmoontlike met Huilboek: hy probeer vir Outa Toon, wat dood is, lewend maak. Ek wens ek kon so iets regkry. Ek wens ek kon vir Ryk terugsit in sy huis, terug in die lewe waarin hy hom so verlustig het." |
In memoriam: Ryk was genadeloos eerlik
Willem Pretorius "Ryk Hattingh was ’n anargis wat ’n genadeloos eerlike sin kon skryf." |
Kommentaar
Tragies ... te laat ... te laat ...
Letterlik 'n week gelede koop my man Huilboek en ek begin dit lees. En kon dit natuurlik nie neersit nie. Met 'n potlood maak ek hier en daar baie ligte merkies in die kantlyn. (Ek is getroud met 'n bibliofiel, eintlik 'n bibliomaan.)
Toe ek netnou die boek hier van die kassie langs my lessenaar afhaal, sien ek ek het die volgende op p. 99 gemerk:
"Want ek kyk om my rond en ek sien die mense met hulle onnosele slimfone in hul hande en ek weet hulle wil vergeet. Vergeet 'n mens se lewe is omtrent so lank soos die van 'n spermsel. Okay, miskien 'n bietjie langer, maar nie veel nie. Mense, en ek sluit myself teësinnig by die spesie in, ons dan, ons in ons motors met GPS-tegnologie en Google Maps en 'n elektroniese stem wat ons deur ons voorstedelike doolhowe lei, ons was nog nooit so verdwaal soos nou nie. Verlore op pad supermark toe, verlore oor die brug en terug, verlore selfs as ons tuis kom. Ons het vergeet waar ons vandaan kom. Nie 'n benul waarheen ons op pad is nie."
Ek wil huil oor Huilboek se skrywer wat nie weer sal skryf nie.
So jammer om te hoor van sy afsterwe, ek en Ryk (sy naam was toe Rykie) was saam op laerskool. As daar nou 'n snaakse troeteldier was dan het Rykie dit gehad, soos die vlermuis wat hy skool toe gebring het sal ek nooit vergeet nie.
What an unexpected shock! Condolences to Martene and the children.
Een van my geliefde skrywers, het die geleentheid gehad om hom te ontmoet en ook lekker gesels met hom.
Ryk het buite die gewone grense gedink, ervaar, gedoen ... geleef. Hy was ongeveins, intelligent en het die lewe in al sy fasette ervaar. Afrikaans verloor 'n groot stem en ek 'n besonderse vriend.
At his invitation I had the opportunity to visit Ryk at his home on my last visit to Auckland ... Ryk and my beloved son Stanley and Anne my beloved daughter were great friends and moved in the same circles during their student years. Rest in peace Dear Ryk, I shall never forget you. Love and sympathy to you my dear Martene, Sofia, Julius and Blake. I love you all dearly.
Op universiteit het ons ge-afrikaans, ge-musiek, geredekawel, geleef. En ek bedoel ge-"Universiteit ... Geheelal".
Ryk was ryk.
Groot gaan my bra!
Op agt dae patrollie in SWA/N sonder water, Desember 1980 het hy gesê: Afrika is kwaad.