Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden: ’n lesersindruk

  • 1

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie
Rian van Heerden

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081104

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Noem die naam Rian van Heerden en jy kry onmiddellik ’n reaksie. Mense hou van hom of hulle doen nie. Jy sal nie sommer iemand kry wat nie ’n besliste opinie oor hom het nie. Rian van Heerden, gesoute radio- en televisie-aanbieder, is een van Suid-Afrika se mees geliefde of mees omstrede persoonlikhede – dit hang net af van aan watter kant van die draad jy sit.

Ek het heerlik aan Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie gelees. Rian skryf in ’n gemaklike, vloeiende en onderhoudende geselstrant; soms ernstig, soms tong in die kies, soms skreeusnaaks en soms uitlokkend, maar altyd openhartig. Hy is ongetwyfeld ’n baie intelligente man wat briljant vlytig met daardie vlymskerp tong van hom is. Hy weet goed dat sy stem sy beste bate (en wapen!) is en span dit deeglik in om die mense aan die praat te kry of die josie in te maak. Hy is nuuskierig en hy hou daarvan om ongemaklike en reguit vrae te vra en sy sê te sê. Hy jaag gereeld mense die harnas in omdat sy filter blykbaar nie aldag werk nie. Hy is al so dikwels in die pad gesteek dat daar selfs op die agterblad van Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie die volgende geskryf staan: “Was daar ’n medalje daarvoor om gefire te word, het dit waarskynlik aan Rian behoort.” Anna-Retha Bouwer van Beeld het al geskryf oor sy produksie Vak in 2008: “Rian van Heerden is soos ’n pakkie sigarette. Jy wéét dit kan jou laat stik én dit kom outomaties met ’n waarskuwing!” Sy het ook geskryf: “Van Heerden span die wonderlike terapeutiese waarde van lag in ...”

Rian het inderdaad al met baie interessante én vreemde mense onderhoude gevoer. Hy onthou dat hy op aandag gestaan het toe die voormalige staatspresident PW Botha hom oor die foon goed laat verstaan het wat hy daarvan dink dat hy durf waag het om hom direk te bel! Dan vertel hy ook van die blinde boudleser uit Duitsland wat “deur bloot die kontoere van jou boude te volg ’n voorspelling oor jou toekoms maak!” Rian het selfs saam met ’n medium op ’n spookjag gegaan en toe is daar hierdie skaduwee wat al groter word en die mikrofoon het ’n “aardige feedback-geluid gemaak”. Dan was daar die dwergie, Fifi, wat met ’n luislang gedans het! Een oggend op Makhado het ’n vrou Rian “in haar kamerjas en pantoffels ingewag”. Sy het ’n ringetjie uitgehaal en hom gevra om te trou, want “ek word elke oggend met jou wakker, ons kan dit netsowel wettig maak!” (Dit was tydens sy The love tour toe hy The complimentary breakfast aangebied het.)

Rian por mense gewoonlik aan om verder te dink as wat hulle neuse lank is. Hy is iemand wat daarvan hou om dinge te ondersoek en sy eie antwoorde te vind. Hy het immers al self gereken dat hy nes bloukaas is – ’n aangeleerde smaak. Soos ek deur Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie gelees het, het ek besef dat hy, weliswaar orator van formaat, ook maar net ’n gewone mens is wat soms worstel met homself, met ander en met die ou lewe. Hy deel verskeie foto’s en vertel ook meer omtrent sy grootwordjare. Ek het veral die foto’s geniet waar Rian saam met sy oogappel en broerskind, Jace, pryk. Dit wys ’n liefdevolle en sorgsame kant van hom. Hy bedank diegene wat gehelp het om hom die mens én persoonlikheid wat hy vandag is, te maak. Hy vergeet nie die mense wat vir hom deure oopgemaak en vir hom ’n hupstootjie op sy pad boontoe gegee het nie.

Rian skryf ook oor sy seksualiteit. Hy erken dat hy as jong seuntjie foto’s versamel het van Naas Botha en Danie Gerber – en nie vanweë ’n gesonde belangstelling in rugby nie. Hy erken dat dit nie vir hom vreemd was “om aangetrokke tot mans te voel nie. Ek het dit as heel natuurlik ervaar.” Hy vertel dat sy ma sy afsydigheid teenoor meisies verduidelik het as: “Rian is soos sy ma. Hy wag vir die regte een ...” Hy praat openhartig oor die kere toe hy verlief geraak het en ook van sy eerste besoek aan ’n gayklub. Hy was reeds in sy middel twintigs toe hy sy ouers in ’n Spur vertel het dat hy gay is. Sy ma het net geantwoord: “Ons weet al lankal, my kind.” Sy Pa: “Hoe dink jy is die crumbed mushrooms hier?” En dit was dit. Rian verklaar onomwonde: “Ek was eerlikwaar trots dat ek hierdie twee mense se seun was.” Op die voorblad van 30 Oktober 2005 se Rapport skryf Marlene Malan: “Die parmantige TV-aanbieder Rian van Heerden het Vrydag in ’n middernagtelike brief aan Rapport erken hy is gay. Sy emosionele stryd is verby. En ja, hy hét uiteindelik vrede ...”

Rian gesels ook in Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie oor sy geloofsoortuigings. Hy vertel dat hy “nooit al die ‘normale’ fases van verhoudingsontwikkeling deur is nie”. Hy het tydens ’n gespreksoggend by die NG Gemeente Elarduspark gesê dat “alhoewel die baarmoederproses destyds namens my besluit het dat ek sou gay wees ek dit ook self sal kies indien die engel Gabriël sou neerdaal en my ’n keuse gee. Dit is inherent deel van my. God het my gay geskape. Aanvaar dit.”

Ter afsluiting noem Rian dat hy nie eintlik spyt is “oor die meeste dinge wat ek in my lewe kwytgeraak het nie.” Daar is wél dinge waaroor hy “werklik spyt” is. “Ek het waar ek kon, probeer opmaak daarvoor.” Hy voel dat indien ons “hierdie land wil opbou tot die utopie wat dit kan wees, moet gesprekke oor rassegrense heen begin. Dis ook wesenlik belangrik dat ons bereid is om na mekaar te luister sonder om te sit en dink aan ’n teenargument.” Hy nooi dan: “Kom ons begin die dialoog. Kom ons gesels met mekaar.” Dis duidelik dat Rian van Heerden die mag van woorde ken – dat dit kan opbou of kan afbreek. Hy is ’n lewende legende, ’n móói man met ’n deurdringende blik wat jou met daardie glimlag wat om sy lippe huiwer nooi (of uitlok!) om ook jóú sê reguit te sê. Mag sy stem vir nog baie lank nie stil word nie.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

  • Foto van Rian van Heerden: Hanneri de Wet

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top