Rian Malan se Resident Alien: Watter uitnemende chickenshit is dit nie!

  • 0

Skrywer: Rian Malan
Titel: Resident Alien
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868423569
Prys: R166.50

’n "Chickenshit-versameling" noem Rian Malan sy 27 essays in die boek. Synde die beste wat hy uit sy werk kon saamstel vir die versameling.
 
Watter uitnemende chickenshit is dit nie! 

Soos dit ’n regte in-die-bloed-joernalis betaam, erken hy ook dis sy waarhede teenoor ander waarhede.

Ek kies sy waarheid.

Deurdag, sinies en sexy. Dis die soort joernalistieke prosa wat in ons joernalistiek-verarmde land so selde gevind word. Daarom het die meeste van Malan se stukke in onder andere Rolling Stones, Esquire (jissie!), The Spectator, Sunday Telegraph, The Observer verskyn, met, hoera, darem enkeles in Noseweek en Maverick ook.

Van 1994 tot 2007 karteer Malan die vreemde weë van ’n land wat hy juigend op die afdraande sien afseil. Nogtans is alles nie donker en verdoem nie. Malan se sardoniese  greep aan die vir hom verstommende realiteite van Suid-Afrika laat jou, die leser, voel dat dit selfs huppelland is. Jy skrik wakker: Gaan dit eintlik so verstommend lekker met ons terwyl ons in die hel af foeter?

Malan is ’n soort toerleier-verleier.

’n Yeoville wat van eksentrieke intellektualisme transformeer tot ’n boheemse paradys tot ’n raserige, skieterige slum, om skielik op ’n dag weer werkende verkeersligte, straatveërs te kry is ’n Malan-sprokie wat jou die kleure en geure van die plek laat vóél. Dis “showing”–joernalistiek daai.

Malan weet ’n ding of twee van ondersoekende joernalistiek. Soos met sy boeiende essay oor Solomon Linda se ontkenning as skepper van ’n wysie wat tot ongekende faam as ’n wêreldtreffer sou lei, is ’n briljante, skerp, snydende slagting van die vieserige onderduimsheid van die Amerikaanse musiekbedryf. Oukei, hier is baie “ek” in die essay, maar hy hou jou op die spoor saam met hom tot die uiteindelike erkenning dat Linda die oorspronklike komponis was van "The Lion Sleeps Tonight". Die wysie wat eers "Mbube" in Zoeloeland en "Soweto" in die dertiger-, veertigerjare was, het deur ’n sage van onkunde, konkelary, gierigheid, diewery in Amerika eers "Wimoweh" geword, toe "The Lion”. Die tantieme het die uitgewers stinkryk gemaak. Linda is straatarm dood. Malan het gehelp dat sy dogters darem uiteindelik tantieme kry. Te laat vir Linda. Te laat vir ’n opvoeding vir sy dogters. Maar darem.

Dis ’n ikoniese storie hierdie. Rolling Stones het dit gepubliseer.

Malan spoor die laaste Afrikaner op in Uganda, nageslag van die stroppie trekboere na Tanganjika ná die Anglo-Boereoorlog, agter die charismatiese generaal Wynand Malan aan. Katriena Odendaal bly in ’n vervalle hut geklee met kopdoek en kanga om haar maer lyf en vuilerige voete in plastieksandale. Sy maak vuur in ’n buiteskerm. Sy is vrekarm, lyk soos ’n kwaai ou heks, oor die sestig. Sy praat na drie dekades weer Afrikaans. Malan bly sommer ’n paar dae as haar gas. Sy het ’n nageslag uit ’n verbintenis met Shabani Lulu. Sy regeer hulle soos ’n diktator.Sy sê: "Ek sal doodgaan as ’n Afrikaner.”

Malan bied die storie as ’n TV-program aan die SAUK. Kry geen antwoord nie. Fair Lady het genoeg insig om die indrukwekkend-vreemde essay te plaas.

Malan is die aristokratiese Hunter S Thompson. Sy styl is eerder sinies, vlotter en minder opdringerig as die gonzo-aard. En daarby is Malan ’n formidabele navorser.

Die titel Resident Alien sê alles. Malan kyk van buite af in. Sy afstandelikheid laat toe vir ’n varsheid. Hy weet Ronald Suresh Roberts is die “Unlikeable Mr Roberts", maar hy hou van die man. Hy weet hy is ’n gatkruiper, maar hy bewonder die blote vermetelheid wat die man het om R1,4 miljoen te eis vir die opdrag om ’n biografie oor Mbeki te skryf.

Paul O’ Sullivan as ’n fluitjieblaser in die hele Selebi-Agliotti-Kebble-raaisel word op eg ondersoekende styl nagevors. Die essay is die kiem vir ’n merkwaardige manuskrip wat nog kan realiseer. Die essay het in Maverick verskyn, helaas, ook ’n gedoemde publikasie in hierdie domonnosele land wat net te vlak is om gehalte raak te sien.

Malan is self ’n maverick. Maar watter verleidelik-elegante skrywer is die man, sinisme en al, tog nie.

En wat is meer beroerd as ’n land wat feitlik geen publikasies meer het om sulke werk te plaas nie?

 

<< Terug na die miniseminaar: Resident Alien | Back to mini-seminar: Resident Alien <<

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top