Regsalmanak: Met die maan gepla

  • 0

Bron: flickriver.com

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op 12 Junie 1980 het regter Zietsman van die hooggeregshof op Kimberley 'n interessante uitspraak1 oor sogenaamde regterlike kennis gelewer. Ek sal aanstons verduidelik wat dit beteken.

'n Sekere Mpharu is van aanranding aangekla. Na sluiting van die staatsaak en tydens die saak vir die verdediging het Mpharu getuig dat dit die aand van die voorval feitlik donker was, omdat slegs 'n sekelmaan geskyn het. Tydens kruisverhoor het die staatsaanklaer dit aan Mpharu gestel dat hy 'n leuen oor die sekelmaan vertel het, want volgens die almanak was dit die aand volmaan. Die regter het die aanklaer onderbreek en gevra of hy geregtig was om so 'n stelling aan Mpharu te maak as die staat tydens die staatsaak nie die nodige bewys gelewer het dat dit volmaan was nie.

Die aanklaer het betoog dat die hof regterlik kennis kon neem van gestaltes van die maan soos dit op 'n almanak voorkom sonder dat sodanige getuienis aangebied is. Wat hy dus in wese betoog het, is dat die regter self 'n almanak by die datum van die voorval kon oopmaak, kon kyk of dit daardie aand volmaan was of nie, en dit as 'n tersaaklike feit in ag kon neem.

Nou wat is 'n regterlike kennisname?

Dit beteken doodeenvoudig dat die hof van sekere feite kennis neem sonder dat getuienis daaroor aangebied hoef te word. 'n Goeie voorbeeld is dat Kersdag elke jaar op 25 Desember val of dat Juniemaand net 30 dae het. Dit is so algemeen bekend dat dit nie bewys hoef te word nie. Die hof sal ook regterlik kennis neem van 'n feit wat nie algemeen bekend is nie, maar vinnig en akkuraat vasgestel kan word deur die raadpleging van 'n onberispelike bron – byvoorbeeld dat Kersdag 1997 volgens 1997 se almanak op 'n Donderdag geval het.

'n Regterlike amptenaar moet egter daarteen waak dat hy regterlik kennis neem van 'n feit wat binne sý persoonlike kennis val, maar nie noodwendig algemeen bekend is nie. So is 'n regter al oor die kole gehaal nadat hy, sonder getuienis, aangeneem het dat 'n swart man in die donker makliker 'n bekende sou herken as wat 'n blanke dit sou kon doen.2 In 'n ander saak is 'n regterlike amptenaar wat die stelling gemaak het dat kleurlinge en swart mans mekaar soms sonder enige rede met messe steek, sonder dat daar getuienis oor dié aspek gelewer is, deur die appèlhof gerepudieer.

Daar is 'n hele lysie voorbeelde van die soorte feite waarvan ons howe al regterlik kennis geneem het. Ek noem 'n paar: dat brandsiekte 'n bekende kwaal by skape is; dat renosters skaarser as olifante is; dat geen twee vingerafdrukke identies is nie; dat Suid-Afrika 'n netwerk van nasionale paaie het; en dat kondensmelk gepreserveerde voedsel is.

'n Ander interessantheid is die reëling wat die Strafproseswet tref met betrekking tot getuienis van sonsopkoms en sonsondergang. Die minister van justisie word naamlik gemagtig om tabelle goed te keur wat deur 'n amptelike sterrewag in die Republiek opgestel is van die tye van sonsopkoms en -ondergang. As dit in 'n strafsaak belangrik sou wees om te weet presies wanneer die son op 'n bepaalde dag en op 'n bepaalde plek in die Republiek opgekom het, kan die gegewens van so 'n goedgekeurde sterrewagtabel sonder verdere bewys by die hof ingedien word.

Maar terug na Mpharu se saak waarmee ek begin het: na oorweging was regter Zietsman bereid om te aanvaar dat hy regterlik kennis kon neem van die stand van die maan op die aand van die voorval deur bloot na die almanak te kyk. Hoe dit die saak teen Mpharu geraak het, lees ons ongelukkig nie in die hofverslag nie, maar dit lyk nie of dit juis in sy guns kon getel het nie.

1  S v Mpharu en 'n Ander 1981(2) SA 464 (NKA)

2  Dié en al die ander voorbeelde wat in die praatjie gebruik is, is geneem uit Hoffmann, South African Law of Evidence, 3de uitgawe, 415 ev.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top