Rommelstatus en die politieke wildernis vorentoe

  • 0

Standard & Poor’s (S&P), een van die wêreld se drie groot kredietgraderingsagentskappe, het vroeër hierdie week die ongewone stap gedoen om hul evalueringsdatum te vervroeg weens die politieke en finansiële onstabiliteit wat Suid-Afrika vertoon. Met ander woorde, hulle het gemeen die middernagtelike kabinetskommeling verlede week het die risiko vir staatskaping te groot gemaak. Dit is terselfdertyd ook ’n mosie van wantroue in die vermoë of gewilligheid van die nuwe minister van finansies om onafhanklike beheer oor die staatskas te behou.

Hou in gedate dat S&P met die laaste evaluering bereid was om Suid-Afrika die voordeel van die twyfel te gee en ons gradering onveranderd te laat.

Wat is die onmiddellike gevolge vir Jan Publiek?

Vir diè wat gelukkig genoeg is om oorsee te kan reis, gaan dit baie duurder word. Die rand het heelwat verswak teenoor die dollar, die euro en die pond. Die rente op huis- en voertuiglenings gaan styg. Ingevoerde goedere gaan nou duurder word. Petrol word duurder, en gepaardgaande daarmee sal kos se pryse styg. Die mense wat van Sassa-gelde afhanklik is, gaan die ergste hieronder ly. Die gelde is alreeds skaars genoeg om kos te koop, en nou gaan kos duurder word.

Hou verder in gedagte dat die droogte ons binnekort gaan dwing om meer kos in te voer, want ons boere kan eenvoudig nie genoeg produseer nie. Selfs al begin dit vandag in alle erns reën, sal dit minstens nog ’n paar jaar neem voordat ons voldoende herstel om landbouproduksie op die vlak te bring waar dit in al ons behoeftes voorsien. Werkloosheid gaan na alle waarskynlikheid groter word.

Die ANC, voorspelbaar soos altyd, het natuurlik alreeds te kenne gegee dat hulle S&P nie ernstig opneem nie, en dat dit verdere manipulasie van “white monopoly capital” is. Hulle het baie gou daarop gewys dat indien die buiteland dan nou nie meer vir Suid-Afrika wil geld leen as gevolg van die afgradering nie, dan sal hulle maar net eenvoudig beslag moet lê op die myne om geld te bekom.

Dan moet mens wonder of die skommeling nie gedoen is júis om die graderingsorganisasies se hand te dwing nie.

Ons kán ekonomies herstel. Vroeg in 2000 was Suid-Afrika ook tot rommelstatus verklaar. Ons het herstel. Want ons het die politieke wil gehad om te herstel. Ons het leierskap met integriteit gehad.

Ekonomiese kommentators het aangedui dat dit vir soortgelyke ekonomieë gemiddeld sewe jaar neem om te herstel en opgegradeer te word van rommelstatus. Dis moontlik, maar dit gaan in hierdie geval gebeur net as daar radikale politieke veranderinge kom.

Hoe gaan dit gebeur?  Daar is op die oomblik ongekende samewerking tussen opposisiepartye in die parlement. Die ANC se alliansie met die SA Kommunisteparty is onder geweldige druk, en gaan waarskynlik nie hierdie krisis oorleef nie.

Selfs binne die ANC begin die krake toon.

Die opposisie wil ’n mosie van wantroue teen Zuma bring, en het alreeds die proses begin deur die speaker, Baleka Mbete, te vra om die parlement vroeër tot sitting te bring. Die parlement het Vrydag gesluit, en sal in normale omstandighede eers weer 3 Mei heropen. Ek wil aan die hand doen dat Zuma nie toevallig sy kabinet geskommel het op die dag dat die parlement sluit nie.

Mbete is ’n verbete Zuma-voorstander, en het in die verlede al gewys dat sy nie omgee om die Grondwet te verbreek om hom te beskerm nie. Al haar versekerings ten spyt, is dit dus moeilik om te glo dat sy onpartydig en onafhanklik sal of kan optree.

Artikel 102 van die Grondwet bepaal die prosedure om ’n mosie van wantroue in te stel. Omdat die ANC die meerderheid in die parlement is, kan enige mosie slaag net indien ANC-LP’s dit ondersteun. Die vorige sewe mosies het in die hek geduik juis omdat ANC-LP’s dit nie ondersteun het nie.

Gaan dit hierdie slag anders wees? Of meer belangrik: Hoekom stem ANC-LP’s vir ’n leier met wie hulle nie saamstem nie en wat besig is om hulle party in die afgrond in te dwing? Die befaamde dissipline van kamerade?

Die proses werk as volg. Vir ’n mosie van wantroue om te slaag, moet ’n eenvoudige meerderheid (50% +1) van die Nasionale Vergadering (NV) ten gunste van die mosie stem. Die president, sy kabinet en alle adjunkministers moet dan dadelik bedank en hulle poste ontruim. Hier is die eerste probleem. In effek sal ANC-lede dan moet stem om ook kabinetslede ten gunste van wie hulle is, van hul poste te onthef. Daar is geen versekering dat die persoon wat volgende as president verkies word, weer daai selfde kabinetslede sal aanstel nie.

Om sake te vererger, as daar nie alreeds iemand anders gereed is om oor te neem as president nie, en ’n nuwe president word nie binne 30 dae gekies nie, moet die NV ontbind.

Hou in gedagte dat in die reël die invloedrykste ANC-lede, die persone wat die suksesvolste agter die skerms werk, tot die kabinet verkies word. Hulle behou hulle posisies van invloed binne die party, al is hulle nie meer lede van die kabinet nie. As hulle nie herkies word tot die kabinet nie, om watter rede ook al, gaan hulle wrokke opbou teen die persone wat hulle help afdank het.

Hou verder in gedagte dat die belange van die breë Suid-Afrika grootliks akademies begin word het vir lede van die NV. Hulle kamerade se lewenstandaard, waartoe hulle ook strewe, is egter voorop in hulle gedagtes.

Hou voorts in gedagte dat selfs al is Zuma dan nie meer president van die land nie, hy nog steeds president van die ANC is, en as sulks groot invloed het in wie die volgende president van die land sal wees. En Msholozi sal sorg dat die volgende president iemand van sy keuse is.

Om te verwag dat lede van die NV ten gunste van ’n mosie van wantroue sal stem, is dus om van hulle te vra om hul eie ekonomiese kele af te sny.

Ek verwag dus nie dat hulle enige mosie sal ondersteun tensy daar ’n uitdruklike instruksie van Luthuli-huis is dat dit gedoen moet word nie.

En alhoewel daar toenemend meer frustrasie van Luthuli-huis se kant sigbaar is, weet ek nie of dit voldoende is om toe te stem tot ’n mosie van wantroue nie. Daarvoor glo hulle te sterk daaraan dat interne prosesse eers gevolg moet word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top