
Jonathan Larson se legendariese rockmusiekblyspel vier vanjaar sy 20ste verjaardag. Die stuk was vir 12 jaar op Broadway en het verskeie toekennings ingepalm, waaronder vier Tony’s, ses Drama Desk-toekennings en die Pulitzerprys. Dis ook in ’n film omskep, in 2005.
Rent is ’n binnekyk na ’n groep jong vriende en hul ontberinge om as kunstenaars te oorleef in New York se East Village in die dae van Boheemse oordadigheid. Armoede, verslawing, politieke onrus, aanvaarding, sosiale spanning en MIV/Vigs is die sentrale temas.
Soos hulle deur al hierdie struikelblokke worstel, kom daar geleidelik by elkeen ’n gewaarwording oor wat die belangrikste in die lewe is. Die stuk is geïnspireer deur Puccini se klassieke opera La bohème en Rent se musiek en lirieke sluit onder meer die hoendervleisvertolkings van Seasons of love, Take me or leave me en La vie bohème in.
Dit maak nie saak hoeveel jy oplees oor die toneelstuk of hoe goed jy die liedjies ken nie, dis eers wanneer jy daar in die donker teater sit dat jy opnuut getref word deur die boodskap en die tragedie van mense se afkeer en oordeel en die feit dat ’n siekte wat skaars 20 jaar later medies behandelbaar is, mense se lewens vernietig het.
Die intimiteit van die venue laat jou amper deel word van die stuk. Die akteurs is só naby aan jou dat hulle jou soms in die oë kyk. Dit voel asof hulle jou sieninge uitdaag; jou half dwing om jou eie oorwegings en kritiek en oordeel te heroorweeg. Die kreet dat jy tot in hul siel moet kyk na die mens wat daarbinne skuil, ongeag sy seksuele oriëntasie, gewoontes of kleredrag.
Dis nie die kwessies van ’n vorige era nie; dis die kwessies van nou, meer as ooit tevore. Dis die kwessies wat ’n samelewing moet absorbeer, maar verkies om te kritiseer en af te maak. Dis kwessies waar mense wat effe uit die norm – al is ons nie seker presies wie se norm nie – leef, verneder of aangestaar moet word. Dat my gay vriende in hierdie era langs my in die teater steeds nie die vrymoedigheid voel om hande in die publiek vas te hou nie, die oordeel van ’n kleindorpiementaliteit nooit ver uit hul gedagtes nie.
Met die pouse staan ek in ’n lang tou by die kleedkamer. Die teatergangers is nie jou gewone teatergangers nie. Die kleredrag en houdings is ’n duidelike aanduiding dat die toneelstuk se boodskap ’n spesifieke persoon trek. Vrydenkers, slagoffers, bevrydes.
Ons glo dat ons in 2017, veral in ’n stad soos Kaapstad, so verlig en verdraagsaam is, maar baie van dit is ’n rookskerm. Ons besef dat kritiek tog vlak sit; nog vlakker as die onbegrip van ander se lewensreis.
In Larson se stuk bring die viering van vriendskap en kreatiwiteit die boodskap van vreugde en hoop, al staar vrees jou in die gesig. Dis jammer dat Larson nooit die impak van sy stuk op die wêreld kon ervaar het nie. Hy is die aand voor die Off-Broadway-première oorlede. Hy sou trots gewees het as hy kon sien hoeveel verharde harte hy kan sag maak en hoeveel insig in daardie 2 uur en 45 minute kom.
Die akteurs is veelsydig, entoesiasties, jonk. Die rolverdeling sluit jong professionele kunstenaars aan die begin van hul loopbane in, afgestudeerdes van die Universiteite van Kaapstad, Pretoria, Stellenbosch, AFDA en die Waterfront Theatre School.
Dis verfrissend om ’n groep te sien wat met soveel oorgawe sing, dans, klouter en hulself inleef. Ek is opgewonde oor die toekoms van teater met hierdie jong bloed.
Hoewel die produksie in sy geheel lof verdien, is daar tog skittervertonings deur Nadine Suliaman (Mimi Marquez), Namisa Mdlalose (Joanne Jefferson) en Roger Davis (Gustav Smit). Maar die ster wat die helderste brand, is dié van Anzio September wat die rol van Angel Schunard speel. Angel is ’n fopdosser en die hart van die hele vriendekring. Sy dood bring die groep tot heroorweging en insig.
Dis lank nadat ek uit die teater uitgestap het dat die woorde van Seasons of love wat vra hoe meet jy die 525 600 minute in elke jaar – in koppies koffie, in sonsondergange, in lag of middernagte … en die pleidooi dat jy dit in liefde moet meet, my nog bybly. Dit is al wat daar is: liefde. En as jy dit vermag, kom die verdraagsaamheid en begrip vanself.
Rent
Met: Dean de Klerk, Neil van Bergen, Arlin Bantam, Matthew Kriel, Anzio September, Nadine Suliaman, Emily Adair, Namisa Mdlalose
Deur: Jonathan Larson
Regie: Byron Bure
Musikale regisseur: Jaco Griessel
Choreografie: Shona Brabant
Kunstekaap Arena en Joburg Theatre
Tot 25 Februarie in Kaapstad; dan 28 April tot 7 Mei in Johannesburg
Kaartjies deur Computicket.

