Resensie: As if born to you deur Susan Newham-Blake

  • 0

As if born to you
Susan Newham-Blake

Uitgewer: Penguin 
ISBN: 9781485903147

Die 13-jarige swart meisie, Zuri, is in ’n baie goeie skool, maar begin haarself sny. Haar wit enkel-aanneem-ma, Helen, klop by die kliniese sielkundige, Ana, aan omdat sy bang is haar dogter het selfdoodneigings. Helen is egter nie heeltemal openhartig met Ana oor waar Zuri vandaan kom of wat sy vermoed kan verkeerd wees met haar nie, en boonop steek Zuri ook iets weg. Dit begin vir Ana voel asof die terapie net almal se tyd mors en frustrasievlakke die hoogte instuur.

In parallelle lyne word die leser terselfdertyd al meer betrek by Ana, ’n suksesvolle beroepsvrou, maar volslae alkoholis, se diep put van alkoholisme, vrees en magteloosheid om haar pasiënte te help. Sy is alleen en haar persoonlike lewe ’n ramp.

Ana dra ’n diep seer van haar eie kinderdae saam en die leser kry met alternatiewe hoofstukke al meer insae daarin. ’n Inslaap-huishulp en haar seun uit Ana se klein-dogtertjie-dae is in diepe misterie gehul vir die grootste deel van die boek, maar dat hulle ’n beduidende uitwerking op die jong Ana gehad het, is gewis.

Die moeilike verhouding tussen ma en dogter is ook nie vir Ana onbekend nie. Vanuit hierdie ervaring van haar kan sy Helen gereeld troos dat Zuri nie noodwendig rebelleer omdat sy aangeneem is nie, maar bloot omdat sy ’n tiener is.

Helen lyk op die oog af soos die ideale ma. Sy is baie lief vir haar aangenome dogter en moederskap is vir haar ’n droom wat waar geword het. Sy wil net die beste vir haar kind hê. Die ma-dogter-verhouding is vir etlike jare idillies, tot iets gebeur. Helen is nie bewus van wat dié ingrypende gebeurtenis kan wees nie en staan waarlik hulpeloos as toeskouer en kyk hoe die tragiese selfkastyding van Zuri voortduur.

Stelselmatig val die legkaartstukke van Zuri en Helen se paadjies in posisie; ook Zuri se biologiese ma word deel van die narratief en die onthulling teen die einde, baie meer onverwags as wat ek sou kon geraai het.

Die skrywer se kennis van seerkry, ou wonde en haar meesterlike vernuf om met min woorde die karakters lewe te gee maak hierdie boek ’n leesvreugde.

Ek het jare gelede die voorreg gehad om met haar ’n onderhoud te doen toe sy en haar lewensmaat, Roxi, deur die pynlike proses gegaan het om as lesbiese paartjie ’n baba deur skenkerinseminasie te hê. Hul smagting na ’n kind só tasbaar in haar memoires, Making Finn.

In ’n onderhoud verlede jaar op LitNet vertel Susan dat sy ook ’n baba aangeneem het en dus vanuit daardie perspektief kon skryf oor hoe die ma van die aangenome Zuri moes gevoel het.

Die boek se rou emosie het my soms magteloos gelaat oor hoe weerloos ons is; hoe ons kinderdae ons vir die res van ons lewens kan jaag; kan verhoed om geluk te vind; te vertrou en waarlik te leef.

Die smagting na ’n kind by sommige en die argelose onbetrokkenheid by ouers wat wel kinders het, staan in skerp kontras hier. Op minder ander onderwerpe is die skreiende onregverdigheid van die lewe so duidelik soos ouerskap en kinders wat nie gevra het om gebore te word nie, maar tog die juk daarvan moet dra.

Smagting is vir my ’n deurgaanse tema hier: smagting na aanvaarding; smagting na ’n kind; smagting na vergifnis. Dit word baie goed deur Susan vertel.

Die enigste kritiek wat ek teen die boek het, is die staccato einde. Dis asof die skrywer moeg geword het vir haar storie en karakters en dit alles so gou moontlik wou beëindig. Die ontknoping en laat gaan van ’n lewenslange seer minder as ’n bladsy en ’n half. Ek het gewonder of my kopie bladsye skort,  want dié beskrywing – waarop die hele boek rus – was hopeloos te kripties en gestroop van die emosie wat die res van die boek gekenmerk het. Die boksie Smarties ook net te gerieflik in haar handsak, terwyl die ander – minstens 20 – netjies by die huis in ’n kas gerangskik is. Die laaste hoofstuk doen regtig afbreuk aan die boek. Dit kon gebaat het by oordenking en insig.

Lees ook:

As if born to you: An interview with Susan Newham-Blake

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top