
Foto: Joan Ward
Zip Zap se Rhapsody – a philharmonic circus. In Oktober 2021 het Zip Zap Circus die Journey Returns-vertoning aangebied – hul vierde samewerking met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Hierdie uitvoering sluit in twee sangers wat populêre liedjies sing, die orkes, die ritmiese afdeling en Zip Zap se lug- en sirkuspresteerders.
Die vertonings was uitverkoop en Kaapstad het nou die kans om die opgeknapte weergawe van Journey Returns, nou bekend as Rhapsody, vir ’n baie beperkte speelvak te sien voor dit Maandag na Cirque Phénix in Frankryk vertrek. Met 5000 sitplekke is Cirque Phénix die grootste koepel-styl sirkustent in die wêreld.
Rhapsody sal vir drie maande daar te sien wees. Die openingsaand was die eerste vertoning van 100 wat hierdie groep gaan onderneem.
In Rhapsody is daar voetstampmusiek en gewaagde akrobatiese optredes. Daar is hansworse wat meer soepel as ’n pasgebore baba is en sirkustoertjies wat die gehoor een oomblik kollektief laat asem intrek en die volgende oomblik spontaan laat opspring en fluit. Daar is danse in bont hemde en wit gum boots. Daar is eenwielfietse en linte en swaaie. Dis sirkus, maar anders.
..........
In Rhapsody is daar voetstampmusiek en gewaagde akrobatiese optredes. Daar is hansworse wat meer soepel as ’n pasgebore baba is en sirkustoertjies wat die gehoor een oomblik kollektief laat asem intrek en die volgende oomblik spontaan laat opspring en fluit. Daar is danse in bont hemde en wit gum boots. Daar is eenwielfietse en linte en swaaie. Dis sirkus, maar anders.
............
Dis vir kinders; dis vir grootmense; dis vir oumense. Dis ’n speelse, mal, bont joligheid, met afgeronde optredes wat my aan oomblikke in die Cirque du Soleil-vertonings herinner. Daar is nie skaafsels en springmielies nie, daar is eerder stryk-instrumente en swart aandrokkies. Maar daar is pret. Hope daarvan.
Die groep musikante onder leiding van Chad Hendricks (bekende Kaapstadse orkes-dirigent) en Josh Hawks (oorspronklike baskitaarspeler en sanger van die Suid-Afrikaanse groep, Freshlyground) is deel van die vertoning en die hele tyd sigbaar. Janine en Riyaan Cornelius, twee Kaapse sangers, sing gewilde treffers van Elton John, Frank Sinatra, Tina Turner, Mango Groove en Johnny Clegg.
Zip Zap Circus is ’n unieke Suid-Afrikaanse sosiale en professionele sirkus wat in 1992 in Kaapstad gestig is. Deur die sirkuskunste inspireer en bemagtig Zip Zap jong mense van alle vlakke van die lewe om hul drome na te streef. Zip Zap bevorder sosiale samewerking, skep geleenthede, ontsluit potensiaal en dra vaardighede vir die lewe oor. Zip Zap-programme is almal gratis vir deelnemers, met finansiële en materiële ondersteuning van individue, organisasies, korporasies en stigtings.
Duisende kinders het die afgelope 30 jaar nie net die magiese wêreld van die sirkus ontdek nie, maar ook van hul eie talente.
Die eerste gedagte wat deur my kop gaan toe die gehoor spontaan in applous uitbars, is: “Dis tyd.” Die pandemie het ons te lank stil gedwing.
Om die Kunstekaap Operahuis só vol te sien, applous teen die mure te hoor bons en weergalm, wolwefluite van agter op die balkonne en galery te hoor, bruis soos sterk vitamiene deur jou are.
Ek weet nie wat my tone die meeste laat omkrul het nie: die feit dat ek met 1000 ander entoesiastiese teatergangers kon saamklap, fluit en encore, of die feit dat my bors wou bars oor die talent wat in ons land gebore word en op die wêreldverhoë hul Suid-Afrikaanswees kan gaan ten toon stel met breë glimlagte.
..........
Rhapsody is veel meer as ’n sirkus – dis Suid-Afrika in 90 energieke minute, en soos die aankondiger voor die aanvang van die vertoning sê, dit omvat wat Suid-Afrika is – dis ’n vertoonstuk van die kultuur, energie en diversiteit. Dis ’n bietjie kwaito, ’n bietjie Afrika-dreunings, ’n bietjie melankolie.
.............
Rhapsody is veel meer as ’n sirkus – dis Suid-Afrika in 90 energieke minute, en soos die aankondiger voor die aanvang van die vertoning sê, dit omvat wat Suid-Afrika is – dis ’n vertoonstuk van die kultuur, energie en diversiteit. Dis ’n bietjie kwaito, ’n bietjie Afrika-dreunings, ’n bietjie melankolie.
Hoe gepas dat die laaste liedjie in die vertoning “I’m still standing” is. Want ja, ons is steeds staande; die kunste is steeds staande en vir hierdie talentvolle groep is die wêreldverhoë ook steeds staande.
Kry gerus ’n voorsmakie van die vertoning hier: https://youtu.be/SkerIZNVNh8
Zip Zap se Rhapsody
Met: Zip Zap-sirkuslede en musikante onder leiding van Chad Hendricks (bekende Kaapstadse orkes-dirigent) en Josh Hawks (oorspronklike baskitaarspeler en sanger van die Suid-Afrikaanse groep, Freshlyground)
Mede-stigter en artistieke direkteur: Brent van Rensburg
Sangers: Janine en Riyaan Cornelius
Kunstekaap Operahuis
Net tot 6 November 2022. Vertonings op 4 November om 15:00 en 19:00, 5 November om 15:00 en 19:00, en 6 November om 15:00.
Kaartjies deur Computicket van R200–R350

