Resensie: Kinders wat moor: Wie se skuld is dit? deur André le Roux

  • 0

Kinders wat moor: Wie se skuld is dit?
André le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089421

Reeds met die inleiding wat lui dat die een moordenaar sy duim suig en die ander een op sy ma se skoot begin huil, word die leser by die skrikwekkende werklikheid van jong moordenaars ingetrek. En dis iets wat jou laat sidder. Wat alle verstand te bowe gaan. Hierdie onderwerp is sowel aktueel as boeiend. As ’n kind moord pleeg, gons dit in die media en die samelewing.

Mens wonder hoe dit moontlik is dat kinders wat veronderstel is om so jonk en onskuldig te wees (party met nogal ’n engelagtige voorkoms) sulke dade kon pleeg en wat dan so onheilspellend skeef in hul lewens geloop het. En dan natuurlik die gelaaide vraag: Wie se skuld is dit?

Ouers – veral ma's – is mos altyd in die beskuldigdebank. Daarom vind ek die titel baie gepas. Wie se skuld is dit inderdaad?

Omdat die mens veroordelend van aard is, word gewoonlik dadelik vingers na die ouers gewys, en soos die skrywer tereg opmerk, in besonder na die ma. Die arme ma.

Ouers wie se kinders gemoor het, loop lewenslank met die wroeggedagtes rond van: "Wat het ek verkeerd gedoen?"

Tog is daar talle faktore wat tot die ontwikkeling van ’n moordlustige en selfs bloeddorstige kind kan bydra. Waarskuwingstekens.

Le Roux beskryf die oorsake, soos oueronbetrokkenheid, gebroke ouerhuise, mishandeling (die mishandelde word mos dikwels later self die mishandelaar), seksuele molestering, verwerping, disfunksionele huishoudings, alkohol, dwelms, losbandigheid, werkloosheid, narsisme, antisosiale eienskappe en eensaamheid behoorlik.

Hy dek van die berugste Suid-Afrikaanse gevalle, maar in meer besonderhede oorsese gevalle wat natuurlik ook opspraakwekkend is, veral die massamoorde by Amerikaanse skole wat genadiglik nog nie in Suid-Afrika voorgekom het nie.

Hy beskryf ook in besonderhede wat met ’n kind gebeur vandat hy ’n fetus is tot hy ’n tiener is en watter invloede van buite sowel as in die gesin moontlik ’n rol kon gespeel het daarin dat hy later in ’n "monster" ontaard het. Dit is fassinerende inligting.

Maar net sodra jy as leser dink jy het nou insig in al die oorsake gekry, is daar weer ’n kenner met ’n ander siening wat aangehaal word. Vir wie moet jy dus glo?

Die ou en veelbesproke nature versus nurture-debat word aangehaal, maar ook hier is onduidelikheid. Dis swak ouerskapstyl, meen party. Nee, sê ander, dis in die gene.

Le Roux skryf dat dit nie noodwendig die een of die ander hoef te wees nie, maar dat beide bydraend tot die kind se gedrag kan wees. En dit kan dalk vir ouers wie se lewe in ’n hel van wroeging ontaard nadat hul kinders geweldsmisdade gepleeg het, in ’n mate "vertroosting" bring. Nie alles is hulle skuld nie. Mens kan mos niks aan gene doen nie. Dis buite jou beheer.

Nogtans kom ouers glad nie skotvry van hul kinders se geweldsdade af nie. Dis duidelik dat min van hierdie kinders uit liefdevolle en stabiele huise kom. Kindermishandeling, meen baie kenners, is die ware misdadiger. Tog, en dis wat mens dronkslaan, is daar kinders wat uit "goeie" ouerhuise kom wat ook ondenkbare dade gepleeg het. Dus is dit nie regverdig dat die ouers altyd gekruisig word nie. Net soos wat dit onverdiend is dat hulle geprys word vir hul kinders wat ondanks haglike huislike omstandighede wel bo hul agtergrond en ouers se invloed uitgestyg het.

Le Roux maak van ’n indrukwekkende lys bronne gebruik en het duidelik baie navorsing gedoen, al was dit vanuit sy studeerkamer. Sy bronne is wyd en betroubaar, maar hy maak oorwegend van sekondêre bronne gebruik. Nie dat daar fout mee is nie, want so verskaf hy ’n magdom inligting oor kinders wat byna as ’n soort handboek vir bekommerde ouers kan dien.

