Regstelling is belangrik, maar ras behoort nie die maatstaf te wees nie

  • 0

Glen Snyman het in 2020 die ervaring gehad dat hy deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement daarvan aangekla is dat hy die departement bedrieg het deur sy ras as “African” (of Afrikaan) aan te dui, terwyl dié oudonderwyser op die departement se rekords as “Kleurling” (of “Coloured”) aangeteken is.

Dié ongekende stap het vir massamedia-aandag gesorg (plaaslik én internasionaal) vir Snyman en People Against Race Classification (PARC) – die organisasie wat hy tien jaar tevore in die lewe geroep het om die regering aan te moedig om weg te doen met die gebruik van “rasblokkies” op amptelike vorms. Die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 is immers al in 1991 afgeskaf, hou die organisasie voor.

Hierdie argument is ook die kern van Hermann Pretorius van die Instituut vir Rasseverhoudinge s’n in sy openbare gesprek met die FW de Klerk-stigting se hoof, Christo van der Rheede, oor ras en regstelling. Van der Rheede, sélf gekant teen die voortgesette gebruik van raskategorieë, meen wel ras is steeds funksioneel, maar slegs vir die doel van die regstelling van die rassediskriminasie van die verlede.

In daardie geval, kap Pretorius terug, beteken dit dat as jy nou weer wil “diskrimineer” op grond van ras – weliswaar met ander bedoelings as voor 1994 – moet jy ook weer mense (wetlik) in raskategorieë “klassifiseer”, terwyl die 1950-wet geskrap is.

Wat sê Snyman hieroor? Sonder om spesifiek op enige van die twee gespreksgenote te reageer, stel hy dit duidelik dat regstelling wél moet plaasvind, maar “jy hoef nie daarvoor teen ander mense te diskrimineer op grond van hul velkleur nie.” Die land het op só ’n wyse gevorder, sê hy, dat jy vandag sit met ’n nuwe generasie uit die geledere van die voorheen benadeeldes “wat geleenthede geniet; en dit is ook nie alle wit mense wat rykdom geërf het nie.”

Maar het hy dan nie tog ’n rassekategorie aanvaar toe hy homself die dag as “African” voorgedoen het op die onderwysdepartement se vorm nie? Nee, sê hy, dit was eerder ’n beginselbesluit wat PARC geneem het: Omdat die kategorie “African” (of swart) volgens die organisasie dié groep bevoordeel, wou hulle dié “diskriminerende” gebruik “ontwrig” deur self ook die “African”-blokkie te merk.

Armoedevlakke moet uiteindelik as maatstaf vir regstelling ingespan word, glo hy en PARC, want wat die slagoffers van apartheid verloor het, het hulle verarm. “Hulle het baie verloor ... hulle het baie verloor,” sê Snyman. “Hulle het geleenthede verloor. Hulle het hulle grond verloor. Hulle het hulle huise verloor.”

Maar daar is ’n ander gróót verlies, voeg hy by, wat nie alte gereeld genoem word in hierdie soort gesprekke nie – en waarvoor hy mense nie eintlik sien baklei nie. Dit is die verlies aan identiteit. “Want geen mens wat nie sy identiteit ken nie, kan ’n sukses wees in die samelewing nie. Jy weet nie wie jy is nie. Jy weet nie waantoe jy op pad is nie. Jy weet nie hoe om jou te gedra nie. Jy ken nie jou waardes nie. Dit is alles omdat jy nie jou identiteit ken nie.”

Maar mense het wel die volste reg om hulself te identifiseer, net soos wat hulle goed dink, antwoord hy op ’n vraag oor mense wat tog verkies om hulself “Coloured” te noem –  ten spyte daarvan dat PARC homself daarvoor beywer dat dié term gekriminaliseer moet word. Snyman, wat ook die stigter en leier van die Oudtshoorn Khoisan-groepering is, identifiseer as ’n “Khoi-persoon”. Dit is belyn met PARC se voorkeur vir ’n “kultuuridentiteit” eerder as ’n “rasidentiteit”, ’n ingesteldheid wat in dieselfde omtrek pas as die punt in Tessa Dooms en Lynsey Ebony Chutel se boek Coloured: How classification became culture.

Snyman het ’n broertjie dood aan leiers van politieke partye wat kiesers aanmoedig – en selfs opstook – om hulle as leiers en hul partye te ondersteun gebaseer op ras, maar dan kan hulle nie eens hulself óf hul volgelinge behoorlik identifiseer nie. Dit kom op oëverblindery of politieke uitbuiting neer, “want jou velkleur (of ras) pas nie in by [politieke] ideologie nie”.

Die land sal floreer wanneer elke landsburger wat behoeftig is en wil werk, geleenthede kry – en dit maak op geen manier minder van die ervaring van sekere mense aan die hand van die diskriminasie van die verlede nie. “Ons veg vir ’n beter toekoms en nie ’n beter verlede nie. So ons moet nou doen wat ons kan doen om die hede te verbeter, en dit is deur geleenthede te bied vir diegene wat geleenthede soek – en om weg te doen met die hand van diskriminasie teen sekere mense,” sê Snyman.

Regstelling aan voorheen benadeeldes word in elk geval ondermyn, dui Snyman aan, deurdat begunstigdes byvoorbeeld hul grond weer verkoop het en dan maar net weer met niks sit nie. Dit beteken dat hulle hulself uiteindelik dan weer agterstel of benadeel, meen hy.

Lees en kyk ook:

Wyngaard Weekliks: Regstelling is nodig, maar moet dit op grond van ras wees? 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top