Skrywersonderhoud: André le Roux oor Kinders wat moor: Wie se skuld is dit?

  • 1

Kinders wat moor: Wie se skuld is dit?
André le Roux

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089421

Wat dryf ’n kind om moord te pleeg? ’n Skynbaar normale kind uit ’n “goeie” huis ... Henri van Breda, die Welkom-begraafplaasmoord, Marcel Steyn en soveel ander. André le Roux kyk na die kínd agter dié opspraakwekkende moorde en soek na ’n antwoord aan die hand van gevallestudies en die jongste navorsing. Wat gaan aan in ’n kind se kop van geboorte tot adolessensie? Wat is die rol van gene, ouers, sosiale media, die internet, videogeweld, boelies, portuurdruk, stres en dagga?

Remona Voges het met André le Roux gesels.

André le Roux (foto: NB Uitgewers)

Baie geluk met jou nuwe boek, Kinders wat moor: Wie se skuld is dit?, André! Kinders wat moor is nie jou eerste niefiksiewerk nie. Jy het oa in 2017 ook Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste gepubliseer. Het jou belangstelling in kinders wat moor gedeeltelik uit hierdie navorsing gespruit? Of hoe het jy juis op dié onderwerp besluit?

Net so. Narsiste was ’n soort “grootmensboek”. Kinders het nie lekker ingepas nie, en daar was soveel inligting dat dit ’n boek op sy eie geregverdig het. Dit spruit uit die ondenkbare, dat ook kinders tot moord in staat is, so jonk soos agt, tien jaar oud. Die vraag wat ek wou beantwoord, en waaroor die boek eintlik gaan, is die subtitel: “Wie se skuld is dit?”

Vingers word dadelik na die ouers gewys, veral die ma: “Jy’t jou kind nie reg grootgemaak nie …” Is só ’n beskuldiging geregverdig?

Wanneer ouers sê nee, ek het nie my kind so grootgemaak nie, ek kén my kind, is hulle na alle waarskynlikheid reg. Maar hulle ken hul kind soos hy by die huis is, nie soos hy tussen sy maats is nie. Die kind by die huis en die een op die speelgrond is nie dieselfde kind nie.

En sou jy sê dat daar baie raakpunte in jou navorsing was wat betref die tematiek van die twee publikasies? Vul dit met ander woorde mekaar in ’n mate aan?

Ja, ek dink so. Maar kinders is nie klein grootmense nie. Hulle is kinders. Ek haal een kenner aan wat sê kinders probeer nie om suksesvolle grootmense te wees nie, hulle wil suksesvolle kinders wees. Maw, suksesvol tussen hul maats. Hulle ding immers met hul maats mee vir alles in die lewe, van ’n goeie werk tot ’n goeie salaris tot vriende en seks.

’n Groot aantal gevallestudies oor kinders wat moor word in jou boek onder die loep geneem. Dit is uit die staanspoor ’n ontstellende onderwerp. Was dit vir jou moeilik om die boek te skryf? Watter stories het vir jou uitgestaan?

Nie moeilik nie. Kinders se "stories" en wat in hul kop aangaan, is fassinerend. Eintlik staan elke kind se storie uit, veral die onverstaanbaarheid daarvan, die hoekom. Daar was klein Mary Bell (11) wat in 1968 twee seuntjies in Engeland doodgemaak het. Agterna het sy na die een seuntjie se huis gegaan en gevra om hom te sien. Die seuntjie se ma het geantwoord: "Maar hy’s dood, my skattebol." Met ’n giggel het Mary gesê: "O, ek wéét hy’s dood. Ek wil hom in sy kis sien."

Klein Amarjeet Sada het drie babas oor ’n tydperk doodgemaak, die jongste reeksmoordenaar wat ek kon opspoor. Hy was agt. Toe hy gekonfronteer word, het hy bloot gevra: "Kan ek nog ’n koekie kry?" Hy’t nie ophou glimlag nie.

Plaaslik was daar "interessante" moordenaars soos Don Steenkamp van Griekwastad (onverklaarbaar), die Waterkloof-4 (verwaande, arrogante, narsistiese rykmanskinders wat nie ’n man in ’n park sou doodskop as elk op sy eie was nie), Marcel Steyn van Krugersdorp wat te midde van die een moord ná die ander 6 A’s in matriek gekry het  (psigopate kan dit doen).

