Regsalmanak: Oor “bomme” en 'n armsalige goudvissie

  • 0

 

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.

 

Die wetgewer het in 1972 die Wet op Misdrywe teen Burgerlike Lugvaart[1] op die wetboek geplaas in 'n tyd toe terroriste wêreldwyd begin het om vliegtuie en hul passasiers te teiken. Artikel 2 van die wet het 'n reeks misdrywe – wat baie swaar gestraf kon word – omskryf. Iemand wat byvoorbeeld 'n bemanningslid van 'n vliegtuig in die uitvoering van sy pligte opsetlik belemmer het, of wat die veiligheid van 'n vliegtuig in gevaar gestel het, kon by skuldigbevinding ‘n tydperk van minstens vyf jaar – en tot soveel as 30 jaar! – agter tralies deurbring.

Die wet het dit ook 'n misdryf gemaak as iemand inligting sou oordra wetende dat dit vals is, en op dié manier die bedryf van 'n lugdiens of van 'n lughawe kon belemmer. Só 'n oortreding was strafbaar met tot 15 jaar gevangenisstraf, sonder die keuse van 'n boete.

'n Dienspligtige, ene mnr Bergman, was vir 'n paar dae huis toe in die Kaap, en sou op ‘n herfsoggend in 1982 per vliegtuig vanaf die Kaapstad-lughawe na sy basis in Port Elizabeth terugreis. Hy het sy bagasie laat inweeg en dié is in die vragruim van die vliegtuig opgeneem. Toe dit tyd word om te vertrek, het hy in die tou gaan staan om sy handbagasie aan die normale x-straalveiligheidsondersoek te laat onderwerp. Sy handbagasie het bestaan uit 'n kleinerige sak waarin onder meer 'n draagbare radio geberg was.

Ons vriend was in 'n goeie luim, en toe hy by die x-straalpunt kom, het hy na die sak gewys en vir die polisiesersant wat daar op diens was gesê: "Dit is die een waarin die bom is." Hy het dit as 'n grap bedoel en agterna daarop gewys dat hy dit selfs met 'n glimlag om die mondhoeke gesê het. Ongelukkig vir hom het die sersant nie sy glimlag gesien nie, want sy – ja, dit was 'n vrouesersant – het na die TV-monitor van die x-straalapparaat gekyk. En wat op die skerm verskyn het, het vir haar alles behalwe na grappies gelyk. Daar was iets wat soos plastiekplofstof gelyk het, asook 'n stuk elektriese kabel en iets wat gelyk het na 'n groterige metaalhouer.

Die sersant het kalmpies vir Bergman gevra om saam met haar na die aanklagkantoor te stap. Daar is sy handbagasie deurgesoek, maar geen bom is gevind nie. Versigtigheidshalwe het die polisie nie sy draagbare radio aangeskakel nie, en na oorlegpleging met 'n senior offisier is Bergman in hegtenis geneem en is sy bagasie van die vliegtuig afgehaal. Die vertrek van die vliegtuig na Port Elizabeth – sonder Bergman aan boord – is met sowat vyf minute vertraag.

Bergman is in die landdroshof van Bellville van 'n oortreding van die destydse Wet op Misdrywe teen Burgerlike Lugvaart aangekla. Die staat het aangevoer dat hy die artikel wat die oordra van valse inligting verbied, oortree het. Die landdros het hom skuldig bevind en tot nege maande gevangenisstraf, opgeskort vir drie jaar, gevonnis.

Bergman het teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer, maar die Kaapse hooggeregshof het beslis dat hoewel Bergman nie opsetlik valse inligting oorgedra het nie, hy uiters nalatig was toe hy die grap gemaak het.[2] En nalatigheid is voldoende om 'n persoon aan 'n oortreding van die besondere artikel van die wet skuldig te maak. Die hof het bevind dat die polisie nie 'n ander keuse gehad het as om sy storie ernstig op te neem en ten minste te ondersoek nie, en dit het die bedryf van die lughawe en van die betrokke lugdiens belemmer. Sy skuldigbevinding en vonnis is gevolglik deur die hooggeregshof bevestig.

Ene mnr Cassidy het dit gelukkiger getref. ‘n Paar jaar vantevore (dit was 1977) is hy onder dieselfde wet aangekla nadat ook hy speels verwys het na ‘n bom in bagasie, dié keer die handbagasie van ‘n vriendin wat op die Johannesburgse lughawe op die punt gestaan het om aan boord van ‘n vliegtuig na – wag daarvoor – wéér Port Elizabeth, te gaan. Die vriendin het haar handbagasie en ‘n glashouer waarin ‘n eensame goudvissie rondgeswem het, saamgepiekel Boeing toe. ‘n Rukkie vantevore, toe sy, Cassidy en ander vriende in die lughawe se kroeg ‘n paar afskeidsdrankies gedrink het, het hul bespiegel oor die lot van die goudvissie wanneer die vliegtuig sou opstyg. Iemand het hardop gewonder of die vissie nie in die proses sou “ontplof” nie, wat natuurlik louter nonsens is. Waarskynlik het dié opmerking egter in Cassidy se geheue vasgesteek, want toe hy by die uitgangshek sy vriendin gegroet het, het hy met ‘n breë glimlag teenoor ‘n lughawe-amptenaar opgemerk dat sy ‘n bom in haar handbagasie het. Niemand het hom ernstig opgeneem nie: die vriendin se handbagasie is nie ondersoek nie en die vliegtuig het normaalweg met haar en die goudvissie aan boord vertrek.

