Riana Scheepers gesels oor ’n baie spesiale feetjie (en oor Wêreldboekedag)

  • 1

Riana Scheepers is die skrywer van Christelientjie, die sonskynfeetjie van die Grootrivier, ’n lieflike kinderboek met kunswerke deur Elsabé Ebersöhn. Izak de Vries het met haar gesels.

Riana, Christelentjie is lieflik, maar jy is ’n doktor. Hoekom sou iemand met ’n peehaadee haarself ophou met feetjies?

Ek is nie iemand wat my al ooit opgehou met feetjjies nie, liewe genade. Feetjies was nog altyd te mooi, te effentjies, te pieperig na my sin. In my leefwêreld as kind was daar nooit feetjies nie – ek het perdgery en geswem en saam met seunsmaatjies plase gebou en woeste moddergevegte gehou. Ek het nie fyntjies grootgeword nie; feetjies was nie vir my nie.

Maar dit was voor Christelientjie deel van my lewe geword het. Nou is ek heeltemal versot op ’n feetjie met die naam Christelientjie – en te oordeel aan die oorweldigende reaksie van lesers word almal betower deur hierdie lomp, plomp feetjie. Christelientjie is nie effentjies nie, sy is nie pieperig nie, sy is ... Christelientjie. Sy het Down-sindroom en sy is oorrompelend mooi.

Jy vra wat iemand met ’n PhD uit te waai het met ’n feetjie? Onthou, een van my kortverhaalbundels het die titel Feeks. ’n Feeks is niks anders as ’n feetjie met houding en ambisie nie. Elke vrou is ’n bietjie feetjie en ’n bietjie heks – dis waar die woord feeks vandaan kom – dit is dus eintlik perfek dat ek my nou ophou met ’n feetjie.

Grootrivier se woud is vol feetjies. Hoekom het jy gekies om Christelientjie se storie te vertel?

Ek is besig met ’n reeks oor die Grootrivier se woud se geheimsinnigste inwoners. Christelientjie is die eerste een, en daar is nog van haar avonture op pad. Die volgende boek gaan egter oor Nandi en Klaartjie, die dapperste feetjies van die Grootrivier. Hulle kom in konflik met Gruwelike Gawie. Laat ek dit maar net sê: Gruwelike Gawie is nié gaaf nie, maar hy kom sy moses teë met twee feetjies wat nie sterk is nie, maar slim – en dapper.

Hoe kom ek aan “Christelientjie”? ’n Vriendin van my, die kunstenaar Ninette Steyl, drink een oggend by my koffie. Sy het ’n Down-sindroom-dogter. Almal in Wildernis is lief vir Christi – wat ook uitsonderlik begaafd is.

Ninette sê vir my sy wou nog altyd vir Christi ’n boek skryf oor feetjies, met een van die feetjies wat die naam Christelientjie het. Ek sê vir haar, nou skryf ’n boek oor feetjies met ’n Christelientjie vir Christi, ek sal jou help. Ninette sê nee, sy skilder, sy kan nie skryf nie.

En nét daar tref dit my soos ’n bom: Ek gaan oor ’n feetjie skryf, maar dit gaan nie ’n pieperige, Europese feetjie wees nie – sy gaan baie interessanter en slimmer en ouliker wees; sy gaan ’n Down-sindroom-feetjie wees! Net daar raak ek verlief op my feetjie. Kan jy dit nou glo. Ek wat nie van feetjies hou nie.

Christelientjie, die sonskynfeetjie, ontmoet ’n belangrike, ongure militêre karakter, Wolhuter Wurm. Ons gaan nie vertel wat hulle saam doen nie, maar hoekom is dit nodig dat kinders ook oor ongure karakters moet lees?

Ongure karakters in ’n kinderboek of ’n fantasieverhaal is die heel lekkerste karakters. Watter karakters uit die Disney-films bly jou by? Die vlermuise, die slange, die nare gediertes. O, jinne, hulle is aaklig en wonderlik. Ons almal hou van ’n storieskurk – dis so lekker om briesend kwaad te word vir hulle. Kinders hou van skurke en spoke. Ek ook. Die goorgomgatte gee grein aan ’n storie – dit bou konflik, dit gee dimensie en kleur aan ’n verhaal wat andersins maar vaal sou gewees het. En natúúrlik moet kinders lees oor ongure karakters. Die lewe is vol goor mense; jy kan hulle net sowel in stories leer ken – en oorwin.

