Routes of Sound: Musiek vind afdraaipaadjies in jou siel

  • 0

Dis weer tyd vir die jaarlikse Routes of Sound by Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch en vanjaar is daar meer as 30 kunstenaars betrokke.

Die geleentheid stel ’n verskeidenheid uitstekende musikante bekend – sommige bekend, ander minder bekend – in gesellige, intieme omgewings. Dit neem gehore op ’n ontdekkingsreis waar hulle drie uiteenlopende musiekoptredes kan ervaar – elk gekoppel aan een van Spier se bekroonde Creative Block-wyne – in van die plaas se mees atmosfeervolle ruimtes. Die aand word afgesluit met ’n meesleurende konsert in die Yellowwood Lounge, waar jy aan warm Glühwein kan teug en in die sagte gemakstoele aan die musiek oorgee.

Ons het die aand vroeër afgeskop met ’n spesiale Routes of Sound-spyskaart by die pragtige hotel se Veld-restaurant, wat ’n glas van die wynlandgoed se Creative Block-wyn insluit.

Die kunste werk hard om ons te verenig, maar mens het ’n ongemak met die voorafgaande week se gebeure van xenofobie wat ons land teister. Die ongeduld en haat teenoor mense buite ons landsgrense het ons selfs tot in Kgalagadi Oorgrenspark gevolg, toe ’n Khomani San-gids by !Xaus Lodge sê hoe bang sy vriende in Suid-Afrika is en hulle kom van Botswana en is die kontinent se Eerste Mense. “Wie is dan welkom en wie behoort dan regtig in Suid-Afrika?” is sy vraag.

Brett Bailey, kurator van Routes of Sound, verwelkom ons in die Yellowwood Lounge.

Mense sit by mekaar ingehaak op stoele, banke, poewe of kussings op die vloer. Dié wat al voorheen ’n Routes of Sound-ervaring meegemaak het, weet hoe spesiaal dit is; dié wat groentjies is, gaan grootoog en verwonderd terugkeer na dié kuierplek later vanaand.

Brett sê: “Ek wil sommer uit die staanspoor eerlik wees oor die berou waarmee ek as kurator van hierdie geleentheid worstel: dat nie een van die 33 musikante wat op hierdie program optree, van ander Afrika-lande kom nie. En dit is nie asof ek nie probeer het nie, maar ek het net nie hard genoeg probeer nie. Dit knaag nogal aan my.

“En dan dink ek aan hoe daar gesê word dat die kunste – en musiek in die besonder – met mense van allerhande verskillende kulture kan praat. Miskien is dit ’n cliché; miskien steek daar wel waarheid in.

“Maar wat dit ook al is, ek sal graag vanaand se geleentheid, asook die een wat ons gisteraand gehad het, wil opdra ter ere van daardie mense. Terwyl ons die voorreg het om hier te sit en te luister na kunstenaars wat uit die diepte van hul harte sing, wat uiting aan hulleself gee en sing oor dit waardeur hulle gaan en dít wat hulle eer, laat ons dink aan die mense wat op hierdie oomblik by grensposte, op busse, of iewers in sentrums sit en probeer om tuis te kom.

“En as musiek wel oor kulture heen kan praat, laat vanaand dan soos ’n klein kersvlammetjie in die donker wees waar ons dít onthou.”

Magé (Foto: Allison Foat)

Ons is in groepe opgedeel en volg ons gids na ons eerste vertoning: Magé Troskie wat in ’n klein gedeelte langs die Yellowwood Lounge in ’n knus ruimte op ons wag.

Ons groepie het 16 mense. Ons ouderdomme wissel tussen 20 en 62. Die tale wat gepraat word, is Afrikaans, Engels, Xhosa en Duits. Maar die taal wat binne die klein intieme plekkies met almal se harte praat, is musiek.

Daar lê ’n hoop wit kussings in die middel van die klein ruimte. Twee jongmense gaan lê gemaklik; die res van ons beset die stoele wat in ’n halfmaan gepak is. Ons teug aan die Creative Block 2, ’n Sauvignon Blanc- en Sémillon-versnit, en geniet ’n sampioentertjie.

Magé se fluisterpraat is intiem. Sy sê: “Stuff is rof; dis op en af. Ons is almal studente én lektore van die lewe. Volg jou intuïsie, nie die instelling nie ...” het sy geleer toe sy as student in ’n koekiedrukker-stelsel beland het.

