Riglyne vir maatskaplike werkers wat peuters forensies assesseer

  • 0

Riglyne vir maatskaplike werkers wat peuters forensies assesseer

Minette Jacobs, maatskaplike werker, Bloemfontein en Carel van Wyk, Departement Maatskaplike Werk, Universiteit van die Vrystaat.

LitNet Akademies Jaargang 12(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die forensiese assessering van peuters is ingewikkeld, tydrowend en gewoonlik nie maklik uitvoerbaar nie. Die peuter se vlak van sosio-emosionele kognitiewe ontwikkeling bied die grootste uitdaging aan die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen. Die doel van hierdie studie is ʼn ondersoek na die betekenis wat deskundiges heg aan die assesseringsprotokolle wat gevolg word wanneer hulle peuters forensies assesseer. Op grond daarvan is met riglyne vorendag gekom wat maatskaplike werkers kan volg wanneer peuters forensies geassesseer word. Hierdie riglyne dien dus as ʼn raamwerk waarbinne die bestaande forensiese protokolle toegepas kan word. ʼn Kwalitatiewe-navorsing-denkmodel het gegeld. ʼn Algemene proses van kwalitatiewe-inligting-ontleding is aangewend om die inligting, wat deur middel van ʼn onderhoudsgids tydens ʼn groepbespreking ingesamel is, te verwerk. Deelnemers aan die onderhoud is deur middel van ʼn doelbewuste nie-ewekansige steekproef gekies op grond van hul geografiese beskikbaarheid (Vrystaat), registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe, aantal jare ervaring (minstens vyf), en opleiding (nagraadse kwalifikasie en/of kursusse in forensiese assessering). Daar is gepoog om vyf deelnemers te kies, maar slegs vier deelnemers het aan genoemde insluitingsmaatstawwe voldoen. Die volgende kernbevindinge is na die inligtingsontleding gemaak: die kognitiewe en taalontwikkelingsvlak eie aan die peuterontwikkelingsfase maak forensiese assessering van die peuter ingewikkeld en dikwels selfs onmoontlik, en peuters kan nie ʼn onderskeid tussen fantasie en realiteit tref nie; ʼn andersoortige benadering tot die forensiese assessering met die peuter behoort gevolg te word, waar die fokus op die versameling van agtergrondinligting val; die forensiese assessering van peuters is tydrowend; ʼn parallelle terapeut behoort betrek te word; aangesien seksuele mishandeling dikwels nie by die peuter bevestig kan word nie, is die beveiliging van die peuter noodsaaklik; en duidelike riglyne vir maatskaplike werkers wat peuters assesseer, is nie beskikbaar nie. Riglyne vir maatskaplike werkers wat peuters assesseer, is gevolglik ontwikkel.

Trefwoorde: forensiese maatskaplike werk; peuter; riglyne vir forensiese assessering; seksuele kindermishandeling


Abstract

Guidelines for social workers who forensically assess toddlers

Unfortunately it is a fact that the sexual abuse of children is not abating, and that the younger the child, the higher the risk of sexual abuse. Also, the younger the child, the more challenging it is to do a forensic assessment. The attributes of the phase of development in which a child finds him-/herself offer various challenges to the social worker who has to assess the toddler forensically. Literature indicates that it is extremely important to consult collateral sources to assess a toddler forensically. These collateral sources may include the parents, other family members, relatives and day-carers. The social worker who is doing the forensic assessment has to integrate the information gained from the various sources to create a holistic picture of the psycho-social functioning of the toddler. Standardised measuring instruments, such as the “Child Sexual Behaviour Inventory”, the “Child Behaviour Checklist” and the “Child Development Inventory”, may also be used to collect information regarding the toddler’s sexual behaviour and development. When the toddler is assessed forensically it will take between three and six hours, which have to be spread over several sessions. It is emphasised that alternative hypotheses and explanations for the toddler’s sexual behaviour should be investigated and that his/her sexual behaviour should not be blamed on sexual abuse without further investigation. If an unambiguous conclusion about sexual abuse cannot be reached, the social worker who is responsible for the forensic assessment will focus on the continued protection of the toddler.

To be able to conduct an effective forensic assessment the social worker must have profound knowledge of the development phase of the toddler. The toddler may, for example, be in the pre-operational phase of cognitive development. This means, inter alia, that the toddler cannot relate a logical course of events, and that ego-centredness, finalism, non-realism, concrete thinking, juxtaposition and syncretism are prevalent. Perceptual development is in process. The toddler’s spatial orientation has not, therefore, developed fully, and he/she cannot distinguish between different parts of the body. Toddlers cannot think in metaphors or in a symbolic way. They also cannot necessarily recall occurrences correctly; therefore, one cannot rely on the toddler’s memory. In the final analysis toddlers are more susceptible to suggestion. The aim of this study is, therefore, to analyse the meaning social workers who are doing forensic assessments of toddlers attach to the forensic protocols utilised by them. Based on this, broad guidelines were formulated that social workers may follow when doing forensic assessments of toddlers. The aim therefore did not include an analysis and/or expansion of existing forensic assessment techniques and methods which may be used when toddlers are assessed forensically.

The qualitative research paradigm was used in the study and the principles of purposeful, non-random sampling were applied to select the participants, who had to comply with certain criteria to participate in the study. The inclusion criteria were: registration with the professional council for social workers; a minimum of five years’ experience in the field of forensic assessment of children; and specific training in forensic social work. Four participants complied with these criteria. A literature study was done, and information was then collected by means of a previously compiled interview schedule which was used during an in-depth group discussion. The collected, unprocessed information was analysed according to the following steps of a generic qualitative data analysis process: developing categories and codifying the data; testing the unfolding understanding of the data and investigating alternatives; and, finally, interpreting the data and developing themes. The data emerging from the literature study and the data collected during the empirical study were then integrated to arrive at a deeper understanding of forensic social work assessment of the toddler.

The first shortcoming was the small size of the sample. Another was that information collected from a single profession was used in the study. The participants were also all working in a limited geographical area.

It was found that the participants regarded the forensic assessment of toddlers as a challenge due to their phase of development. These challenges included, inter alia, poor language skills of toddlers, their level of cognitive ability, limited spatial abilities and perceptual skills, limitations regarding memory processes, the inability to provide context and detailed information, and lack of ability to distinguish between fantasy and reality. According to the participants the forensic assessment of toddlers is hampered by the lack of overarching procedural guidelines. It was also evident that the protection of the toddler took preference over the confirmation of sexual abuse. The services of a supporting parallel therapist were often mentioned in this regard, the purpose of a parallel therapist being to monitor the behaviour of the toddler over a longer period, and also to provide therapy. The services of a supporting parallel therapist may also be employed when a clear-cut declaration/confirmation of the possibility of sexual abuse cannot be obtained from the toddler, but the toddler runs a high risk of maltreatment or abuse.

The unique attributes of the stage of development of the toddler should be kept in mind throughout the assessment process. Due to the attributes of the stage of development of the toddler it is absolutely essential to gather collateral information when doing the forensic assessment. As far as possible no blind assessments should be conducted. More time must be allowed for the assessment.

Finally, the following steps are recommended for the forensic assessment of the toddler: 1. Interview with the primary carer(s); 2. development assessment of the toddler; 3. reference to the parallel therapist; 4. socio-emotional assessment; 5. tactile surveying technique; 6. exploring alternative hypotheses; and 7. recommendations regarding the toddler’s protection and the possibility of the prosecution of the alleged transgressor.

Keywords: forensic social work; guidelines for forensic assessment; sexual abuse of the child; toddler


1. Inleiding

Die effektiewe forensiese assessering deur onder andere maatskaplike werkers van slagoffers van seksuele mishandeling verdien hernude aandag. Seksuele mishandeling van kinders kom steeds wêreldwyd voor en ten spyte van vele veldtogte blyk daar geen permanente deurbraak in dié verband te wees nie (Barth, Bermetz, Heim, Trelle en Tonia 2013:477). Die effektiewe holistiese hantering van hierdie verskynsel vereis gevolglik voortgesette aandag en werk (Crosson-Tower 2015, par. 280). In hierdie studie word daar dus gefokus op die uitdagings van die maatskaplike werker wat peuters forensies moet assesseer om as deskundige in ʼn geregshof oor die bevindinge rakende die voorval te getuig.

Poole en Lamb (1998:17) het bevind dat die forensiese assessering van peuters wat moontlik seksueel mishandel word, die volgende uitdagings vir die maatskaplike werker inhou: eerstens moet die vraagstuk aangaande die kind se geloofwaardigheid en die bevoegdheid van die kind om as getuie op te tree, bewys word; tweedens moet die dilemma rondom die jong kind se vatbaarheid vir suggesties verreken word; en laastens moet die moontlikheid van negatiewe beïnvloeding van inligting wanneer meer as een onderhoud met die kind gevoer word, in ag geneem word. Hierdie kwessies stel hoë intellektuele en assesseringseise aan die maatskaplike werker wat die peuter forensies moet assesseer. Die noodsaak vir riglyne vir assessering kom hier na vore, aangesien die bevindinge van die assessering benodig word om ingeligte besluite rakende die aannames van seksuele mishandeling, asook die toekomstige veiligheid van die peuter te maak.

ʼn Leemte bestaan dus ten opsigte van die effektiewe forensiese assessering van peuters wat moontlik aan seksuele mishandeling blootgestel is/word (Potgieter 2002:3; Meyers 1997:77). Die doel van die studie is ʼn verkennende en beskrywende ondersoek na die betekenis wat deskundiges op die gebied van maatskaplikewerk forensiese assesserings heg aan die inhoudelike van die assesseringsprotokolle wat gevolg word wanneer peuters forensies deur hulle geassesseer word. Op grond daarvan is met riglyne vorendag gekom wat maatskaplike werkers kan volg. Hierdie riglyne dien dus as ʼn raamwerk waarbinne die bestaande protokolle toegepas kan word.

Die ontwikkelingsprofiel van die peuter en bestaande assesseringsprotokolle word in die literatuuroorsig beskryf. Daarna word die wetenskaplike ondersoek beskryf en die resultate bespreek.

2. Ontwikkelingsprofiel van die peuter

ʼn Kind in die ontwikkelingstydperk wat strek van 18 tot 36 maande word as ʼn “peuter” (Engels toddler) gedefinieer (Cambridge Dictionary Online 2006). Die uitdagings wat forensiese assessering van ʼn peuter inhou, word in die bespreking van die biopsigososiale ontwikkelingsaspekte van hierdie ontwikkelingsfase uitgelig.

2.1 Piaget se kognitiewe-ontwikkeling-teorie

Die peuter is in die preoperasionele fase van kognitiewe ontwikkeling wat deur sekere unieke eienskappe gekenmerk word (Louw en Louw 2007:155–9; Rapha 2007:10–2). Dit sluit onder andere die volgende eienskappe in:

  • egosentrisme: selfgesentreerdheid waarmee peuters na die wêreld kyk vanuit hul eie perspektief en nie ander se siening kan insien nie
  • finalisme: oorsaak en gevolg word verwar
  • sinkretisme: die geneigdheid om verskillende nieverwante idees saam in ʼn verwarrende geheel te groepeer
  • jukstaposisie: feite wat werklik met mekaar verband hou, word nie met mekaar in verband gebring nie
  • transduktiewe denke: onlogiese volgorde van gebeure en verwarrende inligting word verskaf
  • animistiese denke: lewende eienskappe word aan lewelose voorwerpe toegeken
  • realisme: die onvermoë om tussen werklikheid en fantasie te onderskei
  • konkrete denke: letterlike denke in die onmiddellike tydsdimensie
  • sentrering: fokus op die onmiddellikheid van gebeure en voorwerpe met die gevolglike onvermoë om aan meer as een aspek op ʼn slag aandag te gee (Hewitt 1999:25, 26; De Witt en Booysen 2007:17; Rapha 2007:10–2; Louw en Louw 2007:155–9).