Die res is te veel om op te noem.

Marcel Steyn, een van die berugte Krugersdorp-moordenaars (foto: YouTube)

In jou boek word daar uiteraard klem op ouerskap gelê. Hoe gebeur dit dat iemand se kind tot iets soos moord in staat is? En hoe hanteer ouers wat in so ’n ondenkbare situasie gedompel word dit? Bied die boek moontlike antwoorde op sulke ouers se vrae?

Dis presies hierdie soort vrae wat ek probeer beantwoord. En dis nogals ’n lang antwoord wat begin by sogenaamde gehegtheid tussen ouer en kind, en wat dan als kan skeefloop in ’n kind se lewe.

Die ding is: Moord begin by die huis …

Dit is baie duidelik uit die bronnelys dat jy omvattende navorsing gedoen het.  Hoe het jy die navorsingsproses aangepak? Dit is natuurlik ’n baie sensitiewe onderwerp. Was mense gewillig om met jou te praat?

Ek het net geskrewe bronne – koerante, tydskrifte, boeke, die internet – gebruik. Mense se eie waarnemings is dikwels oningelig. Ek het dan elke gevallestudie soos ’n aparte storie aangepak waarvan ek die legkaartstukke uit verskillende bronne inmekaar gepas het. Al is dit niefiksie moet jy nog altyd vir die leser ’n storie vertel – begin, middel, einde.

Daar is baie mense wat met probleemkinders sit. Maar nie alle kinders is noodwendig tot moord in staat nie. Is dit geldig om te vra of ouers op die uitkyk behoort te wees vir gevaartekens by hul kinders? En indien wel, watter gedrag behoort ouers as rooi ligte te beskou?

Ja, die gevaartekens is daar, maar dikwels sien niemand dit raak nie, byvoorbeeld die kind met geestesprobleme, met sosiale probleme, probleme met aggressie (dink aan Xander Bylsma van die Stella-koshuismoorde). En dwelms en adolessente gaan nie goed saam nie. Onthou ook, kinders is goed daarmee om private lewens te lei waarvan hul ouers niks weet nie.

Dan kom die skok.

Watter rol speel die internet en die blootstelling aan gewelddadige videospeletjies en kykmateriaal in die psige van ’n kind? Het dit deesdae te maklik geword vir kinders om toegang tot hierdie tipe kykstof te kry?

Die internet en videospeletjies kry die skuld vir baie dinge, en daar is ’n magdom (teenstrydige) navorsing hieroor beskikbaar. My slotsom in die boek is: Los die kind, of speel saam.

Stories in die media waar kinders betrokke is by moordsake, gryp altyd die publiek se verbeelding aan. My raaiskoot is dat dit so is juis omdat kinders die versinnebeelding van onskuld is. Kan jy hierop uitbrei?

Kortom: Kinders is nie onskuldige bloedjies nie, al wil ouers dit graag glo. Maar die oorgrote meerderheid van kinders "kom reg"; hulle word goeie grootmense. Dis die kinders met gedragsprobleme wat uitstaan, en hulle staan uit juis omdat daar uiteindelik so min van hulle is.

Jy skryf nie net oor Suid-Afrikaanse kinders wat in moordsake betrokke was nie. Hoe het jy te werk gegaan wat betref die seleksie van gevalle waaroor jy geskryf het?

Ek het gevalle gekies wat vir my "interessant" was, en uiteraard daardie gevalle wat bepaalde punte of teorieë staaf.

As mens na die statistieke kyk: Hoe vergelyk die getalle kinders wat moor in Suid-Afrika met dié van ander lande?

Kinders is maar oral dieselfde en hulle moor oral dieselfde. ’n Gemene deler is byvoorbeeld waar vuurwapens beskikbaar is (en daar sal altyd kombuismesse beskikbaar wees). Maar ons het gelukkig min skoolskieters, waarvan Amerika ’n oorvloed het. Ons het wel ’n "unieke" soort skoolskieter wat Amerika nie het nie: bendelede wat rondom skole op die Kaapse Vlakte skiet en kinders in die spervuur sit.

Waarmee is jy tans besig? Is daar nog ’n boek op die horison?

Ons is nie almal mal nie. Skisofrenie, bipolariteit en die siektefikasie, van jou gees. (Sielkundiges gaan waarskynlik nie van die boek hou nie.)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top