Die probleem van mag, gesag en owerhede: Romeine 13 en 21ste-eeuse lesers

  • 0

Veral jongmense het ʼn diep wantroue in gesagstrukture en owerhede. Vanjaar se bewegings soos #RhodesMustFall by UK en Open Stellenbosch by die US is aanduidings dat ʼn eenvoudige oproep tot gehoorsaamheid en onderwerping aan die owerhede soos wat in Romeine 13 beveel word, ʼn oper en meer pragmatiese lees van die Bybel vereis. Hierdie bydrae is deel van ʼn seminaar oor 'n LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Bernard Lategan.

nadiamarais650

Nadia Marais

Dit is onmoontlik om Romeine 13:1–7 op dieselfde maniere te bly lees in die 21ste eeu as wat dit in die 20ste eeu – en vroeër, uiteraard – gelees is. Daarvoor het daar net te veel plaasgevind aan hiérdie kant van die jaar 2000, waardeur die wêreld waarin ons leef onherroeplik verander is. Gebeure soos 9/11 (2001), die stigting van WikiLeaks (2006), die Arabiese Lente in die Arabiese wêreld (2011), en Edward Snowden se onthullings oor die Amerikaanse regering (2013) laat ons gewoon ánders dink oor mag, gesag en owerhede – met groter wantroue dalk, meer krities, minder bereid om die goeie en die beste van ons regeringsinstellings en gesagstrukture op verskillende vlakke te glo en te aanvaar.

Hier, op eie bodem, is vanjaar se bewegings soos Rhodes Must Fall by UCT en Open Stellenbosch by die US verdere aanduidings dat ‘n eenvoudige oproep tot gehoorsaamheid en onderwerping aan die owerhede vreemd en verdag op die ore sal val. Dalk sou ‘n mens selfs kon sê dat dit veral jongmense in die wêreld vandag is wat ‘n diep wantroue in gesagstrukture en owerhede het, maar dalk is hierdie wantroue ook ʼn veel wyer en omvattender verskynsel.

Tog – wat is die probleem nou juis, sou ʼn mens wonder? Waarom die wantroue, die kritiese vrae, die agterdogtige ingesteldheid – en wanneer ongerymdhede binne die kerk of die regering of ander instellings van mag vorendag kom, die reaksie: ja tog, dit weet ons mos nou al lankal? In so ‘n mate dat openlike vyandigheid teenoor die owerhede alledaags is, en die een wat nie ʼn storie of nuusberig te deel het van regeringsamptenare se onbevoegdhede nie, ʼn vreemde verskynsel is?

Gebeure soos dié by Ferguson in Amerika (2014) en Marikana hier in Suid-Afrika (2012) maak dit onmoontlik om nié ook oor die gereg en regverdigheid te praat wanneer owerhede onder die vergrootglas kom nie. In beide hierdie gebeure is dit die polisie wat op verdagte maniere sou opgetree het, en regskenners en openbare fora opnuut laat worstel met die vraag oor die rol van owerhede. Die probleem van mag, gesag en owerhede is dus ten diepste verbind aan die kwessie van geregtigheid.

Trouens, in ‘n post-Auschwitz en postapartheid wêreld is die kwessie van geregtigheid ononderhandelbaar, sou Russel Botman in ‘n bydrae vir die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke skryf. Kerke en gelowiges kan nie anders as om die oproep tot reg en geregtigheid ernstig op te neem binne die Bybel, geloofsbelydenisse, en selfs Christelike leerstellinge nie, sou hy daarin beklemtoon. Hy self sou diep onder die indruk wees van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer, wat juis met vrae oor burgerlike verset teen ʼn onderdrukkende regering en sistemiese onreg sou worstel.