Hy slaag egter daarin om die boek nie te akademies te laat klink nie, hoewel ek meer dialoog sou verwelkom het. Hy haal baie oorsese kenners aan, maar mens sou ook graag meer onderhoude met ons eie kenners, soos forensiese sielkundiges wat sielkundige verslae oor Suid-Afrikaanse jong moordenaars opgestel het, wou lees. Toeganklike mense soos Henk Swanepoel, wat al menige sielkundige verslag vir die verhore van jong Suid-Afrikaanse moordenaars opgestel het, sou dalk meer lig op die Suid-Afrikaanse perspektief kon gewerp het.

Deur meer dialoog in die manuskrip in te werk sou die skrywer ook meer emosies kon weergegee het.

Hy haal wel baie vir Sue Klebold, ma van die berugte Columbine-skoolskieter Dylan Klebold, aan wat self ’n boek geskryf het, maar meer direkte onderhoude met die geliefdes van jong Suid-Afrikaanse moordenaars sou mens dalk ook meer insig en selfs simpatie/empatie gegee het vir die familielede wat deur die gemeenskap verkwalik en verwerp word. Hulle is verpletterde mense.

Die boek se struktuur maak sin en is netjies, leesbaar en logies in verskillende afdelings ingedeel sodat die leser vinnig kan naslaan. Dit behoort die meeste kwelvrae te beantwoord.

Ondanks al die navorsing wat die potensiaal het om met ’n lekkerleeservaring in te meng, lees die boek maklik en lekker, met sinne soos "Moord begin in die kind se huis" en oorsake wat tot "die perfekte storm" lei wat mens bybly.

Die skrywer se skryfstyl is in die toeganklike trant eie aan dié van ’n ervare joernalis, met goeie taalgebruik.

Le Roux draai mites nek om, soos dat kinders wat moor, ’n eietydse probleem is. Wreedheid, blyk dit, word nie deur jeugdigheid of tydperke in ons geskiedenis beperk nie. Die mens was nog altyd wreed. Kinders ook. En soms veral kinders. Al eeue lank. Jong kinders kan selfs reeksmoordenaars wees. Hy gebruik goeie en verontrustende voorbeelde, soos dié van ’n tienjarige wat ’n tweejarige vermoor het (daar was 10 skedelbreuke en 42 beserings). Ander moeilik verteerbare inligting is die storie oor die driejarige seuntjie wat deur ’n tiener in die bad verdrink is. Nie lekker leesstof nie, maar die tragiese waarheid. Sulke dinge gebeur. Ongelukkig.

Die inligting oor hoe die kinders in verskeie lande en state van Amerika gestraf is, is ook interessant. Party is soos volwassenes verhoor, ander was te jonk om toerekeningsvatbaar geag te word, en party het, afhangend van die tydperk of land, gevangenisstraf gekry.

Le Roux plaas hierdie gegewens in perspektief. Dis nie ’n "nuwe" verskynsel te wyte aan gewelddadige sosiale media en videospeletjies nie. Anders het dit gewemel van kindermoordenaars.

Melding word van die woord "pseudopsigopaat" gemaak. Forensiese sielkundige Henk Swanepoel beskryf die pseudopsigopaat-sindroom soos volg: Sy gedrag behels emosionele uitbarstings, sosiale onstabiliteit, af en toe aggressie, kognitiewe probleme, en gedrag waar daar geen kommer oor die gevolge is nie. Hy sê hierdie pseudopsigopaat-fenomeen word meestal deur alkoholverbruik veroorsaak – selfs in klein hoeveelhede. Gewoonlik is die gedrag so sporadies dat dit nie in ’n pasiënt opgemerk word nie. Bestaan daar werklik so iets? Sover ek weet, is mens óf ’n psigopaat óf jy is nie. Is dit iets waarmee sielkundiges saamstem, of spot die skrywer maar net? Ek sou graag meer oor hierdie term wil weet.

Hy skryf ook dat ’n distriksgeneesheer (sy naam word nie genoem nie) in Angelique Orsö se saak getuig het. "Sy het ’n intense uitdrukking op haar gesig gehad, veral in haar oë. Dit was asof haar oë gebrand het; die pupille het ’n mens deurboor."

Oeps, dit klink na fiksie, maar dis darem nie Le Roux se eie woorde nie.

Le Roux kon dalk meer klem op dwelms gelê het, hoewel hy dit wel noem. Dwelms is vandag een van die grootste oorsake van misdaad – selfs by plaasmoorde.

Ek is net verlig dat alles nie aan satanisme toegeskryf is nie, want dit is vir talle maklik om die duiwel agter elke bos te soek. Hy kry heeltemal te veel erkenning as dit by mense se grudade kom. Die skrywer doen dit gelukkig nie, al was dit ’n paar jaar gelede hoogmode. Die duiwel het klaarblyklik intussen sy horings opgehang!

