Rebecca deur Wilna Adriaanse, ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Rebecca (Hersiene uitgawe)
Skrywer: Wilna Adriaanse
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624095071

Daar’s nie tyd vir Rebecca om te wag dat die pos as persoonlike assistent vir Julian Hoffman geadverteer word nie. Sy wag hom in die parkeerarea van sy multimiljardrand-maatskappy in, en doen so aansoek vir dié pos wat sy wil hê. Haar leuse is immers wie nie waag nie, sal nie wen nie.

As dit vir jou vaagweg bekend klink, is jy op die regte spoor, want Rebecca het ná 20 jaar weer met mening op die rakke verskyn. Sy het niks ouer geword nie, maar wel ’n selfoon bygekry en rits nou met Uber wanneer sy nie kan stap waar sy wil wees nie.

Hierdie woordlekkerte is van voor af amper lekkerder as die eerste keer wat my en Rebecca se paaie gekruis het. Sy het eintlik ’n hartseer verlede, maar as jy dink sy gaan haar laat jammer kry, maak jy die fout van jou lewe. Daar is nie tyd vir “arme” Rebecca nie. Hierdie meisie het dinge om te doen en plekke waarheen sy moet gaan. En een van hierdie plekke was ampertjies Clifton-strand; nadat sy agtergekom het dat iemand haar agtervolg. Hierdie man is toe op die toer van sy lewe deur die Stad Kaapstad geneem. Sy het gesorg dat hy sy geld verdien. Gelukkig het haar vriendin Irene haar van hierdie malligheid laat afsien, anders het Julian Hoffman met ’n foto van Rebecca Fagan gesit waar sy bostukloos op Clifton was.

Ná haar derde “onderhoud”, psigometriese toetse, haar geweldige hoë vereiste vir ’n minimum salaris en huiwering vanaf Julian word sy aangestel in die pos waarop sy haar visier gehad het. Sy werk haarself disnis en bewys dat sy haar sout werd is. Maar soos ons wat al in die Kaap gebly of gekuier het weet, waai daar wilde winde. En in Becca se lewe is daar geen uitsondering nie. 

Haar vriende is uiteenlopend en het elkeen ook ’n kleurvolle lewe en soms pynlike verlede. Bernie, haar ou skoolliefde, probeer onsuksesvol om haar hart weer syne te maak, maar Rebecca het besluit wat verby is, is verby. Hy help haar egter met haar finansies, want sy het nadat sy haar regsgraad behaal het gaan druiwe pluk in Frankryk, in Italië op ’n olyfplaas gewerk en in Duitsland was sy ’n kelner. Die geld wat sy daar gemaak het, het sy weggesit as deposito om haar eie huis te kan koop. Sy woon in Langstraat in ’n backpackers totdat sy haar eie huis kan aanskaf. Haar vriende en Julian waarsku haar op meer as een geleentheid dat dit geen veilige plek is vir haar nie. Maar Becca geniet die diverse karakters saam met wie sy daar woon en voel veilig genoeg in haar klein kamertjie onder die trap.

As jy gedink het Rebecca is ’n hardekop, dink weer, want sy is nog hardkoppiger as dit. Intussen raak dinge moeilik tussen Julian en sy verloofde. Die meisie is gebore om ’n sakeman se vrou en metgesel te wees, en reël die een na die ander geleentheid om sakebelange te versterk tussen Julian en invloedryke persone. Hy raak egter nie gewoond aan die idee dat hy 24 uur per dag sewe dae ’n week sonder uitsondering beskikbaar moet wees vir hierdie soort byeenkomste nie. Sy oupa Marcus Hoffman het Rebecca ontmoet en is op ’n mooi manier dol oor haar. Nie soos Alec, die rokjagter, wat hard probeer toenadering soek by haar nie. Sy het nie nou tyd vir verhoudings nie, aangesien sy op haar werk wil fokus en daarvan ’n sukses wil maak.

In haar vriendekring kry die een na die ander hulle pot se deksel, selfs Bernie.

Dit is al wat ek vir jou van die storie gaan vertel; die res is ’n reis saam met Becca tussen 351 bladsye wat jou van bladsy een gaan gevange hou. As jy nog nie met Rebecca kennis gemaak het nie, kan jy dalk ’n hele paar oomblikke van binnepret, benoudheid en die gevoel van opregte geluk misloop. Sy is nie verniet opgetooi in ’n bloedrooi rok op die buiteblad van die boek wat Wilna Adriaanse meesterlik geskryf het nie. Dit was van voor af ’n heerlike leeservaring om Rebecca te nooi om my te begogel, betower en te verlei. Daar was nie tyd vir eet, slaap of aandag gee aan ander dinge toe ek haar eers opgetel het om te lees nie.

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top