Romeine 13:1–7: ’n Steekproef van die dinamiese verhouding tussen teks en konteks

  • 0

wynandfourieWynand Fourie reageer op Bernard Lategan se artikel in LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe): “’n Verskuiwing na ’n oper en meer ‘pragmatiese’ lees van Romeine 13:1–7”.

 

1. Konteks

Namibië is ’n unieke land. Ek het die voorreg om die afgelope ses jaar te kon dien in die NG Kerk Windhoek-Wes in Namibië se hoofstad. Deur my betrokkenheid in die gemeente en die gemeenskap kry ek van tyd tot tyd die geleentheid om in passievolle en emosiebelaaide gesprekke betrokke te raak rondom die leierskaplandskap in Namibië en Suid-Afrika. Aangesien ek vir 26 jaar in Suid-Afrika woonagtig was voordat ek en my vrou ses jaar gelede na Namibië verhuis het, bevind ek my ook in die unieke posisie om eerstehandse ervaring van beide lande se leierskapstyle met mekaar te kan vergelyk – juis ook politieke leierskap. Dis geen geheim dat die woord op straat rondom die politieke leierskap in Suid-Afrika nie sag op die oor val nie. Inteendeel: die algemene atmosfeer hierrondom is een wat getuig van woede en frustrasie aan die een kant van die spektrum, tot skouers optrek en nie-rêrig-meer-omgee-nie aan die ander kant daarvan. Hoe akkuraat baie van die straathoekstories rondom hierdie onderwerp presies is, is nie die fokus van my reaksie hier nie. Die atmosfeer en belewenis van die algemene landsburger wel – en dan juis bekyk vanuit die perspektief van iemand wat die Bybel as ’n gesaghebbende bron van gesag in hulle lewe sien.

Wanneer dinge vanuit hierdie perspektief bekyk word, lyk dit glad nie rooskleurig in Suid-Afrika nie. Wat vir verskeie mense problematies is, is juis hoe hulle omgang met ’n teks soos Romeine 13:1–7 grond vat in sulke uitdagende, frustrerende tye. Hoe moet dit gelees en, meer belangrik, verstaan en geïnterpreteer word? Wat gemaak as ek nie saamstem met ’n “tradisionele” interpretasie van ’n teks in my eie omstandighede nie?

Hierdie tipe vrae word verder gekompliseer deur die skynbaar legio interpretasiemoontlikhede wat opgesluit lê in Romeine 13:1–7. “Wie se interpretasie is reg en hoekom is dit reg?” is ’n vraag wat verskeie male al aan my gerig is.1

In Namibië lyk die prentjie heelwat anders as in Suid-Afrika. Met die aanstelling van Namibië se derde demokraties-verkose president, Hage Geingob, op 21 Maart 2015 is die algemene atmosfeer rondom die politieke leierskap (en gevolglik ook teenoor gesag in die algemeen) in die land geweldig positief. Die informele kampvuur- en teekoppiegeselsies rakende gesag en mense se verhouding met gesag is belaai met frases van lof, opgewondenheid en positiwiteit. Mense is bereid om gesag te volg en te respekteer, en dit te sien as ’n goeie ding – mits dit aan sekere Bybelse standaarde voldoen. In Namibië gebeur dit tans, sover ek kan aflei, met ’n mate van oorgawe. Hier in Windhoek is die lees en verstaan van Romeine 13:1–7 tans maklik verteerbaar. Buurlande met twee uiteenlopende stories, Suid-Afrika en Namibië …