Die skrywer skryf soms ietwat sarkasties oor Kobus Jonker wat in die verlede geweldige mediadekking en ’n groot aanhang gehad het en as ’n kenner op die gebied van satanisme beskou is wat uiteraard met misdaad verbind word. Dalk kon hy ’n kort onderhoud met hom gevoer het, al het hy duidelik nie ooghare vir Jonker nie, wie se aansprake hy trouens "bisar" noem. Wat sou Jonker egter sê oor ander sielkundige oorsake soos paranoïede skisofrenie sou hy hom daaroor pols? Het hy (Jonker) intussen van mening verander?

Soos reeds gesê, sou meer dialoog ook verwelkom gewees het, soos dié waar aan die kind gesê word: "Jy is die man van die huis" en hy antwoord: "Fokof, ek is 6." Sulke dialoog vertel baie oor die kind wat nie veronderstel is om sulke woorde te ken nie. En oor die gekwelde kind se psige.

Wat ek verwelkom, is dat le Roux die pa se aandeel in die kind se gedrag ten opsigte van leefstylgewoontes uitlig. Almal dink mos dis reg as net die swanger ma ophou rook en drink. Maar die pa moet hom ook voor bevrugting inhou. Ma's wat op hierdie gebiede sondig, se babas word met meer testosteroon gebore en is dus aggressiewer! Dis nie iets wat almal weet nie.

Hongersnood en fetale alkoholsindroom kan ook indirek tot misdaad lei. En kinders op die outistiese spektrum en met Aspergersindroom word nie outomaties met misdaad verbind nie. Le Roux skiet mites af en maak mense se koppe oop.

Psigopatie is altyd ’n veelbesproke onderwerp, en Le Roux beskryf dit ook deeglik. Hy skroom nie weg van die woord "psigopaat" nie, terwyl talle verkies om rondom hierdie woord te trippel en eerder die meer polities korrekte woord "sosiopaat" te gebruik.

Daar is ook ’n goeie verduideliking van skade aan die "prefrontale korteks" wat een van die oorsake van gewelddadige gedrag kan wees. Iets waarna dalk te min met versagtende omstandighede tydens hofuitsprake gekyk word.

Le Roux bly objektief as hy oor teenstrydige studies berig en oor die aanvaarde feit dat hierdie moorde nie noodwendig verband hou met geweld op TV of gewelddadige videospeletjies nie. Kinders moor al honderde jare lank. Lank voor die era van sosiale media. Die eerste skoolskietery het immers reeds in 1764 in Pennsilvanië plaasgevind.

Gelukkig is alles, aldus die boek, nie verlore nie en word hoop ook uitgespel, soos die goeie nuus dat tieners se breinplastisiteit veroorsaak dat hulle makliker gerehabiliteer word as volwassenes. Mens kan dus versigtig optimisties wees oor party jongmense se rehabilitasie. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is die storie oor die aangenome Schalk (sy verhaal word ook in Sielsiek, wat ek saam met Henk Swanepoel geskryf het, vertel), na wie die skrywer ook verwys, wat albei sy aptekerouers wreed vermoor het. Toe ons hom drie jaar gelede in die gevangenis besoek het, was sy vonnis drasties opgeskort en het hy jare voordat hy vrygelaat is, parool gekry en nog nie weer ’n voet skeefgesit nie. Hy het kursusse in die tronk gevolg en die dwelms gelos. (Weer eens kan dwelms eintlik nie genoeg benadruk word nie.)

Dit is ook belangrik om, indien moontlik, bygewerkte nuus oor hierdie ware lewenskarakters in die onderwêreld te probeer kry, wat die skryfproses ongelukkig nog moeiliker maak. Maar lesers vra vrae. So het geskryf dat die berugte kindermoordenaar Mary Bell na haar vrylating ’n nuwe identiteit gekry het en self ’n ma geword het.

Die boek kan ’n wye mark bereik – onder andere ouers, misdaadkenners, opvoedkundiges, sielkundiges en kriminoloë. Ek het baie daaruit geleer en ek is daarvan oortuig ouers kan dit vir naslaandoeleindes gebruik. Dosente kan gerus aanbeveel dat kriminologie- en sielkundestudente dit lees.

Le Roux lewer kritiek waar hy dit nodig ag. Sy boodskap is hard en duidelik: Mens kan nie bloot verregaande aannames maak en wegholgedagtes oor jong moordenaars, skoolskieters en satanisme kry nie. Die saak is veel verwikkelder. Deurslaggewend vir diegene met slegte kinderjare wat nié gemoor het nie, is die sielkundige samestelling van die individu. Karakter.

En om tot hierdie slotsom te kom is verantwoordelike joernalistiek/niefiksie.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: André le Roux oor Kinders wat moor: Wie se skuld is dit?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top