Resensie: Modder en bloed

  • 0

modderenbloed250Modder en bloed

Draaiboek en regie: Sean Else

Spelers: Stian Bam, Grant Swanby, Patrick Connolly, Edwin van der Walt, De Klerk Oelofse, Deon Lotz, Albert Pretorius, Jacques Bessenger, Albert Maritz, Jaco Muller

Dit lyk of daar geen keer aan die Afrikaanse filmbedryf is nie. Wat sover vanjaar uitgestaan het, is Sink, en nou Modder en bloed. Sean Else verdien hoë lof vir sy heg-gestruktureerde verhaal en uitnemende regie.

Dis ’n Boereoorlogstorie met ’n verskil: ná die uitstekende openingstoneel verskuif die aksie van die slagveld na ’n ruwe rugbyveld in ’n krygsgevangenekamp op die eiland St Helena. Dit verwys na ’n interessante stukkie geskiedenis: dat die Boere dié Engelse sport in die interneringskampe leer ken het en dat dit daarvandaan versprei en gegroei het tot supergewildheid vandag. En tipies van die koppige, eiesinnige mense wat Afrikaners is, het hulle die spel aangepas om dit op hulle eie manier te speel – tot die Engelse se magtelose misnoeë!

Die film se sukses berus op verskeie elemente, waarvan die belangrikste die puik draaiboek en uitnemende toneelspel is. Stian Bam, as die hoofkarakter Willem Morkel, lewer ’n vertolking wat hom finaal vestig as een van ons grootste akteurs. ’n Mens kan sê dat ’n storie net so sterk is soos sy antagonis, en in die sadistiese kolonel Swannell (briljant vertolk deur Grant Swanby) het jy ’n boosaard soos min. Hierdie twee lei ’n span akteurs wat as newekarakters net so ’n kragtige indruk maak, maar ek wil een uitsonder: De Klerk Oelofse as die jong seun Wynand Cronjé.

Kommandeer man en muis, gaan kyk hierdie fliek en wees trots (Suid-) Afrikaans!

Sterre: 4

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top