Red Die Boer-teaterrestaurant: gratis aanlyn konsert

  • 0

Soos feitlik alle teaters in Suid-Afrika, moes die gewilde Die Boer-Teaterrestaurant in Durbanville onlangs sy deure sluit as gevolg van die impak van die Covid-19-regulasies.

Sedert die eienaars Jurgen Human en Margit Meyer-Rodenbëck hierdie bekende tuiste vir die kunste geskep het, is daar die afgelope byna 16 jaar reeds ongeveer 4000 vertonings deur die land se topkunstenaars aangebied.

Sedert die aankondiging op Die Boer se Facebook-blad, het honderde boodskappe van ongeloof, skok, en hartseer ingestroom, van beide kunstenaars en ondersteuners.

Dit het die aanbieders van die aanlyn fondsinsamelings-platform WOES, Jaco van Dyk en Hamilton Wesels, laat besluit om ’n “Red Die Boer”-veldtog te begin om die teater se deure te probeer oophou.

Die WOES-program is geskep om fondse in te samel vir skole, instansies en kunstenaars en het in 2020 meer as R4,5 Miljoen help insamel  deur middel van aanlyn veilings, lootjies en donasies.

Nou gaan WOES en sommige van ons land se voorste kunstenaars saamspan om twee GRATIS aanlyn konserte aan te bied op 29 Januarie en 5 Februarie om fondse in te samel om hierdie belangrike platform vir kunstenaars in staat te stel weer om hulle deure te kan oopmaak sodra die toestande in die land dit toelaat.

Pryse en items wat opgeveil gaan word het van reg oor die land ingestroom en Jaco en Hamilton gaan kykers op ’n drie-uur-lange avontuur van musiek en emosies neem, terwyl van ons land se topkunstenaars optree!

Kunstenaars wat reeds bevestig is, is: Elvis Blue, Mathys Roets, Elandre, Leah, Anna Davel, Gian Groen, Dewald Wasserfall, Dan Patlansky, Andriette, Wicus vd Merwe, Pietman Geldenhuys en meer.

Na konserwatiewe skattings gaan 'n potensiële gehoor van meer as 40 000 mense inskakel op hierdie twee konserte en kykers gaan "lootjies" kan koop, wat hulle in aanmerking sal bring vir ’n reeks wonderlike pryse. Daar gaan ook 4 spesiale items opgeveil word.

Adverteerders kan ook betrokke raak by hierdie wonderlike inisiatief. Belangstellendes kan 'n epos stuur aan margitm@mweb.co.za.

“Die Boer is sinoniem met kuns en kultuur. Ek is al 12 jaar in die musiekindustrie en dit  sal n donker dag vir my wees as ek iets kon doen om te help, maar niks daaraan gedoen het nie” – “Hammie” Wessels

“Toe ek die nuus lees, was ons nog op vakansie, maar ek het onmiddellik vir Hammie gebel en gesê: WOES moet NOU inspring en help! Die Boer is ’n landmerk in ons omgewing wat ons nie mag verloor nie”- Jaco van Dyk

Skakels vir inligting en koop van lootjies en donasies vir 29 Jan se aanlynvertoning:

𝙊𝙉𝘿𝙀𝙍𝙎𝙏𝙀𝙐𝙉 - 𝙍𝙚𝙙 𝘿𝙞𝙚 𝘽𝙤𝙚𝙧-𝙍𝙚𝙨𝙩𝙖u𝙧𝙖𝙣𝙩𝙩𝙚𝙖𝙩𝙚𝙧

Staan 'n kans om lekker pryse te wen deur jou lootjie kaartjie by onderstaande Tixsa skakel te koop:

Gaan stel sommer nou al jou "reminder" as jy bang is jy vergeet op die gratis konsert skakel:

https://youtu.be/FjRoZZ7ZPkQ

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top