Bogenoemde kenmerke, eie aan die preoperasionele kognitiewe ontwikkeling van peuters, het tot gevolg dat hul vertellinge van gebeure dikwels onlogies en onrealisties voorkom. Dit bemoeilik die interpretasie van die peuter se vertelling in die raamwerk van die maatskaplike werker se forensiese assessering. Vir peuters om ʼn insident logies en ordelik te verhaal, moet hulle vaardighede ten opsigte van bogenoemde aspekte bemeester het. Eers dan is hulle in staat om kontekstuele inligting wat nodig is vir die akkurate, feitelike weergawe van gebeure oor te dra. Volgens die Suid-Afrikaanse reg word kinders as bevoeg beskou wanneer hulle volgens die mening van die hof tussen waarheid en leuen en tussen fantasie en realiteit kan onderskei. Kinders ontwikkel hierdie vaardighede meestal eers vanaf die ouderdom van drie jaar (Rapha 2007:12).

2.2 Perseptuele ontwikkeling

Persepsie word omskryf as die kontak wat die brein met die buitewêreld maak deur middel van gegewens wat deur die sintuie na die brein gevoer word (Rapha 2007:9). Perseptuele ontwikkeling vind van jongs af plaas en die volgende ontwikkelingsaspekte gaan daarmee gepaard:

  • Begripsvorming: sluit in visuele diskriminasie, vormwaarneming en vormkonstantheid en visuele geheue. Dit vereis van die peuter om tussen kleur, vorm en grootte te onderskei en om dit wat met die oë waargeneem word, te onthou en te herroep.
  • Waarneming van ruimtelike verhoudings: die verhouding van voorwerpe tot mekaar, byvoorbeeld die potlood is “agter”, “voor”, “bo”, “onder” of “langs” die boek.
  • Posisie in die ruimte: die bewustheid van die peuter met betrekking tot sy/haar eie liggaam se posisie in verhouding tot voorwerpe in die omgewing; byvoorbeeld: “Ek staan agter/voor/langs my maatjie.”
  • Persepsie van tyd: tydsbegrip speel ’n belangrike rol, aangesien gebeure in tyd afspeel. Die peuter toon ʼn onvermoë om gebeure chronologies te verhaal en spesifieke tyd aan gebeure te koppel (Rapha 2007:10, 85; De Witt en Booysen 2007:92).

Hieruit blyk dit dat die perseptuele vaardighede van die peuter ʼn bepalende uitwerking op die uitkoms van die forensiese assessering deur die maatskaplike werker kan hê. As die peuter byvoorbeeld nie sy/haar vertelling in volgorde kan weergee nie, kan die verdediging in ʼn strafsaak aanvoer dat die getuie nie betroubaar is nie en ʼn beroep op die hof doen om die getuienis van die peuter ten gunste van die beweerde oortreder te verwerp. Die onderstaande perseptuele vaardighede speel ʼn verdere rol in assessering:

a. Visuele diskriminasie – die vermoë om tussen kleur, vorm en grootte te onderskei. By die peuter is hierdie vermoë meestal onderontwikkel. Begripsvorming, klassifikasie en differensiëring is aspekte wat hiermee verband hou. Vir die peuter is baie van hierdie vaardighede ’n uitdaging (Rapha 2007:9). Gedurende die forensiese assessering word van die kind verwag om inligting in die fynste besonderhede aangaande die beweerde voorval van seksuele mishandeling te verskaf, en dit vereis dikwels omskrywings van kleur, grootte en vorm. Indien hierdie perseptuele vaardighede nie ontwikkel is nie, kan ʼn forensiese assessering nie effektief gedoen word nie.

b. Visuele begripsvorming en persepsie word deur De Witt en Booysen (2007:92) beskryf as die vermoë van die brein om konsepte te vorm nadat die oë dit gesien het. Dit verwys na die vermoë van die brein om deur visie kontak met die wêreld te maak. Visuele geheue is belangrik wanneer die brein moet onthou wat die oë gesien het. Hierdie vermoë hou verband met die kind se ontwikkelingsvlak en verwysingsraamwerk en kan in die peuterjare beperk wees. Visuele geheue is die vermoë van die brein om te onthou wat die oë gesien het (Rapha 2007:10). Hierdie vaardigheid begin reeds op vier maande ontwikkel (De Witt en Booysen 2007:84). Dit speel ʼn rol in die aard en omvang van die peuter se weergawe van die beweerde seksuele mishandeling. Alhoewel die peuter gebeure wat afgespeel het, kan stoor, is hy nie noodwendig in staat om dit bewustelik te herroep en op ʼn logiese en samehangende wyse te verhaal nie.

c. Visuele geheue sluit aan by visuele volgorde-geheue-herroeping, wat deur Rapha (2007:12) omskryf word as die vermoë om dit wat met die oog waargeneem is, vir ’n geruime tyd te onthou. Die kind moet dit dus kan inneem, die inligting berg en later weer in korrekte volgorde kan herroep. Hierdie vermoë van die peuter om insidente in volgorde te onthou, blyk beperk te wees, omdat inligting nie in logiese volgorde deurgegee word nie. Dit lei tot ʼn verwarrende, onlogiese beeld van gebeure wat die geloofwaardigheid van die verklaring, in gedrang bring, tot voordeel van die verdediging.

d. Ruimtelike oriëntering of bewustheid is die vermoë om die posisie van die liggaam in verhouding tot voorwerpe in die omgewing, asook die verhouding van die voorwerpe tot mekaar, waar te neem. Die woorde “agter”, “voor”, “bo”, “onder” en “kante” is aspekte wat die peuter moet kan bemeester. Afhangende van die omgewingsblootstelling, ervaring, kultuur en ander omgewingsinvloede is dit vir die peuter moeilik om tussen hierdie ruimtelike oriënterings te onderskei (Rapha 2007:12). Aangesien die peuter hierdie aspekte van perseptuele ontwikkeling eers vanaf drie jaar begin bemeester, is die peuter wat jonger as twee en ’n half jaar oud is, nog nie in staat om verskillende vorme, verskillende getalle, verskillende kleure en verskillende groottes te onderskei nie. Visuele geheue, ruimtelike oriëntasie en volgorde het ook nog nie ten volle ontwikkel nie.

e. Liggaamsbewustheid dui op die peuter se vermoë om tussen die verskillende liggaamsdele en hul funksies te onderskei (De Witt en Booysen 2007:92). Afhangende van die spesifieke ontwikkelingstadium waarin die kind haar/hom bevind, blyk dit dat die peuter basiese liggaamsdele kan identifiseer en op sy/haar eie liggaam kan aandui. Die funksie van hierdie dele is egter dikwels nog onbekend aan die peuter (De Witt en Booysen 2007:92).

2.3 Taalontwikkeling

Die omgewing waarbinne peuters ontwikkel, speel ʼn bepalende rol in hul ontwikkeling van taalvaardigheid. Kultuur, sosio-ekonomiese status, opvoedingsmetodes, intelligensievlak, ervaring, geslag, geboorteorde, persoonlikheid en rolmodelle is volgens De Witt en Booysen (2007:103) faktore wat die peuter se taalvaardigheid beïnvloed. Hierdie skrywers beklemtoon dat tweewoordsinne eers teen ouderdom twee jaar ontwikkel. Oor die algemeen is peuters se woordeskat beperk en gee hulle inligting onlogies, dubbelsinnig en inkonsekwent deur. Abstrakte konsepte soos seksualiteit en verwante konsepte is vir die peuter problematies. Die gevolg hiervan is dat peuters geneig is om tydens die forensiese assessering inligting uit te laat. Inligting soos plek, ligging, evaluerende en beskrywende kommentaar, en die vermoë om spesifiek te wees, ontbreek dikwels by peuters.

Peuters vind dit moeilik om in metafore te dink en simboliese funksies aan situasies te koppel (Meadows 1993:75). Dit het noodwendig ʼn invloed op die assesseringsproses, deurdat die kind nie persone simbolies kan voorstel nie. Die implikasie hiervan is dat die assesseerder konkreet moet verwys na persone en situasies en dat anatomies-korrekte poppe ook nie benut kan word nie.

2.4 Geheue

Geheue en om aandag te skenk word as kern kognitiewe prosesse geag, want dit is bepalend vir die kind om op ʼn situasie te kan fokus, dit as ʼn herinnering te stoor en dit dan by ʼn latere geleentheid te herroep (Bukatko en Daehler 2004:313; Gouws, Louw, Meyer en Plug 1979:96). Vir die doel van die forensiese assessering is dit noodsaaklik dat die peuter se vermoë om te kan onthou verken word om vas te stel watter assesseringstegnieke moontlik benut kan word om die geheue te prikkel.

Volgens Bukatko en Daehler (2004:54) kan tussen sensoriese, korttermyn- en langtermyngeheue van die peuter onderskei word. Peuters se herkenningsvermoë is uitstekend, maar die herroepingsgeheue is swakker en hulle onthou oor die algemeen swakker as ouer kinders. Dit is kritiek vir die assesseringsproses dat die peuter se langtermyn- en outobiografiese geheue goed moet wees. Peuters beskik oor die vermoë om gebeure uit die geheue te herroep en deur spel weer te gee, eerder as om dit te vertel (Hewitt 1999:45; Olafson 2007:13). Nelson (1989:5) en Louw (2005:4) voer aan dat peuters se outobiografiese geheue selde voor driejarige ouderdom ontwikkel. Dit blyk dus dat peuters se vermoë om te onthou goed is, maar dat hulle nie in staat is om die gebeure mondeling weer te gee nie. Nelson (1989:5) bevestig dat kinders goed vaar in die kognitiewe take wat aan hul bekend is, maar swak in die take waarvan hulle beperkte kennis het of waarvan die konteks onverstaanbaar is. Volgens Hewitt (1999:45) blyk dit dat jong kinders oor implisiete geheuevaardighede beskik en sowel traumatiese as nietraumatiese gebeure kan uitspeel lank voordat hulle dit mondeling kan verskaf. Die implikasie hiervan vir die forensiese assesseerder is dat die peuter gebeure kan herroep en deur spel kan weergee, eerder as om dit te verbaliseer.

Nelson (1996:174) verduidelik dat jong peuters van ongeveer twee jaar se geheue gekenmerk word deur die vorming van tekste (“scripts”; algemene roetines wat vasgelê is). Alledaagse roetineaktiwiteite word dus beter onthou, want dit is bekend aan die kind. Dit voorspel vir hulle die toekoms, help hulle om sin te maak van hul omgewing en stel hulle in staat om die omgewing te beheer. Dus kan aangeneem word dat eenmalige nietraumatiese gebeure nie noodwendig goed onthou sal word nie, aangesien dit onbekend is vir die kind – ’n persoon wat haar een maal gebad het, sal byvoorbeeld nie noodwendig onthou word nie.

Die peuter se vermoë om op lang termyn te onthou, is kritiek in die assesseringsproses en sluit aan by die vermoë om outobiografiese geheue te toon. Outobiografiese geheue dui, volgens Bukatko en Daehler (2004:55), op die spesifieke gebeure wat ’n persoon omtrent sy/haar eie lewe bewustelik onthou. Volgens Nelson (1989:5) ontstaan kinders se outobiografiese geheue selde voor driejarige ouderdom. Feite word dikwels vergeet, maar gebeurtenisse wat ’n spesifieke indruk gemaak het, kan moontlik onthou word.

