Woordfees-gas – Wie is Kees ’t Hart?

  • 0

Kees ’t Hart (1944) is in Den Haag, Nederland gebore. Hy is ’n literêre “alleskunner”. Dit kan mens aflei uit sy uiteenlopende oeuvre. Vier-en-twintig jaar gelede debuteer hy met Vitrines, ’n bundel kortverhale. Daarna volg ook romans, poësie en essays. Tussen 1994 en 1999 was hy redakteur van die literêre tydskrif De Revisor. Tans skryf hy resensies vir De groene Amsterdammer. Ook oor sogenaamde onliterêre aktiwiteite soos sokker kan ’t Hart goed skryf. Sy ervaring met die sokkerklub Heerenveen lê ten grondslag van ’n spesiale nommer van die sokkertydskrif Hard Gras én van die dagboek Het mooiste leven (2001).

Selfs buite die letterkunde om lyk dit asof ’t Hart se lewe gekenmerk word deur ’n groot verskeidenheid beroepe. Hy was offisier in die Koninklike Lugmag, onderwyser in Nederlands, later ’n dosent aan die onderwyskollege in Leeuwarden, en nóg later studentebegeleier aan die Open Universiteit. Miskien verset hy hom teen alle vasliggende konsepte van die lewe, soos wat dit ook tot uiting kom in die karakters van sy literêre werk? Sy karakters tree buite alles wat ’n cliché genoem kan word. ’t Hart skryf die beste oor ’n tussenin fase, byvoorbeeld tussen droom en werklikheid of tussen fiksie en niefiksie. Die onsekerheid in die posisie van die adolessent tussen puberteit en volwassenheid vind ook weerklank in meerdere van sy werke, soos in Vitrines (1988) en in die roman De neus van Pinokkio (1990).

Die skryf van ’n boek vergelyk ’t Hart met die hardloop van ’n marathon. Hy dink ’n jaar lank na oor ’n onderwerp. Dit noem hy sy voorbereiding. Dan gaan sit hy en skryf binne ’n maand of twee die konsep neer. Die afronding daarvan is vir hom die marathon wat hy moet hardloop teen minstens vyf bladsye per dag.

Terwyl hy die skrywershouding van ’n sportman het, is ’n belangrike motief in sy werk uitstalkaste of winkelvensters. Dit weerspieël ook in die titel Vitrines. Hierdie spesifieke ruimtes vorm metafore vir die lewe as uitstalkas waarin dinge versamel en georden word om ’n greep op die werklikheid te kry.

Net soos die ander Nederlandse gas op Woordfees 2012, die digter Leonard Nolens, is Kees ’t Hart ’n lang gekoesterde skrywer van Uitgewery Querido. Al is die literêre verskeidenheid van sy werk ook hoe wyd, byna alles is deur hulle uitgegee. Dit sê iets oor die virtuositeit van die skrywer.

Die eerste literêre prys wat ’t Hart gekry het, was die Piter Jelles-prys in 1997 vir sy roman Blauw Curaçao. Met die draai van die millennium het nog twee mooi literêre pryse hom toegelag: die Ida Gerhardt Poësieprys vir sy digbundel Kinderen die leren lezen (1998) en die Multatuli-prys vir sy roman De revue (1999). Sedertdien het hy twee maal in aanmerking gekom vir die AKO Literatuurprys met sy romans Ter navolging (2004) en De keizer en de astroloog (2008). Sy laaste publikasie is weer ’n verhalebundel met die naam Engelvisje & andere verhalen (2010). Sedert 2010 is ’t Hart jurylid van die Anton Wachter-prys en die Woutertje Pieterse Literatuurprys. Eersgenoemde is ’n tweejaarlikse prys vir die beste skrywersdebuut en laasgenoemde prys is vir die oorspronklikste jeugboek elke jaar.

Kees ’t Hart se bydrae tot Radio Nederland wêreldwyd is The pigeon. Hierdie kortverhaal verken die delikate balans tussen die waarheid en herinneringe aan ’n verhouding wat miskien iets kon geword het, twee jong verliefdes wat in die reën soen en ’n beseerde duif. “Perhaps Jeune looks a bit like Catherine Deneuve in ‘Le Dernier Métro’, I think, as we stand there together. Shall I say so? Better not, there’s something severe and lonely about Deneuve in the film, which Jeune sometimes had too, but she kept exchanging it for different faces. She’s the woman with the most changeable face I know.”

The pigeon is vertaal deur Michael Blass en word voorgelees deur David Swatling. Luister hier daarna.

Ondersteun die Skrywersfees by die US Woordfees  

Groen van jaloesie
In samewerking met LitNet
Met Kees t' Hart, Jan van Tonder en Kirby van der Merwe
Wat maak ’n boek só goed of ’n sin só uitstekend dat dit die groenoog-monster onder ander skrywers laat kop uitsteek? Elna van der Merwe lei die gesprek met skrywers oor die boeke en woordkunstenaars wat hulle inspireer, motiveer en sommer pleinweg jaloers maak. 
9 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40

Keer terug na die program-indeksblad.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top