Bonhoeffer sou uiteindelik daarvoor ruimte maak dat daar omstandighede mag wees waar gelowiges nie alleen in opstand sou kon kom teen sulke owerhede nie, maar méér nog: hy sou sê dat dit pligsversuim sou wees om boosheid nié teen te staan nie. Self sou Bonhoeffer deel wees van ʼn poging teen Adolf Hitler se lewe en daarvoor tereggestel word enkele weke voordat die Geallieerde magte die gevangenes van die Flossenbürg-konsentrasiekamp in Duitsland sou bevry.

Juis hierdie fokus op geregtigheid – en die opstande teen sistemiese ongeregtighede – is ook duidelik in onlangse populêre literatuur. Twee gewilde verhale waarin hierdie tema sentraal tot die storielyn is – wat elk in trilogie-vorm vertel word, waarvan daar flieks gemaak word, en wat in ‘n postapokaliptiese Amerika afspeel – is Hunger Games (Suzanne Collins) en Queen of the Tearling (Erike Johansen).

In albei hierdie verhale is opstand – revolusie selfs – teen ‘n onderdrukkende owerheid ‘n belangrike element van die storielyn, en word die vroulike hoofkarakters (Katniss Everdeen in Hunger Games en Kelsea Glynn in Queen of the Tearling) die heldinne binne hierdie verhale van opstand. Indien bostaande beskrywings nie alreeds genoeg is nie, is die grootskaalse gewildheid van hierdie boeke en flieks ʼn goeie aanduiding van die soort 21ste-eeuse lesers wat ook Romeine 13 sou lees en interpreteer, en wat op beduidende maniere deur die verbeeldingswêrelde van hierdie en soortgelyke verhale gevorm word. Die resepsie van Romeine 13 deur juis súlke lesers raak interessant.

Uiteraard is dit gewoon nie moontlik om Romeine 13:1–7 (of enige ander Bybelteks!) neutraal, onaangeraak, onaangetas te lees nie. Daar is geen een, ware, histories korrekte en netjiese interpretasie hiervan wat as antwoord op kritiese vrae oor die oënskynlik goddelik-gesanksioneerde gesag van “owerhede” – regerings, staatbestelle, koninkryke? – kan dien nie. Bernard Lategan wys in ʼn artikel juis hieroor (https://www.litnet.co.za/n-verskuiwing-na-n-oper-en-meer-pragmatiese-lees-van-romeine-131-7) daarop dat hierdie teksgedeelte toenemend op ‘n komplekse wyse (wat hy as "hibriditeit” beskryf) gelees word waarin “enkelvoudige binêre teenstellings” soos onderwerping/opstand nie meer “reg laat geskied aan die verwikkelde aard van hierdie verhoudinge nie”.

Elders skryf hy oor wat hy noem die “veelduidigheid van tekste” (https://www.litnet.co.za/oor-die-veelduidigheid-van-tekste), waarin hy aandui dat tekste ʼn pluraliteit van “verbeelde interpretasies” kan behels. Rakende Romeine 13 spesifiek dui Lategan aan dat ʼn verskeidenheid van onlangse leesstrategieë – wat dikwels “beide ondersteunende en kritiese interpretasies van Romeine 13” probeer akkommodeer – ingespan word om sin te maak van hoe gelowiges oor owerhede (kan? moet?) dink.

Maar dit is die retoriek van Paulus se argument hier, sy “moet”-taal en die opdraggewende toonaard van sy argumente in Romeine 13, wat besonder interessant is.

Dit is duidelik dat teoloë argumente soos hierdie lankal nie meer as ewig-geldende voorskrifte vir gelowiges beskou nie – juis daarom is daar ʼn verskeidenheid leesstrategieë wat ingespan word om dikwels op nuwe maniere sin te maak van ou tekste (soos byvoorbeeld om Romeine 13 saam met Openbaring 13 te lees, waarin die gesag van owerhede juis gerelativeer word). Anders gestel: dit is nie alleen wát Paulus hier sê, of selfs wáárom hy dit sê, wat belangrik is nie, maar hóé hierdie woorde aanklank vind by sy lesers, hóé dit hulle houding teenoor die owerhede van die dag sou vorm of verander, by wyse van die potensiaal wat dit sou hê om bepaalde ingesteldhede by lesers te kweek (of daarvan sou weerhou om dit te kweek).