Dit wil voorkom of peuters se geheue soms onvolledig of onakkuraat is. Studies van traumatiese ervaringe, waaronder dié van Faller (2007:145), dui daarop dat peuters se geheue van trauma gefragmenteer is. In die navorsing wat gedoen is, kom dit duidelik na vore dat die assessering van kinders van hierdie jong ouderdom in ʼn groter mate staatmaak op inligting bekom vanaf versorgers, die gebruikmaking van gestandaardiseerde meetinstrumente en gebruikmaking van steierwerk tydens geheueherroeping (Hewitt 1999:5; Faller 2007:149). Steierwerk behels die begeleiding van die jong kind om vrae te beantwoord deur eenvoudige vrae met ingewikkelder vrae op te volg, byvoorbeeld: “Het jy ʼn pappa?” “Het jou pappa ʼn ander naam?” “Wat is jou pappa se ander naam?” “Doen jou pappa dinge met jou waarvan jy nie hou nie?” (vgl. Faller 2007:150). Alhoewel die kind begelei word om vrae te beantwoord, mag die kind nie gelei word om die vrae op ʼn sekere wyse te antwoord nie. ʼn Voorbeeld van ʼn leidende vraag sou kon wees: “Jou pappa het mos aan jou tussen jou bene gevat, nè?”

Bogenoemde eienskappe van die peuter se geheue dra daartoe by dat dit moeilik is om binne ʼn forensiese opset spesifieke feite aangaande ʼn situasie in te samel, vanweë die volgende uitdagings rakende die peuter se geheue: gefragmenteerde geheue, vorming van teksgeheue en onvermoë om gebeure te verwoord. Dit is verder moeilik om kontekstuele inligting ten opsigte van ʼn insident vas te stel, aangesien peuters antwoorde met min inhoud gee omdat hulle slegs sentrale komponente van ʼn betekenisvolle gebeurtenis kan onthou. 

2.5 Suggesties en bronmonitering

Olafson (2007:13) wys daarop dat jong kinders wat van volwassenes afhanklik is, meer vatbaar is vir suggesties en misleiding. Dit kan dus afgelei word dat die tegniek wat dikwels deur assesseerders benut word, naamlik om leidrade te gee, tot vals geheue kan lei indien dit nie omsigtig en met kundigheid toegepas word nie. Hy noem ook dat dit maklik is om die jong kind se oorspronklike persepsie, en dus haar herinnering (geheue) van ʼn gebeurtenis, te beïnvloed. Gebrek aan bronmonitering (persoon se bewustheid van die bron van die herinnering) kan by kinders van hierdie jong ouderdom voorkom. Dus kan peuters van onder drie jaar dit wat aan hul vertel word, makliker met die ware gebeurtenis verwar. Bronmonitering verbeter egter drasties tussen die ouderdomme van drie en vyf jaar (Faller 2007:20).

2.6 Emosionele aspekte

Die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, moet kennis dra van die peuter se emosionele ontwikkelingsfase ten einde ’n begrip te vorm van ʼn peuter se “normale” emosionele reaksies en “abnormale” reaktiewe emosies wat ook in gedrag kan manifesteer. Indien die peuter emosioneel ontoepaslik reageer – dit wil sê, buite die verwagte emosionele reaksies – kan dit die gevolg wees van omstandighede wat die verwagte emosionele funksionering beïnvloed. Emosie en kognisie is ineengevleg en daar is geen gedragspatroon wat voorkom wat nie emosies as motief het nie. Gedragsprobleme dui dus op emosionele probleme.

Erikson het die emosionele ontwikkeling van die peuter in die volgende fases gekategoriseer (De Witt en Booysen 2007:22):

  • babajare (0–1 jaar): die ontwikkeling van vertroue teenoor wantroue
  • jong kinderjare (2–3 jaar): die ontwikkeling van outonomie teenoor twyfel en skuheid.

Tydens die peuterontwikkelingsfase is heftige emosionele optrede tipiese gedrag. Peuters beskik nog nie oor voldoende taalgebruik nie, daarom word vrees, skrik, woede, verdriet, vreugde en nuuskierigheid deur lag-, huil- of woede-uitbarstings uitgedruk (Engelbrecht, Kok en Van Biljon 1982:49). Hierdie reaksies kan dus as normaal geag word, die konteks in ag genome. Rapha (2007:50) toon aan dat peuters se begeertes hul emosies lei. Die peuter openbaar ’n spontane uiting van emosie en derhalwe is selfregulering van emosie moeilik in die peuterontwikkelingsfase. Hierdie aspek van die kleuter se ontwikkelingsfase hou noodwendig ook gevolge in vir die forensiese assesseringsproses deurdat die peuter nie by magte is om emosies weg te steek of misleidend op te tree nie. Die peuter kan dus nie opsetlik vals of misleidende emosies tydens ’n ondersoek openbaar nie. Tydens die holistiese proses van die forensiese assessering is die waarneming van die peuter se emosies belangrik om die betroubaarheid van weergawes te verseker.

Hewitt (1999:105) noem dat ouers se emosies die peuter kan beïnvloed. Dit het dus ʼn invloed op die maatskaplikewerk forensiese assesseringsproses, aangesien die peuter ouerlike emosies wat moontlik nie met die peuter se eie emosies verband hou nie, kan naboots of projekteer. Hewitt (1999:29) voer ook aan dat emosionele groei en ontwikkeling by die kind oor skeiding en individualisering gaan. Die vermoë van die peuter om vir kort tye van die versorger geskei te wees, sy/haar reaksie op skeiding van die ouer en die vermoë om in die teenwoordigheid van die ouer sy/haar omgewing te verken, verskaf belangrike inligting aangaande die gesinsisteem, ouerbinding en die gesinsdinamika. Hewitt (1999:22) verwys na disgeorganiseerde binding as versorgers wat vanweë onopgeloste trauma in die verlede nie in die kind se emosionele behoeftes kan voorsien nie. Dit is belangrike inligting vir die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, aangesien sodanige ouers oorbeskermend of bedreig voel as gevolg van hul eie onopgeloste trauma van die verlede. Sulke ouers kan dan hul eie vrese of gevoel van bedreiging op die kind projekteer. Dit is dus belangrike inligting, aangesien daar tydens die maatskaplikewerk forensiese assessering bepaal moet word of die peuter seksueel mishandel is en of die emosies en gedrag van die peuter eerder ʼn projeksie van die ouer se onopgeloste emosionele probleme is.

3. Die forensiese assessering van peuters

ʼn Vergelyking van die definisies van die begrip forensiese maatskaplike werk soos deur Barker en Branson (1993) en Brownell en Roberts (2002) uiteengesit, dui daarop dat daar van die maatskaplike werker in ʼn forensiese rol verwag word om onafhanklike ondersoeke vir die hof deur middel van die insameling van feitelike gegewens rondom slagoffers of vermeende oortreders te doen. Hieruit kan aanbevelings vanuit ʼn sistemiese raamwerk vir die hof gemaak word. Green, Thorpe en Traupmann (2005) bevestig dat die maatskaplikewerk-professie gemoeid is met die bestudering van die persoon binne ʼn sistemiese, gesins- en omgewingsverband. Die holistiese wyse waarop hierdie beroep tendense en verskynsels verken en verklaar, onderskei die beroep van ander beroepe. Die maatskaplike werker wat ʼn persoon forensies assesseer, doen dit dus vanuit ʼn holistiese, sistemiese raamwerk, wat behels dat alle aspekte van die peuter geassesseer word – emosie, kognisie, gedrag, en gesinsomstandighede ingesluit.

Crosson-Tower (2015, par. 5392) skryf dat die “[d]ynamics of child sexual abuse are complex and call for careful intervention and assessment”. Soos bo verduidelik, is die dinamika van die peuter wat vermoedelik seksueel mishandel is, nog meer kompleks as gevolg van die biopsigososiale eienskappe van die ontwikkelingsfase waarin die peuter is. Daar bestaan verder relatief min bronne insake protokolle vir die assessering van kinders tussen 18 maande en drie jaar oud wat seksueel mishandel word (Friedrich en Hewitt in Patton 1991:58). Dit kom voor asof daar eerder ʼn fokus op tegnieke is wat benut kan word om die peuter te assesseer. Hierdie assesseringstegnieke word egter nie altyd in die konteks van breër riglyne wat gevolg kan word, verduidelik nie.

Die literatuurbronne van navorsers wat geraadpleeg is vir die doel van hierdie navorsing, maak spesifiek melding van forensiese assessering van peuters tussen 18 maande en drie jaar.

  1. Kathleen C. Faller is ’n professor in maatskaplike werk en die direkteur van die gesinsassesseringskliniek aan die Universiteit van Michigan.
  2. Sandra K. Hewitt is ’n kindersielkundige in privaatpraktyk in Minnesota. Sy beskik oor ’n PhD en het ook ’n spesialis-kindermishandelingsentrum gestig.
  3. Connie C. is ʼn kliniese sielkundige. Sy het aan die Lamar Universiteit in Beaumont gegradueer en is die voormalige direkteur van die National Children’s Advocacy Center.

Hewitt (1999:98), Carnes (2001:305) en Faller (2007:142, 146) stem saam dat assesseringstegnieke met die peuter onder andere die volgende behels:

  • insameling van inligting vanaf verskeie aanvullende bronne, insluitende die peuter se primêre versorger(s)
  • toepassing van gestandaardiseerde meetinstrumente om gedrag te monitor, byvoorbeeld die “Child Sexual Abuse Inventory” (CSBI) en die “Child Behaviour Checklist” (CBC)
  • die kliniese waarneming van die peuter se gedrag
  • kontak met die peuter om hom/haar direk waar te neem om sodoende onder andere sy/haar algemene bevoegdheid te bepaal
  • gebruikmaking van ander soorte media as wat met die ouer kind benut word, byvoorbeeld minder sketse en meer konkrete hulpmiddels, soos poppe
  • toepassing van verskillende vraagstellingstrategieë, byvoorbeeld deur middel van steierwerk en die vermyding van “hoekom?”- en “wanneer?”-vrae
  • integrering van alle aanvullende bronne in die besluitnemingsproses
  • alternatiewe–hipotese-toetsing.

3.1 Aanvullende bronne

Aanvullende bronne is alle bronne (betekenisvolle persone in die kind se leefwêreld) wat geraadpleeg word om algemene inligting aangaande die peuter te verkry. Aanvullende inligting kan byvoorbeeld deur kliniese waarneming van die peuter, die versorgers en die interaksionele patroonontleding, asook die voltooiing van vraelyste bekom word. Ouervraelyste oor die algemene gedrag en ontwikkelingsgeskiedenis van die peuter verskaf byvoorbeeld waardevolle agtergrondinligting aan die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen.

Sowel Hewitt (1999:98) as Carnes (2001:5), beklemtoon die waarde van ’n aanvanklike sessie met die kind se primêre versorgers. Hierdie sessie is hoofsaaklik daarop gemik om die versorgers se angsvlakke te verminder, om ’n goeie werkverhouding te ontwikkel en om agtergrondinligting oor die peuter en die konteks van die gebeure te kry. Wanneer assessering van moontlike seksuele misbruik by peuters verken word, word daar nie slegs op die peuter se verklaring staatgemaak nie. Dit behels ook dat sosio-emosionele aspekte verken word en dat alles soos ʼn legkaart bymekaar gesit word (Hewitt 1999:99; Faller 2007:145). Faller (2007:145) en Carnes (2001:5) ondersteun Hewitt (1999:99) se siening, en bespreek die belangrikheid van die onderhoud met primêre versorgers om agtergrondinligting oor die gesinsisteem in te win en die ontwikkeling van die kind te assesseer. Die kind se algemene ontwikkelingsmylpale word deur middel van ʼn ouervraelys bepaal, aangesien noemenswaardige agterstande in ontwikkeling ’n aanduiding van moontlike trauma kan wees (Hewitt 1999:99). Gedurende die insameling van agtergrondinligting oor die kind se vroeë kinderjare word daar ook ondersoek ingestel na die moontlikheid van vorige trauma van enige aard, soos byvoorbeeld gesinsgeweld. Moontlike gedragsprobleme wat deur middel van die ouervraelys geïdentifiseer word, word in die groter konteks geplaas om sodoende alternatiewe verklarings vir abnormale gedrag te ondersoek, aangesien sogenaamde emosionele en gedragsprobleme by peuters nie altyd die gevolg van seksuele misbruik is nie.