2. Teks

Die baie insiggewende en inligtingsvolle artikel deur Bernard Lategan ivm ’n oper en meer “pragmatiese” lees van Romeine 13:1–7 is broodnodig binne die liminale tye van veral politieke leierskap en gesag waarin suidelike Afrika haar tans bevind. Nie net is dit broodnodig nie, dit is ook uiters verantwoordelike akademiese rentmeesterskap wanneer die Bybel gelees word op die verskillende maniere waarvan die “pragmatiese” lees getuig. Hoewel ek nie noodwendig saamstem met alle moontlikhede van lees soos vervat in die pragmatiese lees van die teks nie, is ek wel oortuig dat só ’n lees baie meer doen om gelowiges te help om hulle geloof in God – soos wat Hy openbaar word deur die Skrif – elke dag sinvol te kan laat uitrol in hulle leefwêrelde. ’n Lees van Romeine 13:1–7 wat nie reken met die voorstelle wat hieruit voortspruit nie, is glad nie in voeling met die uitdagings en vrae van ’n hedendaagse gehoor nie. Bybelinterpretasie wat God eer deur mense te ondersteun in die gesig van reuse-uitdagings in ’n konteks waar reg en verkeerd nie van mekaar onderskei kan word soos swart van wit nie – ’n konteks wat gekenmerk word deur seismiese skuiwe op alle terreine van die samelewing – vra groot kundigheid, maar juis ook ’n diep verstaan van, en omgee vir, die leefwêreld van gemeentelede/gelowiges. Die oper en meer pragmatiese lees van die Bybel, en juis van Romeine 13:1–7, help ons hiermee.

Die onderskeid wat getref word deur Lategan tussen die kompleksiteit van die teks en die ontvangs daarvan is uiters waardevol. Die twee oorhoofse interpretasiemoontlikhede wat die kompleksiteit van die teks uitwys, nl die ondersteunende2 en die kritiese interpretasies,3 is ’n fantastiese handvatsel op die interpretasiegeskiedenis van Romeine 13:1–7. Die verskillende interpretasies wat die rondes doen rondom “wat Paulus nou eintlik bedoel het met hierdie gedeelte” is gewoon ook net deel van gesonde en verantwoordelike eksegese. Geen een enkele benadering tot die lees van die Bybel kan die dinamika rondom, sowel as binne-in, die teks volkome verreken nie. Daarvoor is die dinamika bloot te kompleks. So ook die diametraal verskillende realiserings van Romeine 13:1–7 deur die lesers wat Lategan uitlig: “Die resultaat is twee diametraal verskillende interpretasies: een wat aanspraak maak op die goddelike reg van owerhede om onderwerping en gehoorsaamheid van hul onderdane te eis; ’n ander wat onderwerping aan owerhede voorwaardelik maak van die mate waarin hul dade teenoor God verantwoord kan word en dus die ‘goeie’ bevorder – wat in wese ’n ‘regime-kritiese’ houding veronderstel” (Lategan 2015). Soos wat Lategan duidelik uitlig, speel die leser se “realisering” van Romeine 13:1–7 baie deeglik uit ook in die “formele”, meer pragmatiese lees van die teksgedeelte. En hierin vind ons die grootste waarde van die oper, meer pragmatiese lees van Romeine 13:1–7.


3. Teks en konteks

In die lig van Lategan se bespreking kan die volgende waarneming gemaak word:

Een van die groot voordele verbonde aan ’n oper en meer pragmatiese interpretasie van Romeine 13:1–7 lê daarin dat daar, ongeag die konteks van die leser, waarde te vinde is in so ’n lees van die teks. Of jy nou in Suid-Afrika woonagtig is met al die gepaardgaande vrae en frustrasies rondom gesag, en of jy nou in Namibië woonagtig is en die winde van verandering ervaar soos uitgeleef deur president Geingob en sy vrou, Monica Geingos, kan die meer pragmatiese lees jou help om verantwoordelik en gehoorsaam aan God se Woord om te gaan met gesag. Soos wat Lategan dit self stel rakende die aard van die meer pragmatiese lees: “Hierdie benadering aanvaar die kompleksiteit van sowel die teks as die verskeidenheid van lesers en hul onderskeie omstandighede en soek na maniere om in die matriks van mag en magsmisbruik, wet en orde, kritiese bewussyn, eie verantwoordelikheid en die nastreef van die algemene welsyn, werkbare en praktiese oplossings vir die omgang met mag te ontwikkel” (Lategan 2015). In Suid-Afrika mag dit tans dalk beteken dat, soos wat Dietrich Bonhoeffer destyds vanuit Romeine 13:1–7 in opstand kon kom teen die politieke gesag van sy dag wat nie in diens van God gestaan het nie, gelowiges ook met profetiese kreatiwiteit en sensitiwiteit maniere moet vind om gesag krities te gehoorsaam daar waar dit misbruik word. In Namibië beteken dit heel moontlik weer dat, ondanks die mooi wat mense tans beleef rondom gesag en die goeie gebruik daarvan, ons nie mag ophou om ons leiers daaraan te herinner dat hulle “dienaars van God is tot ons beswil” nie. In Filippense 3:1–11 maak Paulus die opspraakwekkende uitlating dat alles vir hom waardeloos is, want om Christus Jesus sy Here te ken oortref alles in waarde. In verse 10–11 stel hy dit so: “Al wat ek wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind, en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” Die meer pragmatiese interpretasie van Romeine 13:1–7, en veral die kritiese interpretasies, versterk gelowiges om saam met Paulus te kan doen en sê soos wat hy dit het in Filippense 3:1–11. Enige ander benaderings tot Romeine 13:1–7 is arm, uitgedien en totaal irrelevant indien Bybelgesentreerde dissipelskap vir gelowiges die hooffokus is. Hiersonder sal gelowiges se vertroue in en verstaan van God se Woord ’n doodskoot kry. En vanuit daardie tipe dood staan iemand nie sommer weer op nie.