Cassidy se opmerking het egter die ore van ‘n toegewyde lughawepolisieman bereik en hy is oplaas in hegtenis geneem en onder die 1972-wet aangekla. Hy het skuld erken en is effektief tot ses maande gevangenisstraf gevonnis. (Vier jaar en ses maande van vyf jaar gevangenisstraf is vir ‘n tydperk opgeskort.)

Op appèl Bloemfontein toe het appèlregters Jansen, Trollip en Kotzé egter beslis dat Cassidy eintlik aan ‘n beuselagtigheid skuldig bevind is. Dit lyk asof die feit dat niemand hom ernstig aan Cassidy se grap gesteur het nie, ‘n belangrike oorweging was. Uiteindelik is sy skuldigbevinding gehandhaaf, maar sy vonnis is tot ‘n effektiewe gevangenisstraf van een week verminder. Gevangenisstraf van vier jaar en 51 weke is vir ‘n tydperk opgeskort.[3]

Wet 10 van 1972 is in 2009 herroep en met die omvangryke Civil Aviation Act[4] vervang. Hoofstuk 11 van dié wet is in wese ‘n herhaling van die omskrywing van die lys lugvaartverwante misdrywe en strawwe waarvoor die 1972-wet voorsiening gemaak het. Met die vergunning van ons borg, JutaLaw, druk ek die belangrike misdaadomskrywings van die 2009-wet hier onder af.[5] Let ook op die strafbepaling aan die einde: by skuldigbevinding is ‘n oortreder strafbaar met ‘n boete of gevangenisstraf van tot 30 jaar – of albei.

Hopelik het jy teen dié tyd al agtergekom dat ‘n lughawe deesdae nie die plek is vir ligsinnighede waarin woorde soos “bom”, ”explosive”, “kaap”, “hijack”, “ontplof”, “mes” – noem maar op – rondgeslinger word nie. Nog minder moet jy sulke speletjies aan boord ‘n vliegtuig speel en hoop dat jy daarmee sal wegkom. Vrind Jeffers het dít te laat besef; nie eens die appèlhof wou hom uit die tjoekie hou nie.[6]

***

[1] Wet 10, 1972. Ek verwys in die verlede tyd na dié wet, want dit is intussen vervang deur nuwe wetgewing, waarna ek aan die einde van hierdie teks kortliks sal verwys.

[2] S v Bergman 1984(1) SA 182 (KPA)

[3] S v Cassidy 1978 (1) SA 687 (A)

[4] Wet 13, 2009

[5] Civil Aviation Act 13 of 2009

CHAPTER 11 
133  Offences and penalties
A person who–
   (a)   on board any aircraft–
     (i)   by force or threat of force or by any other form of intimidation and without lawful reason seizes, or exercises control of, that aircraft;
    (ii)   commits an act of violence, including an assault or threat, whether of a physical or verbal nature, against any person, including a crew member, which is likely to endanger the safety of that aircraft; or
   (iii)   wilfully interferes with any member of the crew of that aircraft in the performance of his or her duties;
   (b)   wilfully destroys an aircraft in service or wilfully causes damage to such an aircraft, which renders it incapable of flight or causes damage to it, which is likely to endanger its safety;
   (c)   wilfully places on an aircraft in service, by any means whatsoever, a device or substance which is likely to destroy that aircraft or to cause damage to it, render it incapable of flight or endanger its safety;
   (d)   wilfully destroys or wilfully damages air navigation facilities or wilfully interferes with their operation, which interference is likely to endanger the safety of aircraft;
   (e)   communicates information which he or she knows to be false, thereby endangering the safety of an aircraft in service;
   (f)   places at or in any airport, heliport or air navigation facility any device or substance which is calculated to endanger, injure or kill any person, or to endanger, damage, destroy, disrupt, render useless or unserviceable or put out of action any property, vehicle, aircraft, building, equipment or air navigation facility or part thereof, thereby endangering safety at such airport, heliport or aviation navigation facility;
   (g)   with the intention to jeopardise the operation of an air carrier, the safety or security of an airport, heliport, aircraft in service, persons or property contaminates any aviation fuel;
   (h)   commits an act at an airport, which causes or is likely to cause serious injury or death;
   (i)   wilfully destroys or seriously damages the facilities of a designated or licensed airport or aircraft not in service located thereon or disrupts the services of the airport through the use of any device, substance or weapon which endangers or is likely to endanger security at that airport; or
   (j)   wilfully performs any other act which jeopardises or may jeopardise–
     (i)   the operation of an air carrier;
    (ii)   the safety of an airport, heliport, aircraft in service or of persons or property at such airport, heliport or of such aircraft, is guilty of an offence and liable on conviction to a fine or to imprisonment not exceeding 30 years or to both such fine and imprisonment.

[6] S v Jeffers, 1976(2) SA 636(A). Vgl my Regsalmanak-artikel van November 2012 oor hierdie saak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top