Hewitt (1999:100) stel voor dat sekere aspekte van die psigososiale omstandighede van die versorgers ook deeglik ondersoek behoort te word. Sy noem dat lede van die gesin en uitgebreide gesin, die ouers se huwelikstatus, roetines wat bestaan, asook die aard en omvang van die kontak van versorgers met die kind verken moet word. Sy stel dit dat die kwaliteit van die verhouding tussen die peuter en versorger(s) as ’n buffer teen moontlike seksuele mishandeling kan dien. Sy verwys verder na moederlike sensitiwiteit en meelewendheid, vaste roetine, gesonde verhoudings en kommunikasiepatrone wat as teenvoeter vir moontlike seksuele mishandeling bevorder moet word (Hewitt 1999:100). Die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, moet dus soveel as moontlik inligting oor hierdie aspekte van die peuter se omstandighede bekom, omdat dit ’n noodsaaklike hulpmiddel in hierdie assessering is. Inligting aangaande die agtergrondgeskiedenis van die peuter binne sy/haar sisteem dra by om alternatiewe verklarings vir die kind se gedrag te vind en die konteks van gedrag te bepaal.

Die algemene versorgingspraktyke van die kind behoort ook verken te word, byvoorbeeld deur wie hy/sy gebad word, wie met toiletroetine help en hoe die roetine behartig word. Hierdie inligting kan volgens Hewitt (1999:101) ʼn geskiedenis van moontlike seksuele mishandeling of subtiele seksueel-indringende praktyke, aan die hand van die moederfiguur, wat nie tydens algemene sifting of vraelysopnames opgemerk word nie, uitwys. Inligting oor die moontlike blootstelling van die kind aan inligting van ʼn seksuele aard, soos pornografie en seksuele omgang tussen ouers, asook blootstelling aan vorige mishandeling van enige aard – hetsy fisiek, emosioneel of seksueel – is belangrik vir die assesseerder ten einde risikofaktore vir seksuele mishandeling te identifiseer. Aspekte soos vae gesinsgrense, die seksuele mishandeling van ouers tydens hul kinderjare, substansafhanklikheid, kriminele rekord van versorgers, die aard van die ouers se seksuele verhouding en die moederlike verbintenis, byvoorbeeld ʼn swak verhouding tussen die moeder en haar moeder, dra by tot die verhoogde risiko vir die kind van moontlike seksuele mishandeling en moet verken word om sodoende ’n geheelbeeld van alle risikofaktore te verkry. Dit blyk duidelik dat ’n gesinsistemiese ontleding van die gesinsdinamika en betekenisvolle persone in die kind se leefwêreld gedoen moet word. Sodoende word die rolle, grense, roetines en gewoontes van die hele gesinsisteem geëvalueer en nie slegs die gedrag van die kind nie. Tydens die assesseringsproses word gesin-van-oorsprong-inligting ook as waardevol beskou, aangesien trauma, gebruike, gewoontes en persepsies van geslag tot geslag oorgedra word. Só kan die peuter se gedrag in die groter konteks verstaan word.

Hewitt (1999:105) wys op die belangrikheid van inligting oor die kind se gedrag. Kinders openbaar spontane gedrag en maak mettertyd spontaan in sekere snellersituasies uitlatings oor seksuele aspekte. Aanvanklik druk die peuter gedrag vrylik en ongeïnhibeerd uit. Die meeste vermoedens oor mishandeling spruit uit ’n spesifieke insident, alhoewel daar meestal kommerwekkende aanduidings van vroeëre insidente mag bestaan. Die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, moet dus begin by die oorsprong van die kind se gedrag wat die aanvanklike patrone van moontlike seksuele mishandeling kan verklaar. Hewitt (1999:105) ag dit derhalwe belangrik om eers te bepaal wanneer die kommerwekkende gedrag die eerste keer voorgekom het. Die versorger beskryf aan die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen wat aanleiding gegee het tot die gedrag, waar dit voorgekom het en wat dit voorafgegaan het, met ander woorde wat die sneller daarvoor was. Die kind se emosies op daardie tydstip en hoe die voorval deur die versorger gehanteer is, word ook vasgestel.

Hewitt (1999:105) wys daarop dat die jong kind nie self ’n emosie soos skaamte of verleentheid oor seksuele mishandeling vorm nie, maar eerder die versorger se reaksie volg of naboots. Dit beïnvloed weer die kind se reaksie wanneer die gebeure deur die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, opgevolg word. Dit is belangrik om hierdie aspek tydens die maatskaplikewerk forensiese assessering te verreken, aangesien die peuter se antwoorde maklik deur ander persone of ondervraging beïnvloed kon word. Die versorger moet so min as moontlik vrae van ʼn emosionele aard aan die kind stel, aangesien dit tot misverstande en misleiding kan lei indien die korrekte wyse van vraagstelling nie gevolg word nie. Die mening word gehuldig dat inligting wat van die versorger(s) verkry is, slegs in ondersteunende hoedanigheid benut moet word en dat gevolgtrekkings rondom seksuele mishandeling nie bloot op grond van hierdie inligting gemaak kan word nie.

3.2 Gestandaardiseerde meetinstrumente

Die drie gestandaardiseerde meetinstrumente wat tydens die forensiese assessering van die peuter benut kan word, is die “Child Sexual Behaviour Inventory”, die “Child Behaviour Checklist” en die “Child Development Inventory”. Hierdie vraelyste word deur die ouer/ouerfiguur van die peuter voltooi. Eersgenoemde vraelys word gebruik om die kind se geseksualiseerde gedrag sistematies aan te toon en te vergelyk met gedrag van kinders wat nie seksueel mishandel is nie. Geseksualiseerde gedrag verwys na byvoorbeeld selfbevrediging totdat beserings voorkom, ontbloting, betasting van ander kinders en volwassenes, gesprekke met seksuele ondertone en die soek van seksuele toenadering by ander kinders en/of volwassenes (Hardwick 2005:37). Die kind se gedrag word dus deur die seksuele oorheers. Sowel Hewitt (1999:110) as Faller (2007:146) toon aan dat die benutting van gestandaardiseerde meetinstrumente veral van waarde is by die peuter, aangesien assessering met hierdie kinders op interaksie en gedragspatrone fokus.

Die tweede vraelys word benut om die kind se gedrag te vergelyk met dié van ander kinders van dieselfde ouderdom. Problematiese gedrag soos sosiale onttrekking, depressie, slaapversteurings, somatiese toestande en aggressiewe en destruktiewe gedrag word verken.

Die derde gestandaardiseerde vraelys verskaf inligting oor die kind se ontwikkelingsareas, soos sosiale gedrag, selfhelpvaardighede, groot- en fynmotoriese vaardighede, vermoë om inligting oor te dra, taalvaardighede, en ander algemene ontwikkelingsareas (Hewitt 1999:111). Volgens Hewitt (1999:111) is hierdie vraelys krities belangrik om hoërisiko-faktore uit te wys. Hewitt (1999:111) beveel aan dat hierdie inligting geïntegreer word met ander inligting wat deur middel van waarneming, geskiedkundige agtergrond en aanvullende bronne verkry is. Inligting vanuit die gestandaardiseerde vraelyste verkry dien dus as ondersteuning van ander ingesamelde inligting in die forensiese assesseringsproses.

3.3 Kontak met die peuter

Hewitt en Friedrich (1991b in Faller 2007:147) stel voor dat kontak met die peuter drie tot ses ure lank moet wees. Everson (1991 in Faller 2007:148) suggereer dat daar minstens ses kort sessies met die peuter moet plaasvind alvorens ’n ingeligte mening rakende moontlike mishandeling gevorm kan word.

Carnes (2001:4) sluit hierby aan deur tussen vier en ses assesseringsessies met sodanige jong kinders voor te stel. Sy beskryf die bekendmaking van mishandeling as ’n proses, en nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. ʼn Formele forensiese onderhoud is nie moontlik met peuters nie, maar tydens hierdie kontaksessies word die peuter se gedrag en spel waargeneem en die peuter kry die geleentheid om in ʼn veilige, niebedreigende omgewing verklarings te doen.

Volgens Hewitt (1999:115) moet daar tydens die aanvanklike kennismaking met die peuter in die teenwoordigheid van die versorger kontak gemaak word op die peuter se vlak en ’n verhouding gevestig word. Waardevolle inligting oor die peuter se taalontwikkeling kan ingesamel word en sy/haar begrip van konsepte soos “wie?”, “wat?”, “waar?” moet verken word. Tydens die eerste sessie kan die maatskaplike werker deur ʼn algemene verkenning van die peuter se bevoegdhede ’n mening vorm of verdere sessies met die peuter van enige waarde sal wees al dan nie.

Hewitt (1999:117) verduidelik dat die assessering in een van twee rigtings kan beweeg, afhangende van die graad van bevoegdheid waaroor die peuter beskik. Rigting 1: Indien ’n peuter nie daartoe in staat is om in verstaanbare sinne te kommunikeer en eenvoudige antwoorde te verskaf nie, behoort die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, oor ’n tydperk verder op die waarneming van die peuter se gedrag en spontane uitsprake, asook inligting van aanvullende bronne, te fokus. Hewitt (1999:18) voer aan dat die assesseerder se kennis aangaande normale/abnormale gedrag en seksuele gedrag van kritieke belang is. Kennis van kinders se algehele ontwikkelingstadiums is ook belangrik tydens die waarneming van die peuter. Die peuter se fisieke voorkoms, versorging en interaksie met die versorger word waargeneem tydens interaksie met die peuter. So word inligting oor binding waargeneem, en bevestiging van inligting wat reeds deur die ouer in die vraelyste voorsien is, word verkry. Verdere aspekte wat tydens kontak met die peuter waargeneem word, is die peuter se speelgedrag en of die peuter in staat is om van die versorger te skei. Peuters se spontane speelgedrag kan aanvullende inligting rakende die moontlikheid van seksuele mishandeling aan die maatskaplike werker gee.

Hewitt (1999:107) noem dat spesifieke gedrag van die peuter verken moet word, naamlik slaapprobleme, seksuele spel, verandering in toilet- en badgewoontes, kompulsiewegedragspatrone, verandering in sosiale gedrag, en skielike angstigheid of fobies. Om die peuter se interaksie en binding met verskillende versorgers, en selfs die vermeende oortreder, waar te neem, kan ’n interaksieontleding (gesamentlike waarneming van peuter en ouer se interaksiepatrone) gedoen word. Aspekte van binding met die primêre versorger word verken, aangesien stabiele, konsekwente, sensitiewe en deelnemende versorging ’n aanduiding van geborge binding met die versorger is wat die risiko van mishandeling verminder (Hewitt 1999:100).