Eindnotas

1 Om ’n gemeentelid of medegelowige op hierdie vrae te antwoord is baie uitdagend. Die kompleksiteit verbonde aan eksegese en hermeneutiek maak die oefening soms onmoontlik. My eie pogings tot ’n antwoord en oplossing hiervoor val gewoon uit in lang ure se koffiegesprekke rondom die aard en herkoms van die Skrif. Ek poog werklik om elke geleentheid wat ek hiervoor kry, so intensief en effektief as moontlik te benut. Informasie rakende die prosesse verbonde aan Skrifuitleg is, in my ervaring, iets wat gelowiges interesseer. Hulle het ongelukkig nie aldag die tyd om dit met die nodige erns te benader nie. Hulle gejaagde ervaring binne ’n “versnelde kultuur” dra by tot die uitdagings op hierdie gebied.

2 Hierdie interpretasies word gewoonlik gekenmerk deur ’n positiewe ingesteldheid teenoor gesag (Lategan 2015).

3 Hierdie interpretasies word weer gekenmerk deur pogings om die algemene positiewe houding teenoor gesag te kwalifiseer, te beperk of te ondermyn. Dit sluit in: interpolasie, die intertekstuele skuif, die beperkende skuif, die evaluerende skuif, die lees van die gedeelte onder ander voorveronderstellings, die heromskrywing van die owerhede en die omgekeerde skuif (Lategan 2015). Die enigste interpretasie waarmee ek glad nie kan saamstem nie, is die interpolasie-interpretasie (sien Morris 1988, Hendriksen 1980, Mounce 1995, Schreiner 1998). Sover dit die ander interpretasies aangaan, sal ek ten minste in konstruktiewe eksegetiese gesprek kan tree met elkeen.

Lees ook:

Die probleem van mag, gesag en owerhede: Romeine 13 en 21ste-eeuse lesers

Nadia Marais
Seminare en essays

"'n Mens 'moet' tog sekerlik niks nie, veral nie wat betref gehoorsaamheid aan owerhede nie!"

 

’n Verskuiwing na ’n oper en meer “pragmatiese” lees van Romeine 13:1–7?

Bernard Lategan
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

"Romeine 13:1–7 is bekend – of berug – as een van die teksgedeeltes waarvan die uitleg nog altyd omstrede was. Die kernvrae waarom dit hier gaan, is goed bekend: Hoe kan Paulus so ongekwalifiseerd positief wees ten opsigte van gesag? Het hy die sekulêre Romeinse staat in gedagte? Kan ’n onderdrukkende en gewelddadige owerheid werklik as ’n “dienaar van God” beskryf word? Is opstand teen gesag onder alle omstandighede vir gelowiges verbode? Geld hierdie uitsprake van Paulus slegs vir sy tyd of het dit ’n universele strekking?"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top