Ek dink my gunstelingskurk is Wolhuter Wurm, die ongepoetste vent!

Ek wil iets vra oor die kuns in die boek. Dit is besonder mooi. Het jy en Elsabé Ebersöhn gesels oor die kuns, of het julle onafhanklik van mekaar gewerk?

Ek en Elsabé het mekaar letterlik in die Grootrivier se woud raakgeloop – ons beide het ’n huis in Nature’s Valley. Ons ken die oerwoud van die Tsitsikamma, sekerlik een van die mees misterieuse ruimtes in ons land. Ons kom steeds daar, sit op die oewer van die rivier en verwonder ons aan dit wat ons beleef – berg en boom en rivier en oseaan – en woud.

 Aan die begin van ons samewerking het ek nog hier en daar vir haar verduidelik hoe ek ’n karakter sien, maar sy het ’n unieke, kreatiewe manier om karakters en ruimtes en emosies te skep. Haar woud en haar feetjies is nié dit wat jy in ander illustrasies sien nie. Toe sy haar eerste sketse van Christelientjie stuur, toe weet ek … hier kom ’n ding.

Christelientjie, die sonskynfeetjie van die Grootrivier is ’n eenvoudige storie, en dit lees lekker, maar jy skryf nie eenvoudige, kort sinne wat herhaal nie. Dit lees veel meer soos kinderboeke wat ons in Europa sien as die gewone kinderboeke wat in Suid-Afrika uitgegee word. Hoe het jy besluit wat jou invalshoek gaan wees?

Ek het niks besluit nie, ek het net gaan sit en skryf – en onmenslike vreugde ervaar met die skryf daarvan. Ek glo eerstens daaraan dat mens nie moet af-skryf na kinders nie. Kinders is baie slimmer as ons; hulle wil nie be-preek en be-sê word nie. Miskien is ek eerstens beïnvloed deur die Zoeloeverhale wat ek as kind gehoor het, en verder deur Skandinawiese en Russies sprokiesverhale – dit volg ’n totaal ander patroon as Europese sprokies, en die sfeer is totaal anders. Hierdie sprokies is miskien wreder, meer realisties, en meer verrassend as Europese sprokies. Hoe ook al, ek het my totaal verplaas in die Grootrivier se woud – ek het my intuïtief laat lei deur die atmosfeer van ’n oerwoud wat my fassineer, maar meer nog, die uitsonderlike karaktereienskappe van Christelientjie.

Wat ek geleer het, onder leiding van Ninette, is dat Down-sindroom-persone uiteraard gemeenskaplike eienskappe het, maar dat elkeen ’n unieke persoonlikheid het. Christelientjie het nie goeie balans nie, sy kan nie al die woorde reg uitspreek nie, sy neem woorde baie letterlik op, maar saam met haar ruim hart en vergewensgesindheid sal sy ook nooit moed opgee nie. Dis nie verniet dat hulle “hemelkinders” of “sonskynkinders” genoem word nie!

Hoe belangrik is goeie kinderboeke vir Suid-Afrikaners se ontwikkeling?

’n Kind wat sonder boeke gootword, word ontneem van suurstof. Niks kan die belangrikheid van kinderboeke na behore beklemtoon nie. ’n Kind wat elke aand ’n storie hoor, ervaar koestering, avontuur, beleef kennis, emosies, drome en ideale, taalkunde, woordeskat, idiome, ander wêrelde. ’n Kind met boeke is ’n hemelruim vol sterre en geheime en wonderwerke.

Op 23 April is dit Wêreldboekedag. Wat is die belang van Wêreldboekedag vir jou?

Mag 23 April ons almal weer bewus maak van die oneindige vreugde en avonture wat in ’n goeie boek opgesluit is.

*

Christelientjie, die sonskynfeetjie van die Grootrivier deur Riana Scheepers, met sketse deur Elsabé Ebersöhn, is deur LAPA uitgegee. Die ISBN is 9780637012775.

  • Fotografie: Leonie Scholtz
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top