Een van die grootste probleme of uitdagings van Paulus se retoriek hier – vir ʼn 21ste-eeuse leser soos ek self – is juis dan ook die “moet”-taal, die bevelende aard van sy argument, die indruk van ʼn verabsoluterende retoriek wat gebruik word. ʼn Mens “moet” tog sekerlik niks nie, veral nie wat betref gehoorsaamheid aan owerhede nie! Dit mag alte maklik klink na ʼn vorm van pasifisme wat, veral in die lig van Suid-Afrika se apartheidsverlede, selfregverdigend en selfvrysprekend mag raak: “Wat die regering doen, is mos nie mý skuld nie, en selfs al sou dit onderdrukkend wees en onregverdig teenoor sekere groeperinge, kan ék tog sekerlik niks daaraan doen nie?”

Bevrydingsteoloë en feministiese teoloë is veral versigtig vir hierdie soort retoriek, en het al op verskillende maniere aangetoon hoe retoriek allermins onskuldig is. ʼn Voorbeeld hiervan is die Suid-Afrikaanse teoloog Sarojini Nadar se argument dat retoriek wat onderwerping en gehoorsaamheid vereis (soos in die geval van vrouens wat hulle mans gehoorsaam moet wees, omdat mans die hoof van die huishouding is – so lui die argument) binne ongelyke magsverhoudinge tot geweld kan lei.

Daar is onder hierdie teoloë ʼn diep-ingebedde agterdog – in die vorm van wat dikwels ʼn “hermeneutiek van suspisie” genoem word – wat moeilik losgeskud kan word en wat ʼn onlosmaaklike aspek van teologiese besinning in die 21ste eeu geword het. Meer nog, die vermoede dat onderwerping en gehoorsaamheid – alles behalwe verset en opstand en bevraagtekening! – van slegs sékere mense vereis word (vroue, persone van kleur, jongmense), is een van die diepste en mees kommerwekkende uitdagings aan enige teologiese retoriek wat onderwerping probeer regverdig, veral op grond van dit wat God “instel” of “beskik” of “orden” (Romeine 13:1–2).

In ag genome die diepgewortelde agterdog van alle vorme van mag, gesag en owerhede, die onlosmaaklike verbintenis tussen die mandaat van owerhede en die imperatief van die beoefening van geregtigheid, en die waarskuwing dat teologiese retoriek wat onkritiese onderwerping aan owerhede regverdig in verwysing na God gesanksioneerde geweld tot gevolg kan hê, is daar alreeds ʼn hele rits waarskuwingstekens op die weg na interpretasies van Romeine 13 wat in ag geneem moet word. Tog sou ʼn mens kon wonder hoe dit alles jou help om so ʼn teksgedeelte wél te interpreteer. Is dit nie dalk veiliger om, in die lig van al hierdie gevare, die teksgedeelte bloot weg te gooi – of dalk net te ignoreer, toe te skryf aan ʼn tyd lank verby, en maar jou eie kop oor sake soos mag, gesag en owerhede te volg nie?

Daar is, soos wat Bernard Lategan ook in sy artikels aandui, kreatiewe en verbeeldingryke maniere wat ingespan word om ook anders oor teksgedeeltes soos Romeine 13 na te dink.

Dalk is dit nodig vir ons as 21ste-eeuse lesers om ons nie blind te staar teen die bevele van Romeine 13 nie, om ons nie noodwendig te berus by Paulus se oënskynlike hiet-en-gebied-taal in hierdie hoofstuk van die brief nie, maar om rusteloos te bly soek na die soort verbeelding wat Paulus by sy lesers wou kweek – na die soort wêreld wat agter Paulus se argument sit, die soort verhoudings waarop hy sinspeel, die aard van die mag, gesag en owerhede wat mense laat gedy.

