Ricardo Peach: Daar gaan ’n man verby, hy groet

  • 0

Ricardo Peach (Foto: Vrystaat Kunstefees)

Daar gaan ’n man verby, hy groet, en dis verlaas – daar’s nog maar één soos hy; bekyk hom goed.

Die nuus van die skielike bedanking van die direkteur van die Vrystaat Kunstefees, Ricardo Peach, stuur nog dawerende skokgolwe deur die Vrystaatse kultuurlandskap. Peach het met sy oorname van die fees in 2015 onmiddellik sy ervaring en briljantheid skerpsinnig gemaneuvreer tot ’n produk wat niemand kon ignoreer nie. Hy het die insig gehad om die bestaande argetipes van die vorige fees in stand te hou, maar terselfdertyd emmers toegevoegde waarde te laat neerreën op die status quo van die Vrystaatse kultuurlandskap. Wie sal ooit die Pienk Presidente-projek en die visuele nalatenskap daarvan kan vergeet?

Peach het strategies hierdie oorspronklik slegs Afrikaanse fees se poorte oopgemaak en parallelle eienaarskap aan die volledige demografie van die Vrystaat en sy mense gegee. Die gemeenskap en sy stories en mites is wyd en syd geïnkorporeer sonder enige kompromieë op die gebied van die sogenaamde high arts. Inteendeel, laasgenoemde is verder gekomplementeer met die vrystelling van ’n sterk stroom projekte deurspek met ’n breë spektrum van interdissiplinêre karakter.

Ek herinner my veral aan sy passievolle bemoeienis met die First Nation-projekte wat nie net gefokus het op kreatiewe uitsette nie, maar ook sterk klem gelê het op volhoubare gemeenskapsontwikkeling. Soos genoem, het Ricardo uit die staanspoor indringend gefokus op ’n interdissiplinêre dinamika, wat nie net op kunstenaars gerig was nie, maar ook op samewerking met die natuurwetenskappe en diverse vakgebiede.

Internasionalisering was van meet af aan ’n belangrike komponent in die strategiese voerlyn vir die fees onder die hand van Peach. Die internasionaliseringskomponent was nie net beperk tot die produksie- en kunskader van die fees nie, maar het begin saamval met deurlopende openbare debat tussen Suid-Afrikaanse kunstenaars, beleidmakers en internasionale deelnemers en kundiges. Die onderbou was altoos gekenmerk deur ’n beleid van volhoubaarheid en ’n stewige aksent op die ontstaan van netwerke tussen alle belangegroepe.

Peach het nie gehuiwer om sonder voorbehoud al sy kundigheid en netwerke aan te wend tot voordeel van die sukses van elke fees nie. Hy het al sy internasionale kontakte met betrekking tot befondsing na die Vrystaat Kunstefees gebring. Terselfdertyd het hy ook nie gehuiwer om enige plaaslike instansies in beide die openbare en die private sektor na die tafel te bring nie.

Verlede jaar, tydens die ellende wat die Covid-grendelregulasies vir die Suid-Afrikaanse kunstefeeste geskep het, het Ricardo en sy kundige span kollegas eenvoudig voortgestu met die skep van ’n uitstaande podium waarop die Vrystaat Kunstefees 2020 in al haar volheid geskitter het. Op die koop toe het die nuwe segment van die fees, Vrystaat Klank en Klassiek, haar suksesvolle buiging gemaak, terwyl talle ander feesdirekteure landswyd tydelik die handdoek ingegooi het.

Ricardo is inderdaad ’n visionêr, onkeerbaar in entoesiasme en kundigheid, ’n brugbouer en mentor. Daar is geen twyfel nie dat hy met sy terugkeer na Australië ’n geweldige leemte agterlaat.

Maar die hoop beskaam nie dat daar, as gevolg van Ricardo se uitnemende mentorskap, ’n bekwame medewerker of medewerkers is wat die leisels by hom kan oorneem nie.

Dankie, Ricardo, beste wense vergesel jou met die nuwe uitdaging as die uitvoerende direkteur van die Australiese Kamermusiekfees in Townsville

"Daar gaan ’n man verby, hy groet, en dis verlaas. Daar’s nog maar één soos hy; bekyk hom goed." (JFE Cilliers)

Lees ook:

Creating the worlds we want: The Vrystaat Kunstefees and cultural self-agency in global networks

Press release: Interim director of the Vrystaat Kunstefees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top