Rigting 2: Indien die peuter wel in staat is om verstaanbare sinne te gebruik, konsepte soos “wat?”, “waar?” en “wie?” begryp en in staat is tot selfverteenwoordiging, kan ’n eenvoudige onderhoud met die peuter gevoer word. Hierdie onderhoud bestaan hoofsaaklik uit die volgende komponente:

  • Verken die peuter se begrip van algemene liggaamsdele, soos hande, voete, neus, en so meer. Kan hy/sy dit benoem en daarna wys? Verwys ook na die geslagsdele en let op die peuter se benaming daarvan. Hewitt (1999:119) stel voor dat die assesseerder vra of iemand die peuter daar kielie of seermaak. Die betekenis wat die peuter aan die term “kielie” of “seermaak” heg, moet egter deeglik deur die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, begryp word. Dit is belangrik om konkreet na liggaamsdele en vorme van liggaamlike aanraking te verwys.
  • Opvolgvrae, soos “Wys my wat hy/sy doen?”, word gevra na aanleiding van die peuter se antwoorde op bogenoemde vrae. Soos reeds vermeld, kan die peuter nie op hierdie stadium begrippe soos “hoe?”, “wanneer?” en hoeveelhede aandui nie. Indien die peuter nie presies kan aandui wat gebeur het nie, maar wel ’n spesifieke naam kan koppel aan wie hom/haar aan hul privaatdele kielie of seermaak, kan aanvullende spelwaarnemings tydens die forensiese assessering van nut wees (Hewitt 1999:120). Dit behels dat die peuter slegs drie poppe kies om hom-/haarself, sy/haar versorger en die vermeende oortreder uit te beeld. Die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, voer dan verskillende scenario’s uit, byvoorbeeld badtyd, slaaptyd of wanneer ’n skoon doek aangesit word, en vra die peuter om te wys wat gebeur. Hier moet die maatskaplike werker wat die assessering doen, veral let op gedrag soos aggressie, vrees en vermyding van sekere roetinetake.
  • Volgens Faller (2007:149) is dit nodig om tydens kontak met die peuter leidrade te benut. Dit is belangrik om die vrae aan die peuter in ’n konteks te plaas, aangesien die jong kind geneig is om tussen onderwerpe rond te spring. Sy noem hierdie vorm van leidrade “steierwerk”. Die gebruik van reflekterende luistertegnieke is belangrik en oormatige positiewe versterking moet tydens die assesseringsproses vermy word. Sien 2.4 vir ʼn verduideliking van die begrip steierwerk.
  • Verder word ondersoek ingestel na die peuter se vermoë om persone en liggaamsdele te benoem, aangesien die peuter op hierdie jong ouderdom dikwels verkorte, nieherkenbare woorde vir mense en objekte gebruik. Dit is nodig dat die maatskaplike werker wat die assessering doen, van hierdie inligting kennis neem tydens kontak met die peuter, sodat verwarring en misverstande uitgeskakel kan word (Hewitt 1999:101). Carnes (2001:10–1) beklemtoon dat afhangende van die peuter se ontwikkelingsvlak, besluit kan word of ’n forensiese onderhoud met die peuter beplan kan word al dan nie. Volgens hierdie skrywer is ’n forensiese onderhoud met die peuter onder die ouderdom van drie jaar moeilik (Carnes 2001:10). Sy noem egter dat ’n vereenvoudigde toepassing van die aanraakopnametegniek wel met peuters onder drie jaar gebruik kan word. Die aanraakopnametegniek is die sistematiese sifting ten opsigte van die moontlikheid van fisieke mishandeling, seksuele mishandeling, emosionele mishandeling en/of verwaarlosing deur middel van die gebruik van sketse wat die self (moontlike slagoffer) verteenwoordig (vgl. Hewitt 1999:226).

3.4 Alternatiewe hipoteses

Daar word deurgaans alternatiewe hipoteses vir die aannames van seksuele mishandeling ondersoek. Die maatskaplike werker moet in ag neem dat die assessering ʼn holistiese proses is om tot ’n gevolgtrekking van moontlike seksuele mishandeling te kom. Hewitt (1999:109) meld die belangrikheid daarvan om ander moontlikhede wat aanleiding tot die aannames van mishandeling kan gee, te evalueer. Hiervoor gebruik sy die uitsluitingshipotesetegniek wat ook deur Carnes (2001:7) onderskryf word. Dit behels dat alternatiewe hipoteses vir die peuter se bekendmaking van seksuele mishandeling of geseksualiseerde gedrag ondersoek en uitgesluit moet word.

Die volgende alternatiewe hipoteses kan volgens Hewitt (1999:109, 132) en Faller (2007:249) ondersoek word:

  • Is die peuter se reaksie die gevolg van blootstelling aan ʼn konflikbelaaide toesig- en beheersaak?
  • Is die peuter se angstigheid te wyte aan blootstelling aan fisieke geweld eerder as seksuele misbruik?
  • Toon die peuter sekere gedrag as gevolg van waarneming van seksuele omgang?
  • Toon die peuter tekens van fantasie rakende seksuele aspekte?
  • Blyk daar seksuele kennis vanuit ’n ander oorsprong te wees?
  • Is die peuter dalk blootgestel aan seksuele kontak met ʼn ander persoon?
  • Is daar tekens van leuens deur die peuter? (Die skrywers is egter van mening dat peuters, as gevolg van die ontwikkelingsfase waarin hulle is, nie leuens met opset kan vertel met die doel om ander bewustelik te mislei nie.)
  • Is daar tekens dat die peuter aandag soek?

Faller (2007:249) voer aan dat dit net so belangrik is om alternatiewe oorsake vir die peuter se gedrag te evalueer as wat dit belangrik is om te bewys dat seksuele mishandeling wel plaasgevind het. Die maatskaplike werker wat die forensiese assessering uitvoer, maak hipoteses wat tydens die assesseringsproses deur herhaalde toetsing van die verskillende moontlikhede vir die peuter se problematiese emosies en gedrag uitgesluit moet word.

4. Navorsingsmetodologie

ʼn Kwalitatiewe-navorsing-denkmodel is gevolg, aangesien dit volgens Creswell (2013, par. 1089) onder andere die betekenis wat mense aan ʼn probleem heg, deur middel van sekere verklarende of teoretiese raamwerke benader. In hierdie studie is ondersoek ingestel na die betekenis wat deskundiges op die gebied van die maatskaplikewerk forensiese assessering heg aan die inhoudelike van die assesseringsprotokol wat gevolg word wanneer peuters forensies deur maatskaplike werkers geassesseer word. Hierdie betekenisse is in die vorm van temas verken en beskryf. Daarna is riglyne daargestel wat maatskaplike werkers kan volg wanneer hulle bestaande protokolle benut om peuters forensies te assesseer.

Deelnemers is deur middel van ʼn doelbewuste nie-ewekansige steekproef (vgl. Strydom en Delport 2011:392) gekies. Die insluitingsmaatstawwe vir die kies van deelnemers was: (1) registrasie as maatskaplike werker by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (South African Council for Social Service Professions); (2) minstens vyf jaar ervaring in die forensiese assessering van peuters; (3) spesifieke opleiding in forensiese assessering in die veld van maatskaplike werk; en (4) woonagtig in die Vrystaat, om praktiese redes. Daar is aanvanklik beoog om vyf deelnemers by die studie te betrek. Kvale (2007:1123) verduidelik dat meer deelnemers nie noodwendig meer wetenskaplik is nie en dat die “meer-deelnemers-idee” aan die kwantitatiewe-navorsing-denkmodel toegeskryf kan word. Die vraag ontstaan dus hoeveel deelnemers vir ʼn kwalitatiewe studie voldoende is. Saldaña (2011, par. 358) dui aan dat daar verskillende menings is ten opsigte van die aantal deelnemers wat vir ʼn kwalitatiewe studie gekies behoort te word. Die aanbevelings ten opsigte van die kies van die deelnemers vir ʼn kwalitatiewe studie wissel van een deelnemer tot letterlik honderde deelnemers vir studies waarby verskeie navorsers betrokke is en wat oor jare strek. So byvoorbeeld word drie tot ses deelnemers as redelik in die interpretatiewe verskynselleernavorsingsontwerp geag (Finlay 2011, par. 3353). Saldaña (2011, par. 358) noem dat ʼn klein groepie van drie tot ses deelnemers ʼn breër spektrum vir die ontleding van inligting kan bied. Seidman (2013:58) voer verder aan dat die aantal deelnemers ook bepaal word deur praktiese noodsaaklikhede soos tyd, finansies en die beskikbaarheid van ander hulpbronne, bo en behalwe die beginsels van ‘n voldoende aantal deelnemers om die verskynsel genoegsaam te reflekteer en die versadiging van inligting te bekom. Slegs vier deelnemers wat aan bogenoemde insluitingsmaatstawwe voldoen het, is egter geïdentifiseer.

Inligting is deur middel van ʼn onderhoudsgids wat tydens ʼn groepbespreking benut is, ingesamel. ʼn Onderhoudsgids lys die hooftrekke van die kwessies wat die navorser onder die loep wil neem. Die bewoording en die volgorde van die vrae kan egter tydens die onderhoud deur die navorser aangepas word (Rubin en Babbie 2011:464). Die onderhoudsgids wat tydens die groepbespreking gebruik is om die bespreking te rig, het uit verskillende vlakke of afdelings bestaan. In die eerste vlak is inleidende vrae en vrae van ʼn biografiese aard gevra, soos byvoorbeeld elke deelnemer se jare ervaring ten opsigte van die forensiese assessering van peuters. Daarna het vrae gevolg oor hoe die deelnemers peuters forensies assesseer en watter uitdagings hulle in hierdie proses ervaar. Vervolgens is vrae gestel oor hoe die deelnemers sekere bekende forensiese-assesseringsprosedures, soos byvoorbeeld die aanraakopnametegniek, gebruik en toepas wanneer hulle kleuters assesseer. Die onderhoudsgids is met ʼn oop vraag afgesluit waar deelnemers gevra is om enige aanbeveling rakende die assessering van peuters te maak.

Soos bo genoem, is die inligting vir die studie tydens ʼn groepbespreking verkry. Tydens ʼn groepbespreking vind die mondelinge wisselwerking veral tussen die navorser en die groeplede plaas; in teenstelling daarmee vind die mondelinge wisselwerking in ʼn fokusgroep veral onderling tussen die groeplede met mekaar plaas (Kumar 2014, parr. 9322–9339). Tydens groepbesprekings neem die navorser dus ʼn leidende rol in, terwyl die navorser tydens ʼn fokusgroep ʼn lydelike rol inneem, sodat die groeplede met mekaar in gesprek tree en nie met die navorser nie. Omdat daar in hierdie geval van ʼn onderhoudsgids gebruik gemaak is om spesifieke inligting te bekom, het die mondelinge wisselwerking meer tussen die navorser en die groeplede plaasgevind, alhoewel hulle ook die ruimte gegun is om kwessies onderling te bespreek. Saldaña (2011, par. 423) beveel aan dat ʼn digitale video-opname van sowel kleingroep-onderhoude as fokusgroepe gemaak behoort te word. ’n Video-opname is derhalwe van die groepbespreking in hierdie studie gemaak.

Die mondelinge inligting is oorgeskryf en volgens die beginsels van ʼn algemene kwalitatiewe-inligting-ontledingsproses soos onder uiteengesit, ontleed. Die data is aanvanklik in die raamwerk van die begrondingsteorie ontleed. Met hersiening van die inligting het dit geblyk dat dit ook in die raamwerk van ʼn algemene kwalitatiewe-navorsing-denkmodel gedoen kan word. Saldaña (2011, par. 727) sê juis dat dit die beste is om kwalitatiewe-navorsing-denkmodelle as voorlopig tydens die navorsingsproses te beskou. Dit kan dus tydens die navorsingsontwerpe aangepas en verander word. Die onverwerkte inligting is volgens die stappe van ʼn algemene kwalitatiewe-inligting-ontledingsproses volgens Schurink, Fouché en De Vos (2011:403–4) ontleed en verduidelik. Hierdie stappe is:

A. Voorbereiding en organisering van inligting 
Beplanning vir verkryging van inligting 

i. Inligtingsinsameling en voorlopige ontledings van die inligting
ii. Bestuur en organisering van die inligting
iii. Skryf en lees van notas  

B. Vermindering van die inligting  

iv. Ontwikkeling van kategorieë en kodifisering van die inligting
v. Toets van die ontluikende begrip van die inligting en ondersoek van alternatiewe
vi. Interpretering van die inligting en ontwikkeling van temas 

C. Weergee van die inligting 

vii. Aanbieding van inligting

Alhoewel die bogenoemde algemene kwalitatiewe-inligting-ontledingsproses lynvormig weergegee is, is dit in werklikheid ʼn kringvormige proses Dit veronderstel dus onder andere dat sekere stappe gelyktydig uitgevoer is en dat van die stappe oorvleuel (Saldaña 2011, par. 727).

