Roma, ’n filmresensie

  • 0

Draaiboek: Alfonso Cuarón

Regie: Alfonso Cuarón

Akteurs: Yalitza Aparicio, Marina de Tavira, Nancy Garcia, Fernando Grediaga, Jorge Guerrero

Alfonso Cuarón is die gevierde regisseur van onder meer Y Tu Mama Tambien, Gravity en Harry Potter and the prisoner of Azkaban. Volgens IMDb was dit jare lank sy droom om Roma te maak, ’n ode aan sy kinderjare wat uiters stylvol in swart en wit verfilm is.

Die verhaal speel af in die vroeë 1970’s in die gelyknamige woonbuurt in Mexikostad en handel oor ’n gegoede gesin en hul twee huiswerkers, Cleo (Yalitza Aparicio) en Adela (Nancy Garcia). Die pa, señor Antonio (Fernando Grediaga), is ’n mediese dokter en die onbetwiste heer des huises, terwyl Sofia, die ma (Marina de Tavira), vier kinders en die huishouding moet beheer én haar huwelik aanmekaar probeer hou. Saans ná werk het Cleo en Adela hul eie lewens en uitstappies saam met vriende – tot Cleo swanger raak en die kêrel (Jorge Guerrero) haar soos ’n warm patat los. Beide Cleo en Sofia ervaar verwerping deur die man in hul lewe, maar altyd met die verdeling wat tussen werknemer en werkgewer bestaan.     

Hierdie film kry volpunte vir atmosfeer en heelwat minder vir dramatiese impak – dis betekenisvol dat Cuarón net twee van sy drie benoemings vir die Golden Globes kon realiseer: dié vir beste regisseur en beste buitelandse film, maar nie vir beste draaiboek nie. Die film sou veel kon baat by ’n sterker spanningslyn, sowel as ’n fokalisator (óf die jongste óf die oudste van die seuns) wat kon dien as teëhanger vir Cleo, ’n saggeaarde karakter wat pragtig vertolk word deur die nuweling Yalitza Aparicio.   

Hoewel dit nie deurgaans so boeiend is nie, bly dit ’n goeie film, met verskeie onvergeetlike tonele.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top