Resensies: Onder 'n sterrehemel en Goue dagbreek deur Bets Smith

  • 0

Titel: Onder ’n sterrehemel en Goue Dagbreek
Skrywer: Bets Smith
Uitgewer: LAPA, 2015
ISBN: 9780799372342 en 9780799372595

Onder ’n sterrehemel is die eerste boek in ’n tweeluik. Goue Dagbreek volg dit op en het ook pas verskyn.

In die eerste boek vertel die skrywer die storie van Catriona Fraser, ’n jong meisie uit die Kaapkolonie se grensdistrikte, wat weer vir Rudolf Dreyer van die buurplaas in Kaapstad raakloop. Dis 1899 en die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) is op hande. Sy besef dat hy steeds die man is wat haar hart in sy hande hou, maar wanneer sy Rudolf se onbegryplike optrede probeer verstaan, loop sy haar trompop teen ’n jare lange geheim waaroor almal wat sy ken, swyg.

Wat is die geheim van die nag toe Rudolf by haar in die grot op Ben Nevis gebly het, hy 16 en sy net agt? Hoekom is Rudolf destyds weg uit Ben Nevis, Engeland toe, en waarom moes sy kosskool toe?

Nou vermy Rudolf haar: hy, die Boer, en sy met haar Skotse pa. Van liefde tussen hulle is daar nie sprake nie, glo hy. Hoe kan dit? Hy betaal nou nog die prys vir daardie nag op die berg. Hoe kan sy uitvind wat sy daardie nag verkeerd gedoen het?

Ondanks alles dwing hul lewens, wat lank gelede so onbegryplik uitmekaargeloop het, onkeerbaar terug op ou, bekende paaie na ’n tyd toe hulle soveel gedeel het. Al is Rudolf hoe traag om betrokke te raak, leer hulle mekaar weer ken, hierdie keer as volwassenes.

Ten spyte van die groeiende spanning tussen Boer en Brit, en ongeag haar pa se bitter haat, groei hul gevoel vir mekaar. Maar uiteindelik besef Catriona sy sal die geheime van die verlede moet ontrafel as sy ’n toekoms vir haar liefde wil wen.

In Goue Dagbreek word die storie voortgesit, maar meer as ’n jaar het intussen verloop. Die oorlog en Gordon Fraser veroorsaak ’n oënskynlik onoorbrugbare kloof tussen Catriona en Rudolf. Waar daar kort gelede nog liefde was, lees Catriona haat, afkeer en veragting in sy oë. Hy glo sy was vir sy twee broers se teregstelling verantwoordelik en sy kan hom nie bereik om hom van die teendeel te oortuig nie.

As Rooikruisverpleegster deurkruis Catriona die Boererepublieke in die ambulanstrein op soek na hom, met die hoop dat sy hom sal raakloop en van haar onskuld kan oortuig, maar toe dit wel gebeur, vertel sy oë haar hy vermoed sy gaan hom weer eens verraai.

Sy ontdek hy het Rudolf Dreyer diep weggebêre. Hy is nou Ben van den Berg, skerpskutter vir generaal Botha en soms kaptein Ben Sutherland, Kakie-offisier. Vir Catriona hou hy hom blind en doof, want Trevor Carruthers, haar pa se handlanger en regterhand, is ’n immer teenwoordige faktor waarmee rekening gehou moet word.

Toe hulle paaie onverwags begin saamloop, kry sy ’n tweede kans. Deur haar bedrywighede as spioen vir die Boeresaak stel Catriona haar lewe in gevaar en sy hoop dit sal hom van haar lojaliteit verseker. Die oorlog moet egter eers vele kronkelpaaie met hulle lewens loop voor sy hom kan oortuig dat sy enigiets vir hul liefde sal doen.

Catriona se fiktiewe verhaal leef danksy die ware spioen, Johanna Van Warmelo, wat vir g’n man teruggestaan het tydens die oorlog nie. Bets skryf in haar voorwoord: “Om die agtergrond geloofwaardig te hou, moes so ná as moontlik aan die historiese feite gebly word. Soms is die waarheid ter wille van die ontluikende liefde gebuig, of is daar ‘skeppend’ met genoemde feite gewerk.”