Haar afsluitingswoorde dat as jy verandering in die wêreld wil hê, jy self daardie verandering moet wees, sluit só mooi by Brett se sentiment aan. Mens kan nie glo nie dat daar mense is wat in die ysige koue uit hul huise verjaag is en groot ontberinge meemaak, terwyl ons hier in samehorigheid van musiek se magie omvou word.

Ntu2ko (Foto: Clifford Roberts)

Ons stap aan na die agterkant van die ou wynkelder wat nou as galery ingespan word. Hier wag Ntu2ko ons met sy kitaar in. Kerse brand onder die rietjiesplafon. In ons glase is die Creative Block 3, ’n versnit van Shiraz, Mourvèdre en Viognier, en ’n beet-en-bokmelkkaastertjie.

Sy dogter is vyf jaar oud en hy het vir haar ’n liedjie geskryf – “Bafana” – om haar te laat verstaan hy is haar enigste kêrel. Daar is ’n hele paar koppe wat instemmend knik: Dié gevoel van pa’s teenoor dogters is universeel.

Hy sê dis ’n voorreg om iets te skryf en dit aan ’n klein, ontvanklike gehoor soos hierdie een te gee, ’n gehoor wat dit waardeer. “Dis nie altyd so nie. Dis soos om jou herinneringe te herbesoek.”

Chosi (Foto: Allison Foat)

In die ou herehuis luister ons na Chosi, ’n musikant van Johannesburg met invloede van soul, jazz en nesingqi, en Nkosinathi Matomela op klawerbord. Ons smul aan donkersjokoladetertjies en Creative Block 5, ’n Cabernet Sauvignon-, Merlot-, Cabernet Franc-, Petit Verdot- en Malbec-versnit.

Chosi verwelkom ons in “haar leefkamer” en die ironie van ’n opstal waarin sy vir baie jare nie welkom was nie, ontgaan ons nie.

Haar meesleurende, stadige, interpretasie van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” veroorsaak ’n hele paar nat oë. Dit dra al die versugting en verlange van die seën wat Afrika só nodig het. Van die vergewe en verdra wat ons land op daardie stadium nie by magte is om te bied nie.

Haar woorde: “When you step in loss, you do not leave the same” is meer as ’n erkenning; dis ’n aanklag.

Die aand sluit af met die groot orkes: Nkosenathi Koela, Jonno Sweetman, Nomapostile en Uviwe Caso.

Ek skaar my by Brett se afsluitingswoorde: “Ek wil vir Spier bedank en eer vir die befondsing en borgskap van hierdie geleentheid. Hulle kry nie genoeg erkenning vir hul rol in die kunste nie.”

  • Die Creative Block-kunsprojek, wat die Spier Arts Trust in 2004 geloods het, gee aan beide opkomende en gevestigde kunstenaars ’n standaard- klein, leë skilderdoek. Kunstenaars word gekontrakteer om miniatuur-meesterwerke op hierdie blokke te skep, wat aan hulle ’n noodsaaklike inkomstebron en ’n groter gehoor bied. Meer as 17 500 blokke is reeds aangekoop, wat een van die land se grootste versamelings kontemporêre kuns vorm. Spier se wynmakers het hierdie konsep oorgeneem en wyne met dieselfde etiket geskep. Net soos kunstenaars ’n volledige kunswerk op klein doeke skep, kies die wynmakers druiwe uit afsonderlike, individuele wingerdblokke en versny dit noukeurig om wyne met verskillende geure en kompleksiteit te skep.
Routes of Sound

Deur: Brett Bailey, kurator, en Third World Bunfight

Met (31 Julie en 1 Augustus): Muneyi, RFKI + CJ Bergh, Mana + Gabriel Sieff, Karla von Solmes, Jonny Smith en Akeeda. Die orkes: Mishy Kope

21 en 22 Augustus: Sky Dladla, Deadman’s Dungarees (Hugo Veldsman + Kino), Maya Grey, Hayley Jade, Xhanti Nokwali en Vuyisani Mkwambi. Die orkes: Lungiswa Plaatjies, Reza Khota, Sean Sanby, Jonno Sweetman

Slegs 18+ kan die ervaring meemaak.

Kaartjies kos R300 per persoon en gaste ontmoet om 19:30 by The Yellowwood Lounge op Spier.

Die volgende vertonings is op 31 Julie en 1 Augustus en 21 en 22 Augustus.

Bespreek aandete by Veld Restaurant by die Spier Hotel. Bring iets warms en dra gemaklike skoene vir die kort stappies. Bespreek by Webtickets.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top