Etiese kwessies is soos volg in die studie hanteer (Strydom 2011:115–21). Die algemene beginsel van die vermyding van skade vir die deelnemers is gehandhaaf. Aangesien die studie in wese bloot deelname aan ʼn groepbespreking behels het, was die moontlikheid van fisieke skade gering. Omdat ʼn teoretiese konstruk onder die loep geneem is, is emosionele skade ook nie voorsien nie. Deelname was algeheel vrywillig en persone wat nie wou of nie kon deelneem nie, is op geen wyse benadeel nie. Moontlike deelnemers is deur middel van e-posse, telefoongesprekke en ook ʼn geskrewe brief uitgenooi om aan die studie deel te neem. Die aard en omvang van die studie is aan hulle verduidelik sodat hulle ʼn ingeligte besluit kon neem of hulle aan die studie wou deelneem al dan nie. Geen vorm van misleiding het dus voorgekom nie. Vertroulikheid as ʼn etiese beginsel is nagevolg in die weergee van die inligting. Naamloosheid was egter ʼn kwessie, aangesien inligting tydens ʼn groepbespreking ingesamel is en die deelnemers mekaar uiteraard gesien en gehoor het. Die deelnemers het geen vergoeding ontvang nie en borge was ook nie betrokke in die studie nie. (Ten tye van die voorbereiding van die studie het die instansie nie oor ʼn amptelike etiekkomitee vir die sosiale en geesteswetenskappe beskik nie.)

Vanweë die feit dat in hierdie studie ʼn kwalitatiewe-navorsing-denkmodel gevolg is, is die rol van die navorser ʼn veranderlike wat noodwendig verreken moet word. Derhalwe is dit nodig om ʼn aantal faktore uit te lig. Aangesien een van die navorsers self forensiese assesserings met peuters doen, moes deurgaans in berekening gebring word dat eie belewenisse en ervaringe die bespreking kon beïnvloed. Sy het al ʼn gaslesing in dié verband aangebied en word uitgenooi om as spreker aangaande seksuele mishandeling van kinders op te tree. Tydens die groepbespreking is ag geslaan op die menings van die groeplede en die navorser het nie die lede deur eie belewenisse en ervaringe gelei nie. Die ander navorser het oor ʼn tydperk van jare verskeie kinders van albei geslagte en uit verskillende ouderdomsgroepe forensies geassesseer en hy het ook in howe aangaande sy bevindinge getuig. Hy het egter mettertyd uit die veld van forensiese maatskaplike werk beweeg en doen nou meer kliniese maatskaplike werk waar foto’s en perde as terapeutiese hulpmiddels aangewend word. Die mening word gehuldig dat die onderskeie velde van die navorsers ʼn meer gebalanseerde blik op die studie tot gevolg gehad het.

5. Tekortkominge van die studie

Die feit dat deelnemers vanuit slegs een professie (maatskaplike werk) by die studie betrek is, kan as ʼn beperking geag word, aangesien inligting gevolglik slegs vanuit ʼn sekere konteks verkry is. In opvolgstudies kan arbeidsterapeute, kriminoloë en sielkundiges betrek word om ʼn interdissiplinêre konteks te verseker. Dit kan bydra tot die verkryging van ryker en omvangryker inligting. ʼn Verdere beperking van die studie is die betreklik klein steekproef van potensiële deelnemers. In die toekoms behoort ʼn steekproef nasionaal getrek te word en nie net in een geografiese gebied nie.

6. Resultate en bespreking

Die volgende temas is met die ontleding van die inligting geïdentifiseer. In die besprekings word aanhalings uit antwoorde tussen hakies gegee.

Tema 1: Uitdagings

Deelnemers het ʼn aantal kognitiewe, sosiale en emosionele uitdagings aangaande die peuter se ontwikkelingsfase wat noodwendig ʼn invloed op die forensiese-assesseringsproses het, geïdentifiseer. Die volgende uitdagings ten opsigte van die peuter se ontwikkelingstadium is in die praktyk deur die deelnemers geïdentifiseer:

  • gebrekkige taalvaardigheid
  • inkonsekwente inligting
  • vlak van kognitiewe vermoë / ruimtelike vermoëns en perseptuele vaardighede
  • beperking ten opsigte van geheueprosesse
  • betroubaarheid van inligting
  • onvermoë om getuienis af te lê
  • beveiliging van kind
  • bronmonitering
  • vatbaarheid vir suggestie
  • verifiëring van inligting
  • begripsvermoëns
  • onvermoë om konteks en besonderheidsinligting te verskaf.

Deelnemers is van mening dat dit as gevolg van die peuter se kognitiewe beperkinge bykans onmoontlik is om gedetailleerde inligting aangaande mishandeling te kry (“detail inligting ontbreek binne peuters se narratiewe”). Taalvermoë, uitspraak, bronmonitering, vatbaarheid vir suggestie en algemene kognitiewe eienskappe van die kind in hierdie ontwikkelingsfase bemoeilik dus die verkryging van spesifieke inligting aangaande die beweerde insidente van seksuele mishandeling.

Tema 2: Taalontwikkeling

Deelnemers onderskryf Louw (2005:19) se bevinding dat jong kinders geneig is om sekere tipes inligting uit te laat as gevolg van tekortkominge in hul taalvermoë (“Taalvaardigheid en die uitspraak van die peuter bemoeilik duidelike begrip van gebeure”; “Inligting soos plek of ligging, die vermoë om gebeurtenisse met mekaar te verbind, evaluerende en beskrywende kommentaar en die vermoë om spesifiek te wees, ontbreek dikwels by die klein kind.”).

Die peuters se vlak van taalontwikkeling lei daartoe dat hul swak narratiewe vermoëns vertoon; gevolglik kan afgelei word dat die taalontwikkeling en die aard van die peuters se denkprosesse hul narratiewe vermoë in die forensiese-assesseringsproses nadelig beïnvloed. Die forensiese-assesseringsproses is dus nie gepas as die taalontwikkeling van die kind in ag geneem word nie, want dit kan lei tot onakkurate beantwoording van vrae deur die jong kind (“Kinders probeer die assesseerder tevrede stel deur iets te probeer verduidelik wat hulle self nie verstaan nie.”). Dit lei tot dubbelsinnigheid en inkonsekwente inligting. Die deelnemers het sekere aspekte wat tydens kommunikasie met die peuter toegepas behoort te word, beklemtoon. Hierdie aspekte word ook deur Louw (2005:4) en Rapha (2007:13) beklemtoon. Dit impliseer dat eenvoudige, alledaagse woorde benut moet word tydens vraagstelling, soos “wys my” en “vertel vir my”, en abstrakte terme soos “waarheid” en “leuen” vermy moet word.

Tema 3: Beperkinge as gevolg van die ontwikkelingsvlak van die peuter se denkprosesse

Deelnemers het pertinent daarop gewys dat die peuters se vlak van kognitiewe ontwikkeling die forensiese-assesseringsproses bemoeilik. Daar is veral verwys na geheuespan, preoperasionele ontwikkelingseienskappe (soos aangedui in Piaget se ontwikkelingsteorie in Louw en Louw 2007:155), tydsbegrip en ruimtelike vermoëns. Eienskappe soos egosentrisme, sentrering, sinkretisme en jukstaposisie bemoeilik die verkryging van akkurate kontekstuele inligting aangaande vermeende molestering (“juksta-posisie en sinkretisme lei daartoe dat inligting verwarrend deurgegee word en dikwels inkonsekwent deurgegee word”; “... nou sit jy met tydsverloop: Sê maar die kind maak nou ʼn verklaring, weet jy dat oor ʼn jaar die kind niks hiervan kan onthou nie. Kwessie van geheue is nog ʼn uitdaging. Mens kan nie nou ʼn assessering doen en oor ses maande weer nie, inligting gaan verlore.”).

Die bevindinge in die literatuurstudie sluit aan by bostaande aanhaling uit die antwoorde/bespreking van die deelnemers wat verwys na konkrete denke in die preoperasionele ontwikkelingsfase van die peuter. Hulle fokus op die onmiddellike voorkoms van die voorwerp. Dus sal die kind byvoorbeeld beskryf dat die persoon op haar “gepiepie” het, in plaas daarvan om die woord “ejakulasie” te gebruik, aangesien die kind ʼn bekende term/konstruk binne sy/haar eie verwysingsraamwerk gebruik. Problematies by peuters is dat hulle nie die betekenis van sekere abstrakte konsepte soos “seks” en “ejakulasie” begryp nie. Terme wat daarmee geassosieer word, is dus nie aan die peuter bekend nie en kan ook nie benoem word nie. Dit kan tot misverstande lei (Louw 2005:22).

Deelnemers identifiseer vatbaarheid vir suggestie en bronmonitering as ʼn uitdaging in die forensiese proses met die peuter. Deelnemers se menings sluit aan by die bevindinge van skrywers soos Olafson (2007:13) en Faller (2007:20), deurdat hulle noem dat jong kinders besonder vatbaar is vir invloede van ander persone wanneer inligting aangaande insidente geberg en herroep word (“Nog ʼn groot uitdaging van die peuter is die kind se bronmonitering, want hoe weet jy waar die kind kom aan wat hy sê?”; “Suggereerbaarheid is ʼn werklikheid en ʼn groot uitdaging”; “Jy kan nie vir die kind vra ‘hoe weet jy dit?’ nie, want hy kan nie die vraag verstaan nie”; “Sommiges kan selfrepresentering doen, ander kan glad nie ...”).

Die mening word gehuldig dat vals geheue nie bestaan nie, maar dat algemene vraagstelling tot vals herroeping van inligting in die geheue aanleiding kan gee. Vraagstelling moet gevolglik tydens forensiese assessering met uiterse omsigtigheid gehanteer word. Ook die invloed van volwasse persone se hantering van of reaksie op moontlike trauma kan die peuter mislei en verwar. Hieruit kan afgelei word dat taalbegrip en die aard van vrae wat aan die peuter gestel word, ʼn groot rol speel in die verkryging van akkurate inligting rakende die spesifieke insident van molestering.

Tema 4: Beveiliging van die peuter

Deelnemers se terugvoering dui daarop dat seksuele mishandeling van die peuter selde bevestig kan word, maar dat die risiko van moontlike seksuele mishandeling wel tydens die omvattende forensiese-assesseringsproses bepaal kan word. Dit wil dus voorkom asof die proses van die forensiese assessering wat met die peuter gevolg word, eerder kan lei tot die beveiliging van die kind as tot strafregtelike vervolging (“Die assesseerder moet bepaal of die kind kan getuig of nie – wat bitter min realiseer. Hy kan ʼn verklaring gee, maar nie in die hof getuig nie”; “Assessering is gerig daarop om die kind te beskerm, dit hoef nie noodwendig te lei tot getuienis in die hof nie”; “… die hofpotensiaal van die sake is nie so groot nie. Ek wil weet wat aangaan om die kind te beskerm, so my fokus is nie soveel om hierdie kind in die hof te kry nie, eerder om haar te beskerm”).

