Regisseur: Thomas Vinterberg
Spelers: Carey Mulligan, Matthias Schoenaerts, Michael Sheen, Tom Sturridge
Charlotte Brontë se Jane Eyre (1847) was nog altyd die model van Victoriaanse vrouekarakters: sterk, onafhanklik en beginselvas. In onlangse jare het verskeie rolprentweergawes van die boek haar ook as filmheldin gevestig. Ontmoet nou Thomas Hardy se Bathsheba Everdene in Far from the madding crowd (in 1874 as boek gepubliseer), ook sterk en onafhanklik, maar nie heeltemal so beginselvas nie.
Bathsheba (gespeel deur Carey Mulligan) is ’n jong weesmeisie wat by haar tante op die Engelse platteland kom woon. Sy ontmoet die buurman, Gabriel Oak (Matthias Schoenaerts), ’n skaapboer wat gou deur die skone Bathsheba bekoor word en haar vra om te trou. Sy vind hom te eenvoudig en verklaar dat sy haar nie aan ’n man wil verbind nie. Hulle paaie skei, maar kruis kort daarna weer toe Bathsheba haar ouers se plaas uit haar oom se boedel erf. Deur ongelukkige omstandighede is Gabriel nou brandarm. Hy het sy hele skaaptrop en sy plaas verloor, en hy word noodgedwonge ’n skaapwagter op Bathsheba se plaas. Sy is vasberade om vrou-alleen die boerdery te bestuur, maar mettertyd word hy haar steunpilaar.
Koppig en eiewys soos sy is, begewe sy haar egter in ’n dwase huwelik met Frank Troy (Tom Sturridge), ’n soldaat, dobbelaar en ook pa van ’n diensmeisie se ongebore kind. Op die kantlyn is daar nog die ouer, ryk wewenaar William Boldwood (Michael Sheen), wat heeltyd gehoop het om Bathsheba as vrou te kry. Hiervan kan mos net trane en moeilikheid kom, soos die weë van die liefde nou maar eenmaal is.
Carey Mulligan dra haar karakter met sprankeling en flair, maar speel die eiesinnige Bathsheba dalk net ’n bietjie te liefies. Soos haar Bybelse naamgenoot is Bathsheba deeglik bewus van haar skoonheid en die mag wat dit haar oor mans gee, maar dit slaan net af en toe op ’n amper onnatuurlike manier deur – ’n mens sou graag ’n ronder, meer geskakeerde karakter wou sien.
Nietemin is hierdie ’n pragtige, stemmingsvolle fliek wat die meeste kykers sal meevoer, met die soetste temalied wat agterna nog lank bly draal.
Sterre: 3½