Wat die boeke van soveel ander in dieselfde trant onderskei, is Bets se kennis van die geskiedenis. Dis nie bloot ’n aframmeling van geskiedenisfeite nie, maar bring wel die onmenslikheid én hopeloosheid van die oorlog by die leser tuis. Die geweldige haat wat die oorlog gebring het tussen bure wat verskillende lojaliteite gehad het, is immers dekades ná die oorlog nog op sekere dorpe in ons land aanwesig.

Die feit dat Bets ’n ware spioen as inspirasie gebruik het, het die boeke sommer ekstralekker laat lees.

Hoewel die tweede boek ’n kort verduideliking gee oor wat in die eerste boek gebeur het, sal dit nie deug as jy nie albei lees nie, want die boeke staan nie goed genoeg op hul eie bene nie.

Bets het die kuns bemeester van storie-vertel; spanning laat opbou; die leser se emosies laat wipplank ry. Sy is ’n kundige verteller en weef geskiedenis, feite en fiksie moeiteloos. Haar taalgebruik is beskrywend en kleurvol, sonder om só liries te raak dat sy onwetend afdwaal van die onderwerp af. Die storie vloei natuurlik en gemaklik, asof jy deel van ’n gehoor is wat die verhaal voor hul oë sien afspeel.

Die negatiewe eienskap van baie romans is die gedurige op en af van die liefdesverhoudings: die een oomblik is die karakters smoorverlief, die volgende oomblik is dit pure agterdog en haat. Plofbaarheid en elektrisiteit is deel van die liefdespel, maar ek vind dit tog moeilik om te glo dat iemand wat lief is vir iemand anders, só maklik die slegste van die persoon sal glo en hom/haar nie sal kans gee om die ander kant van die storie te vertel nie. Dit word effe hinderlik, omdat dit later net te vergesog word. Maar aan die ander kant is dit sekerlik vir baie lesers juis die aantrekkingskrag van hierdie genre.

Die enigste ander klippie in my skoen met die lees van die boeke is die skrywer se voortdurende verwysing na die bekende reuk van Rudolf, “die reuk van kruisement en kruie”. Dit is aanvanklik vir my treffend en realisties, maar raak later effe uitgedien.

Oor die skrywer

Bets Smith skryf deeltyds vir LAPA en is voltyds hoërskoolonderwyser in Witrivier. Sy het al 25 boeke gepubliseer en met Die verste Ster was sy ’n finalis in die eerste ATKV-Woordveertjiesprys vir romanses in 2008.

Skrikkelmaan was haar eerste romantiese spanningsroman sedert 2000. Skryf is vir haar net so terapeuties soos lees. Dis waarom sy ondanks ’n vol program daarmee volhou en probeer om minstens een titel per jaar te lewer.

Haar loopbaan begin as ’n offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag se dokumentasiediens, waar sy navorsing doen oor die land se weermaggeskiedenis. Ná haar troue verhuis sy platteland toe en kry later ’n pos as hoërskoolonderwyseres op Witrivier, waar sy die afgelope 28 jaar woon.

Haar lewe lank ’n ywerige leser, veral van spanningsverhale en romanses, stuur sy in 1996 haar eerste manuskrip na JP van der Walt-uitgewers en haar eerste spanningsroman, By omdraai verby, verskyn in 1997.

Bets is aktief betrokke by die gemeenskap in die Nelspruit/Witrivier-omgewing en het in September 2013 ’n suksesvolle lesersdag georganiseer wat deur 120 lesers bygewoon is. Die geleentheid het wye belangstelling uitgelok en persdekking in streekskoerante gekry.

Lees meer oor haar op haar blog, http://betssmithromanseskrywer.wordpress.com.

• Albei boeke is by toonaangewende handelaars, asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek hul webblad: www.lapa.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top