Calvyn sou byvoorbeeld in ʼn bekende uiteensetting van die Tien Gebooie nie berus by dit wat Eksodus 20 verbied nie, maar sy interpretasie hiervan laat uitkring om ook dit wat die gebooie gebied in te sluit; nie alleen dit wat gelowiges nié moet doen nie, uiteensit nie, maar ook die implikasies van wat gelowiges wel móét doen, uitstippel. Vir hom sou hierdie morele opdragte nie interessant wees op grond van wat dit vir die antieke lesers beteken het nie, maar weens die etiese implikasies wat dit vir eietydse lesers sou inhou. Hierdie gebooie beeld beide die beeld van die mens as sondaar én die nuwe lewe waartoe sondaars geroep is, uit, sou hy aanvoer.

Op ʼn soortgelyke wyse is Romeine 13 nie noodwendig so interessant vir wat dit beveel nie, maar vir die tipe wêreld waartoe dit gelowiges roep: ʼn wêreld wat gekenmerk word deur geregtigheid en versoening, waarin owerhede in diens staan van die vestiging en handhawing van die waardigheid van alle mense (wat trouens een van die kernwaardes van die Suid-Afrikaanse Grondwet is); ʼn wêreld waarin burgerlike betrokkenheid, en ʼn aktiewe burgerlike samelewing – waarvan die kerk deel is – tekenend is van die dinamika tussen burgerskap en ʼn demokraties-verkose owerheid.

ʼn Statiese houding van blote onderwerping, ongeag die vereistes en uitdagings van ʼn spesifieke tyd en konteks, is hiervoor nie genoeg nie – dit is vaag en, nog erger, verbeeldingloos, en vereis méér nadenke, méér betrokkenheid van gelowiges. Hierdie betrokkenheid sou verskillende vorme kon aanneem, binne ʼn dinamika van kritiese solidariteit en niegewelddadige verset, ten einde te bly streef na ʼn wêreld waarin alle mense ʼn vol en menswaardige lewe kan leef. Hiermee help die hele Bybelse korpus, en die getuienis van gelowiges oor die eeue heen, om ʼn Bybelse verbeelding te help vorm waarbinne so ʼn wêreld gestalte kry. En hierin raak die roeping van gelowiges, binne so ʼn wêreld, baie meer interessant en verbeeldingryk as die blote keuse tussen onderwerping en opstand, tussen gehoorsaamheid en verset.

Só ʼn lees van Romeine 13 is ongetwyfeld meer pragmaties – maar dit is ook meer verbeeldingryk. “And what is theology,” sou die Amerikaanse feministiese teoloog Serene Jones skryf, “if not finally the poetry of wild fantasy, colored horses, and the touch of a lover’s skin?”

  • Nadia Marais is verbonde aan die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie in die US se Fakulteit Teologie.

 Lees ook:

Romeine 13:1–7: ’n Steekproef van die dinamiese verhouding tussen teks en konteks

Wynand Fourie
Seminare en essays

"Nie net is dit broodnodig nie, dit is ook uiters verantwoordelike akademiese rentmeesterskap wanneer die Bybel gelees word op die verskillende maniere waarvan die “pragmatiese” lees getuig."

 

’n Verskuiwing na ’n oper en meer “pragmatiese” lees van Romeine 13:1–7?

Bernard Lategan
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

"Romeine 13:1–7 is bekend – of berug – as een van die teksgedeeltes waarvan die uitleg nog altyd omstrede was. Die kernvrae waarom dit hier gaan, is goed bekend: Hoe kan Paulus so ongekwalifiseerd positief wees ten opsigte van gesag? Het hy die sekulêre Romeinse staat in gedagte? Kan ’n onderdrukkende en gewelddadige owerheid werklik as ’n “dienaar van God” beskryf word? Is opstand teen gesag onder alle omstandighede vir gelowiges verbode? Geld hierdie uitsprake van Paulus slegs vir sy tyd of het dit ’n universele strekking?"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top