Tema 5: Onderskeid tussen fantasie en realiteit

Vanweë peuters se kognitiewe-ontwikkelingsfase en die gepaardgaande eienskappe daarvan is dit moeilik vir peuters om tussen fantasie en realiteit te onderskei. Hulle fokus op konkrete aspekte en kan nie denkbeeldige voorstellings maak nie. Deelnemers noem dat dit soms gebeur dat peuters se fantasie en realiteit tydens hul narratiewe weergawes van gebeure verstrengel is (“… peuters sukkel om te onderskei tussen fantasie en realiteit. Alle kinders van die ouderdom fantaseer.”).

Tema 6: Bestaande assesseringstegnieke vir forensiese assessering van peuters

Die genoemde kognitiewe uitdagings ten opsigte van peuters impliseer dat ʼn andersoortige benadering tot forensiese assessering met hulle gevolg behoort te word, byvoorbeeld deur ʼn meer eenvoudige vorm van kommunikasie te benut. Die peuter se kognitiewe en emosionele vermoëns het dus ʼn betekenisvolle impak op die forensiese-assesseringsproses.

Tydsgewys is die maatskaplikewerk forensiese assessering van die peuter ʼn langer proses wat oor meer sessies plaasvind (“Ek stem saam met Cahns dat dit vele sessies neem – tot ses sessies met die kind, dat die assessering tydrowend is en rustig en deeglik uitgevoer moet word”; “Die tyd wat mens spandeer om met die kind verhouding te bou is belangrik, want baie keer lyk die kind aanvanklik ‘incompetent’, maar as jy eers verhouding gebou het, dan verstaan jy die kind se narratiewe beter.”). Meer tyd moet dus bestee word aan die beplanning om die peuter forensies te assesseer.

Nadat vir die assesseringsproses beplan is, word agtergrondinligting verkry. Deelnemers was dit eens dat dit belangrik is om agtergrondinligting aangaande die peuter se ontwikkeling en ook algemene gedrag te verkry voordat daar met die peuter kontak gemaak word (“Ek doen ʼn vooraf-onderhoud met die ouers, maar wil bysê dat ek voel sterk om nie te veel of ʼn lang onderhoud met die ouers te hê nie; ek voel om net basiese agtergrond te kry oor hoekom is ouers bekommerd. Dit behels slegs ʼn vinnige onderhoud – kan selfs telefonies wees, om te weet waarmee ek hier te doen het en hoekom ouers bekommerd is”; “Ek hou van ʼn onderhoud vooraf met die ouers om die betekenisvolle persone in die kind se wêreld te verken, want baie keer praat die kind onduidelik en het jy groot klomp tyd gespaar wanneer jy weet van wie die kind praat”; “Ek doen soos ʼn genogram met die ouers om gesinsagtergrond te kry en spaar meer tyd daarmee.”). Deelnemers beklemtoon verder die belangrikheid daarvan om ʼn tydlyn aan die kind se gedrag te koppel (“Dis belangrik om ʼn tydlyn aan die kind se gedrag te koppel, om te sien wanneer gedrag verander het”.). Die tydlyn van die peuter se basislyngedrag en wanneer dit begin verander het, word ook met behulp van die ouers/voogde van die peuter opgestel.

Vervolgens word inligting oor die omstandighede waaronder die beweerde oortreding plaasgevind het, van die nie-oortredende voog/ouer verkry om sodoende die assesseerder voor te berei op die forensiese assessering van die peuter. Dit word gedoen deur middel van ʼn ouervraelys oor die algemene gedrag van die peuter wat deur die nieverdinkte ouer/voog ingevul word. Agtergrond aangaande die gesinsopset en relevante sosiale kwessies en trauma binne gesinsverband word ook deur middel van aanvullende inligtingsbronne verkry. Die deelnemers benut vraelyste oor die algemene en seksuele gedrag van die peuter hiervoor. Dié vraelyste is gebaseer is op gestandaardiseerde meetinstrumente soos die “Child Sexual Behaviour Inventory” en die “Child Behaviour Checklist”. (“Ek het ʼn forensiese vraelys wat die ouers invul waarin gedrag van die kind aangedui moet word. Dit het baie dieselfde vrae as die CSBI en die CBC”; “Ek het ʼn lysie waarvan af ek werk wat aandui wat toepaslike seksuele gedrag is en wat nie is nie, ook die aard van die gedrag en of dit seksueel ontoepaslike gedrag is”; “Verkenning van die peuter se gedrag is belangrik, omdat die peuter se gedrag ʼn groot indikator is van moontlike seksuele misbruik. Die peuter sal eers gedrag toon voordat hy verbale verklarings maak”; “Kind se gedrag moet in alle sisteme ondersoek word, nie slegs binne een sisteem nie”.).

Wanneer die maatskaplike werker oor voldoende agtergrondinligting en inligting aangaande die omstandighede van die beweerde seksuele mishandeling beskik, word direkte kontak met die peuter gemaak. Tydens kontak met die peuter word sy/haar ontwikkelingsvlak en algemene vaardighede en bevoegdhede eers geëvalueer, waarna sy/haar gedrag gedurende ongestruktureerde spel waargeneem word. ʼn Holistiese benadering word gevolg deurdat die kind se kognitiewe, emosionele en sosiale funksionering verken word ten einde te besluit of daar met ʼn forensiese proses voortgegaan kan word (“Die onderhoudvoerder kan na die kognitiewe ‘screening’ besluit of dit moontlik is om voort te gaan met die assessering”; “Die ‘screening’ is ook verhoudingsbou en jy kan vir die ouer aandui of dit moontlik is om aan te gaan met die hele proses”; “As jy bogenoemde kan ‘af tick’ en weet die kind kan dit doen, kan jy voortgaan met ʼn eenvoudige forensiese proses”). Tydens kontak met ‘n peuter word ander soorte media benut as wat met ’n ouer kind benut word. Daar word byvoorbeeld minder sketse en meer konkrete hulpmiddels soos poppe benut. ʼn Vereenvoudigde vorm van die aanraakopnametegniek word aanbeveel wanneer daar met ʼn forensiese onderhoud met die peuter voortgegaan word (“Ek gebruik beide die kind se eie lyf en ʼn poppie by die ‘Touch Survey’. Die kind moet op haarself en op die poppie wys waar verskillende tipes aanraking plaasvind”; “Ek doen die tegniek op papier, maar die kind wys op sy eie lyfie en dan teken ek dit aan op die papier”; “Peuters wys spontaan op hul eie lyf aan waar tipes aanraking plaasgevind het”).

Alhoewel daar nie van ʼn gestruktureerde onderhoud tydens die forensiese assessering van die peuter gebruik gemaak word nie, kan die assesseerder andersoortige assesseringstegnieke in ʼn eenvoudige vorm benut om inligting van die kind te bekom (“Sensoriese stimulasie werk vir my, ek het al in my praktyk gesien dat dit werk om geheue te prikkel. Ek gebruik dit by die kleintjies vir ʼn nuwe metode”; “Die Gestalt-tegniek met die kasteel, robot-tegniek en eier-tegniek kan ook behulpsaam wees in eksplorering van die kind se leefwêreld”; “Die wêreldkaart waar bedreiging geëksploreer word, het groot waarde by peuters”; “By die kleiner kinders het ek die kasteel aangepas om bedreiging te verken”). Dus word afgelei dat tegnieke wat met die peuter benut word, deurlopend by sy/haar ontwikkelingsfase aangepas moet word.

Deelnemers beskou dit as van uiterste belang dat die inligting wat van die verskillende bronne verkry is, geïntegreer moet word ten einde die risiko van moontlike seksuele mishandeling te bepaal en om alternatiewe hipoteses te toets. Alternatiewe-hipotese-toetsing vind deurlopend plaas deur aanvullende bronne te raadpleeg en die totale omvang van gesinsfunksionering te assesseer. Dit blyk dat sekere skrywers, soos Hewitt (1999) en Faller (2007), alternatiewe hipoteses aangaande beweerde oortredings reeds voor die aanvang van die forensiese assessering met die peuter stel. Van die deelnemers is dit eens dat dit moontlik die assesseerder se objektiwiteit kan beïnvloed (“Dit is vir my verkeerd om die hipotese eerste te stel, want ek voel die hipotese kom meer aan die einde wanneer jy meer inligting het”; “Met ʼn vooraf-hipotese het jy ʼn opinie wat jou assessering kan beïnvloed”; “Jy kan jou hipotese eers maak as jy al die inligting het”).

Tema 7: Parallelle terapeut

ʼn Bevinding wat uit die wetenskaplike navorsing voortspruit, is dat die deelnemers in hulle hoedanigheid as maatskaplike werkers wat forensiese ondersoeke doen, dikwels gebruik maak van parallelle terapeute wat ten doel het om die peuter se gedrag oor ʼn langer tydperk dop te hou en selfs terapie te doen. Hierdie proses vind as deel van die forensiese ondersoek plaas in gevalle waar daar ʼn hoë risiko van seksuele mishandeling bestaan, maar ʼn volledige verklaring nie van die peuter verkry kon word nie (“Ek benut ook ʼn ondersteunende parallelle terapeut, wat ʼn onafhanklike persoon is, wanneer die kind verwarrende inligting deurgee en daar nie met sekerheid feitelike gegewens gekry word nie”; “Dis goed om die kind dan eers na ʼn ander professionele persoon te stuur om die kind te monitor oor ʼn tydperk heen”). Dit blyk raadsaam te wees om die peuter vir spelterapie na ʼn parallelle terapeut te verwys. Die parallelle terapeut vul die oorkoepelende forensiese proses gevolglik aan. Die doel van die parallelle terapeut is nie om ʼn forensiese assessering te doen nie, maar staan neutraal ten opsigte van die forensiese assessering. Die parallelle terapeut kan egter aanvullende inligting oor die peuter se sosio-emosionele welsyn aan die forensiese assesseerder verskaf en die peuter se maatskaplike welsyn oor ʼn tydperk monitor.

Tema 8: Riglyne

Die buigsaamheid en aanpasbaarheid van riglyne soos deur Hewitt (1999), Faller (2007) en Carnes (2001) uiteengesit, word as sterk punte geag (“Faller, Hewitt en Carnes is aanpasbaar binne die forensiese proses met peuters.”). Deelnemers is dit egter eens dat die gebrek aan ʼn duidelike riglyn vir die forensiese assessering van peuters die forensiese assessering bemoeilik (“Daar is min terapeute wat kinders van hierdie ouderdom forensies assesseer as gevolg van die gebrek aan ʼn protokol.”). Om hierdie tekortkoming reg te stel, word basiese riglyne wat maatskaplike werkers kan volg wanneer hulle peuters forensies moet assesseer, in tabel 1 hier onder voorgestel.

7. Voorgestelde riglyne

Gebaseer op die literatuurstudie en die wetenskaplike ondersoek word aanbeveel dat die volgende as basiese riglyne vir die forensiese assessering van peuters deur maatskaplike werkers verreken kan word. Hierdie riglyne behoort wetenskaplik verder in die Suid-Afrikaanse multikulturele samelewing verken en beskryf te word.

Blinde assesserings met peuters moet, vanweë die eienskappe van die ontwikkelingsfase waarin hulle hul bevind, vermy word. Gedetailleerde inligting oor die ontwikkeling van die peuter, gedrag van die peuter, en die konteks waarbinne seksuele mishandeling vermoed word, kan met behulp van ʼn ouervraelys, asook ʼn volledige kliniese onderhoud met die ouers/ouerfigure, verkry word. Inligting aangaande die algemene gesinsfunksionering behoort ingesamel te word om ʼn holistiese beeld van die konteks waarin die peuter haar/hom bevind, te verkry. Dit impliseer onder andere dat die maatskaplike werker wat die forensiese assessering doen, goed onderlê moet wees in die gesinsistemiese teorie en gesinsistemiese tegnieke soos sirkulêre vraagstelling (Thomlison 2010:74), die gesinsgenogram (Thomlison 2010:76), die ekokaart (Thomlison 2010:79) en die gesin se sosiale netwerk en netwerkruit (Thomlison 2010:80).

