In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op 'n somersaand vroeg in die sewentigerjare het 'n Boeing 727 van die lughawe in Durban opgestyg onderweg na Johannesburg. Onder die 100 passasiers was 'n mnr Jeffers wat daardie dag 'n begrafnis in Durban bygewoon het en 'n bietjie vertroosting in alkohol gesoek het voordat hy aan boord gegaan het.
Die jeugdige Jeffers was 'n moeilike passasier. Aanvanklik het hy botweg geweier om sy sitplekgordel vas te gespe. Toe drankies na opstyging bedien is, het hy twee miniatuurbotteltjies wodka bestel, met water gemeng, en dit weggeslaan.
Toe was hy so dapper soos 'n leeu. Hy het die oulike waardinnetjie nadergeroep, en - soos in die rolprente – gefluister: "Miss, this is a hijack." Sy het kalmpies geantwoord "Rêrig?" waarop hy gevra het of sy weet wat 'n skaking is. Toe sy bevestigend antwoord, het hy haar opdrag gegee om die kaptein te loop sê dat hy na Lourenço Marques (deesdae Maputo) moes vlieg, anders sou hy - dis nou Jeffers - nie vir die gevolge verantwoordelik wees nie.
Die waardinnetjie het die boodskap aan die senior vlugkelner oorgedra, wat vir die kaptein gaan sê het. Die kaptein het die deur van die stuurkajuit gesluit en die owerheid per radio van die voorval in kennis gestel.
Jeffers was nie tevrede met die kalmte aan boord nie. Ongeveer agt minute na sy eerste dreigement het hy die waardinnetjie weer geroep en sy dreigement herhaal.
Kort daarna het die vliegtuig veilig in Johannesburg geland en die passasiers is versoek om in hul sitplekke te bly sit. Die polisie het aan boord gegaan, in die nou gangetjie afgestap, Jeffers uit sitplek nommer 18C gepluk en hom in hegtenis geneem.
Jeffers is daarna aangekla van 'n oortreding van die Wet op Misdrywe teen Burgerlike Lugvaart [1] deurdat hy hom opsetlik bemoei het met 'n bemanningslid van 'n vliegtuig wat besig was met die uitvoering van haar pligte. Dit was 'n wet wat in 1972 op die wetboek geplaas is om uitvoering in Suid-Afrika te gee aan die Konvensies van Tokio, Den Haag en Montreal oor die veiligheid van burgerlike lugvaart, veral vanweë die talle vliegtuigskakings wat destyds dwarsoor die wêreld voorgekom het.
Jeffers se verhoor was die eerste onder die nuwe wet. Regter-president Cilliers van die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof het hom skuldig bevind en tot gevangenisstraf van vyf jaar gevonnis. Twee jaar van die vonnis is voorwaardelik opgeskort.
Jeffers het na die appélhof in Bloemfontein geappelleer. Sy advokaat het aangevoer dat sy kliënt ten tye van die voorval onder die invloed van sterk drank was; dat hy die waardinnetjie maar net 'n bietjie geterg het; en dat hy hom bowendien nie fisies bemoei het met haar of enige van die ander bemanningslede in die uitvoering van hul pligte nie.
Al hierdie argumente het Jeffers niks gebaat nie. Die erns waarmee die hof sy misdryf bejeën het, blyk uit die volgende uittreksel uit appèlregter Holmes se uitspraak:[2] "An aircraft in flight is unique in that the crew are responsible for the safety and comfort of encapsulated passengers : nobody can get off in mid-air. This taut situation requires a sustained degree of discipline and concentration on the part of the crew, and a measure of responsible conduct on the part of the passengers."
Jeffers se appèl is gevolglik van die hand gewys. Sy pret van 45 minute daardie aand in die vliegtuig van Durban af het hom drie jaar agter die tralies gekos.
Terloops, die wet waaronder Jeffers skuldig bevind is, is intussen vervang deur die nog strenger en omvattender Wet op Burgerlike Lugvaart[3] wat op 31 Maart 2010 in werking getree het. As iemand hom aan Jeffers se soort oortreding skuldig sou maak – dws 'n handeling waardeur die veiligheid van 'n vliegtuig of sy bemanning of sy passasiers in gedrag gebring word - kan hy ingevolge die nuwe wet tot 'n boete of gevangenisstraf tot 'n maksimum van 30 jaar (of albei) gevonnis word.[4] Iemand wat op 'n vliegtuig rook, of met 'n rookverklikker peuter of 'n elektroniese apparaat gebruik op 'n tydstip wanneer dit nie gedoen mag word nie, kan ingevolge die nuwe wet tot 10 jaar gevangenisstraf of 'n boete, of beide, gevonnis word.[5]
[2] S v Jeffers 1976(2) SA 636(A) op 643 E-G
[3] Wet 13 van 2009
[4] Art 134
[5] Art 137
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