Om suksesvol in te gryp moet die verskynsel in sy totale kompleksiteit verstaan word – die slagoffer, die oortreder en die interaksie tussen die betrokke sisteme (Crosson-Tower 2015, par. 812). Die peuter as individuele subsisteem van ʼn gesin, die gesinsisteem, asook die interaksionele patrone tussen die verskillende gesinsubsisteme behoort gevolglik voortdurend tydens die forensiese-assesseringsproses waargeneem te word. Sodoende kan ʼn interaksionele patroonontleding saamgestel word (vgl. Vorster 2003:100–1 en Vorster 2011:95). Ouers behoort begelei te word om deurlopend dagboek te hou van die peuter se gedrag ten einde abnormale gedrag binne konteks te identifiseer. Die gesinsisteemteorie word gevolglik benut om die verskynsel, in hierdie geval die moontlike seksuele mishandeling van die peuter, te verken, te beskryf en te verklaar.

Die eienskappe (veral taalvermoë) van die ontwikkelingsfase (preoperasioneel) waarin die peuter is, moet deurgaans tydens die maatskaplikewerk forensiese assesseringsproses in ag geneem word. Eenvoudige vraagstelling en tegnieke soos leidraadgewing en steierwerk kan die verkryging van inligting ondersteun. Hierdie tegnieke moet egter met omsigtigheid en kundigheid hanteer word.

Dit moet in ag geneem word dat die maatskaplikewerk forensiese assessering van peuters langer duur as dié van ouer kinders en volwassenes. Behalwe bogenoemde faktore, speel die volgende aspekte ook ʼn rol in die langer tydsduur: slegs een aspek van ’n kwessie kan op ’n bepaalde tydstip geassesseer word; die geheuespan van die peuter is relatief kort en die assessering kan nie ononderbroke oor lang periodes plaasvind nie, en daarom sal die assessering oor verskeie sessies plaasvind; die maatskaplike werker moet ’n verskeidenheid aktiwiteite asook aanvullende inligting gebruik om inligting te bekom en ook om die inligting te bevestig.

Om al bogenoemde faktore in ag te neem, maak die maatskaplikewerk forensiese assessering van die kleuter meer gekompliseerd as die assessering van ouer kinders en volwassenes. Gevalle van vermoedelike seksuele mishandeling van peuters lei selde tot kriminele vervolging weens die uitdagings van hul ontwikkelingsfase. Die doel van die maatskaplikewerk forensiese assessering met peuters behoort dus eerder op beveiliging as op strafregtelike vervolging te fokus. As gevolg van die eienskappe van die ontwikkelingsfase van die peuter, moet die assessering met groot omsigtigheid deur maatskaplike werkers, wat goed in die toepaslike teorie onderlê is en oor die nodige vaardighede beskik, uitgevoer word.

Die volgende oorkoepelende riglyne (tabel 1) word aan maatskaplike werkers voorgehou wat hulle kan volg wanneer hulle peuters forensies assesseer:

Tabel 1: Maatskaplikewerk forensiese riglyne vir die assessering van peuters

Stap

Aksie

Beskrywing van aksie

1.

Onderhoud met primêre versorger(s)

  • Verkry ontwikkelingsgeskiedenis van peuter.
  • Voltooiing van gedragsvraelys deur primêre versorger(s).
  • Hierdie stap kan oor een of twee sessies strek.
  • Kliniese waarneming van die verskillende sisteme word deurentyd gedoen.
  • Beweeg na stap 2.

2.

Ontwikkelingsassessering van die peuter

  • Verhoudingsbou met peuter begin tydens hierdie stap.
  • Verkenning van basiese bevoegdhede van die peuter, soos taalontwikkeling en vermoë tot selfverteenwoordiging en benutting van simbole.
  • Dit geskied deur middel van waarneming van spel en eenvoudige gesprekvoering met die peuter.
  • Gaan na stap 3 indien die peuter nie ʼn geskikte kandidaat vir ʼn forensiese assessering is nie.
  • Gaan na stap 4 indien daar bevind word dat die peuter wel ʼn geskikte kandidaat vir ʼn maatskaplikewerk forensiese assessering is.

3.

Verwysing na parallelle terapeut

  • Verwys peuter na parallelle terapeut vir monitering en die verkryging van bykomende inligting rondom moontlike risiko's waaraan die peuter blootgestel kan wees.

4.

Sosio-emosionele assessering

  • Verken deur middel van ongestruktureerde spel.
  • Dit behels die verkenning van die kind se leefwêreld, verhoudings, bindings en moontlike bedreiginge.
  • Aantal sessies word deur inligtingversadiging bepaal.
  • Gaan na stap 5 sodra die sosio-emosionele assessering afgehandel is.

5.

Aanraakopnametegniek

  • ʼn Vereenvoudigde vorm van die aanraakopnametegniek kan benut word om moontlike mishandeling te verken.
  • ʼn Bevinding van seksuele mishandeling kan nie op grond van die uitslag wat met die aanraakopnametegniek alleen verkry is, gemaak word nie.
  • Dit is noodsaaklik dat ʼn verskeidenheid tegnieke en aanvullende inligting benut word om die verkreë inligting te bevestig.
  • Beweeg terug na stap 3 indien daar nie duidelike aanwysers van mishandeling gevind kon word nie.
  • Beweeg na stap 6 indien duidelike aanwysers van mishandeling verkry is.

6.

Verkenning van alternatiewe hipoteses

  • Verskillende alternatiewe verklarings vir die peuter se gedrag en die bevindinge van mishandeling moet ondersoek word om dit uit te skakel indien nodig.
  • Indien ʼn alternatiewe verklaring vir die mishandeling nie uitgeskakel is nie, beweeg terug na stap 3.
  • Indien ʼn alternatiewe verklaring vir die mishandeling uitgeskakel is, beweeg na stap 7.

7.

Aanbevelings

  • Skryf forensiese maatskaplikewerkverslag
  • Doen aanbevelings ten opsigte van die beveiliging van die peuter.
  • Doen aanbevelings ten opsigte van die vervolging van die vermeende oortreder.
  • Beweeg na stap 3 indien nodig en beëindig die maatskaplikewerk forensiese assesseringsproses.

 

Bibliografie

Barker, R.L. en M.D. Branson. 1993. Forensic social work: Legal aspects of professional practice. New York: Haworth.

Barth, J., L. Bermetz, E. Heim, S. Trelle en T. Tonia. 2013. The current prevalence of child sexual abuse worldwide: A systematic review and meta-analysis. International Journal of Public Health, 58(3):469–83.

Brownell, P. en A.R. Roberts. 2002. A century of social work in criminal justice and correctional settings. Journal of Offender Rehabilitation, 35(2):1–17.

Bukatko, D. en M.W. Daehler. 2004. Child development: A thematic approach. New York: Houghton Mifflin Company.

Cambridge Dictionary Online. 2006. Toddler. dictionaryonline.com/toddler (15 Maart 2010 geraadpleeg).

Carnes, C.N. 2001. Child sexual abuse investigations: Multidisciplinary collaborations. http://childabuse.georgiacenter.uga.edu/both/carnes/carnes_print.html (26 Oktober 2006 geraadpleeg).

Creswell, J.W. 2013. Qualitative inquiry and research design: Choosing among five approaches. 3de uitgawe. Thousand Oaks: Sage. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

Crosson-Tower, C. 2015. Confronting child and adolescent sexual abuse. Thousand Oaks: Sage. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

De Vos, A.S., H. Strydom, C.B. Fouché en C.S.L. Delport (reds.). 2011. Research at grass roots: For the social sciences and human service professions. 4de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

De Witt, M.W. en M.I. Booysen. 2007. Die klein kind in fokus: ʼn Sielkundig-opvoedkundige perspektief. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Engelbrecht, C.S., J.C. Kok en S.S. van Biljon. 1982. Volwassewording. Durban: Butterworth.

Faller, K.C. 2007. Interviewing children about sexual abuse: Controversies and best practice. New York: Oxford University Press.

Finlay, L. 2011. Phenomenology for therapists. Reaching the lived world. Chichester: Wiley-Blackwell. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

Gouws, L.A., D.A. Louw, W.F. Meyer en C. Plug. 1979. Psigologiewoordeboek. Johannesburg: McGraw-Hill Boekmaatskappy.

Green, G., J. Thorpe en M. Traupmann. 2005. The sprawling thicket: Knowledge and specialisation in forensic social work. Australian Social Work, 58(2):142–53.

Hardwick, L. 2005. Fostering children with sexualised behaviour. Adoption & Fostering, (29)2:33–43.

Hewitt, S.K. 1999. Assessing allegations of sexual abuse in preschool children: Understanding small voices. Londen: Sage.

Kavale, S. 2007. Doing interviews. The Sage qualitative research kit. Flick, U. (red.). Los Angeles: Sage. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

Kumar, R. 2014. Research methodology. A step-by-step guide for beginners. 4de uitgawe. London: Sage. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

Louw, A.E. 2005. Die bevoegdheid van kinders as getuies 1: Die rol van ouderdom en ontwikkelingsvlak in geheue. Child Abuse Research in South Africa, 5(2):30–15.

Louw, D. en A. Louw. 2007. Child and adolescent development. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Meadows, S. 1993. The child as thinker: The development and acquisition of cognition in childhood. Londen: Routledge.

Meyers, J.E.B. 1997. A mother’s nightmare – incest: A practical legal guide for parents and professionals. Thousand Oaks: Sage.

Nelson, K. 1989. Remembering: A functional developmental perspective. In Solomon e.a. (reds.) 1989.

Nelson, L. 1996. Language in cognitive development: The emergence of the mediate mind. New York: Cambridge University Press.

Olafson, E. 2007. Children’s memory and suggestibility. In Faller (red.) 2007.

Patton, M.G. 1991. Family sexual abuse: Frontline research and evaluation. Newbury Park: Sage.

Poole, D.A. en M.E. Lamb. 1998. Investigative interviews of children: A guide for helping professionals. Washington, DC: American Psychological Association.

Potgieter, R. 2002. A model for the assessment of sexually abused children. Child Abuse Research in South Africa, 3(2):9–19.

Rapha Therapy & Training Institute. 2007. Algemene kinderassessering. Studiegids. Pretoria: Rapha.

Rubin, A. en E. Babbie. 2011. Research methods for social workers. 7de uitgawe. Internasionale uitgawe. Belmont: Brooks/Cole.

Saldaña, J. 2011. Fundamentals of qualitative research. Understanding qualitative research. New York: Oxford University Press. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

Schurink, W., C.B. Fouché en A.S. de Vos. 2011. Qualitative data analysis and interpretation. In De Vos e.a. (reds.) 2011.

Seidman, I. 2013. Interviewing as qualitative research. A guide for researchers in education and the social sciences. 4de uitgawe. New York: Teachers College, Columbia University. Kindle-uitgawe. Beskikbaar: http://www.amazon.com.

Solomon, R.P., G.R. Goethals, C.M. Kelley en B.R. Stephens (reds.). 1989. Memory: An interdisciplinary approach. New York: Springer.

Strydom, H. 2011. Ethical aspects of research in the social sciences and the human service professions. In De Vos e.a. (reds.) 2011.

Strydom, H. en C.S.L. Delport. 2011. Sampling and pilot study in qualitative research. In De Vos e.a. (reds.) 2011.

Thomlison, B. 2010. Family assessment handbook: An introduction and practical guide to family assessment. 3de uitgawe. Internasionale uitgawe. Belmont: Brooks/Cole, Cengage Learning.

Vorster, C. 2003. General systems theory and psychotherapy: Beyond post-modernism. Pretoria: Satori.

—. 2011. Impact: The story of interactional therapy. Pretoria: Satori.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top